Wednesday, November 7, 2018

'n Boomhuis en middernagbende!


Griffiths, Andy: Die boomhuis met 13 vloere( PROTEA, 2018) Illustrasies deur Terry Denton. Uit Engels vertaal deur Kobus Geldenhuys.

Die twee vriende Andy en Terry bly in ‘n boomhuis met 13 vloere! Daar is o.a. ‘n kegelbaan, ‘n deurskynende swembad, ‘n tenk vol mensvreterhaaie, ‘n speletjiekamer, ‘n gaskoeldrankfontein en ‘n malvalekker masjien… eintlik is hul daar om boeke te skryf, maar somtyds vorder die storie maar stadig.
Terry besluit om die buurvrou se kat Sysag geel te verf en in ‘n kanarie te verander, en die kat begin sowaar vlieg. Saam hou hulle ‘n tekenkompetisie en so word die reuse piesang gebore; hulle hou van ‘n vervelige tv-program-die blaffende brakkie. Terry bestel see-apies in die pos, maar dit is toe regtig ‘n seemonster wat hom as ‘n pragtige meermin voordoen. Hulle raak van die monster ontslae, maar Terry is hartseer en toe Terry ‘n groot kougomborrel blaas, styg hy daarin op en moet eers weer gered word.Nou skep Terry die supervinger en sy avonture, en toe word hulle weer deur ‘n klomp ape oorval wat hul plek amper verwoes –gelukkig kom Sysag tot hul redding.
‘n Bielie van ‘n gorilla volg die groot piesang na hul boomhuis , en gelukkig help die vlieënde katte om die gorilla weg te lok. Jill is dankbaar dat sy nou ‘n vlieënde kat het, en sy neem die twee saam op ‘n reis in haar kinderwaentjie sodat hulle die boek ook betyds by Grootneus kan aflewer!
Griffiths is ‘n bekende Australiese kinderboekskrywer, Saam met sy vriend Terry het hulle baie suksesvolle reekse geskryf. Die Boomhuis reeks is al in meer as 30 lande gepubliseer. 
Die boomhuis met 13 vloere sal elke jong leser betower want die inhoud is verbeeldingryk en Terry se lewendige humoristiese illustrasies komplimenteer die teks.  Griffiths het ‘n ryk verbeelding, en die twee skep ‘n verhaal wat snaaks, vermaaklik en verassend is. Veral prysenswaardig is die boodskap dat ‘n boek geskryf word wat uiteindelik gepubliseer word en versprei word in boekwinkels, biblioteke en by individue met die twee se direk-na-brein –inligting-afleweringstegnologie.  Hoogs aanbeveel.


Walliams. David: Die middernagbende( PROTEA, 2018) Uit Engels vertaal deur Kobus Geldenhuys.
Agt titels deur Walliams het reeds by PROTEA uitgewers verskyn, en elke boek was boeiend, skreeu-snaaks en ‘n heerlike leeservaring.
Die middernagbende is ‘n groep kinders wat in die kinderkamer van die Lord Funt-hospitaal op die vier-en veertigste verdieping bly. Eers word die leser bekend gestel aan die kinders: Tom wat ‘n hou teen sy kop gekry het; Amber in die rystoel; Robin wat nie kan sien nie en herstel van ‘n oogoperasie; George wat herstel na ‘n mangeloperasie; en Sally wat baie siek is en die meeste van die tyd slaap.

‘n Paar van die karakters wat betrokke is by die storie is die Portier,  ‘n eensame figuur wat die kinders ondersteun  in hul avonture ; Matrone wat baasspelerig is en nie van kinders hou nie, en Dokter Luppers  ‘n jong dokter wat maklik uitoorlê kan word deur die ondeunde kinders.
Middernag, wanneer almal veronderstel is om te slaap, begin die bende se avonture. Tom is die nuwe seun in die kinderkamer, en nog uitgesluit uit die bende. Maar hy wil dolgraag ‘n lid wees, want wat kan meer opwindend as ‘n geheime bende wees? Matrone word snags een van George se spesiale doedoepille ingegee wat versteek is in sy sjokolades wat sy altyd konfiskeer en gulsig verslind. Dan is die bende vry om hul avonture te beleef, soos die Noordpool-avontuur, die ballonne eskapade. Tom en die portier word vriende waar altwee alleen voel. Tom besluit dat Sally se droom om net vir een nag ‘n gelukkige en lang lewe te hê, die bende se laaste sending moet wees  - ‘n ontsaglike groot avontuur!
Tom wil nie teruggaan na die koskool waar hy bly nie, en dalk wag daar toe ‘n verassing op hom…

430 bladsye van opwindende vermaak vir lesers van ‘n verskeidenheid ouderdomme, want David Walliams is nooit vervelig nie, en baie subtiel word daar ook lewenslesse geleer- hoe kindes in moeilike omstandighede mekaar kan ondersteun, hoe die Portier Tom help om sy ouers te waardeer; hoe volwassenes gebring word tot die besef dat gesonde vermaak net positief kan inwerk op siekes.  Hoogs aanbeveel.


No comments:

Post a Comment