Wednesday, August 29, 2018

Wiplala is 'n leesgenot!


Schmidt, Annie M.G. : Wiplala ( PROTEA, 2018) Illustrasies deur Philip Hopman.Vertaler Amelia de Vaal.

Die gesin Blom en hulle kat Vlieg voer maar ‘n vervelige bestaan met Menner Blom wat wat besig is om’n boek te skryf en die kinders wat hulleself maar moet vermaak.

Maar alles verander wanneer ‘n klein mannetjie so groot soos ‘n kabouter in hul huis verskyn, en homself bekend stel as  ‘n Wiplala.  Hy is weggestuur deur sy mense omdat hy sukkel om goeters te “betinkel”- of in standbeelde te verander.

Hy betinkel eers die kat, toe Meneer Blom, maar op die kinders se versoek toor hy hom weer terug. Die digter Arthur is volgende aan die beurt, en gelukkig veroorsaak sy standbeeld ‘n opskudding in die gemeenskap wat hom nooit ge-eer het nie! Dit is die begin van  ‘n ongelooflike avontuur wat die gesin saam met Wiplala beleef, want hy toor hulle om netso klein soos hy te wees en op die rug van ‘n duif vertrek die gesin na ‘n wêreld vol nuwe kennisse en avonture.

Annie Schmidt is intenasionaal bekend as kinderboekskrywer. Hierdie verhaal het in 1957 in Nederlands verskyn, en is in verskeie tale vertaal en ook verfilm.

Die verhaal lees tog te lekker; daar is nie ‘n vervelige oomblik vir die leser nie, en as voorleesboek vir kinders behoort dit in elke tuisversameling! Die boek is pragtig versorg, en die illustrasies pas perfek by die styl en tyd. Hoogs aanbeveel. ‘n Leesgenot.

Jacobs, Jaco: Die swakste restaurant in die heelal(LAPA, 2018) Illustrasies deur Dale Blankenaar.

‘n Versameling van 10 skreeusnaakse stories deur ‘n skrywer wat die psige en taal van jongmense maar alte goed verstaan.

Die verwaande Zander leer ‘n duur les in die swembad waar hy gedurig vir Tyrone afknou omdat hy swak swem.

Wanneer Leah se oefenry op haar nuwe elektriese kitaar die buurvrou tannie Tina tot raserny wil dry f en haar selfs motiveer om Tina oor die lawaai by die polisie te laat aangee, moet sy egter ‘n les geleer word.  Die rockgroep Lizzard trek in hul huis toe hulle verhuis- en die groep maak die wildste en hardste rockmusiek ooit; veel erger as Leah se onskuldige oefenpogings.

Anton Smit is ‘n doodgewone seun wat alewig aangesien word as die popster Brandon Skye.  Hy het een besondere talent- hy is nie bang vir hoogtes nie, en sy heldedaad laat toe die bordjies verhang oor wie nou eintlik die “pop”ster is.

Wanneer die twee alien professors probeer om die aarde deur aliens te laat oorneem  gebruik Lienke  Karlo Karelse se kougom om ‘n stokkie of liewer ‘n prop in hulle masjienerie te steek.

Hierdie is maar ‘n paar voorbeelde uit die 10 kortverhale wat elkeen ‘n verassende humoristiese einde het, subtiele lewenslesse leer, en Jacobs se talent vir skryf en stories vertel Die tweede titel in ‘n reeks baie duidelik onderstreep. Hoogs aanbeveel.

Jacobs,Jaco : Professor Fungus en die onsigbare skurk en Professor Fungus en die gekloonde konyn ( LAPA, 2018) Illustrasies deur Johann Strauss.

Hierdie is die 13de en 14de titels in die geliefde Professor Fungus reeks, en weereens is die leser nie teleurgestel nie. Van die onsigbare skurk Boete Breed wat  die Professor se nuwe verdwyn formule steel om die kosbare Keiserlike Knewel diamant by ‘n uitstalling te steel, tot in die 14de titel met sy nuwe kloon-masjien waar ‘n konyn per ongeluk getref word en die getal konyne eers op die plaas vermeerder tot ‘n vernietigende groep wat die boer Neef Naas se hele oes kon verwoes as daar nie ingegryp word nie-  die verhale vir jong lesers bly groot pret, is aksie belaai en Strauss se illustrasies bly maar net ‘n groot aanvulling tot die vrolilke energieke teks. Lekker lees is almal se voorland!

Maartens, Wendy : Helde van Suid Afrika, 2( LAPA, 2018)Illustrasies deur Alex van Houwelingen.

Ses verhale wat aan beginner lesers vertel van die heldedade van onbekende figure soos Sultan die groot herdershond wat sy baas se lewe red deur ‘n elektriese koord vas te byt;  en o.a. die bushelde van Westdene –seuns wat die lewens red van  van hul skoolmaats in die bus wat in ‘n dam weggesink het.

John Ross wat 1000 kilometers gestap het om medisyne vir sy vriende te gaan haal, en Richard Simelane van die City Deep-goudmyn wat 100 meter ver met sy kaal hande gegrawe het om 18 lewens te red.  Of die verhaal van Klara  Majola die dapper dogtertjie wat haar blinde pa gaan soek het in ‘n ysige stormagtige nag en toe self verkluim het.

Kinders in skole kry gereeld die opdrag om die lewe van ‘n dapper person uit ons eie geskiedenis te vertel. Hierdie boekie kan dien as ‘n hulpmiddel e nook ‘n inspirasie vir ander om onselfsugtig ‘n pad deur die lewe te loop.

 

 

No comments:

Post a Comment