Tuesday, October 23, 2018

Prenteboeke te kus en te keur


 

Bachelet, Gilles: Die ridder Buik-op-den-bodem(PROTEA, 2018) Uit Frans vertaal deur Nicol Stassen.

Die ridder is heeltemaal nie wat ‘n leser verwag nie- ‘n slak wat oorlog verklaar teen sy vyand Pap-doring omdat hulle sy aarbeituin ingeval het.

Hy is egter iemand wat priotiseer wat belangrik is- eers moet hy sy kinders en vrou groet, en oppad na die slagveld handel hy nog ‘n paar belangrike take af soos om ‘n prinses te hulp te snel, en ‘n potjie skaak te speel…  Op die slagveld is dit egter eers tyd vir middagete, en die twee stryders besluit om eers die volgende dag die stryd aan te pak. Baie dinge kan tot more wag, “ maar beslis nie ‘n lekker slymerige soen nie!”

‘n Humoristiese, heel oorspronklike en ongewone fabel wat ‘n waardevolle lewensles leer.Die illustrasies is ook interessant en boeiend.

Ehrlin, Carl-Johan Forssén : Dapper Dawie se onderstebo week( H&R, 2018). Illustrasies deur Katarina Vintrafors.

Dawie is ‘n seuntjie wat gewoonlik gelukkig is. Maar sy eerste week in die nuwe kleuterskool is sommer heeltemaal onderstebo.

Die gebeure tydens elke weeksdag gaan om spesifieke situasies en die gevoelens wat Dawie ervaar- angstigheid om by ‘n nuwe groep aan te sluit, dat hy sy maats mis, sy vrees vir spinnekoppe, as hy seerkry, as hy sekere kos weier, en sy vrees vir die donker.   

Vanaf bladsy 21 word die tegnieke bespreek wat aangewend word om  die verskillende situasies te hanteer.

Die skrywer het bekendheid verwerf met sy topverkoper – Die hasie wat aan die slaap wou raak, en as sielkundige gebruik hy sy kennis en vaardighede om kinders te help.

Hierdie is ‘n uiters nuttige boek wat onderwysers en ouers kan gebruik om te leer hoe om ook hulle kinders en leerlinge te help.

Hartman, Wendy: Groot beer( LAPA, 2018) Illustrasies deur Zinelda McDonald.

Op ‘n skooluitstappie nadie dieretuin vind Luna aanklank by ‘n beer wat alleen in sy hok sit en baie eensaam lyk. Sy stel hom gerus deur te sê hy is haar vriend. Tuis moet sy haar ouers se moontlike egskeiding hanteer. Daardie nag verskyn Groot Beer aan haar, en word haar maat as sy skooltoe gaan, met haar ouers gaan stap of speelparkie toe gaan. Maar daar kom ‘n tyd wat sy eerste aan hom totsiens sê, en self met haar lewe kan aangaan sonder sy ondersteuning, hoewel sy altyd vir hom lief sal wees.

Die tema van ‘n enkelkind met ‘n verbeeldingsvriend is al telkemale in prenteboeke gebruik, en hier is nog ‘n boek wat kinders gerus sal stel en vertroos. McDonald se illustrasies is vriendelik en sonder tierlatyntjies.

Krritzinger, Zanri: Wie’s jy, Mnr Slym? ( Tafelberg, 2018) Illustrasies deur Stephen Wallace.

Verbeeldingskool se snaakse vriende kom by hul skool bymekaar waar juffrou hulle vertel om elk ‘n mens-maatjie te kry, en ook ‘n spesiale toertjie uit te dink.

Slym kry eensame Morné, maar al sy pogings om ‘n goeie verbeeldingsvriend te wees, is vrugteloos. Hy roep al sy vriende se hulp in, en hulle vertel aan elke mensekind om met Morné te speel en sy maat te wees.

‘n Slymresep verskyn op die laaste bladsy.

‘n Vrolike prenteboek met snaakse verbeeldingsvriende wat kinders sal geniet.   

Schmachtl, Andreas H.: Tillie Appelpit –die lappieskombers( PROTEA, 2018)

En

Schmachtl, Andreas H.: Tillie Appelpit- Die onverwagte gas   (PROTEA, 2018) Uit Duits vertaal deur Amelia de Vaal.

Die skrywer van hierdie bekoorlike prenteboeke het ‘n paar jaar in Engeland gewerk waar hy die idees vir sy boeke gekry het. Dit is baie duidelik dat hy die klein diertjies soos Tillie koester en hy vertel ook alledaagse gebeure in die diertjies se lewens met oortuiging en sensitiwiteit. Die boeke plaas die leser direk in die wêreld van hierdie diere met oud-wêreldse illustrasies wat sjarmant is.

Tillie en haar maatjies besluit in die lappieskombers om aan ‘n kompetisie deel te neem waarelkeen ‘n oorspronklike kombers moet maak, end it word toe ‘n gesamentlike handewerk wat hoewel dit nie ‘n prys gewen het nie, ‘n duidelikebewys is dat vriende kan saamwerk en mekaar se vriendskap kan waardeer.

Tillie besluit in die onverwagte gas om haar groottante se aarbeitert te bak net om toe iets daar buite te gewaar- ‘n eier, groter as wat sy nog ooit gesien het. Haar vriende raai haar aan om dit altyd lekker warm te hou, totdat die eier uitbroei. Tillie is baie opgewonde dat sy kan help om ‘n eier te laar uitbroei. Sy versorg hom liefdevol en lees selfs vir hom ‘n storie en gaan stap met die eier. Ida Eend is tog te dankbaar dat Tillie haaar eier gevind het. Sy vyf boeties en sussies is tog te bly dat hy gevind is. Tillie en haar vriende gaan kyk gereeld hoe hulle swem en leer vlieg, en soms kuier die hele spulletjie ook by haar aan huis.

Pragtige boeke  , veral geskik vir voorlees en beginner lesers met die langer teks. Hoogs aanbeveel.

Velthuijs, Max: Padda en die voëlgesang( PROTEA, 2018). Vertaler  Carla Lang. Hierdie is die tweede Afrikaanse uitgawe, eerste druk in 2018.

‘n Hoogs bekommerde padda kom aan by sy vriend Vark en vra hom om saam met hom te gaan sodat hy hom iets kan wys. Dit is ‘n lyster wat bewegingsloos op die grond lê. Vark dink hy slaap, Eend dink hy lyk siek, Haas besef die lyster is dood.       

Die vriende begrawe toe die lyster baie sorgvuldig, en daarna speel die klomp saam , baie gelukkig dat hulle lewe.  En toe hulle by die voet van die heuwel kom, oppad huistoe, “sing ‘n pikswart lyster sy lieflike lied-net soos altyd”.

Max Velthuijs(1023-2005) ontvang in 2004 die Hans Christian Andersen-medalje vir sy lewenslange bydrae to kinderliteratuur. Velthuijs se Padda-boeke het hom beroemd gemaak, want deur hierdie karakters kon kinders baie lewenslesse leer. Die eenvoud van sy illustrasies en die min teks lewer ‘n oortuigende boodskap en bly altyd treffend. Hoogs aanbeveel.

No comments:

Post a Comment