Monday, August 29, 2016

Lekker lentetyd boeke!


Lentetyd boeke!

Vir die kleintjies:

Eerste stories reeks: Jan en die boontjierank; Rooikappie; Aspoestertjie; Die Oerwoudboek(H&R, 2016)

Kleurvolle kartonboeke elk met ‘n ander kleur kolletjies rugkant ; stewig en klintjies kan na hartelus trek , stoot en skuif om die leeservaring nog lekkerder te maak. Klein Mowgli kruip weg agter kleurvolle blomme; lê in sy hangmat en word beskerm deur sy vriende.

Jan klim teen die boontjierank uit en met ‘n stootbeweging sien die leser die reus. Met ‘n skuifbeweging verander Rooikappie se ouma in die aaklige wolf, enAspoestertjie verander in n asemrowende prinses!

Die reeks is defnitief vir 0-6jariges; die sprokie is baie vereenvoudig, maar dit is ‘n gawe geleentheid om lief vir boeke te word.

Butterfield, Moira en Sterling, Holly: Almal voel…kwaad; Almal voel…hartseer; Almalvoel gelukkig en Almal voel bang ( H&R, 2016)

‘n Sagteband reeks van vier titels wat baie nuttig deur onderwysers en ouers gebruik kan word om kinders meer te leer oor die verskillende emosies wat hulle ervaar, afhangende van die spesifieke situasie waarin hulle hul bevind.

Zinzi is hartseer omdat sy haar gunsteling speelding verloor het. Omar se kat Sokkies is dood en hy is baie hartseer.   Elke kind kry die geleentheid om hul emosies met maatjies te deel. Lesers kkry wenke oor hoe om die emosies te verwerk. Op bladsye 20-21 is die stories in 4 opeenvolgende stappe verdeel as hulpmiddel, en woorde in die storie word ook verduidelik , bv. Snoesig: sag en lekker om aan te vat.Omar se kat was baie snoesig.

Die boeke is aantreklik geillustreer met ‘n vrolike positiewe gevoel sodat die kind na die prente kan kyk terwyl emosies verduidelik word. Hierdie reeks sal tuis en in biblioteke /skole gebruik kan word.

Pinguilly, Yves: Die groot blom( Tafelberg, 2016) Illustrasies deur Maja Sereda. Ook in Engels beskikbaar as The big flower. Afrikaanse vertaling deur Martine Steyn.

‘n Eerste skooldag word vir Palesa en haar maatjie Dylan word ‘n wonderlike avontuur wat begin met die twee wat skooltoe stap. Palesa se papa hou elke kind aan ‘n hand vas. Wanneer hulle by ‘n piepklein huisie verby loop word hulle gegroet deur ‘n reuse geel sonneblom. Wanneer hulle weer huistoe gaan is die blom ook besig om totsiens aan die dag te sê.

Hierdie is die mooiste boek! Sereda se illustrasies is werklik iets besonders- die hele atmosfeer wat sy so skep is vrolik en maak ‘n mens se ervaring prentjie-mooi! Een van die treffendste boeke wat ek vanjaar tëegekom het. ‘n Stapervaring so eenvoudig maar tog so lekker. Hoogs aanbeveel.

McIntyre, Sarah: Daar’s ‘n haai in die bad( LAPA, 2016)Afrikaans deur Jaco Jacobs.

‘n Lawwe vrolike fantasie met Nika wat ‘n hele haaifamilie in die badwater ontdek, en hulle besig hou met tandeborsel en lekkerruik speletjies sodat hulle haar nie opvreet nie. Toiletpapier word gebruik vir die fraai toegedraaide speletjie, en voor haar pa die gemors kan aanskou moet hulle help met die skoongeskrop-speletjie. Pappa Haai besluit nou hulle sal beter vaar om terug te gaan see toe. En Nika: kyk net wat ontdek sy in haar papbak met ontbyt! Lekker laf en vrolik; groot pret.

 Jacobs, Jaco: Viskos! ( LAPA, 2016) Illustrasies deur Zinelda McDonald.

Troeteldierdag is Dennis se geleentheid om sy goudvis Flaffie skooltoe te neem. Niel die skoolboelie, laat Flaffie in die toilet afspoel. Gelukkig kom Flaffie weer te voorskyn. Die wetenskap onderwyser kry nie kans om  sy nuwe eksperiment met die kinders te deel nie, maar tot Niel se verbasing begin Flaffie hik, eet sy wiskund huiswerk op en word al groter en groter…Meneer Newton se groeiformule het gewerk, en die skoolboelie leer sy les.

‘n Beginner leesboek wat elke kind sal geniet. Die storie is verbeeldingryk en snaaks, en McDonald se illustrasies is in die kol om die hele ervaring nog lewendiger en snaakser te maak. Baie oulike boek.

Ellison, Peet: Timmertak se nuwe avonture( H&R, 2016) Afrikaans deur Kobus Geldenhuys. Ook in Engels beskikbaar as Timbertwig’s new adventures.

 

Timmertak is ‘n gewilde karakter in die bekende Storieman-reeks, en hier kry kinders 4 nuwe avonture met Timmertak en Abigael die towerspinnekop wat in sy hoed bly. Haar hoedhuisie is vol hare, en die towerspreuk om die hare te laat verdwyn loop lelik skeef toe Timmertak se wenkbroue verdwyn. By die skool gaan dinge nie beter nie, en Abigael laat ook sy uitskryfwerk om nie onderwysers te treiter nie, skeef loop. Timmertak kry ook te doen met ‘n vlooisirkus en die vlooie weet hoe om selfs Ouma Kwas te laat jeuk.

Abigael toor twee yslike wit eiers so groot soos rugbyballe. Die volstruis Piekel broei uit, en uit die ander eier verskyn ‘n klein krokodil! Hy is vasbeslote om Piekel te leer vlieg, min wetende dat volstruise mos nie kan vlieg nie. En Ouma het die krokodil agter die kinders in die swembad ingegooi-elke kind het daardie dag ‘n swemrekord opgestel!

In die laaste storie verdwaal Skitterkind , ‘n babaster en beland in die dam. As sy nie gou gered word nie, sal haar liggie vir altyd uitgedoof word. Eers help hulle om ‘n klomp ballonne uit ‘n doringbos en weg van die stekende Goorgogge te lei; en op hul beurt help die ballonne weer vir Skitterkind om weer in die lug te kom. :”van waar hy in sy bed lê…wonder hy of Skitterkind veilig by haar huis aangekom het en wat die ander sterre van Kameelperd, Worshond en Nlom – die ballonne gedink het wat met haar huis toe gevlieg het”.

Die boek sluit ‘n oudio-CD in. Wonderlik verbeeldingryke stories met die interessantste karakters en name wat hierdie ‘n uiters gewilde voorlees en selfleesboek gaan maak.

7+jariges:

 Viljoen, Fanie: Oepse daisy, Lulu( LAPA, 2016)

Lulu se ma en pa vertrek om die modeweek in Londen by te woon. Hulle verras haar egter met die nuus dat haar geliefde tante Tula-Belle by haar kom bly want sy moet in n groot operakonsert sing.

Lulu nooi sommer dadelik Carmen om ook ‘n paar dae by haaar te kom bly om die tante te ontmoet.

Anaf haar aankoms begin die huis ghaoties raak- sy het ‘n magdom klere en juwele saamgebring; en gou is dit duidelik dat sy met niks tevrede is nie- die kok se kos is sleg, sy is allergies vir alles, en sy krap vreeslik om. Skielik verdwyn haar duur ring en sy beskuldig sommer die tweeling langsaan van diefstal.

Toe sy ontdek dat Lulu ook rokke ontwerp dring sy daarop aan dat Lulu die rok maak wat sy met die groot aand gaan dra. Maar al Lulu se pogings is netnie reg nie. Toe word die konsert ook gekanselleer, en Lulu reel sommer dat hulle ‘n vertoning in die tuin hou. Wanneer die tante haar sang oefen, klink dit nie te wonderlik nie. Lulu besef geleidelik dat haar tante vernader het en dat sy nie meer so baie van haar hou nie. Die konsert eindig ook in ‘n fiasco toe ‘n donderbui uitbreek, maar nou hoor sy eers wat werklik haar tante se situasie is.

Jonger lesers , veral meisies wat modebewus is en aanklank vind by die illustreerder se amper naïwe sagte waterverf illustrasies- alles baie “girlie”-rig, sal die storie geniet. Veral ook as hul reeds met die hoofkarakter kennis gemaak het in die vorige twee titels- Bravo, Lulu en Oelala, Lulu en haar geniet.

‘n Bonus is die skrywer se lewenslessie wat so sagkens ingewerk is. 

 

  

 

 

9-12jariges:

Pantermüller, Alice en Kohl, Daniela: Lotta se lewe – Vent of vriend?( H&R, 2016)Afrikaans deur Kobus Geldenhuys.

5 Boeke het reeds in hierdie gewilde reeks verskyn, en in die volgende avontuur is daar glo ‘n groot drama met ‘n Lama.

Lotta, Chantelle en Paul besoek die stad se swembad sodat dit nog ‘n bietjie na vakansie kan voel want die skool het weer begin. Hier spat sy per ongeluk ‘n vreemde seun wat ‘n onverstaanbare taal praat nat. Paul sê dit is Frans. En toe is hy nog die nuwe seun in die skool. Rémi moet langs haar sit, en Lotta kan nie die reuk van sy aaklige vrot kaas uitstaan nie. Die ergste is dat hy sommer gou smoorverlief    op haar is, en Lotta moet besluit of hy vent of vriend gaan wees.

Lotta aanhangers behoort hierdie nuwe boek in die reeks te geniet. Weer is daar die gebruiklike humor versterk met die sketse , letters in verskillende groottes en emosies wat duidelik op hul gesigte uitgebeeld word.   Gaan hy ‘n lid van hulle bende word? En sal hy tog leer sy is nie Lothar nie,maar Lotta. Flippit!!

 

Jeugboeke:

Taute, Dihanna: Die Engelsman in my slaai(H&R, 2016)

Ek en Prins Donkerkuif, die eerste titel in die reeks,   word gevolg deur  Die Engelsman in my slaai. Lehandi trek terug  Vrystaat toe na haar ma se egskeiding. Die langafstand verhouding met Drayke loop nie te lekker nie. In haar nuwe skool ontmoet sy Elmie en Megan en hulle word gou vriende. Vandag is ‘n “dress-up” dag vir dieremishandeling. Die skool se sexyiste ou Garth Johnson is ‘n koei, en hy probeer haar aandag trek:” Sy oë betower my. Hou my gevange. Ek moet oppas, anders beland e kook onder sy magic spell. Soos al die ander zombie-poppe wat agter sy lyf aan is.”

Om dinge interessanter te maak begin haar ma Vis-van-Breda se pa date; haar stiefma maak haar ‘n babasussie ryker, en  Garth maak dit baie duidelik dat hy geïnteresseerd  is in haar.

Lekker ligte leesstof vir meisies wat wil ontspan sonder veel inspanning! Gemaklike skryfstyl; baie onopgesmuk en plat op die aarde.

Wasserman, Elizabeth: Elf dae in Parys( Tafelberg, 2016)

Vir 11-14jariges wat ‘n storie met meer lyf soek, sal hierdie elf dae in Parys genoeg bevrediging gee.  

Nie net doen die skrywer moeite om baie inligting oor Parys –die kunsmuseums en ander besienswaardighede by te voeg nie, maar ook skets sy hier ‘n onverwagte avontuur wat Emma en haar vriende lekker onkant vang.

Haar ouma Hebsodemma moedig haar aan om die elf dae in die wintervakansie die skooltoer mee te maak.

Juffrou Lategan die Franse juffrou is hul chaperone. Die twee meisies wat sy ken is Tombisa-die eksotiese Afrika prinses, en Clarissa, die klas se flerrie.

Haar ouma se geskenk is ‘n sagte sakkie van swart fluweel met ‘n rekbandjie wat sy moet gebruik om alles in te bêre wat sy veilig wil bewaar. Hulle gaan tuis by Mevrou Flaubert by wie hulle ook Franse klasse gaan loop. Haar seun  Luc is hulle kelner.

Met haar eerste besoek aan die Musée d’Orsay  verskyn ‘n houer met heuning  in haar rugsak; en  haar ouma dring aan dat sy na die standbeeld van die sater en sy beertjies moet gaan kyk- ‘n fyn lyn tussen droom en werklikheid begin vorm aanneem vir Emma. Phillibert die sater vertel haar dat sy een van die drie Muse is. Tombisa en die vioolspeler Kimiri is die ander twee. Hulle moet die drie sleutels kry om die krag van kuns vir die stad oop te sluit- visuele kuns, letterkunde en musiek.Een maal elke honders jaar moet die Muse die sleutels in ‘n spesiale seremonie aan die burgermeester oorhandig. Die ritueel hernu die betowering van Parys vir besoekers. :Die seremonie van die Honderd jaar Hernuwing. Die sleutels hou ‘n groot aantrekkingskrag in vir ander rolspelers wat ook hierby betrokke wil wees. En nou is die sleutels weg. Gaan Emma en haar vriende daarin slaag om die sleutels betyds op te spoor?

‘n Gewone skooltoer verander in  ‘n aksie belaaide  avontuur met agtervolgings, gemene rampokkers en allerhande verassings om elke draai! Om nie te vergeet van al die inligting oor Parys en die moontlikheid van ‘n romanse vir Emma nie.

Wie sou nou kon dink dat elf dae in Parys soveel moontlikhede bied vir die leser om defnitief met nuwe oë na Parys te kyk! Hoogs aanbeveel.

.

Lona Gericke Augustus 2016

  

 

Monday, July 25, 2016


Vels, Verna: Liewe Heksie se groot omnibus( H&R, 2016)Illustrasies deur Vian Oelofsen.

Wat kan nou lekkerder wees as ‘n omnibus van al 41 oorspronklike Liewe Heksie-stories, aanloklik in n helder geel sagteband omslag en met Vian Oelofsen se sprekende illustrasies wat al so bekend geword het! Die swart-en wit tekeninge is netso beweeglik en treffend soos wanneer Vian kleur gebruik.

Hierdie is ongetwyfeld die ideale kers/verjaarsdag/ en sommer net geskenk vir ‘n kind: ouers kan eers voorlees vir die peuters, en later is dit hul geleentheid om self in die teks verdiep te raak.

Liewe Heksie hou verjaarsdag, sing in die straat, dra ‘n bikini, sy maakdie koning gesond,gebruik toorwoorde; word ‘n babawagter, gaan skool toe,en is in ‘n sirkus betrokke. Net maar ‘n paar van die snaakse en dierbare geleenthede om ons geliefde heldin in aksie te sien.

Hierdie is ‘n kosbare versameling en behoort ‘n tuiste te vind in elke biblioteek, skool en huis. Hoogs aanbeveel.   

Wat maak so? Plaasdiere, wilde diere, wouddiere en troeteldiere(H&R, 2016)

Die vier titels in die reeks , elk in ‘n kleurvolle omslag en in hardeband, bied kleuters die geleentheid om bv. na ‘n kleurvolle rooi pappegaai te kyk, dan die kartonbladsy uit te trek en hopenlik sal die voorleser dan die geluid namaak wat op die karton geskryf  is- hier Krys! Krys! Krys! Die boekies is dus ideaal vir ‘n  gedeelde leeservaring. Die boeke is stewig en behoort bestand te wees teen baie hantering. Elke dier vul kleurvol die twee bladsye; die illustrasies het min detail wat elke dier lekker laat uitstaan.

Rousseau, Leon: Storiemuis Boek 4( H&R, 2016)Met ‘n ousio-CD. Illustrasies deur K. Ahlschläger, J.Strauss en M.van Heerden.

Vanselfsprekend moet voornemende kopers al 4 boeke in die reeks koop, aangesien die skrywer hier  voortgaan met die bekendstelling aan verdere getalle-hier 16-20; letters van M tot O; kleure-oranje en bruin, die driehoek, teenoorgesteldes groot en klein , geluide en tussendeur ook ‘n paar lekker stories. Beertjie leer die woorde vir dinge in sy slaapkamer, in die badkamer , in die sitkamer en kombuis.  ‘n Baie aantreklike reeks waar die teks ook lekker groot gedruk is en toeganklik is vir beginner –lesers.

Thursday, July 14, 2016

Van monsters ,weerwolwe ,gedigte en 'n Boudebiljoener


Steyn, Sanri: Die monsters van Middernagstraat( LAPA, 2016)

Wanneer Sanri en Markus ‘n besoek aan Middernagstraat bring, is Sanri seker een van die drie Yorkies by een van die huise se gesiggie het in die van ‘n monster verander, maar netso skielik was dit weg. Maar sy is nou eenmaal ‘n joernalis en altyd op soek na ‘n nuwe storie. Met ‘n troeteldierskou verdwyn Markus se kat, ‘n poedel en ‘n skaaphond ook, en die twee gaan terug na Claudia Müller se huis waar die drie Yorkies tuisgaan. Hul soektog eindig in ‘n huisie in die hoek van die tuin waar hulle op ‘n skrikwekkende fonds afkom- ‘n laboratorium waar diere verander word in monsters! Gaan die twee daarin slaag om die twee skurke wat Claudia en haar pa gevangenes hou uit te oorlê? 

Die ideale leesstof vir jonger lesers in ‘n reeks wat reeds baie gewild is. Sanri se verslag in die Raaiselfontein Gazette van die gebeure aan die einde van die storie rond die verhaal mooi af.

Theresa van Balen se illustrasies is puik ; die omslag  treffend sodat die boek dadelik jou aandag trek.

Steyn, Sanri: Die nag van die weerwolwe(LAPA, 2016)

Sanri en Markus is betrokke by hul skool se opvoering van  Prinses Leila en die blou draak, min wetende dat die aankoms van die nuwe meisie Chrissie Wolvaardt en haar pa as aflosonderwyser ‘n gewone skoolopvoering uiteindelik gaan verander in ‘n onvergeetlike aand van groot skrik! Want Chrissie en haar pa is eintlik weerwolfjagters wat werk vir ‘n organisasie wat toegewei is aan die bekamping van weerwolfgeweld teen Mense. Die opvoering is juis Vrydag die 13de en volmaan, en Chrissie waarsku hulle dat daar wel ‘n werewolf rondsluip wat gekeer moet word…

Lekker onderhoudende leesstof met genoeg aksie en verassings om jong lesers te boei. Weereens tref Theresa van Baalen se illustrasies my en dra dit grootliks by tot die aantreklike boek.

 Sterkykers-gedigte vir tieners( LAPA, 2016)Saamgestel deur Jaco Jacobs.

50 gedigte deur ‘n groot verskeidenhied van skrywers soos o.a. Koos Kombuis, Izak de Vries,Fanie Viljoen, Pieter Hugo en Nathan Tantraal maak van hierdie klein bundel iets heel spesiaal en kosbaar.

Die stemme is eietyds, vol gevoel en deurgaans word jy getref deur die oorspronklikheid en sterk individuale uitbeelding van die diepste emosies en ook sosiale kommentaar oor verhoudings en o.a. skool, ‘n lugskou, ‘n sinkdak-begin, biologieklas, geleerdheid, troetelwoorde, die kuns van hande vashou, om te lig bevind te word, 18 keuses van ‘n 18-jarige; die dood van ‘n pa; ma wat sop kook terwyl sy emosieloos die wêreld om haar laat verbygaan; ‘n skooltrui:”vasgeknoop deur twaalf winters uitgerek straitjacket geloop”( Tania Joubert); ‘n mesaanval; en Hani se begrafnis.

Toulopers was die eerste bundel saamgestel deur Jaco Jacobs, en Sterkykers sluit treffend hierby aan:

“om te dig

Was om vlees aan siel geweef te hou

En om jou lief te hê…”( Hamartia deur Sisca Julius)

 

Walliams, David: Mnr Stink( PROTEA, 2016). In Afrikaans vertaal deur Kobus Geldenhuys.

“Meneer Stink het gestink. Hy was die stinkste superstankstinker wat nog ooit gelewe het”.

Chloe, ‘n twaalfjarige meisie besluit om die ou boemelaar in die park met sy hond, Hertogin, te nader en ‘n geselsie aan te knoop. Dit is die begin van ‘n besondere vriendskap . Meneer Stink word genooi om in haar ouers se tuinhuisie te bly, en Chloe smokkel eetgoed uit na hom.Haar ma aspireer na ‘n politieke loopbaan, en Chloe oortuig haar om Meneer Stink te gebruik om haar kanse te versterk-sy ontferm haar dan oor ‘n hawelose mens!

Hierdie is fyn sosiale kommentaar en die skrywer spot heerlik met mense se sosiale front en valse goedheid en pretensies. Chloe en haar pa gee werklik om, en mettertyd ontdek sy ook die waarheid oor Meneer Stink se afkoms en verlede.

Die verhaal behoort aanklank te vind by jong lesers wat aweregse humor geniet en ook ‘n “omgee” sosiale bewustheid het. Dit gaan ook oor vriendskap, soms tussen die mees onwaarskynlike persone- Meneer Stink waardeer die meisie wat self ook eensaamheid ken:”Chloe weet niks van Menner Stink af nie. …Hy lyk ook eensaam, nie net alleen nie, maar eensaam in sy siel. Dit maak Chloe hartseer. Sy weet maar te goed hoe dit voel om eensaam te wees”.   

Rotburger en Ouma is ‘n kroek het in 2015 by PROTEA verskyn.

Walliams, David: Boudebiljoenêr( PROTEA, 2016) Afrikaans deur Kobus Geldenhuys.

Ontmoet Joe Spud. Sy pa is ‘n “boudebiljoenêr”wat ryk geword het deur “varsboude” toiletpapier te ontwerp .Joe het alles wat sy hart kan begeer, behalwe ‘n opregte vriend. Hy vra dat sy pa hom vanuit ‘n rykmansskool moet oorplaas na ‘n gewone staatskool waar die kinders nie sal weet hoe ryk sy pa is nie. Dalk sal hy hier ‘n ware vriend ontmoet. So word Bob sy vriend. Maar Bob word afgeknou deur die tweeling, die goorgatte. Joe koop hulle om om Bob uit te los. Toe hy sy pa vra om vining sy geskiedenis opstel by die skool te kry, land die met ‘n helicopter en nou is sy geheim bekend. Hy kan sy geluk nie glotoe die beeldskone meisie Lauren by die skool aansluit en dadelik te kenne gee dat sy van hom hou.

Maar weereens het die skrywer ‘n eenvoudige belangrike lewensles om te vertel: geld maak jou nie noodwendig gelukkig nie; wat sal gebeur as sy pa skielik alles moet verloor; wie is regtig Joe se vriend?

Joe kry ook die geleentheid om  sy pa te wys dat die klein toiletrol-ruimtevuurpyl wat sy pa vir hom gemaak het toe hulle nog niks besit het nie, die beste present is wat sy pa nog ooit vir hom gegee het.  Humor,  en ‘n sterk verbeelding laat Walliams toe om sy gehoor te betrek. Sy lys van alles wat Joe reeds besit ;Sapphire se wenslys vir haar verjaarsdag,’n lys van snaakse name en vanne en selfs die voorstelling van die grade van pers boude dra alles by tot die aweregse humor.   

 

 

 

 

 

 

Tuesday, July 5, 2016

Hartbreker na blokkiesraai!


Steyn, Cecilia: Hartbreker( H&R, 2016)  Tienerharte 2

Die eerste boek in die Tienerharte reeks was Hartklop. In Hartbreker is Dewald en Megan ‘n paartjie, en Stefan haar aantreklike broer word deur die welgestelde meisie Surette se pa Professor Delport gevra om die Paasvakansie te kom huis oppas omdat die gesin Milaan toe gaan. Die pragtige huis is in Kampsbaai, en hy nooi sy suster en Dewald saam, asook Ciska Megan se vriendin .  Surette besluit om liewers tuis te bly, want sy is verlief op Stefan. Die Professor dreig om die lewe vir hom moeilik te maak op Universiteit as hy nie naSurette omsien nie. Vir hom is Surette een van daardie meisies” vir wie ‘n mens ‘n prentjie moet teken as jy wil hê sy moet iets verstaan.” Ciska egter, is “nie soos enige meisie wat hy ken nie”.

Hy ontdek gou dat hy eintlik in Ciska belangstel, maar Surette aak die situasie baie gekompliseerd. En dan is daar nog Rowan wat Ciska prober annekseer.

Hier gebruik die skrywer die bekende resep wat ‘n Tienerharte reeks laat werk: Mooi jongmense saamgegooi in ‘n situasie waar daar gedurigdeur onsekerheid is oor wie nou eintlik in wie belangstel; maar uiteindelik word die twee verliefdes tog bymekaar gebring met ‘n gelukkige einde.

Populêre fiksie wat jong tienerharte vinniger sal laat klop; en hul kry ook’n voorsmakie van die volgende boek in die reeks, Hartedief.

Baie mooi omslag wat dadelik die aandag trek.

‘n Heruitgawe van 8 Roald Dahl boeke in Afrikaans!( H&R, 2016:

Die GSR; Marius se merkwaardige medisyne; Fantastiese Mnr. Vos; Matilda;Charlie en die groot glashyser; James en die reuseperske , Charlie en die sjokoladefabriek en Die Twakke. Die GSR is deur Mavis de Villiers vertaal;Marius se merkwaardige medisyne deur Leon Rousseau; en Kobus Geldenhuys is die vertaler van die ander 6 boeke.

Hierdie geliefde skrywer bly een van die grootste kinderboekskrywers van alle tye.  Sy humor, aweregse styl en fyn aanvoeling vir die geesteswêreld van die kind maak hom ‘n welkome gas in elke huis.

In vrolike kleurvolle omslae met interessante illustrasies is hierdie reeks in hierdie heruitgawe keurig versorg,  en as gewese bibliotekaris  weet mens ook hoe nuttig die reeks in biblioteke en vir tuisversamelings gaan wees.

Dinneen, Susie: Nombulelo en die mot(Penguin Random House, 2016)Illustrasies deur Maja Sereda. In Afrikaans vertaal deur Sandra du Toit.

Nombulelo het daarvan gehou om op haar Gogo se skoot te sit en na stories van die bos te luister: dat ‘n luiperd haar Gogo gevolg het in diebos, en van die slang wat Gogo melk gegee het met diebelofte dat sy nie gepik gaan word nie, ook nie haar kinders nie.

Maar vir Nombulelo was Gogo se kosbaarste besitting die pragtige houtdosie waarin ‘n “ droë mot met die kleur van sagte bruinsuiker “ op ‘n geel kaartjie vasgesteek was. Met Gogo se dood het ‘n stem uit die dosie haar gevra om haar vry te laat. Die mot se huis was by die bopunt van die waterval aan die anderkant van die bos. Nombulelo het dapper die bos binne gegaan “ die diep donkergroen wildernis” langs hul huis om die mot tuis te laat kom.  Toe hy wegvlieg het “’n sagte goue stofwolk vansy vlerke afgegly en Nombulelo in ‘n blink mis toegevou”…

Hierdie verhaal kruip diep in jou hart ; dit is die kwaliteit storie waarna ‘n verteller soek om met kinders te deel. Die liefdevolle verhouding tussen ‘n dogtertjie en haar Gogo en Gogo se dood word simbolies in die mot se soeke na bevryding en koestering uitgebeeld.

‘n Oorspronklike roerende verhaal word gekomplimenteer met Maja Sereda se ongelooflik mooi illustrasies. Sy openbaar die fynste aanvoeling vir die verhaal in haar weergawe van die teks – gevoelvol en uiters verbeeldingryk. Hierdie is ‘n spesiale prenteboek wat gekoester moet word. 

Kinney, Jeff: Dagboek van ‘n Wimp( Puffin, 2012) Heruitgawe 2016. Afrikaans deur Carina Diedericks-Hugo- ‘n Tekenprent roman.

Greg Heffley stel dit onomwonde dat hierdie sy joernaal is, en as sy ma sou dink dat hy sy “gevoelens” hierin gaan skryf, is sy “lekker koekoes”!

Greg betrek die leser by sy interpretasie van skool en grade en kinders en die manewales wat hy en sy klasmaats deel. Die stem van die verteller is droog, vol humor en uiters vermaaklik. Daarby sal elke kind kan identifiseer met Greg se waarnemings en opinies:

“ Virdie rekord: Ek dink die hoërskool is die domste ding wat nog ooit uitgedink is. Dis ‘n plek waar outjies soos ek, wat nog nie begin uitskiet nie, tussen gorillas moet oorleef wat twee keer per dag skeer”.

Hierdie boek en die reeks “dagboeke” wat hierop volg bly van die gewildste boeke in ‘n biblioteek en defnitief word dit hartlik ontvang in elke huis en skool. Kinney verstaan die emosies en gedagtewêreld van ‘n kind.

Die verlater het terselfdertyd briljant vertaal.

Beskikbaar deur Puffin is ook die titels Rodrick regeer, In die hondehok; Die laaste strooi; en Die nare waarheid(2016). Die vertaler van laasgenoemde is Tinus Horn.

In die New York Times”’n Pittigheid wat die spyker op die kop slaan, en ‘n oortuigende selfgesentreerde held”. Volgens ‘n ander resensent is dit die reeks vir kinders wat hou van lees en die wat nie daarvan hou nie.  Ek stem volmondig saam!

RAPPORT Junior blokraaiboek(Tafelberg, 2016) Saamgestel deur G. Olwagen.

Hierdie kleurvolle versameling van blokraaie verskyn weekliks in RAPPORT. Ek was beïndruk met die kwaliteit , noukeurige keuses van inligting wat selfs ‘n volwassene se algemene kennis verskerp. Die uitgewer het die noodsaaklikheid gesien om so ‘n blokraai-skat in een bundel aan ‘n wyer leserspubliek beskikbaar te stel. Die blokraaisels handel oor ‘n groot uitgebreide verskeidenheid van onderwerpe om kinders se kennis te toets en te verbeter: o.a. die ruimte, plante en diere; die mens; selfs spreekwoorde; ‘n blokraai opgedra aan die renosterhoring, piramides, en Suid Afrikaanse geskiedenis.

Die oplossings word aan die einde vir elke bladsy gegee. Werklikwaar ‘n pragtige nuttige publikasie wat kinders gaan vermaak terwyl hulle kennis opdoen. Hoogs aanbeveel.  

 

 

 

 

    

Monday, June 13, 2016

Afkop groot Kaptein en Zackie...


Jacobs, Jaco: Z is vir Zackie: die padda-poets( LAPA, 2016)

Die geliefde karakters Zackie en sy vriend Vincent gee hier die geleentheid vir beginner lesers om self ook van hul manewales te lees. Min teks in groot druk maak die leeservaring maklik; en Alex van Houwelingen se illustrasies is in  die kol met dierbare kindergesiggies wat spreek van ondeundheid en pret.

Toe Zackie en Vincent besluit om die padda Meneer Slym skool toe te neem om die tweeling ‘n poets te bak – twee meisies wat van pienk en ponies en prinsesse hou, word selfs die boelie Anton verras met die meisies se reaksie!

Jacobs, Jaco: Z is vir Zackie- Die rowwe resies( LAPA, 2016)

Zackie en incent verf hul kaskar om aan die resies deel te neem. Anton die boelie het natuurlik ‘n duur, vinnige kar en is reg om die twee te wen. Maar hul kaskar se wiel val af, en Anton is die wenner. Maar Jolanda het ‘n foto van die resies geneem, en wie verdien nou om te wen?...

Jaco Jacobs skryf weereens in die kol met sy aanvoeling vir die gedagte-en ervaringswêreld van die kind. Twee boekies wat Zackie nog meer aanhangers gaan besorg!

Biegel, Paul: Die groot klein Kaptein( PROTEA, 2016) Afrikaans deur Daniel Hugo

In die sewentiger jare verskyn hierdie klassieke werk as drie individuele publikasies, hier in een pragtige boek saamgevoeg.

Die klein Kaptein woon in ‘n boot. Hy moet sy boot , die Nooitlek, weer vaarbaar maak om die reis na die Eiland van Groot en Groei te begin. Die kinders in die hawedorpie help hiermee, en Dimi, Dik Druif en Marinka en Bang Tonie word sy metgeselle op die vele avonture wat gaan kom. Hulle vaar deur ‘n draakpoort van klip, vind ‘n geheimsinnige eiland waar mak sirkusdiere hulle inwag; ‘n spookstad waar alles grys is behalwe die plakkate van ‘n kleurvolle vrou; die land van Waan en Wys; en later die land van Skrik en Vrees.Seerower Skobbedonk op sy spookskip sal eers losgetoor word van die stuur van die boot wanneer die skate wat hy gesteel het by al die regmatige eienaars afgelewer word. En die klein Kaptein is gedetermineerd om dit reg te kry…

‘n Fees van fantasie met kleurvolle karakters en verbeeldingryke situasies wat aan jong lesers ure van vermaak gaan verskaf. Marinka wat elke probleemsituasie prober oplos met pannekoek bak; en Bang Tonie wat gedurigdeur te bang is om homself te laat geld.

Die teks word aangevul met ongelooflike illustrasies deur Carl Hollander. Kleurvolle volblad illustrasies van ‘n reus teenoor die klein bootjie; kleurvolle blomme met die kinders wat die groot sakhorlosie prober dra; skrikwekkende drake; seetonele met vlieende visse; sirkusdiere; ‘n grys stad; Vader Bloukrap se seetuin; ‘n vuurtoring wat hoër gebou moet word; selfs ‘n kameelperd in die woestyn; ‘n drywende stad; en ‘n wit yskasteel waarin die hartseer edeldame woon- hierdie is ‘n fantasie wêreld waarin elke kind wat lief is vir lees weer en weer ‘n nuwe avontuur kan beleef. En die boek is ook ideal vir voorlees . Hoogs aanbeveel as ‘n baie spesiale boek, knap vertaal deur Daniel Hugo.

Tiener boek:

Viljoen, Fanie: Afkop( LAPA, 2016)

Doller as afkop kan dit mos nie gaan nie! Of hoe?

Fanie Viljoen neem die leser hier op ‘n wilde spannende opwindende rit wat net groei en aanhou sodat jy amper nie asemhaal voor dit by die laaste bladsy kom nie!

Trent wil so graag inpas by ‘n groep jongmense dat hy enige iets sal doen; selfs saamgaan op ‘n motorrit in ‘n gesteelde motor wat eindig in ‘n ongeluk met net hy wat agterbly en toe die sak ontdek met die half miljoen Rand daarin. Decker vertel  hom later:

“ Omdat jy so needy is . Jy wil saam met die groot ouens speel, maar hulle wil nie saam met jou speel nie”.

Eers is daar die genot van soveel geld net vir himself te hê. :

“ Dis tweehonderdrandnote. Daardie oranje luiperds wat nog nooit ‘n draai in hierdie kamer of my beursie gemaak het nie.”

Maar gou verskyn sy sogenaamde vriende ook op die toneel en dit verander in ‘n toutrekkery- wie gaan nou wegkom met die geld? Ongelukkig is die regte eienaars gou  op hul spoor, en die hele riller word groter en gevaarliker vir hulle almal. Wat gaan uiteindelik gebeur? Sal die jongmense ontsnap uit die hande van die dwelmsmokkelaars?

Viljoen skryf hier op sy beste met ‘n sekere hand en tegniek wat getuig van ervaring. Die taalgebruik is eenvoudig; die spanningselement word gehandhaaf, en dan is dit ook ‘n toets vir Trent om te besluit wat vir hom die belangrikste is- die geld of ‘n terugkeer na sy normale bestaan .

Op ‘n stadium sê hy:” skietgebedjies met beloftes om vir altyd en ewig ‘n model tiener te wees as hy net lewendig kan uitkom”.

Spanning en intrige op ‘n gevaarlike drafstappie, soos ‘n weghol trein wat nie tot stilstand wil kom nie! Hoogs aanbeveel; Viljoen se lesers sal weer kennis maak met sy besondere talent.   


 

 

 

.

Thursday, June 2, 2016

Snitch is a youth novel of note


Bulbring, Edyth:  Snitch( Tafelberg, 2016)

Ben and his two friends Tsietsi and William are just regular kids at school; Ben plays rugby and does well at school. He has a sister and mother, his father died, and his mother  is the person he can confide in; she never blabs.  But when he tells her that Adrian’s unexpected heart attack might be caused by steroids, she breaks their code of not telling by talking to a nurse and the story gets back to the school. This makes Ben an outcast; the boy everybody loves to hate. Ben is now the rat, the weasel, the sneak. “No longer Ben-OK. I was Snitch”.

This is the beginning of a very rough period at school. He is treated with disrespect, abused, and eventually his two friends are also targeted and this results in him losing his two best friends.

Will Ben survive this ordeal; is this the test of his personal strength? His dad left a letter for him with the following comment: “My hope for you is that you will have decided to stand outside the boxes that trap the ones who race with the pack”.

A brilliantly written utterly believable story of a boy and his experiences as a teenager in a school environment, but also with his family, Uncle Charlie , the dog Terror, the girl Elizabeth who he worships mostly from afar.

The writing is exceptionally good; written in the first person, Ben is the narrator, and the author does not waste a single word in telling a story which moves at a fast pace and keeps you involved. Bulbring is a writer of substance and noteworthy. I am sure the book will be well received and well read.    

Wednesday, June 1, 2016

Drie prenteboeke uit Afrika en nog boeke vir peuters en kleuters!


Drie prenteboeke deur Jacana uitgewers beïndruk met hul Afrika aanslag:

Hartman, Wendy: Die musiek van Afrika( JACANA, 2016) met illlustrasies deur Joan Rankin. The African orchestra is ook beskikbaar in Afrikaans, isiXhosa en isiZulu.

“Uit ‘n rietfluit se pypie sypel ons liriek op die maat van die Afrika –luit se musiek”

Hierdie pragtige prenteboek is die resultaat van die samewerking deur twee ervare kinderboek skeppers.Die skrywer gee gestalte aan die musiek van Afrika, die geluid van krieke, torre, paddas; knetterende vure, donderende hoewe; die voëls in die lug die ritselende wind; die warmte in knetter en knal; sprinkane wat die klik op vingerpunte is, ‘n padda wat sing vir die maan …

Joan Rankin se fyn waterverf illustrasies vul die lieflike poëtiese teks volkome kleurvol en baie oorspronklik aan. ‘n Boom in die nag is silwer gekleur en drie uile is mooi versteek tussen die takke; haar kleurskakerings werk saam om sagte strelende prente te skilder.Waarlik ‘n baie spesiale boek ; die musicale teks sal tog te lekker voorlees! Hoogs aanbeveel.

Stewart, Dianne : Dudu se mandjie ( JACANA, 2016) Illustrasies deur Elizabeth Pulles. Ook in Engels, isiXhosa en isiZulu.

Dudu maak haar eerste geweefde mandjie klaar. Haar oom vertel haar dat haar eerste mandjie verkoop of weggegee moet word. So koop ‘n handelaar die mandjie by ‘n padstalletjie; dit word eers gebruik vir vars gemmer; toe die meneer se mandjie vir sy kos om werktoe te gaan. Later weer is groente en vrugte na kopers se huise daarin gedra. ‘n Dogtertjie kkry die mandjie om haar hamster in te sit; maar gooi dit gou op ‘n ashoop as die hamster weghardloop. ‘n Kleinseuntjie kry die mandjie en sleep dit strand toe waar ‘n brander dit gryp en intrek in die see.

Maar dit is nognie die einde van die storie nie!

Die waterverf illustrasies het ‘n amper kinderlike bekoring en Pulles teken prentjies wat aanpas by ‘n landelike mileu en die see. Dit is ook lekker om te lees van gemmer en hoenderkerrie, warm rissiehappies en bros samosas. Die smous wat deur die voorstede ry en sy ware verkoop is so bekend aan ons kinders. Die storie  kan ook in klaskamers gebruik word waar kinders die waarde van om self ‘n eie mandjie te maak kan leer; die lewensverhaal van Dudu se mandjie is ‘n geloofbare storie en eg uit Afrika.

 

Browne, Eileen: Handa se verrassing( JACANA, 2016) In Afrikaans vertaal deur Marlise Joubert.

Goed onthou ek nog hoe die boek my beïndruk het toe ek dit destyds in Engels in die biblioteek ontvang het. Dit is die lekkerste verhaal om te vertek- Handa wat sewe vrugte in ‘n mandjie pak vir haar maatjie, Akeyo. Systap na haar dorpie, enoppad wonder sy watter vrug haar maat nou die meeste gaan hou. Soos sy ‘n spesifieke vrug opnoem, is daar ‘n dier wat skelmpies die vrug uit haar mandjie op haar kop steel! ‘n Volstruis steel die koejawel, ‘n Sebra die lemoen;’n olifant die rooi mango; ‘n kameelperd die pynappel’n bok gaps die avokadopeer… en toe haar mandjie dolleeg is bestorm ‘n bok gelukkig ‘n boom gevul met nartjieswat weer die mandjie vul- en gelukkig ook haar maat se gunsteling vrug!

Die verhaal werk op verskeie vlakke- die illustrasies van die diere en vrugte is kleurvol en realisties gedoen; daar is die oulike spannings element van ‘n dogtertjie wat onbewus is dat die vrugte een vir een uit die mandjie verdwyn- hier is die leser of luisteraar dadelik betrokke want ons ervaar aksies waarvan die meisie onbewus is!   Die tweedogtertjies is pragtig en so mooi geteken- ‘n boek met die mooiste ryk kleure wat Afrika in sy verskeidenheid van diere en vrugte gestalte gee. Hoogs aanbeveel.

Handa’s surprise is ook beskikbaar in Xhosa, Zulu, Lesotho Sesotho, South African Sesotho, Sepedi, Setswana en Xitsonga. 

‘n Kleurvolle fees van boeke vir kleuters en peuters!

Supersagte sponsboekies ( H&R, 2016 ) In Afrikaans vertaal deur Kobus Geldenhuys.

‘n Reeks van 4 boeke- Ek kan sê!; Ek kan ry!; Ek kan speel! en Ek kan sien!

Die materiaal waarvan die boeke gemaak is maak hulle lig om te hanteer en ook baie stewig. Uiters keurvol met eenvoudige illustrasies sodat objekte maklik ge-identifiseer kan word. In die eerste boekie is daar ‘n blink sappige rooi appel; blomme; ln huis , bome ‘n blou skoenlapper , vrugte ‘n sambreel en roomys en ‘n horlosie. Identifikasie van die spesifieke item word aangevul met teks ,bv. Dat die blomme lekker ruik en mooi is.

Ek kan ry gee voorbeelde van al die bekende vervoer-middele soos ‘n brandweerwa, ‘n trein, polisiekar en fiets.

Ek kan speel stel die kind bekend aan speelgoed soos ‘n xilofoon, lappop, ‘n robot en ‘n drom.

Ek kan sien bevat diere soos ‘n leeu en troeteldiere, ‘n papegaai en pikkewyn.

Die aanvullende teks rym ook met die item op die volgende bladsy se teks, wat die hele leeservaring speels en vrolik maak.

 Lekker boekies om babas en kleuters aan boeke bekend te stel.

Blokkieskuns( H&R, 2016)Seerowers, Prinsesse, Diere en Voertuie

‘n Reeks van 4 titels met blokkieskuns wat elk meer as 1500 pikselplakkers insluit sodat kinders met die nodige handvaardigheid besig kan bly met die plad van ‘n afdruk van die objek op die teenoorgestelde baldsy . Voertuie, diere, prinsesse en  seerowers kan geplak word . Elke opdrag gee die kleure wat gebruik moet word, en ook hoeveel plakkers van elke kleur.

Skeppende kinders kan lank besig bly met hierdie boeke!

Vingerverf 1 en 2 (H&R, 2016)

Watter kind sal dit nie geniet om vingerverf te doen nie!  Hier is die geleentheid oom diere, indiane, marsmannetjies, op die plaas, krokodille en nog baie meer situasies in te kleur met die vingerverf wat by die boeke ingesluit word.  Vir tuisversamelings; en sommer ‘n lekker geskenk vir vriende.

Liewe Heksie en die Silwer Roos( H&R,2016) Gebaseer op die oorspronklike verhale deur Verna Vels met illustrasies deur Vian Oelofsen.

Wat ‘n pragtige huldeblyk aan Verna Vels is hierdie groot formaat goudkleurige boek nie! Liewe Heksie staan lekker groot met die Silwer Roos in ‘n pot teen die goue agtergrond, terwyl ‘n gifappeltjie hande uitsteek na die begeerlike roos.

Die Silwer Roos is Blommeland se kosbaarste blom en moet soos goud bewaar word, want as dit moet wegraak sal al die blomme doodgaan en koning Rosekrans en sy kabouters en Heksie sonder ‘n blyplek wees.

Daarom kry  Heksie die opdrag om die blom op te pas want die gifappeltjies wil die Roos steel.

Sal Heksie daarin slaag, of moet Griet die getoorde perd tot haar hulp kom? Liewe Heksie vertel mos ander hekse toor paddas en muisvlerre- vlermuise- maar sy toor vir Griet!

Liewe Heksie is mos maar geneig om te vergeet en goedertrou op te tree!

Die mooiste mooiste boek! Vian Oelofsen laat die verhaaltjie blom en skyn en die leser betower met vrolike geel blomme, ‘n reuse perd, en hier die mooiste Silwer Roos ooit.  Die kleure van die agtergrond op elke bladsy is slim gekies sodat die illustrasies mooi vertoon en nog treffender is. Hoogs aanbeveel as ‘n ware kunswerk en defnitief vir elke skool, huis en biblioteek versameling.