Wednesday, November 21, 2018

'n Tier, rondomtalie ry, nuus luister, en potjie gebruik en wie waar woon...


Hofmeyr, Dianne: Op die rug van ‘n tier( Tafelberg, 2018) Illustrasies deur Jesse Hodgson

Na ‘n besoek aan ‘n kunsgalery waar Tom en die tier in die skildery mekaar dopgehou het, teken hy die tier tuis.
Daardie nag besoek die tier hom en nooi hom saam op ‘n nagtelike avontuur. Tom is bang vir die donker, maar die tier stel hom gerus met die wete dat tiere nie bang is vir die donker nie. In die oerwoud is Tom weer bang vir die nagdiere, maar die tier nooi hom om wegkruipertjie te speel.By ‘n rivier aangekom is Tom weer bang vir swem, maar tiere is lief vir swem.  By die kermis aangekom is hy weer bang vir spooktreine en mallemeulens, maar die tier laat hulle al in die rondte vlieg tot bo in die hemel waar hy bang is vir ‘n sneeustorm,en in ‘n grot regte sneeutiere ontmoet wat hom met hulle laat saamdans.  Na al hierdie avonture is hulle eindelik weer tuis. Nou verklaar ‘n moeë maar tevrede Tom dat hy regtig vir niks bang is nie, want dalk is hy eintlik ‘n regte tier!
‘n Besonder aantreklike boek. Tom se tier is gebasseer op “Tier in ‘n tropiese storm” deur Henri Rousseau. Die  kunstenaar se droomwêreld word realisties geskilder deur die illustreerder.  ‘n Oortuigende boodskap word gevoelvol en dramaties oorgedra van die kind se vermoë om sy vrese te oorkom met die hulp van ‘n verbeeldingsvriend, hier die pragtige tier.‘n Baie spesiale prenteboek wat jong kinders emosioneel sal ondersteun en ‘n positiewe boodskap uitdra waarna elkeen kan luister en ‘n lewensles kan leer.    
   
Jacobs, Jaco: Rondomtalie-rympies en liedjies( LAPA, 2018). Illustrasies deur Karen Ahlschläger. CD met 30 liedjies word ingesluit met toonsettings deur Anna Davel.

In 30 rympies met karakters soos Kielie-kabouter, Bambino die reus van Bitterbos, goggas en ‘n teddie, tien pikkewyne en ‘n wilde perd vermaak die altyd gewilde skrywer jong lesertjies en vertel hulle van spesifieke situasies soos hul klere wat krimp, ‘n dag by die dieretuin, skoppelmaai ry, bad, tande borsel, met blokkies bou, winkel toe gaan , rondspring, ‘n kussinggeveg en selfs ‘n beer in die kind se bed wat vra vir ‘n goeienagsoen!
Elke rympie is lewendig, vol pret,  en getrou aan die kind se verbeeldingswêreld.
Karen Ahlschläger se illustrasies is net so kleurvol en uitbundig vrolik soos die teks. Die mooiste prentjies vergesel elke rympie en kinders gaan mal wees oor haar interpretasie van die teks. Hoogs aanbeveel vir biblioteke, skole  en tuisversamelings.

Lloyd-Jones, Sally: Op die potjie gou!( H&R, 2018) Illustrasies deur Anita Jeram. Afrikaans deur Elsa Silke.

Hasie loop knyp-knyp, want hy het ‘n groot nood en moet haastig by ‘n potjie uitkom. By hom sluit die diere een na die ander aan, ook op soek na ‘n potjie.
Die kangaroe se kleintjie in haar buidel, ‘n eensame dodo, vriendelike padda, varkies, ‘n ballerina olifant, ‘n hen en ‘n dinosourus, bangmaak spoke en selfs die heer en dame Hoefenpoef en Wikkeltjie Woe!
Daar is aanwysings na die potjies, en elkeen maak ‘n potjie staan. Dit word ‘n heerlike potjie-partytjie, en daar word nog net gesoek na die lesertjie- jy wat in die spieël kan kyk…  Daar is dus ook die geleentheid vir deelname deur die luisteraar, en niks geniet kleintjies meer as om na hulleself in ‘n spieël te kyk nie!
‘n Nuttige en vriendelike prenteboek wat handel oor die baie bekende situasie waar ‘n potjie dalk vir die eerste keer gebruik word.
Anita Jeram het die illustrasies gedoen vir die baie bekende geliefde prenteboek, Raai hoe lief is ek vir jou. Hierdie is ‘n pragtige boek met delikate tekeninge van al die verskillende diere, deurtrek met fyn  humor, en regtig ‘n boek wat jong lesertjies sal aantrek, veral waar die fraaie hasie so uitnodigend is.

Smit, Louise: Haas Das se nuuskas, episode 6. ( H&R, 2018) Illustrasies deur Vian Oelofsen.

Die sesde titel in hierdie reeks belowe om selfs dalk meer opwindend as die vorige titels te wees. Want nou is daar ‘n nuwe intrekker in Diereland,  naamlik Knawel Snawel, en hy is honger, en Haas Das lyk na net die regte maaltyd vir ‘n honger aasvoël!
Dan is Koning Leeu ook siek van bekommernis oor Moeder Raaf wat haar verbeel sy kan beter na die diere se kleintjies kyk as die oumense.
Knawel Snawel gryp Haas Das ,en in die geskarrel trek Haas Das sy blou das styf om die roofvoël se nek en toe Haas Das die das los, val hy in ‘n bos en land op die grond. Die bekommerde diere begin soek na hul gewilde nuusleser, en gelukkig spoor Bettina hom op en gaan soek hulp. Gaan Haas Das herstel van sy aaklige ervaring?
‘n Opwindende episode in die lewens van Diereland se inwoners. Kinders leer van vriendskap en lojaliteit wanneer die diere hul nuusleser en vriend ondersteun en liefdevol versorg.
Vian Oelofsen se illustrasies is, soos in elkeen van die episodes, getrou aan die karakters se individuele eienskappe en voorkoms. Die illustrasies is lewendig en  beweeglik en goed geplaas op  elke bladsy. ‘n Pragtige boek met ‘n onderhoudende storie deur ‘n begaafde skrywer.

Tsarfati, Einat: Wie woon hier?( PROTEA, 2018)  Afrikaans deur Elna van der Merwe.

Die verteller is ‘n dogtertjie wat in ‘n gebou van sewe verdiepings woon. Elke verdieping se deur lyk anders, en agter elke deur is die inwoners uniek en spesiaal. Sy neem die leser op ‘n begeleide toer deur die gebou, en so ontdek jy ‘n goep diewe wat antieke Egiptiese artefakte versamel, ‘n ou jagter en sy troeteldier, ‘n gesin sirkus akrobate, ‘n vampier, ‘n seerower en sy meisie, en ‘n familie wat gereeld partytjies hou. Die sewende deur behoort aan haar en haar ouers se woning.  Sy dink hulle is maar bra vervelig, maar sy is lief vir hulle. As jy dan na die laaste illustrasie kyk, wonder jy maar net of hulle regtig sooo vervelig is…
Met die oopmaak van elke deur word die leser in n nuwe verbeeldingryke omgewing ingelei. Daar is die element van  afwagting en verassing wat jou aandag hou. ‘n Klein diertjie wat lyk soos ‘n marmotjie is in elke illustrasie versteek en maak ook ‘n interessante bydrae.
Die boek is oorspronklik uit Hebreeus in Engels vertaal, en is nou weer in Afrikaans beskikbaar.  Lees en vind uit wie waar woon!  

No comments:

Post a Comment