Sunday, September 9, 2018

Boeke vir kleintjies



Kleure- H&R, 2018 
‘n Kleurvolle kartonboekie met stewige bladsye en twee skuifslotte wat kleintjies in staat sal stel om die kleure rooi, blou, groen, oranje, geel,bruin, pienk, pers, swart en wit te leer identifiseer deur nab v. rooi voorwerpe te kyk end an met die skuif- apparaat op die volgende bladsy nog ‘n rooi treintjie te vind, maar ook met die blou kleur nog ‘n blou blokkie op te spoor.

Syfers- H&R, 2018
Kinders leer tel van 1-10 op  elke bladsy wat aaan een getal gewy word. Die spesifieke getal word ook baie mooi aangedui in die boonste hoek van die bladsy. Met die skuif-en-loer aksie word bv. nog  ‘n robot of bal opgespoor.
Die twee boeke is baie kleurvol en die voorwerpe is eenvoudig geteken sodat daar geen verwarring kan ontstaan nie.
Ouers en kinders kan saam die boeke geniet, of die kleintjies kan hulleself heerlik op hul eie vermaak.

Bee, William: Stoffel se skool  en Stoffel die boer ( H&R, 2018). Afrikaans deur Kobus Geldenhuys.
In hierdie reeks is daar ook Stoffel se garage en Stoffel die bouer.
Stewige sagteband boeke waaar elke titel onderskei word in ‘n spesifieke kleur, bv. Stoffel se skool in ‘n blou strook aan die onderkant van die omslag.
Hierdie reeks is vir my besonder oulik en nuttig, want inleidend word al die voorwerpe wat gebruik word eers geïllustreer, dan volg bv. ‘n illustrasie van die skool,  gevolg deur die aktiwiteite wat chronologies op mekaar volg-die klok word gelui, die kinders hang hulle sakke en pette op, hulle name word afgemerk, hulle luister na ‘n stoire, , speeltyd, middagete en rustyd.  
‘n Baie oulike reeks wat baie gewild behoort te wees.



Fletcher, Tom en Poynter, Dougie: Dino poef ‘n planet!( H&R, 2018) Illustrasies deur Garry Parsons. Afrikaans deur Kobus Geldenhuys.
 Dirkman en Dino is op ‘n dag verveeld van by die huis bly, en besluit om die ruimte te gaan verken. Gewapen met padkos vertrek die twee in ‘n ruimteskip . Heel gou is Dino resend honger, en Dirkman het sowaar hul padkos by die huis vergeet! Dino begin toe om alles in die ruimye te verslind wat soos kos lyk. Toe is daar net ‘n boepens-dinosourus en ‘n verskrikte seuntjie gestrand in die ruimte. Dino besef gelukkig hoe om hulle te red….
Skreeu snaaks en baie vermaaklik. ‘n Vrolike humoristiese verhaal wat kleintjies baie gaan geniet. Dinosaurusse bly maar ‘n groot aantrekkingskrag, veral as hulle stoute dinge aanvang en interessante avonture beleef. Hoogs aanbeveel.

Handford, Martin: Waar’s Willie? Die fantastiese reis, Waar’s Willie in Hollywood, en Wonderwêreld ( PROTEA, 2018).
Die Waar’s Willie –reeks is beskikbaar in 31 tale, en hierdie drie titels sal soos die vorige Wallie-boeke met groot opgewondenheid ontvang word. In biblioteke is hierdie reeks uiters gewild, en hoewel verliese gebeur omdat party kinders nie die versoeking kan weerstaan om  Wally to omkring met ‘n pen of potlood as hulle die figuurtjie opspoor tydens sy opwindende avonture nie, word heraankope gedoen, want die aanvraag is net te groot!

Helmore, Jim: Die sneeuleeu( PROTEA, 2018) . Illustrasies deur Richard Jones. Afrikaans deur Carmen Hansen-Kruger.
Anders as prenteboeke wat op glanspapier gedruk is, verskyn hierdie verhaal op dowwe papier  in sagte pastel kleure om so ‘n gedempte gerusstellende atmosfeer te skep. Kara en haar ma verhuis na ‘n huis op ‘n heuwel waar wit die oorheersende kleur is. Kara verlang na ‘n maat om mee te speel, en toe verskyn ‘n spierwit leeu aan haar wat haar uitnooi om saam te speel. Bertie ‘n seun nooi haar om in die park saam met hom te speel, en vervolgens ontmoet sy ook sy maats. Haar ma nooi al die nuwe maats om die huis te kom verf in helder kleure. Nou is die leeu nie meer in die kleurvolle huis nie, maar buite in die natuur. Hy stel haar gerus dat hy, wanneer sy hom nodig het, wel daar sal wees.
‘n Gevoelvolle uitbeelding van die verbeeldingswêreld van ‘n alleen-kind, wat d.m.v. ‘n maat wat syself geskep het, leer om na ander kinders uit te reik.
‘n Pragtige boek wat emosioneel baie kinders gaan raak.

McKee, David: Elmer(PROTEA, 2018)
Mckee, David: Elmer op stelte( PROTEA, 2018) en
McKee, David: Elmer Alweer Elmer( PROTEA, 2018). Afrikaans deur Philip de Vos.
David McKee se Elmer-boeke is internasionaal bekend en in meer as 40 tale vertaal.
Wie sal nou nie verlief raak op ‘n olifant wat soos ‘n lappieskombers ingekleur is tussen al sy vaal tropgenote nie!
Op ‘n dag is hy moeg om anders te wees, en hy glip weg van die trop en stap alleen deur die oerwoud op soek na die bos met olifantkleur-bessies waarin hy wil rol om soos die ander te lyk. Dit verskaf die trop oneindig baie pret, en jaarliks vier hulle nnou Elmer dag waar hy olifantkleur vir himself gebruik, en die ander olifante kleurvol ingekleur word om soos Elmer te lyk.
Elmer op stelte is sy voorstel aan die trop dat die jagters hulle so nooit sal kan opspoor nie.   Monstervoete aan die stelte moet die jagters in ‘n ander rigting stuur,maar as die jagters dink daar is monsters hardloop hulle natuurlik in die teenoorgestelde rigting, in die stelte vas, sodat die olifante die vet jagters platval. Die jagters het nooit weer teruggekom nie, en die stelte kon nou net vir die pret gebruik word.
Al weer Elmer vertel hoe hy uit verveling voor doe Elmer Dag-optog waarin net hy vaal word soos die trop, stilletjies in die nag al die olifante versier om soos hy te lyk. Die trop is nou heeltemaal verward en weet nie wie Elmer is nie. Selfs as hulle almal in die water spring om van die kleur ontslae te raak, is Elmer alweer eens te slim vir hulle.
Op ‘n speelse wyse word lewenslesse geleer oor selfaanvaarding, hoe om deel van ‘n groep te wees en in die groep mekaar te vermaak en saam te speel en ook mekaar te help beskerm.

Riddell, Chris: Eendag in ‘n woeste woud( PROTEA, 2018) Afrikaans deur Kobus Geldenhuys.
“Die weg deur die woud is donker en diep
met ‘n les om elke draai.
Die pad wat jy kies is die storie wat jy skep,
elke tree ‘n blad om te blaai”.
Klein Groenkappie stap die woud binne met ‘n uitnodiging na Raponsie se partytjie. Oppad kom sy verskeie karakters uit bekende feëverhale teë- die heks met die appel, ‘n troll, die Ondier se kasteel, Jan en die boontjierank, die drie bere , rooikappie, Duimelientjie, Skoonlief, die drie varkies, die sewe dwergies, en die twaalf dansende prinsesse. Uiteindelik is al die karakters bymekaar by Raponsie se partytjie, en gelukkige re-unies vind plaas, veral die van Skoonlief en die Ondier.
Die volgende dag vertrek Groen verder deur die woeste woud, en wonder wat volgende gaan gebeur…
Baie oorspronklik en verbeeldingryk. ‘n Pragtige boek met genoeg verassings en humor om kinders te betrek.

Smit, Louise: Haasdas se nuuskas- episode 5( H&R, 2018) Illustrasies deur Vian Oelofsen.
Vier titels het reeds in hierdie pragtige reeks verskyn.
Al die diere in Diereland wonder wie nou eintlik die gemaskerde Wonder in hulle midde is wat gaan veg teen Kongo Kangaroe van Diereland-Oorsee, die rofstoeikampioen van die wêreld. Kleinskillie deel die geheim van sy identiteit  met sy pa, sy afrigter, en hy mag vir niemand vertel nie. Maar hulle vind wel uit dat hy ‘n geheime stertgreep het.
Na die geveg breek daar skielik ‘n gevaarlike veldbrand uit, en niemand kan vir Kleinskillie opspoor nie. Totdat Soks Sjimpansee sy kamerasak wil oopmaak…
Kan daar nou ‘n vroliker meer vermaaklike groep diere wees as juis hierdie maats in Diereland?
Die reeks is besonder kleurvol en kry ekstra betekenis en lewe met Oelofsen se wonderlike illustrasies. Elke diertjie word spesiaal, en tog te dierbaar is die illustrasie van Haasdas wat Kleinskillie in sy arms omhoog hou. ‘n skrywer wat die verbeeldingswêreld van kinders baie goed verstaan en kan binnedring.
‘n Baie spesiale reeks. Oelofsen se werk is puik!

Smit, Gertie: Stories vir pikkies en peuters( Tafelberg, 2018 ) Illustrasies deur Samantha van Riet, Tasia Rosser, Melany Pietersen en Tumi K. Steyn.
Die kort verhaaltjies in die boek  is gegroepeer onder somer(in die huis), herfs(in die tuin),  winter(in die dorp), en lente(op die plaas).
Die gebruiksgids gee ‘n volledige uiteensetting van die teikengroep, hoe die bundel saamgestel is, die doel van die stories en die vroeë leer-en ontwikkelingsareas van kinders word uiteengesit. Elke storie word in ‘n tabel aangegee met die tema, titel, en die konsepte wat aangespreek word en woordeskat wat aangegee word.   
Hierdie is die vierde in ‘n reeks publikasies vir voorskoolse kinders. Die titels is Rympies vir pikkies en peuters, Rympies vir kleintjies en kleuters, Liedjies vir pikkies en peuters en hier stories vir pikkies en peuters.
Hierdie vier titels is van onskatbare waarde vir elke kleuterskool onderwyseres.
Gertie Smit verdien wye erkenning vir haar bydrae tot die opleiding van kinders, met die doel om hulle lief vir stories, gedigte en liedjies te maak wat bydra tot hul persoonlike ontwikkeling op al die gemelde terreine.
‘n Absolute onmisbare toevoeging tot skool, tuis- en biblioteek versamelings. Elke bladsy bevat groot wit ruimtes sodat die teks in groot druk maklik herkenbaar is, die illustrasies van die 4 kunstenaars is uiters kinder-vriendelik en toeganklik, en die hele publikasie is Keurig versorg en visueel baie aantreklik. Hoogs aanbeveel. Werklik ‘n baie belangrike boek vir onderwysers.  

No comments:

Post a Comment