Tuesday, May 17, 2016

Prins donkerkuif en Monster rugby...


Koch, Miriam: Andries Anders ‘n reis met die wind( PROTEA, 2016)In Afrikaans vertaal deur Nicol Stassen

Andries Anders woon naby ‘n vuurtoring op ‘n dyk met sagte gras.  Hier vertel die winde en die see stories , en Andries  luister en droom van hierdie interessante vreemde plekke, en reuke – ‘n wit land, groen tropiese gebiede, ‘n woestyn.

Maar Andries keer graag terug na sy tuiste waar hy verder drome kan droom.

Hierdie verhaal se teks is baie poëties,  en neem fyngevoelige lesers op reis- net vir ‘n wyle- saam met Andries. 

‘n Sensitiewe verhaal met fyn tekeninge deur ‘n talentvolle illustreerder.

Die boek se formaat is heel verskillend van die meeste kinderboeke- ‘n langwerpige smal boek wat hantering vir kleintjies kan bemoeilik . My gevoel is dat die aanbieding meer tot volwassenes en of gesofistikeerde jeugdiges sal spreek.

 

Jeugboeke:

Taute, Dihanna: Ek en  Prins donkerkuif( H&R, 2016)

Lehandi is gladnie beïndruk met hul nuwe huis – ‘n groot dubbelverdieping rondawel wat onder ‘n “strooihoed” staan en dan nog in Pretoria waar sy oortuig is hul gesin nie maklik kwaliteit gesinstyd sal beleef nie- ‘n totale “myth”.

Haar ma se kleresmaak is outyds, haar pa suinig en alles moet op sy  manier gedoen word en “bogger die res”.

By die nuwe skool probeer die nerd Rochelle Olivier dadelik met haar vriende maak.  Sy praat aanhoudend  en het  daarby ‘n vispatee-asem wat Lehandi wil laat opgooi.

Sy besluit dat sy op 16 nou regtig ‘n boyfriend moet kry – die perfekte kandidaat is Frans Bruwer met sy donker hare en bruin oë , pragtig gebou en tog te hoflik.

Maar daar is ook  die buurseun Drayke Hunter , en hulle het altwee probleme met hul ouers-hare wil skei, en syne is geskei.  En hy wil haar maar netnie ophou verpes nie!

Dit is duidelik ‘n tipiese tienerverhaal  met karakters met wie lesers sal identifiseer. Wat die boek ‘n wenner maak is Taute se skryfstyl en talent – haar woordkeuses is verfrissend oorspronklik , en die verhaal lees lekker en ek kon genot put uit haar beskrywings van situasies en karakters. Hoogs aanbeveel vir ‘n lekker onderhoudende ligte leeservaring.

Honikman, M J : There should be five( Tafelberg, 2016)

This is the story of a South African WW11 hero, Job Maseko . In 1942 at Tobruk Harbour, he is taken prisoner by General Rommel along with 33000 Allied troops.

The writer states in an introduction that he developed the character Sipho Ndebele  through whose eyes much of the story is told from his father’s stories about the black soldier who saved his life in this war.

Sipho is a South African prisoner of war along with Job. They have been friends since his childhood in Natal, and where Sipho lives with fear, Job is fearless.     In contrast to the other prisoners, Job is determined that the Germans must not win the war, and this determination and courage leads him to perform something  so extraordinary  that it earned him a medal.

This story will lure , especially boys,  to read about a war hero . Apart from Siphos narration, there are notes from the author at the back sharing more information , also about Adolph Malan, a pilot in the war; the Victoria Cross , and some acknowledgements and thanks. Many references are also listed, and a few photographs of soldiers in the war.

Quite a fascinating read, with immense possibilities for classroom use and discussions.   

Viljoen, Fanie: Monster rugby( LAPA, 2016)

Ampie Coetzee  is “gebou soos ‘n wensbeentjie:dun en benerig”. Hy is nou nie juis die grootste aanwins vir Laerskool Breekkloof se rugbyspan nie; dalk sal ‘n meer geskikte rol die van gelukbringer wees- “ daardie ou wat in ‘n pienk flamink-kostuum langs die veld rondhardloop.”

Maar hy speel rugby, en toe die nuwe seun by die span aansluit, moet dit nou juis hy wees wat die waarheid omtrent Max uitvind- hy is in werklikheid ‘n aaklige monster! Net Dora glo hom; en die twee beraam ‘n plan om Max te ontmasker. Dora laat Ampie oefen om fiks te word, en ‘n Rugbywestryd teen ‘n hele span monsters gaan dalk die geleentheid wees  om  Max boosaardig kwaad maak, want as hy kweed is ,  verander hy….

Heerlike ligte leesstof vir jong lesers – lekker groot druk en genoeg vermaak vir ‘n oomblik van leesgenot. Fanie Viljoen weet net hoe.

Byrne, Richard: Die boek het my hond ingesluk( H&R, 2016)

Toe Bella eendag met haar hond oor die bladsye van die boek stap , verdwyn hy skielik en word “ingesluk” deur die boek! Ben besluit om ondersoek in te stel, maar hy verdwyn ook. Die honderedders en brandweer  verdwyn ook. ‘n Briefie verskyn egter met die versoek dat die boek op sy sy gedraai moet word en geskudmoet word, sodat alles weer kan verskyn. Alles is nou soos dit hoort, behalwe vir Bella se hond-lees maar self wat met hom gebeur!

Die eenvoud van illustrasies gekombineer met die teks in oranje ; ‘n oulike dogtertjie met ‘n wollerige brakkie wat onskuldig deur die bladsye van die boek loop het heelwat bekoring en sal kinders se humorsin prikkel.  Geen wonder die leser word versoek om die boek te vra om nie weer so stout te wees as jy hom lees nie!

Ligte leesvermaak met ‘n klein Kinkel!

 

 

 

Monday, April 18, 2016

'n Reis van Pippie Langkous na klein heksie, olifant se vraag en seestories


Lindgren, Astrid: Pippie Langkous-omnibus( H&R, 2016)Afrikaanse vertaling deur Nerina Ferreira

‘n Omnibus van die drie boeke in die reeks:  Pippie Langkous, Pippie Langkous gaan aan boord en Pippie Langkous in die Suidsee dien ook ter viering van haar 70ste bestaansjaar!

Dit was genoeg motivering om persoonlik op ‘n nostalgiese reis te gaan en weereens te ontdek waarom Pippie Langkous so gewild gebly het.

Wie kan nou nie vereenselwig met ‘n dogtertjie wat absoluut as individualis die lewe aanpak nie! Sy is buitengewoon sterk; sy woon alleen in Huis Winderuis met haar apie Meneer Jakobs , ‘n perd ,en ‘n tas vol goue muntstukke wat haar in staat stel om kinders op lekkers en speelgoed te trakteer en altyd sorg vir lekker eetgoed ook vir die twee kinders Tommie en Anneke wat gou bewonderaars word van die eienaardige dogtertjie. Sy beskerm ‘n seuntjie teen sy vyf aanvallers; sy hoef nie skooltoe te gaan nie; is nie bang vir ‘n woedende bul nie; tree selfs in ‘n sirkus op ; uitoorlê twee inbrekers; tree as lewensredder op en is bra onverfynd op ‘n koffieparty, om maar ‘n paar van die avonture te noem.

Wat die omstandighede nou okal is, Pippie slaag altyd daarin om die situasie te red.

Jong lesers wat hulle kan inleef in haar fantasie-wêreld sal die skerpsinnigheid en humor geniet; en Pippi behoort ook in 2016 bewonderaars te werf!:

“Die sterre blink bo Huis Winderuis se dak. Daarbinne is Pippie. En sy sal altyd daar wees…”

(Net jammer dat die bladsyverwysings vir haar twee briewe op bladsy 248 verkeerd is: die briewe is op 158 en 215 nie 156 en 213 nie. Ook op bladsy 93 die setties i.p.v seties.)

Vanden Berg, Leen en Vermeire, Kaatje: Olifant se vraag ( PROTEA, 2016)Uit Nederlands vertaal deur Shané Kleyn.

Elke jaar hou die diere ‘n vergadering op ‘n heuwel waar moeilike kwessies bespreek word. Mier lei die groep en uiteindelik wil Olifant weet: Hoe weet mens dat jy iemand liefhet? Dit gee die geleentheid vir die diere om te antwoord en hul eie interpretasie te deel- muis het so sterk soos ‘n olifant gevoel; Sneeuwitjie vergeet met ‘n soen van al die naarhede; klip kry lekker warm langs sy geliefde; see kry ‘n hupstootjie van die wind; appelboom deel die son met haar geliefde; ysbeer voel of hy op ‘n warm eiland is, en die sneeuvlokkies smelt vir mekaar. Mier verdaag die vergadering en noem hul verklarings absolute nonsens. Maar skielik voel sy tog te alleen…

‘n Wonderlike poëtiese teks wat jou aangryp en tot nadenke stem.

Kaatje Vermeire se illustrasies bevat fyn detail en is soos ‘n ontdekkingsreis vir die leser wat genot kan put uit die sterk verbeeldingswêreld gevul met fantasie en interessante voorwerpe soos ‘n tikmasjien, windmeul, ’n drom en trollies en vuurtoring. Dit is  besonder oorspronklik. Etswerk en collages bevat selfs voorwerpe  , blare en figure soos ‘n dogtertjie, dansers en ‘n harlekyn.

 Hierdie boek is in teks en illustrasie as geheel ‘n kunswerk wat gekoester sal word deur lesers wat die prenteboek as kuns waardeer. Dit is natuurlik baie gesofistikeerd en dalk te “volwasse” vir heel jong lesers. Nie dat ek kinders wil onderskat nie!       

Preussler, Otfried:  Die klein heksie( PROTEA, 2016)Uit Duits vertaal deur Amelia de Vaal  Tweede Afrikaanse uitgawe.

‘n Klein heksie is honderd-sewe-en-twintig jaar oud, maar vir ‘n heksie is sy nog ‘n bogkind! So jonk, dat sy nognie toegelaat is om die heksedans op Bloksberg by te woon nie. Abrakis haar kraai raai haar aan om maar hard te oefen aan haar toorkunsies sodat sy kan kwalifiseer vir die volgende dans. Volgens Abrakis moet sy haar towerkrag gebruik om goeie dinge te doen. Sy help drie tantes om vuurmaakhout in die woud te kry; toor papierblomme om ‘n heerlike geur aft e gee; red twee kinders se os wat die prys sou wees by ‘n skietwedstryd; en o.a. toor die kraai en haarself sodat hulle nooit weer koud hoef te kry nie. Maar is ‘n regte heks nou veronderstel om goeie dinge te doen? Voor die hekseraad kry sy haar antwoord, maar slaag tog daarin om die enigste heks op aarde te word wat kan toor!

Die vertaling lees lekker en die verhaal as geheel het ‘n ligte vrolike aanslag aangevul deur die kleurvolle illustrasies wat toepaslik is vir die tyd waarin die boek oorspronklik geskryf is.

Die boekie is keurig versorg en hierdie onskuldige soms verstrooide naïwe heksie behoort lesers te lok.

Maartens, Wendy: Stories van die see( PROTEA, 2016) Met illustrasies deur Marjorie van Heerden. Ook in Engels beskikbaar as Sea stories.

Hierdie versameling seestories in ‘n stewige hardeband groot formaat boek trek dadelik die aandag met die pragtige omslag deur die illustreerder in seegroen kleure van ‘n vrou wat heerlik verstrengel swem in ‘n groen kolwende see.

Die skrywer meld dat sy nie by die see grootgeword het nie, en dus was sy haar hele lewe lank oppad see toe. Vandaar seker die behoefte om stories van die see te herroep.

27 stories word vertel en hervertel; soos die verhaal van Wolraad Woltemade, die Vlieënde Holander, Hans die seun in Nederland wat die gat in die dyk met sy vinger toegehou het en so die water kon keer. Welbekende stories word nuut oorvertel, en meer romantiese vertellings word afgewissel met inligting oor hoe dryfsand is en waarom die see sout is ; hoe dolfyne hul glimlag gekry het en die ryk vrou van Stavoren moet leer om nie so gierig te wees nie.Lesers met ‘n liefde vir fantasie en legendes sal bykomende inligting kry met die Het jy geweet stukkies aan die einde van sommige van die verhale.

Daar is ‘n goeie balans gehandhaaf en genoeg afwisseling om die leser betrokke te hou. ‘n Bronnelys is ook aangeheg.

Kleurvolle volblad illustrasies word afgewissel met swart-en wit prente. Sommige illustrasies soos die dubbelblad voor die inhoudsopgawe van ‘n dogtertjie wat kennis maak met ‘n meermin op die strand; Wolraad Woltemale se perd  en die dansende dolfyne is besonder treffend, maar dieselfde kwaliteit ontbreek soms in kleiner illustrasies soos twee leeus op bladsy 82. Tog is die geheel lewendig , vol beweging en verbeeldingryk met ‘n amper kinderlike amper naïwe aanslag wat kinders sal geniet.

 Daar bestaan nognie so ‘n spesifieke versameling met seestories in Afrikaans nie, en die boek leen hom dus vir voorlees; tuisversamelings en vir biblioteek gebruikers spesifiek op soek na stories oor die see.

Tuesday, March 22, 2016

'n Hart wat klop!


Hartklop deur Cecilia Steyn (H&R, 2016)

Hartklop is die eerste titel in ‘n nuwe tiener-reeks, Tienerharte. Tienerharte 2 Hartbreker en 3, Hartedief sal ook verskyn.

Megan is volgens haar pa te stil en rustig vir ‘n meisie in matriek. En Megan besluit ook “Miskien is dit tyd dat Megan Bruwer…ontdek moet word”. Die Desembervakansie kuier sy saam met haar broer Stefan en sy vriend Dewald by haar ma op Paternoster. Stefan voel baie beskermend teenoor sy jonger sussie, en Dewald is gewaarsku om nie met haar te lol nie.

En ‘n  mens se hart volg maar gewoonlik sy eie pad, en gou word dit duidelik dat die twee jongmense reeds op mekaar verlief is, hoewel hulle dit probeer wegsteek, en elkeen gedurig twyfel oor die ander een se gevoelens.

Die hoofstukke word verdeel tussen Dewald wat met die leser kommunikeer, gevolg deur ‘n hoofstuk met Megan aan die woord.  

Die spanningselement word dus deurgaans gehandhaaf; en die jongmense se reaksies is oortuigend en tipies soos die van verliefdes- fisies aangetrokke tot mekaar; en enige aantreklike meisie of seun word as ‘n bedreiging gesien!

Wanneer Megan na ‘n  rusie tussen die drie haar broer se Jeep gebruik om weg te kom, volg ‘n spanningsvolle tyd en ‘n heeltemaal onverwagse wending tot die verhaal. Want Elaine, Stefan se eks ,sweer wraak, en Megan as tweede prys sal ook reg wees.

Heeltemaal onderhoudend geskryf, en ligte lekker-lees tiener materiaal. Die aantreklike omslag van twee verliefde jongmense sal belangstelling lok.

 

Thursday, February 25, 2016

Jasper beleef 'n herdruk!


Jasper-reeks:

Beyers-Boshoff, C.F.:  Jasper op hoërskool; Jasper die rugbyheld en Jasper se plaasvakansie( PROTEA, 2015 /2016)

Die gewilde reeks oor die manewales van Jasper en sy bende het reeds in 1959 verskyn, die eerste uitgawe het drie herdrukke beleef.  PROTEA uitgewers skep‘n tweede uitgawe en eerste druk, met splinternuwe meer speelse omslae , elke boek geklee in ‘n interessante agtergrond van geel, pers en seegroen.

In biblioteke het die reeks steeds in aanvraag gebly; miskien ook waar ouers bekend was met die reeks en dit weer aan die volgende geslag aanbeveel het. Dit het ‘n persoonlike her-lees regverdig; ek wou sien hoe ‘n volwasse leser in 2016 op die boeke reageer.  Die vraag is natuurlik of die boeke aanklank gaan vind by vandag se seuns?

Vanaf Jasper se hoërskool-dae word die leser geneem na ‘n tyd en omgewing van gewone kleindorpie- seuns en hul wêreld van rugby, perskes steel,  ‘n resies met seepkiskarretjies, kleiosse, skelm rook in ‘n rietbos, en tussendeur is hulle ook ‘n dapper bende wat help om diewe te vang.  As rugbyheld moet Jasper kompeteer met die nuwe seun wat ook losskakel speel en Jasper sy verkose posisie laat inboet. Sy ma dokter nog met kasterolie, die land se Provinsies is nog Transvaal en Vrystaat, en lyfstraf deur onderwysers is ‘n aanvaarde praktyk.

Van die drie boeke het ek Jasper se plaasvakansie die meeste geniet. Miskien ook as dorpsjapie wat nostalgies voel oor ‘n ongekunstelde plaaslewe soos beleef in die sestiger-jare.

Die seuns leer koeie melk, word vriende met Mossie ‘n plaaswerker, jag tarentale; kry 75sent vir ‘n broeishoender wat hulle verrruil vir patrone; hulle kry die blink gedagte om ‘n gewig aan die bul se stert vas te maak om te verhoed dat hy weer deur die rivier loop na die buurman se grond;  en ry donkies.

Jasper red ‘n hond en haar kleintjies uit ‘n brandende skuur, en sy grootste oomblik op die plaas is die jagluiperd wat hy doodskiet en oom Martiens van die dier se kloue red. Die suens vind uit ‘n arend op sy nes is ‘n moeilike kalant om mee kragte te meet, en bye moet ook met handskoene hanteer word!  Jasper en Ferdinand se klere word by die swemgat weggesteek, en hulle moet poedelnakend by die dominee se vrou verbykom. ‘n Verveelde Jasper laat val sy albasters in die kerk, en dominee se straf is dat hy kaartjies vir die Sondagskool-konsert moet verkoop. Hulle kry ook ‘n kans om Mossie bang te maak, maar word self ook bang gemaak deur die ondeunde Kiewiet.

Die boeresport-dag gee hul weer die geleentheid om deel te neem aan ‘n sakresies, ‘n hardloop kompetisie en ‘n resies op die rug van donkies.

Wanneer Jasper ‘n pop wen wat ‘n oulike meisie uigeloot het, verdwyn hy tipies seun. “ Jy kan maar sê hy het soos ‘n groot speld verdwyn”.

Hierdie reeks het ‘n belangrike plek in die ontwikkelingsgeskiedenis van die Afrikaanse kinder en jeugboeke in Suid Afrika, en as kulturele/sosiale  kommentaar  vertel die boeke ‘n verhaal van seuns wat nog verfrissend kind is; wat plesier vind in speel en kattekwaad op ‘n onskuldige wyse.

Lona Gericke Februarie 2016

 

     

 

Tuesday, February 23, 2016

Van prenteboeke tot Professor Fungus


Prenteboeke vir kleuters:

100 eerste woorde deur Cheeky Monkey Publishing( H&R, 2016) Afrikaans deur Charles Siboto

Wat is nou lekkerder vir nuuskierige kleintjies om ‘n boek te kry met loergaatjies en flappe?!

Die honderd eerste woorde is versprei deur die hardeband boek met ‘n loergaatjie en flappie op elke tweede bladsy waar kinders kan raai wat hulle deur die loergaatjie sien.

Die woorde is saamgegroepeer onder speelgoed, kos, klere, buite speel en badtyd saans.

Die plusunte van die boekie is die feit dat al die speelgoed en klere fotos van die item is; die hele aanbieding is heerlik kleurvol , die flappies se agtergrond kleure vertel waarop die woorde betrekking het, en die stewige hardeband belowe lang ure van vermaak en leer. Oulike aanbieding.

100 woorde oor diere deur Cheeky Monkey publishing( H&R, 2016) Afrikaans deur Charles Siboto

Diere bly nou maar ‘n groot gunsteling onder jong lesers, en dan is die diere hier regtige diere en sal hul leer om diere te identifiseer en ook deur die loergaatjie en flappies op te spoor. In die veld, die oerwoud, die see , in die wildernis en as troeteldiere is daar 100 items om te waardeer. Elke boek bevatdie 100 woorde op die agterbladsy in ‘n helderkleurige geel tabel.   Baie aanloklike boekies!

Wilde diere-feite en geite: kan ‘n olifant sonbrand? Deur Camilla de la Boyere met illlustrasies deur Aleksei Bitskoff. Afrikaans deur Kobus Geldenhuys.

4 stewige sagteband prenteboeke verskyn in die reeks. Die ander titels is Kan’n krokodil basketball speel?; Kan ‘n tier touloop? En Kan ‘n apie waterski? en ander vrae.

Hierdie is nou werklik 4 boeke wat veral kinders met ‘n goeie humorsin baie gaan geniet, terwyl hulle ook meer leer oor die gewoontes en eienaardighede van die spesifieke dier.

So vind ek uit dat ‘n baba olifant 10 liter melk in ‘n dag drink en die ma kan weglê aan 1400 appels! Baba olifante suig aan hul slurpe as hul snags troos soek; en een weeg soveel as 8 kinders. Hulle blyplek word op ‘n kaart aangedui, en elke boekie sluit af met ‘n poskaart deur die olifantaan ‘n mens-gesin.

Hierdie vier boeke is vanaf elke kleurvolle omslag met vrolike diere wat baljaar en hulleself geniet, en verder met elke bladsy net een groot heerlike skaterlag-ervaring. Hoogs aanbeveel.

Vir beginner lesers, 7+jariges:

Twee nuwe titels in die gewilde Professor Fungus reeks:

Professor Fungus en die diepsee-dilemma deur Jaco Jacobs met illustrasies deur Johann Strauss( LAPA, 2016)

Hierdie is die negende titel in die reeks, en weereens was ek nie teleurgesteld nie en kon die boek soos die vorige titels baie geniet.

Professor Fungus en sy vriend Igtus nooi Bennie en Jennie om hul te vergesel wanneer die nuwe spesiale duikboot V.I.S (Veeldoelige immerslewe seevaartuig) uitgetoets gaan word. Die duikboot moet die twee geleerdes help om vas te stel of daar ook ‘n Hipermegasuperdoeper Pylinkvis bestaan. So vaar hulle die dieptes in, met die robot Edison al brommende saam, want hy wil tog nie nat word nie. ‘n pylinkvis –ma laat hul boot sink, en dit is die twee kinder swat dit vir hulle moontlik maak om die eiland te verlaat waar hulle gestrand is; en Jennie het gelukkig ook die pylvis met haar selfoon op ‘n video vasgelê.

Jaco Jacobs het nou maar ‘n aanvoeling vir ‘n kind se ervaringswêreld en kan hul vermaak en nuuskierig maak om verder te lees. Johann Strauss se illustrasies bly absoluut ‘n groot vreugde en dra ongetwyfeld by tot die genot van die leeservaring.

Professor Fungus en die vreeslik gevaarlike tuinkabouters: Jaco Jacobs, met illustrasies deur Johann Strauss.( LAPA, 2016)

Die tiende titel in die reeks is weer propvol vermaak. Baie lesers sal saamstem dat daardie tuinkabouters in tuine nou nie juis die meeste mense se gunsteling tuinverfraaiers is nie; en ‘n mens kry ook soms so ‘n onheilspellende gevoel as jy een so stokstyf sien staan!

Jy was toe nie verniet ongemaklik nie, want Professor Fungus en die twee kinders ontdek in die verhaal dat tuinkabouters onskadelik mag lyk, maar pasop as Zenobia Ziervogel, Professor Fungus se grootste vyand, vanuit haar Zirkopter in die lug opdragte uitblaf aan haar onderdanige kabouter-linie wat maar te gereed is om die Professor se laboratorium te verwoes. Gelukkig is die robot Edison in staat om stemme na te boots, en so word Bennie ook gered.Die Professor se fantastiese ruk-en-rol-spaghetti eksperiment word ook ingesluit sodat energieke kinders dit kan probeer maak.

Lekker ligte vermaaklike leesstof wat beginner lesers sal aanspoor tot ‘n liefde vir boeke en lees. Johan Strauss beïndruk nogmaals met super aksie-belaaide prente.   

 

 

Wednesday, February 10, 2016

Van 'n meisie op die dak, kattemanewales tot die hasies wat wou slaap...


Steyn, Cecilia: Die meisie op die dak(  LAPA, 2016)

‘n  “Nuwe, aaklige, giggelgeel kombuis”, ‘n nuwe tuiste in een van die “goorste buurte” op die dorp. 

Estelle moet vrede maak met die feit dat haar pa wat in die tronk is omdat hy van geld verduistering aangekla is, sy en haar ma nou hier laat beland het. Dan is sy nog hoofmeisie by haar skool in die rykmansbuurt; en die matriekjaar lê voor! Stel jou net voor die geskinder van kinders wat sy sal moet verduur.

Maar die nuwe huis bring ook ‘n lekker kuier-kat  Cornelius; ‘n aantreklike donkerkop seun Aiden met ‘n voorliefde vir dak kuiertjies en skilder; toevallig toe ook die nuwe seun in haar matriek-klas. 

Hierdie is ‘n debuut jeugverhaal en “werk” want die skrywer laat geen van die struikelblokke in Estelle se lewe oorneem  nie. Haar aanslag bly lig en lesers sal ingetrek word deur die ontluikende vriendskap tussen Estelle en Aiden. ‘n Mens kry die gevoel dat Cecilia Steyn wesenlik ‘n romantikus is; sy wil liefde laat sëevier en die leeservaring lig en lekker hou.

Die pragtige omslag van die meisie op die dak is ‘n wenner en maak jou lus om die boek te lees! Welkom tot die wêreld van jeugboeke geskryf vir die genot van lees, Cecilia Steyn! Jy kan maar.

Marc de Bel: Kaskenades onder  die volmaan en  Die bal van Biljart(  PROTEA, 2016) Uit Nederlands vertaal deur Zandra Bezuidenhout.

Met Protea uitgewers se gebruiklike kwaliteit versorging van omslag, uitleg en in hardeband gebind, verskyn hierdie eerste twee titels in ‘n nuwe reeks, Robbie Ramkat.

Robbie was Kampioenkat van die Jaar, en volgens hom is hy nie vet nie, hy het net “so ietsie opgetel”! Hy sien uit na Kieta se verjaarsdagpartyjie; die enigste probleem is dat hy iets lekkers in die hande moet kry as geskenk sodat Bronko goed jaloers kan wees.

In die tweede boek, Die bal van Biljart,  moet hy en sy vriende die tennisbal waarop die superstar Bil Jart sy naam geteken het en dus uiters waardevol is , probeer opspoor en terugkry.  Hier is die beroemde sangeres Lola Lala ‘n moontlike verdagte. 

Ander karakters wat die leser ontmoet is Bamboes die Labrador vir wie Robbie baie versigtig is; Vaal-Willem van der Rot wat net weet hoe om hom uit te oorlê ; drie straatkatte en ‘n rooi afleweringswa van die Rooi Draak restaurant; ‘n “piepklein suurlemoengeel dwergpapegaaitjie; “ ‘n plek waar navorsing op diere gedoen word en waar Robbie ook die geleentheid kry om ‘n reddingspoging te doen.

Die Robbie Ramkat-lied word aan die einde van elke boek gegee; en indien die reeks gewild word, sal sy bewonderaars seker lekker wil saamsing as Robbie vertel van sy grasgroen oë en rooibruin hare en sy liefde vir die stylvolle sjarmante Kieta.

Vir beginner lesers behoort Robbie en sy vriende se avonture lekker leesgenot te verskaf.

Carl-Johan Forssén Ehrlin: Die hasie wat aan die slaap wou raak ( H&R, 2015)In Afrikaans vertaal deur Aldré Lategan.

Volgens die omslag van die boek is dit ‘n #1 internasionale blitsverkoper ; die skrywer vertel die “inhoud is gebaseer op kragtige sielkundige tegnieke vir ontspanning” en die doel is om kinders te help om makliker aan die slaap te raak by die huis, die skool of ‘n voorskoolse groepie.

Instruksies word gegee aan die verteller oor hoe om jou stem te gebruik deur beklemtoning, stadig lees of met ‘n kalm stem te lees.

Natuurlik stem ek saam dat dit duidelik is dat die skrywer se teks die tegnieke weerspieël en dui op kennis, maar persoonlik is ek baie nuuskierig om te weet hoe suksesvol dit plaaslik al gebruik is met kinders!

Jare van stories vertel aan kinders laat my dadelik soos volg reageer: 19 bladsye van teks ; ‘n paar naïwe illstrasies van ‘n grootoog hasie; ellelange teks wat gelees moet word om die kind/kinders uiteindelik aan die slaap te maak- watter ouer het hiervoor tyd?!  Ek sien al hoe die kindes dadelik belangstelling gaan verloor as ek begin met “Sommige mense raak dadelik aan die slap, terwyl ander eers ‘n rukkie vat voor hulle in droomland is, gaap – naam”.   En dan die titel : Die hasie wat aan die slaap wou raak-  die probleem gewoonlik is dat die kind nie wil slaap nie, en die ouer gebruik verskillende metodes om dit reg te kry- iets soos tone vryf; sy gunsteling storie oor en oor te lees; defnitief nie ‘n professionele publikasie geskryf vanuit ‘n sielkundige agtergrond en perspektief nie!

Nouja, sterkte aan die ouers of onderwysers wat gaan probeer met hierdie boek.

 

Lona Gericke   Februarie 2016

Thursday, December 3, 2015

Sarel seemonster, Karel Kraai en Haas Das leer die kleintjies!


Smit, Louise en Fischer, Shân: Sarel seemonster leer ons van kleure( H&R,

2015)

‘n Reeks van 4 titels in die Wielie Walie Woelwaters reeks met elkeen van die 4 titels in ‘n helder kleurvolle omslag- blou, geel, rooi en groen.

Die boekies is in hardeband gedoen, met ‘n draaiwiel waar kleure opgespoor kan word. Verskillende aktiwiteite kan gedoen word en kinders kan hulleself ‘n regmerkie in die blokkie gee as hulle dit korrek doen. Kleurvolle balonne kan verbind word met ‘n tou in dieselfde kleur; in die park word kleurvolle dinge uitgewys; ‘n stopstraat se tekens word verduidelik; en selfs hoe kleur vermeng word om ‘n ander kleur te kry word verduidelik. ‘n Rëen boog se kleure verskyn, asook kleure wat nie in die rëenboog voorkom nie. Kinders leer hoe om ‘n kleurwiel te maak en dit te gebruik. ‘n Pen is ingesluit wat weer skoongevee kan word.  Baie mooi kleurvol en behoort kleintjies besig te hou terwyl hulle leer.

Smit, Louise en Fischer Shân: Karel Kraai leer ons van syfers( H&R, 2015)

Die wiel kan gedraai word om die eiers in ‘n nes te tel. Vanaf die getal 1tot 20 kan elke getal geidentifiseer word  en die kolletjies in ‘n blokkie word verbind en die kind kan dan die getal skryf. Elke getal word weer verteenwoordig deur bv. Blomme, of kersies of skoenlappers . ‘n telspeletjie word ook ingesluit.

Smit, Louise en Fischer, Shân: Haas Das leer ons van teenoorgesteldes( H&R, 2015)

Woelwaters kan die wiel draai en na al die groot diere kyk. Met die omblaai leer hulle weer van die kleinste diere. Vinnig en stadig word dan verduidelik met die luiperd en ‘n slakkie; en lank en kort diere is verteenwoordig deur kameelperd en dassie. Nat en droog kry ‘n beurt, hard en sag en sterk en swak. Selfs op en af, bo en onder fluks en lui is nie vergeet nie. Kinders kan teenoorgestelde stomstreke speel deur teenoorgesteldes te verduidelik met gebare en aktiwiteite.

Smit, Luise en Fischer, Shân: Bennie Boekwurm leer on van vorms( H&R, 2015)

Deur die wiel te draai kan kinders ‘n fiets kies met wiele wat elk van die 6 die verskillende vorms verteenwoordig. Verder word elke vorm verduidelik met voorbeelde. Die vriendelike Bennie Boekworm is deurgaans teenwoordig as die karaktertjie wat hulle help om te leer. Laastens word hul uitgenooi om hul eie vorm-prentjie te maak, bv. soos die vuurpyl wat maan toe vertrek.

Die boeke is by die Suid Afrikaanse  storietyd karakters in die Wielie Walie Woelwaters reeks aangepas in samewerking met die Cheeky Monkey uitgewersmaatskappy in Engeland. Hierdie aktiwiteitsboeke kan ook op Facebook opgespoor word by www.facebook.com/NBJongklomp.

Vir ouers en grootouers wat kinders besig wil hou terwyl hulle sommer leer ook, is hierdie boeke net die regte ding!

Lona Gericke Oktober 2015.