Wednesday, August 2, 2017

Kewer-koningin wil koning kraai!


Leonard, M.G.: Kewer-koningin(PROTEA, 2017) R195  Afrikaanse vertaling Kobus Geldenhuys

Lucretia Cutter het nou daarin geslaag om haarself te metamorfoseer na ‘n kewer, en vir haar is die tyd nou ryp om die wêreld oor te neem met haar mag van transgenetiese kewers. Sy beplan om met die Filmtoekennings in California voor die skare haar magsoorwinning bekend te maak. Hoewel sy ook daarin slaag om die meeste van die Emporium kewers te laat verbrand, is daar nog steeds die drie jongmense- Bertolt, Virginia en Darkus, Bartholomew Cuttle se seun , wat haar planne omver wil werp en met die oorblywende kewers mobiliseer teen haar vernietigende magte. Die klimaks tot die verhaal is dan die geveg in die teater waar sy wel slaag om te ontsnap.

Hierdie hooftema word deurvleg met verskeie karakters se optrede  soos haar dogter Novak wat Darkus hulle probeer help; Darius se pa wat hom weer aansluit by Lucretia om haar te probeer beïnvloed; oom Max Bartholomew se broer wat ook die jongmense help; die twee dom broers Pickering en Humphrey wat hul geld van Lucretia wil eis; Calista Bloom Bertolt se verspotte ma, en Ling Ling Lucretia se gevaarlike vegter. Dokter Yuki Ishikawa word ook betrek by ‘n reddingsending na die Amasone om o.a.Barty en Novak uit Lucretia se kloue te red.  

Die kewers speel deurgaans ‘n belangrike rol: die drie jongmense het elk hul eie persoonlike kewer soos Darkus se geliefde Baxter  en selfs Novak versteek haar Hepburn van vyandige kewers.

Hierdie is die tweede boek na Kewerknaap in die trilogie waar Kewerwraak nog moet verskyn.  

Opwindende interessante leesstof propvol inhoud en inligting oor kewers- daar is selfs ‘n entomologiese woordelys ingesluit. Interessante karakterisering en genoeg grillerige goggas en kewers om die leser betrokke te hou by ‘n “anderse” verbeeldingryke  avontuur. Hoogs aanbeveel.

No comments:

Post a Comment