Wednesday, November 21, 2018

'n Tier, rondomtalie ry, nuus luister, en potjie gebruik en wie waar woon...


Hofmeyr, Dianne: Op die rug van ‘n tier( Tafelberg, 2018) Illustrasies deur Jesse Hodgson

Na ‘n besoek aan ‘n kunsgalery waar Tom en die tier in die skildery mekaar dopgehou het, teken hy die tier tuis.
Daardie nag besoek die tier hom en nooi hom saam op ‘n nagtelike avontuur. Tom is bang vir die donker, maar die tier stel hom gerus met die wete dat tiere nie bang is vir die donker nie. In die oerwoud is Tom weer bang vir die nagdiere, maar die tier nooi hom om wegkruipertjie te speel.By ‘n rivier aangekom is Tom weer bang vir swem, maar tiere is lief vir swem.  By die kermis aangekom is hy weer bang vir spooktreine en mallemeulens, maar die tier laat hulle al in die rondte vlieg tot bo in die hemel waar hy bang is vir ‘n sneeustorm,en in ‘n grot regte sneeutiere ontmoet wat hom met hulle laat saamdans.  Na al hierdie avonture is hulle eindelik weer tuis. Nou verklaar ‘n moeë maar tevrede Tom dat hy regtig vir niks bang is nie, want dalk is hy eintlik ‘n regte tier!
‘n Besonder aantreklike boek. Tom se tier is gebasseer op “Tier in ‘n tropiese storm” deur Henri Rousseau. Die  kunstenaar se droomwêreld word realisties geskilder deur die illustreerder.  ‘n Oortuigende boodskap word gevoelvol en dramaties oorgedra van die kind se vermoë om sy vrese te oorkom met die hulp van ‘n verbeeldingsvriend, hier die pragtige tier.‘n Baie spesiale prenteboek wat jong kinders emosioneel sal ondersteun en ‘n positiewe boodskap uitdra waarna elkeen kan luister en ‘n lewensles kan leer.    
   
Jacobs, Jaco: Rondomtalie-rympies en liedjies( LAPA, 2018). Illustrasies deur Karen Ahlschläger. CD met 30 liedjies word ingesluit met toonsettings deur Anna Davel.

In 30 rympies met karakters soos Kielie-kabouter, Bambino die reus van Bitterbos, goggas en ‘n teddie, tien pikkewyne en ‘n wilde perd vermaak die altyd gewilde skrywer jong lesertjies en vertel hulle van spesifieke situasies soos hul klere wat krimp, ‘n dag by die dieretuin, skoppelmaai ry, bad, tande borsel, met blokkies bou, winkel toe gaan , rondspring, ‘n kussinggeveg en selfs ‘n beer in die kind se bed wat vra vir ‘n goeienagsoen!
Elke rympie is lewendig, vol pret,  en getrou aan die kind se verbeeldingswêreld.
Karen Ahlschläger se illustrasies is net so kleurvol en uitbundig vrolik soos die teks. Die mooiste prentjies vergesel elke rympie en kinders gaan mal wees oor haar interpretasie van die teks. Hoogs aanbeveel vir biblioteke, skole  en tuisversamelings.

Lloyd-Jones, Sally: Op die potjie gou!( H&R, 2018) Illustrasies deur Anita Jeram. Afrikaans deur Elsa Silke.

Hasie loop knyp-knyp, want hy het ‘n groot nood en moet haastig by ‘n potjie uitkom. By hom sluit die diere een na die ander aan, ook op soek na ‘n potjie.
Die kangaroe se kleintjie in haar buidel, ‘n eensame dodo, vriendelike padda, varkies, ‘n ballerina olifant, ‘n hen en ‘n dinosourus, bangmaak spoke en selfs die heer en dame Hoefenpoef en Wikkeltjie Woe!
Daar is aanwysings na die potjies, en elkeen maak ‘n potjie staan. Dit word ‘n heerlike potjie-partytjie, en daar word nog net gesoek na die lesertjie- jy wat in die spieël kan kyk…  Daar is dus ook die geleentheid vir deelname deur die luisteraar, en niks geniet kleintjies meer as om na hulleself in ‘n spieël te kyk nie!
‘n Nuttige en vriendelike prenteboek wat handel oor die baie bekende situasie waar ‘n potjie dalk vir die eerste keer gebruik word.
Anita Jeram het die illustrasies gedoen vir die baie bekende geliefde prenteboek, Raai hoe lief is ek vir jou. Hierdie is ‘n pragtige boek met delikate tekeninge van al die verskillende diere, deurtrek met fyn  humor, en regtig ‘n boek wat jong lesertjies sal aantrek, veral waar die fraaie hasie so uitnodigend is.

Smit, Louise: Haas Das se nuuskas, episode 6. ( H&R, 2018) Illustrasies deur Vian Oelofsen.

Die sesde titel in hierdie reeks belowe om selfs dalk meer opwindend as die vorige titels te wees. Want nou is daar ‘n nuwe intrekker in Diereland,  naamlik Knawel Snawel, en hy is honger, en Haas Das lyk na net die regte maaltyd vir ‘n honger aasvoël!
Dan is Koning Leeu ook siek van bekommernis oor Moeder Raaf wat haar verbeel sy kan beter na die diere se kleintjies kyk as die oumense.
Knawel Snawel gryp Haas Das ,en in die geskarrel trek Haas Das sy blou das styf om die roofvoël se nek en toe Haas Das die das los, val hy in ‘n bos en land op die grond. Die bekommerde diere begin soek na hul gewilde nuusleser, en gelukkig spoor Bettina hom op en gaan soek hulp. Gaan Haas Das herstel van sy aaklige ervaring?
‘n Opwindende episode in die lewens van Diereland se inwoners. Kinders leer van vriendskap en lojaliteit wanneer die diere hul nuusleser en vriend ondersteun en liefdevol versorg.
Vian Oelofsen se illustrasies is, soos in elkeen van die episodes, getrou aan die karakters se individuele eienskappe en voorkoms. Die illustrasies is lewendig en  beweeglik en goed geplaas op  elke bladsy. ‘n Pragtige boek met ‘n onderhoudende storie deur ‘n begaafde skrywer.

Tsarfati, Einat: Wie woon hier?( PROTEA, 2018)  Afrikaans deur Elna van der Merwe.

Die verteller is ‘n dogtertjie wat in ‘n gebou van sewe verdiepings woon. Elke verdieping se deur lyk anders, en agter elke deur is die inwoners uniek en spesiaal. Sy neem die leser op ‘n begeleide toer deur die gebou, en so ontdek jy ‘n goep diewe wat antieke Egiptiese artefakte versamel, ‘n ou jagter en sy troeteldier, ‘n gesin sirkus akrobate, ‘n vampier, ‘n seerower en sy meisie, en ‘n familie wat gereeld partytjies hou. Die sewende deur behoort aan haar en haar ouers se woning.  Sy dink hulle is maar bra vervelig, maar sy is lief vir hulle. As jy dan na die laaste illustrasie kyk, wonder jy maar net of hulle regtig sooo vervelig is…
Met die oopmaak van elke deur word die leser in n nuwe verbeeldingryke omgewing ingelei. Daar is die element van  afwagting en verassing wat jou aandag hou. ‘n Klein diertjie wat lyk soos ‘n marmotjie is in elke illustrasie versteek en maak ook ‘n interessante bydrae.
Die boek is oorspronklik uit Hebreeus in Engels vertaal, en is nou weer in Afrikaans beskikbaar.  Lees en vind uit wie waar woon!  

Wednesday, November 7, 2018

'n Boomhuis en middernagbende!


Griffiths, Andy: Die boomhuis met 13 vloere( PROTEA, 2018) Illustrasies deur Terry Denton. Uit Engels vertaal deur Kobus Geldenhuys.

Die twee vriende Andy en Terry bly in ‘n boomhuis met 13 vloere! Daar is o.a. ‘n kegelbaan, ‘n deurskynende swembad, ‘n tenk vol mensvreterhaaie, ‘n speletjiekamer, ‘n gaskoeldrankfontein en ‘n malvalekker masjien… eintlik is hul daar om boeke te skryf, maar somtyds vorder die storie maar stadig.
Terry besluit om die buurvrou se kat Sysag geel te verf en in ‘n kanarie te verander, en die kat begin sowaar vlieg. Saam hou hulle ‘n tekenkompetisie en so word die reuse piesang gebore; hulle hou van ‘n vervelige tv-program-die blaffende brakkie. Terry bestel see-apies in die pos, maar dit is toe regtig ‘n seemonster wat hom as ‘n pragtige meermin voordoen. Hulle raak van die monster ontslae, maar Terry is hartseer en toe Terry ‘n groot kougomborrel blaas, styg hy daarin op en moet eers weer gered word.Nou skep Terry die supervinger en sy avonture, en toe word hulle weer deur ‘n klomp ape oorval wat hul plek amper verwoes –gelukkig kom Sysag tot hul redding.
‘n Bielie van ‘n gorilla volg die groot piesang na hul boomhuis , en gelukkig help die vlieënde katte om die gorilla weg te lok. Jill is dankbaar dat sy nou ‘n vlieënde kat het, en sy neem die twee saam op ‘n reis in haar kinderwaentjie sodat hulle die boek ook betyds by Grootneus kan aflewer!
Griffiths is ‘n bekende Australiese kinderboekskrywer, Saam met sy vriend Terry het hulle baie suksesvolle reekse geskryf. Die Boomhuis reeks is al in meer as 30 lande gepubliseer. 
Die boomhuis met 13 vloere sal elke jong leser betower want die inhoud is verbeeldingryk en Terry se lewendige humoristiese illustrasies komplimenteer die teks.  Griffiths het ‘n ryk verbeelding, en die twee skep ‘n verhaal wat snaaks, vermaaklik en verassend is. Veral prysenswaardig is die boodskap dat ‘n boek geskryf word wat uiteindelik gepubliseer word en versprei word in boekwinkels, biblioteke en by individue met die twee se direk-na-brein –inligting-afleweringstegnologie.  Hoogs aanbeveel.


Walliams. David: Die middernagbende( PROTEA, 2018) Uit Engels vertaal deur Kobus Geldenhuys.
Agt titels deur Walliams het reeds by PROTEA uitgewers verskyn, en elke boek was boeiend, skreeu-snaaks en ‘n heerlike leeservaring.
Die middernagbende is ‘n groep kinders wat in die kinderkamer van die Lord Funt-hospitaal op die vier-en veertigste verdieping bly. Eers word die leser bekend gestel aan die kinders: Tom wat ‘n hou teen sy kop gekry het; Amber in die rystoel; Robin wat nie kan sien nie en herstel van ‘n oogoperasie; George wat herstel na ‘n mangeloperasie; en Sally wat baie siek is en die meeste van die tyd slaap.

‘n Paar van die karakters wat betrokke is by die storie is die Portier,  ‘n eensame figuur wat die kinders ondersteun  in hul avonture ; Matrone wat baasspelerig is en nie van kinders hou nie, en Dokter Luppers  ‘n jong dokter wat maklik uitoorlê kan word deur die ondeunde kinders.
Middernag, wanneer almal veronderstel is om te slaap, begin die bende se avonture. Tom is die nuwe seun in die kinderkamer, en nog uitgesluit uit die bende. Maar hy wil dolgraag ‘n lid wees, want wat kan meer opwindend as ‘n geheime bende wees? Matrone word snags een van George se spesiale doedoepille ingegee wat versteek is in sy sjokolades wat sy altyd konfiskeer en gulsig verslind. Dan is die bende vry om hul avonture te beleef, soos die Noordpool-avontuur, die ballonne eskapade. Tom en die portier word vriende waar altwee alleen voel. Tom besluit dat Sally se droom om net vir een nag ‘n gelukkige en lang lewe te hê, die bende se laaste sending moet wees  - ‘n ontsaglike groot avontuur!
Tom wil nie teruggaan na die koskool waar hy bly nie, en dalk wag daar toe ‘n verassing op hom…

430 bladsye van opwindende vermaak vir lesers van ‘n verskeidenheid ouderdomme, want David Walliams is nooit vervelig nie, en baie subtiel word daar ook lewenslesse geleer- hoe kindes in moeilike omstandighede mekaar kan ondersteun, hoe die Portier Tom help om sy ouers te waardeer; hoe volwassenes gebring word tot die besef dat gesonde vermaak net positief kan inwerk op siekes.  Hoogs aanbeveel.


Tuesday, October 23, 2018

Prenteboeke te kus en te keur


 

Bachelet, Gilles: Die ridder Buik-op-den-bodem(PROTEA, 2018) Uit Frans vertaal deur Nicol Stassen.

Die ridder is heeltemaal nie wat ‘n leser verwag nie- ‘n slak wat oorlog verklaar teen sy vyand Pap-doring omdat hulle sy aarbeituin ingeval het.

Hy is egter iemand wat priotiseer wat belangrik is- eers moet hy sy kinders en vrou groet, en oppad na die slagveld handel hy nog ‘n paar belangrike take af soos om ‘n prinses te hulp te snel, en ‘n potjie skaak te speel…  Op die slagveld is dit egter eers tyd vir middagete, en die twee stryders besluit om eers die volgende dag die stryd aan te pak. Baie dinge kan tot more wag, “ maar beslis nie ‘n lekker slymerige soen nie!”

‘n Humoristiese, heel oorspronklike en ongewone fabel wat ‘n waardevolle lewensles leer.Die illustrasies is ook interessant en boeiend.

Ehrlin, Carl-Johan Forssén : Dapper Dawie se onderstebo week( H&R, 2018). Illustrasies deur Katarina Vintrafors.

Dawie is ‘n seuntjie wat gewoonlik gelukkig is. Maar sy eerste week in die nuwe kleuterskool is sommer heeltemaal onderstebo.

Die gebeure tydens elke weeksdag gaan om spesifieke situasies en die gevoelens wat Dawie ervaar- angstigheid om by ‘n nuwe groep aan te sluit, dat hy sy maats mis, sy vrees vir spinnekoppe, as hy seerkry, as hy sekere kos weier, en sy vrees vir die donker.   

Vanaf bladsy 21 word die tegnieke bespreek wat aangewend word om  die verskillende situasies te hanteer.

Die skrywer het bekendheid verwerf met sy topverkoper – Die hasie wat aan die slaap wou raak, en as sielkundige gebruik hy sy kennis en vaardighede om kinders te help.

Hierdie is ‘n uiters nuttige boek wat onderwysers en ouers kan gebruik om te leer hoe om ook hulle kinders en leerlinge te help.

Hartman, Wendy: Groot beer( LAPA, 2018) Illustrasies deur Zinelda McDonald.

Op ‘n skooluitstappie nadie dieretuin vind Luna aanklank by ‘n beer wat alleen in sy hok sit en baie eensaam lyk. Sy stel hom gerus deur te sê hy is haar vriend. Tuis moet sy haar ouers se moontlike egskeiding hanteer. Daardie nag verskyn Groot Beer aan haar, en word haar maat as sy skooltoe gaan, met haar ouers gaan stap of speelparkie toe gaan. Maar daar kom ‘n tyd wat sy eerste aan hom totsiens sê, en self met haar lewe kan aangaan sonder sy ondersteuning, hoewel sy altyd vir hom lief sal wees.

Die tema van ‘n enkelkind met ‘n verbeeldingsvriend is al telkemale in prenteboeke gebruik, en hier is nog ‘n boek wat kinders gerus sal stel en vertroos. McDonald se illustrasies is vriendelik en sonder tierlatyntjies.

Krritzinger, Zanri: Wie’s jy, Mnr Slym? ( Tafelberg, 2018) Illustrasies deur Stephen Wallace.

Verbeeldingskool se snaakse vriende kom by hul skool bymekaar waar juffrou hulle vertel om elk ‘n mens-maatjie te kry, en ook ‘n spesiale toertjie uit te dink.

Slym kry eensame Morné, maar al sy pogings om ‘n goeie verbeeldingsvriend te wees, is vrugteloos. Hy roep al sy vriende se hulp in, en hulle vertel aan elke mensekind om met Morné te speel en sy maat te wees.

‘n Slymresep verskyn op die laaste bladsy.

‘n Vrolike prenteboek met snaakse verbeeldingsvriende wat kinders sal geniet.   

Schmachtl, Andreas H.: Tillie Appelpit –die lappieskombers( PROTEA, 2018)

En

Schmachtl, Andreas H.: Tillie Appelpit- Die onverwagte gas   (PROTEA, 2018) Uit Duits vertaal deur Amelia de Vaal.

Die skrywer van hierdie bekoorlike prenteboeke het ‘n paar jaar in Engeland gewerk waar hy die idees vir sy boeke gekry het. Dit is baie duidelik dat hy die klein diertjies soos Tillie koester en hy vertel ook alledaagse gebeure in die diertjies se lewens met oortuiging en sensitiwiteit. Die boeke plaas die leser direk in die wêreld van hierdie diere met oud-wêreldse illustrasies wat sjarmant is.

Tillie en haar maatjies besluit in die lappieskombers om aan ‘n kompetisie deel te neem waarelkeen ‘n oorspronklike kombers moet maak, end it word toe ‘n gesamentlike handewerk wat hoewel dit nie ‘n prys gewen het nie, ‘n duidelikebewys is dat vriende kan saamwerk en mekaar se vriendskap kan waardeer.

Tillie besluit in die onverwagte gas om haar groottante se aarbeitert te bak net om toe iets daar buite te gewaar- ‘n eier, groter as wat sy nog ooit gesien het. Haar vriende raai haar aan om dit altyd lekker warm te hou, totdat die eier uitbroei. Tillie is baie opgewonde dat sy kan help om ‘n eier te laar uitbroei. Sy versorg hom liefdevol en lees selfs vir hom ‘n storie en gaan stap met die eier. Ida Eend is tog te dankbaar dat Tillie haaar eier gevind het. Sy vyf boeties en sussies is tog te bly dat hy gevind is. Tillie en haar vriende gaan kyk gereeld hoe hulle swem en leer vlieg, en soms kuier die hele spulletjie ook by haar aan huis.

Pragtige boeke  , veral geskik vir voorlees en beginner lesers met die langer teks. Hoogs aanbeveel.

Velthuijs, Max: Padda en die voëlgesang( PROTEA, 2018). Vertaler  Carla Lang. Hierdie is die tweede Afrikaanse uitgawe, eerste druk in 2018.

‘n Hoogs bekommerde padda kom aan by sy vriend Vark en vra hom om saam met hom te gaan sodat hy hom iets kan wys. Dit is ‘n lyster wat bewegingsloos op die grond lê. Vark dink hy slaap, Eend dink hy lyk siek, Haas besef die lyster is dood.       

Die vriende begrawe toe die lyster baie sorgvuldig, en daarna speel die klomp saam , baie gelukkig dat hulle lewe.  En toe hulle by die voet van die heuwel kom, oppad huistoe, “sing ‘n pikswart lyster sy lieflike lied-net soos altyd”.

Max Velthuijs(1023-2005) ontvang in 2004 die Hans Christian Andersen-medalje vir sy lewenslange bydrae to kinderliteratuur. Velthuijs se Padda-boeke het hom beroemd gemaak, want deur hierdie karakters kon kinders baie lewenslesse leer. Die eenvoud van sy illustrasies en die min teks lewer ‘n oortuigende boodskap en bly altyd treffend. Hoogs aanbeveel.

Friday, September 21, 2018

'n Eiland besoek kan onvergeetlik wees!


Wasserman, Elizabeth: Elf dae op ‘n eiland( Tafelberg, 2018)

Na die uiters gewilde Elf dae in Parys verskyn ‘n tweede boek waarin die hoofkarakter Danika haar onverwags bevind op ‘n tropiese eiland en  daar nader kennis maak met haar pa wat sy gladnie ken nie.

Van ‘n huis in Seepunt, Kaapstad waar sy woon saam met haar ma Melissa, ‘n bekende aktrise, en haar twee tantes Trix en Gaby word haar omgewing skielik tropies en gevul met kleurvolle voëls, waterskilpaaie en wetenskaplikes wat navorsing doen. ‘n Vrydagaand partytjie van die twee tantes loop lelik skeef wanneer hulle van dwelmbesit aangekla word en Danika ook weggestuur word sodat haar skool se naam nie in die gedrang kom nie. Haar besoek aan die Seychelles beloof om meer opwindend te wees as Seepunt, en ook daar is sy  blootgestel aan misdadigers en ‘n geldgierige sjeik.
Die verhaal slaag en boei t.o.v. ‘n verskeidenheid aspekte:

Die karakters word oortuigend uitgebeeld. Elke karakter is interessant en uniek en dra by tot die kleurvolheid van die verhaal. Elke karakter het ‘n doel en skakel in by die verhaal.
Daar is ‘n goeie balans tussen feite en die verloop van die verhaal ,met sommer ‘n tikkie romanse ook ingeweef. Die verhouding tussen pa en dogter word liggies en sensitief benader, en die atmosfeer bly positief.
Die spanningselement met skurke en geldwolwe , haar ontvoering en die stryd om die eilande se natuurskatte te bewaar, word onderhoudend vertel.
Vir my is die grootste trefkrag van die verhaal die skrywer se fyn uitbeelding van die omgewing- die natuurskoon, en veral die inligting en blootstelling van die leser aan die voëls, visse, waterskilpaaie   en ander eilandbewoners.

Haar benadering is tereg die van ‘n wetenskaplike; ondersoekend, feite word deeglik nagevors en weergegee; haar agtergrond as wetenskaplike kom duidelik na vore in die hantering van die vraagstukke wat die natuurlewe hier kan bedreig.
Hierdie is nie ‘n ligte oppervlakkige storie van ‘n meisie , haar onbekende pa en ‘n besoek aan ‘n eiland nie. Daar word deeglik gefokus om die omgewing so noukeurig as moontlik te beskryf, maar tersefdertyd nie die verhaal te laat ontaard in ‘n droë wetenskaplike verslag nie.
 Daar is genoeg aksie en avontuur en spanning om die leser betrokke te hou. Hoogs aanbeveel vir skole, tuisversamelings en biblioteke. 

 


Wednesday, September 19, 2018

As mens geluk kon proe


Bezuidenhout, Zelda: As mens geluk kon proe( LAPA, 2018)


Hierdie naaswenner in LAPA se jeugromankompetisie bied ‘n oortuigende verhaal wat sentreer om die hoofkarakter, Arnelia van Zyl wat besluit om die draaiboek van haar lewe te herskryf. Sy en haar ma trek na Potchefstroom , en in die nuwe skool val sy sommer met die intrap met ‘n skinkbord vol kos, en dadelik word sy volgens haar nou Honger Neelsie of kry ‘n nuwe bynaam: Vreetzilla.
Sy maak vriende met Dineo en Ilana, maar haar belangstelling is gou gefokus op Dewald Fourie, “omdat hy die sort cool is wat net iemand kan wees wat eenhonderd present oorspronklik is.” Maar sy is oortuig hy sal nooit na ‘n “gemmerpokkel  sonder sosiale vaardighede “ soos sy kyk nie.

Arelia draai nie doekies om oor haar voorkoms nie- sy verwys na haar groot kuite, en dan die Van Zyl-borste!  En dan sien sy vir Dewald in Checkers met ‘n meisie –net genoeg om haar verder te ontstel.

Maar Dewald se ma word ernstig siek sodat hy nie meer die gewone skoolklasse kan bywoon nie maar tuis moet studeer, en sy vind uit dat dit sy suster is wat ook gekom het om hul ma te help versorg.  Hierdie situasie inspireer die jongmense se idee om te begin met ‘n mobiele snoepie wat hulle by die skool kan parkeer om fondse in te samel sodat Dewald sy studies by die skool kan hervat.
Die projek is ‘n groot sukses, maar wanneer sy ‘n rol in die skoolproduksie Haarsproei kry, is die vriendskap met die Snoeperheroes vereers verby. Veral waar Dineo so graag hierin wou speel.    

Arelia word in ‘n persoonlike dilemma geplaas, maar sy neem tog die regte besluit omdat vriendskap meer tel as eiewaan.

Die roman het meriete, die karakters word oortuigend uitgebeeld, en veral in woordkeuses openbaar die skrywer talent en oorspronklikheid. Kosfundies sal Dewald se passie vir kos geniet, en as toegif volg ‘n paar resepte aan die einde van die verhaal- Ouma Dina se appelkooskonfyt, Dewald se uiemarmelade, en frikadelle met balls- Mevrou Ball se blatjang.
Arelia kan uiteindelik geluk proe, want ‘n “gemmerpokkel” kan deur ‘n seun met die regte waardes waardeer word. Sy is nou nie meer ongelukkig nie- dit is haar maats wat haar aanvaar het, die ure se beplanning en werk aan Snoeperheroes, haar ouma se appelkooskonfyt, haar ma se liefde en ondersteuning, “maar veral elke liewe skewe glimlag van Dewald Fourie”.
Ligte leesstof vir jongmense met groot drome.


Tuesday, September 18, 2018

'n Krismisengel met 'n boodskap


Maartens, Wendy : Kerneels en die Krismisengel (PROTEA, 2017) . Illustrasies deur Anneliese Voigt-Peters. Ook beskikbaar in Engels: Chris and the Christmas Angel.
Kerneels is ‘n agt-jarige seuntjie. Sy ma werk as ‘n skoonmaakster by ‘n winkelsentrum. Sy beste vriend is oom Sol, die veiligheidswag. Kerneels se droom is om na die sterre te vlieg in die hoop om ‘n regte engel te sien.
Op Kersdag gee oom Sol aan hom ‘n spierwit veer wat ‘n boodskap van ‘n engel is. Kerneels weet nou dat hy ‘n regte engel gesien het.”Nie een met ‘’n goue rok en ‘n stralekransnie. ‘n Regte Krismisengel met ‘n fiets en ‘n kosblik en ‘n radio… en ‘n gaatjie in sy een skoen.”
Die eenvoud en opregtheid van die verhaal raak die leser, met die treffende boodskap dat kosbare vriende wat jou liefhet die beste voorbeeld van ‘n Kersfeesengel kan wees. Die milieu is tipies Suid Afrikaans, die twee hoofkarakters verteenwoordig die omstandighede en lewens van so baie kinders en volwassenes in ons land.
Die illustreerder Anneliese Voigt-Peters het die Vivian Wilkes Toekenning vir “Die rooi rok” in 1997 ontvang, en die Exclusive Books/IBBY Suid Afrika vir “Ouma Ruby’s secret. Beide hierdie boeke verteenwoordig die werk van ‘n illustreerder wat identifiseer met die mense van haar land. Kerneels en die Krismisengel se illustrasies bevestig haar talent en versterk die kwaliteit van die verhaal.   ‘n Belangrike boek wat in biblioteke, skole en tuisversamelings ‘n tuiste behoort te vind. Hoogs aanbeveel.


Sunday, September 9, 2018

Boeke vir kleintjies



Kleure- H&R, 2018 
‘n Kleurvolle kartonboekie met stewige bladsye en twee skuifslotte wat kleintjies in staat sal stel om die kleure rooi, blou, groen, oranje, geel,bruin, pienk, pers, swart en wit te leer identifiseer deur nab v. rooi voorwerpe te kyk end an met die skuif- apparaat op die volgende bladsy nog ‘n rooi treintjie te vind, maar ook met die blou kleur nog ‘n blou blokkie op te spoor.

Syfers- H&R, 2018
Kinders leer tel van 1-10 op  elke bladsy wat aaan een getal gewy word. Die spesifieke getal word ook baie mooi aangedui in die boonste hoek van die bladsy. Met die skuif-en-loer aksie word bv. nog  ‘n robot of bal opgespoor.
Die twee boeke is baie kleurvol en die voorwerpe is eenvoudig geteken sodat daar geen verwarring kan ontstaan nie.
Ouers en kinders kan saam die boeke geniet, of die kleintjies kan hulleself heerlik op hul eie vermaak.

Bee, William: Stoffel se skool  en Stoffel die boer ( H&R, 2018). Afrikaans deur Kobus Geldenhuys.
In hierdie reeks is daar ook Stoffel se garage en Stoffel die bouer.
Stewige sagteband boeke waaar elke titel onderskei word in ‘n spesifieke kleur, bv. Stoffel se skool in ‘n blou strook aan die onderkant van die omslag.
Hierdie reeks is vir my besonder oulik en nuttig, want inleidend word al die voorwerpe wat gebruik word eers geïllustreer, dan volg bv. ‘n illustrasie van die skool,  gevolg deur die aktiwiteite wat chronologies op mekaar volg-die klok word gelui, die kinders hang hulle sakke en pette op, hulle name word afgemerk, hulle luister na ‘n stoire, , speeltyd, middagete en rustyd.  
‘n Baie oulike reeks wat baie gewild behoort te wees.



Fletcher, Tom en Poynter, Dougie: Dino poef ‘n planet!( H&R, 2018) Illustrasies deur Garry Parsons. Afrikaans deur Kobus Geldenhuys.
 Dirkman en Dino is op ‘n dag verveeld van by die huis bly, en besluit om die ruimte te gaan verken. Gewapen met padkos vertrek die twee in ‘n ruimteskip . Heel gou is Dino resend honger, en Dirkman het sowaar hul padkos by die huis vergeet! Dino begin toe om alles in die ruimye te verslind wat soos kos lyk. Toe is daar net ‘n boepens-dinosourus en ‘n verskrikte seuntjie gestrand in die ruimte. Dino besef gelukkig hoe om hulle te red….
Skreeu snaaks en baie vermaaklik. ‘n Vrolike humoristiese verhaal wat kleintjies baie gaan geniet. Dinosaurusse bly maar ‘n groot aantrekkingskrag, veral as hulle stoute dinge aanvang en interessante avonture beleef. Hoogs aanbeveel.

Handford, Martin: Waar’s Willie? Die fantastiese reis, Waar’s Willie in Hollywood, en Wonderwêreld ( PROTEA, 2018).
Die Waar’s Willie –reeks is beskikbaar in 31 tale, en hierdie drie titels sal soos die vorige Wallie-boeke met groot opgewondenheid ontvang word. In biblioteke is hierdie reeks uiters gewild, en hoewel verliese gebeur omdat party kinders nie die versoeking kan weerstaan om  Wally to omkring met ‘n pen of potlood as hulle die figuurtjie opspoor tydens sy opwindende avonture nie, word heraankope gedoen, want die aanvraag is net te groot!

Helmore, Jim: Die sneeuleeu( PROTEA, 2018) . Illustrasies deur Richard Jones. Afrikaans deur Carmen Hansen-Kruger.
Anders as prenteboeke wat op glanspapier gedruk is, verskyn hierdie verhaal op dowwe papier  in sagte pastel kleure om so ‘n gedempte gerusstellende atmosfeer te skep. Kara en haar ma verhuis na ‘n huis op ‘n heuwel waar wit die oorheersende kleur is. Kara verlang na ‘n maat om mee te speel, en toe verskyn ‘n spierwit leeu aan haar wat haar uitnooi om saam te speel. Bertie ‘n seun nooi haar om in die park saam met hom te speel, en vervolgens ontmoet sy ook sy maats. Haar ma nooi al die nuwe maats om die huis te kom verf in helder kleure. Nou is die leeu nie meer in die kleurvolle huis nie, maar buite in die natuur. Hy stel haar gerus dat hy, wanneer sy hom nodig het, wel daar sal wees.
‘n Gevoelvolle uitbeelding van die verbeeldingswêreld van ‘n alleen-kind, wat d.m.v. ‘n maat wat syself geskep het, leer om na ander kinders uit te reik.
‘n Pragtige boek wat emosioneel baie kinders gaan raak.

McKee, David: Elmer(PROTEA, 2018)
Mckee, David: Elmer op stelte( PROTEA, 2018) en
McKee, David: Elmer Alweer Elmer( PROTEA, 2018). Afrikaans deur Philip de Vos.
David McKee se Elmer-boeke is internasionaal bekend en in meer as 40 tale vertaal.
Wie sal nou nie verlief raak op ‘n olifant wat soos ‘n lappieskombers ingekleur is tussen al sy vaal tropgenote nie!
Op ‘n dag is hy moeg om anders te wees, en hy glip weg van die trop en stap alleen deur die oerwoud op soek na die bos met olifantkleur-bessies waarin hy wil rol om soos die ander te lyk. Dit verskaf die trop oneindig baie pret, en jaarliks vier hulle nnou Elmer dag waar hy olifantkleur vir himself gebruik, en die ander olifante kleurvol ingekleur word om soos Elmer te lyk.
Elmer op stelte is sy voorstel aan die trop dat die jagters hulle so nooit sal kan opspoor nie.   Monstervoete aan die stelte moet die jagters in ‘n ander rigting stuur,maar as die jagters dink daar is monsters hardloop hulle natuurlik in die teenoorgestelde rigting, in die stelte vas, sodat die olifante die vet jagters platval. Die jagters het nooit weer teruggekom nie, en die stelte kon nou net vir die pret gebruik word.
Al weer Elmer vertel hoe hy uit verveling voor doe Elmer Dag-optog waarin net hy vaal word soos die trop, stilletjies in die nag al die olifante versier om soos hy te lyk. Die trop is nou heeltemaal verward en weet nie wie Elmer is nie. Selfs as hulle almal in die water spring om van die kleur ontslae te raak, is Elmer alweer eens te slim vir hulle.
Op ‘n speelse wyse word lewenslesse geleer oor selfaanvaarding, hoe om deel van ‘n groep te wees en in die groep mekaar te vermaak en saam te speel en ook mekaar te help beskerm.

Riddell, Chris: Eendag in ‘n woeste woud( PROTEA, 2018) Afrikaans deur Kobus Geldenhuys.
“Die weg deur die woud is donker en diep
met ‘n les om elke draai.
Die pad wat jy kies is die storie wat jy skep,
elke tree ‘n blad om te blaai”.
Klein Groenkappie stap die woud binne met ‘n uitnodiging na Raponsie se partytjie. Oppad kom sy verskeie karakters uit bekende feëverhale teë- die heks met die appel, ‘n troll, die Ondier se kasteel, Jan en die boontjierank, die drie bere , rooikappie, Duimelientjie, Skoonlief, die drie varkies, die sewe dwergies, en die twaalf dansende prinsesse. Uiteindelik is al die karakters bymekaar by Raponsie se partytjie, en gelukkige re-unies vind plaas, veral die van Skoonlief en die Ondier.
Die volgende dag vertrek Groen verder deur die woeste woud, en wonder wat volgende gaan gebeur…
Baie oorspronklik en verbeeldingryk. ‘n Pragtige boek met genoeg verassings en humor om kinders te betrek.

Smit, Louise: Haasdas se nuuskas- episode 5( H&R, 2018) Illustrasies deur Vian Oelofsen.
Vier titels het reeds in hierdie pragtige reeks verskyn.
Al die diere in Diereland wonder wie nou eintlik die gemaskerde Wonder in hulle midde is wat gaan veg teen Kongo Kangaroe van Diereland-Oorsee, die rofstoeikampioen van die wêreld. Kleinskillie deel die geheim van sy identiteit  met sy pa, sy afrigter, en hy mag vir niemand vertel nie. Maar hulle vind wel uit dat hy ‘n geheime stertgreep het.
Na die geveg breek daar skielik ‘n gevaarlike veldbrand uit, en niemand kan vir Kleinskillie opspoor nie. Totdat Soks Sjimpansee sy kamerasak wil oopmaak…
Kan daar nou ‘n vroliker meer vermaaklike groep diere wees as juis hierdie maats in Diereland?
Die reeks is besonder kleurvol en kry ekstra betekenis en lewe met Oelofsen se wonderlike illustrasies. Elke diertjie word spesiaal, en tog te dierbaar is die illustrasie van Haasdas wat Kleinskillie in sy arms omhoog hou. ‘n skrywer wat die verbeeldingswêreld van kinders baie goed verstaan en kan binnedring.
‘n Baie spesiale reeks. Oelofsen se werk is puik!

Smit, Gertie: Stories vir pikkies en peuters( Tafelberg, 2018 ) Illustrasies deur Samantha van Riet, Tasia Rosser, Melany Pietersen en Tumi K. Steyn.
Die kort verhaaltjies in die boek  is gegroepeer onder somer(in die huis), herfs(in die tuin),  winter(in die dorp), en lente(op die plaas).
Die gebruiksgids gee ‘n volledige uiteensetting van die teikengroep, hoe die bundel saamgestel is, die doel van die stories en die vroeë leer-en ontwikkelingsareas van kinders word uiteengesit. Elke storie word in ‘n tabel aangegee met die tema, titel, en die konsepte wat aangespreek word en woordeskat wat aangegee word.   
Hierdie is die vierde in ‘n reeks publikasies vir voorskoolse kinders. Die titels is Rympies vir pikkies en peuters, Rympies vir kleintjies en kleuters, Liedjies vir pikkies en peuters en hier stories vir pikkies en peuters.
Hierdie vier titels is van onskatbare waarde vir elke kleuterskool onderwyseres.
Gertie Smit verdien wye erkenning vir haar bydrae tot die opleiding van kinders, met die doel om hulle lief vir stories, gedigte en liedjies te maak wat bydra tot hul persoonlike ontwikkeling op al die gemelde terreine.
‘n Absolute onmisbare toevoeging tot skool, tuis- en biblioteek versamelings. Elke bladsy bevat groot wit ruimtes sodat die teks in groot druk maklik herkenbaar is, die illustrasies van die 4 kunstenaars is uiters kinder-vriendelik en toeganklik, en die hele publikasie is Keurig versorg en visueel baie aantreklik. Hoogs aanbeveel. Werklik ‘n baie belangrike boek vir onderwysers.