Monday, July 8, 2019

Pragtige prenteboeke vir groot plesier


Blabeley, Aaron: Moeps die skelm,  Moeps die Mops, en Moeps die wenner( Protea, 2019). Rymvertalings deur Philip de Vos.

Hierdie 3 hardeband prenteboeke met Moeps as die astrante sentrale karaktertjie sal die harte van jong lesers verbly. As die skelm gee hy altyd arme Worsie skuld vir alles want hy kan vreeslik jok om sy sin te kry. Maar sy lus vir beskuitjies laat hom sleg tweede kom as hy nie die rolbal agter die pak sien nie. Nou is sy lyf vol pyne en hy is minus ‘n tand!

In Moeps die Mops is hy vreeslik selfsugtig en wil niks met Worsie deel nie. Alles is syne, en toe hy sy speelgoed op ‘n hoop pak en daar bo-op gaan staan, verloor hy sy balans en tuimel grond toe deur die venster. Nou deel hy alles, tot hy weer herstel!

In Moeps die wenner is dit baie duidelik dat hy  altyd moet wen. Met ‘n eet kompetisie is hy so vraatsig dat hy sowaar sy bak insluk!  En toe die bak hom weer teen die kop tref en hom in ‘n blik instamp, word hy sommer baie bedees en minder goor.

Philip de Vosse rympies maak die teks lewendig, snaaks en groot pret om te lees. Die skrywer se illustrasies van Moeps en Worsie is kleurvol, vol beweging en aksie belaai.

Die boeke behoort vele jong aanhangers te geniet.

Grobler, Piet: Franciscus en die diere ( Protea, 2019) Uit Nederlands vertaal deur Amelia de Vaal.

Fransiscus en sy vriend Esel is lief vir die natuur, die dierelewe , en beide glo aan die goedheid van dinge en met hul reise vul hulle mens en dier met mooi gedagtes.  Die voëls word geinspireer om te sing en vreugde te versprei; hy red ‘n konyn uit ‘n valstrik, ‘n klomp visse uit ‘n net , en selfs ‘n gevaarlike bloeddostige wolf word rustig as Franciscus hom inspireer om niemand dood te maak nie. Toe esel oud word en moeg, bedank Franciscus hom vir sy vriendskap en dat hulle saam die wêreld ‘n mooier plek kon maak.

Talentvolle Piet Grobler skep hier ‘n verhaal wat die boodskap van goedheid en liefde oordra in sy kenmerkende delikate illustrasies van voëls en diere.

Sprokies met lesse:

Nicholson, Sue:   Sneeuwitjie die sokkerster( H&R, 2019) Illustrasies deur Flavia Sorrentino. Afrikaans deur Kobus Geldenhuys. -  ‘n storie oor spanwerk.

Karakters wat bekend is in fëeverhale word hier ingespan om kinders te leer oor spanwerk.  Sneeuwitjie is mal oor sokker, maar sy speel selfsugtig en nie as deel van ‘n span nie. Gouelokkies, Repelsteeltjie en die goeie fee Esmeralda help haar ombeter as spanspeler deel te neem.   

Op die laaste bladsy word besprekingspunte vir onderwysers en ouers gegee,  en selfs om ‘n klaskoerant te maak.

‘n Heel oorspronklike benadering tot stories, en omdat geliefde karakters in ‘n eietydse omgewing geplaasword om ‘n boodskap oor te dra, behoort die boeke sukses te behaal.

Nicholson, Sue: Word wakker, Doringrosie! ( H&R, 2019) ‘n Storie oor verantwoordelikheid.

Doringrosies was nogal lui, en toe sy ‘n ponie vir haar verjaarsdag vra, is haar ouers nie seker dat sy regvir hom sal sorg nie. Prins word aanfanklik goed versorg, maar mettertyd sorg sy al minder vir Prins.  Prins besluit om weg te loop, en met Esmeralda se hulp lok sy hom terug en voortaan is sy ‘n verantwoordelike eienaar. 

Kinders word hier aangemoedig om sade te plant en daarvoor te sorg.

Nicholson, Sue: Aspoestertjiese balletskoene( H&R, 2019) ‘n Storie oor omgee.

Aspoestertjie is   lief vir dans, maar toedaar ‘n dansskool op die dorp oopmaak, het sy nie geld om balletskoene te koop nie.  Sy help altyd die ander sprokiesvriende, en Sneeuwitjie skenk skoene vir haar, maar hulle is te groot; Doringrosie se skoene is te klein. Die goeie fee Esmeralda is siek, maar onthou uiteindelik van haar ou balletskoene wat natuurlik  Aspoestertjie perfek pas.

Nicholson, Sue: Jan breek die boontjierank( H&R, 2019) ‘n Storie oor eerlikheid.

Jan is vreeslik lief vir boomklim. Op ‘n dag waarsku sy ma hom om nie teen hulle jong boontjie ranke op te klim nie, want hulle kan breek end an is hulle sonder boontjies. Maar Jan luister nie. Hy breek die ranke, maar vertel eers nie vir sy ma die waarheid dat hy dit gebreek het nie. Later komhy jtog met die waarheid te voorskyn, en die goeie fee  Esmeralda gee hom ‘ntowerboon wat hy plant sodat hulle lekker boontjiebredie kan maak.

Kinders word aangeraai na besprekingspunte om ‘n brief te skryf soos Jan bv. sy ma om verskoning vra oor sy aanfanklike leuen.

Ek sien uit daaarna om te hoor hoe die boeke ontvang word deur die publiek.

Smit, Louise: Bennie Boekwurm se mooiste sprokies, 2. ( H&R, 2019) Illustrasies deur Johann Strauss.

5  Bekende sprokies word oorvertel deur Louise Smit, nl. Rooikappie, Die skoenmaker-kaboutertjies, die Dieremusikante van Bremen;  Duimelina en Sneeuwitjie en die sewe dwergies.  

Bennie Boekwurm lees die stories voor aan  die kinders wat tog te graag na hom luister.

Hierdie is die tweede boek met sprokies , beide geïllustreer deur Johann Strauss.  En watter pragtige werk het hy nie gedoen nie! Daar is soveel persoonlikheid in elke getekende karaktertjie; die boek laat ‘n gevoel van vrolikheid en genot met laggende vrolike karakters ,  Duimelina in haar pienk rok is asemrowend mooi; Wolf is regtig bangmakend , en Sneeuwitjie se nare stiefma  is treffend jaloers geteken.   Strauss doen soos altyd uitstekende werk. Hoogs aanbeveel.

Bennie Boekwurm se besige pretboek( H&R, 2019) Gebaseer op die karakters geskepdeur Louise Smit. Ilustrasies deur JohannStrauss en Luan Serfontein.

‘n Pretboek wat jong lesers baie plesier gaan verskaf, want hier is die geleentheid om hul karakters soos Mokkie Mol met kolletjies te verbind; kleure te identifiseer; Sarel Seemonster in te kleur; bytjies saam te groepeer wat eenders lyk; ‘n doolhof te volg om Bennie se bril te vind; en o.a. Sarel Seemonster te help om by die strand uit te kom.

‘n Lekker geskenk vir kinders, vergesel van die twee boeke met sprokies.

Vels, Verna: LieweHeksie en die pampoene( H&r, 2019) Gebaseer op die oorspronklike verhaal . Illusrasies deur Vian Oelofsen.

Drie titels het alreeds in hierdie keurige reeks verskyn, elke boek ‘n kunswerk deur die talentvolle Vian Oelofsen. Liewe Heksie en Matewis is besig om pampoene en klippe op die dak te pak sodat die sinkplate nie kan wegwaai nie. Kwaaitjie Kabouter bring sy boetie Kleinkwaaitjie om die nag by Heksie deur te bring. Hy moet by die Silwer Roos gaan waghou.

Toe Heksie buk om haar besem op te tel sodat hulle kan afvlieg, stamp sy die besem van die dak af. Hulle moet nou die nag daar deurbring.

Twee gifappeltjies het reeds die Silwer Roos gesteel, en sluip nou haar huis binne om haar horlosie te steel. Heksie en Kleinkwaaitjie gooi toe pampoene van die dak af, wat die twee gifappels vinnig laat spaander. Die Silwer Roos en Heksie se horlosie is veilig.

Pragtige groot format boeke met elke bladsy kunstig gerangskik sodat kinders net kan lees en geniet. Die illustrasies is puik; bv.die waentjie met die Silwer Roos tussen fyn blou blommetjies omring deur stukkies pampoen en twee muise en ‘n naaldekoker wat vrolik toekyk.   Hoogs aanbeveel.  

  

 

No comments:

Post a Comment