Wednesday, September 19, 2018

As mens geluk kon proe


Bezuidenhout, Zelda: As mens geluk kon proe( LAPA, 2018)


Hierdie naaswenner in LAPA se jeugromankompetisie bied ‘n oortuigende verhaal wat sentreer om die hoofkarakter, Arnelia van Zyl wat besluit om die draaiboek van haar lewe te herskryf. Sy en haar ma trek na Potchefstroom , en in die nuwe skool val sy sommer met die intrap met ‘n skinkbord vol kos, en dadelik word sy volgens haar nou Honger Neelsie of kry ‘n nuwe bynaam: Vreetzilla.
Sy maak vriende met Dineo en Ilana, maar haar belangstelling is gou gefokus op Dewald Fourie, “omdat hy die sort cool is wat net iemand kan wees wat eenhonderd present oorspronklik is.” Maar sy is oortuig hy sal nooit na ‘n “gemmerpokkel  sonder sosiale vaardighede “ soos sy kyk nie.

Arelia draai nie doekies om oor haar voorkoms nie- sy verwys na haar groot kuite, en dan die Van Zyl-borste!  En dan sien sy vir Dewald in Checkers met ‘n meisie –net genoeg om haar verder te ontstel.

Maar Dewald se ma word ernstig siek sodat hy nie meer die gewone skoolklasse kan bywoon nie maar tuis moet studeer, en sy vind uit dat dit sy suster is wat ook gekom het om hul ma te help versorg.  Hierdie situasie inspireer die jongmense se idee om te begin met ‘n mobiele snoepie wat hulle by die skool kan parkeer om fondse in te samel sodat Dewald sy studies by die skool kan hervat.
Die projek is ‘n groot sukses, maar wanneer sy ‘n rol in die skoolproduksie Haarsproei kry, is die vriendskap met die Snoeperheroes vereers verby. Veral waar Dineo so graag hierin wou speel.    

Arelia word in ‘n persoonlike dilemma geplaas, maar sy neem tog die regte besluit omdat vriendskap meer tel as eiewaan.

Die roman het meriete, die karakters word oortuigend uitgebeeld, en veral in woordkeuses openbaar die skrywer talent en oorspronklikheid. Kosfundies sal Dewald se passie vir kos geniet, en as toegif volg ‘n paar resepte aan die einde van die verhaal- Ouma Dina se appelkooskonfyt, Dewald se uiemarmelade, en frikadelle met balls- Mevrou Ball se blatjang.
Arelia kan uiteindelik geluk proe, want ‘n “gemmerpokkel” kan deur ‘n seun met die regte waardes waardeer word. Sy is nou nie meer ongelukkig nie- dit is haar maats wat haar aanvaar het, die ure se beplanning en werk aan Snoeperheroes, haar ouma se appelkooskonfyt, haar ma se liefde en ondersteuning, “maar veral elke liewe skewe glimlag van Dewald Fourie”.
Ligte leesstof vir jongmense met groot drome.


No comments:

Post a Comment