Tuesday, March 20, 2018

Volksverhale en Onder my vel


Resensies van Afrikaanse  Kinder/Jeugboeke 3/2018:

Magona, Sindiwe:  Volksverhale uit Afrika 1-9 ( David Philips, 2016) 2de uitgawe

Hierdie reeks het reeds in 2014 verskyn.  9 titels handel oor ‘n verskeidenheid verhale met ‘n Afrika agtergrond, behalwe Die vreemdeling en sy fluit wat geïnspireer is deur Robert Brwoning se gedig “Die fluitspeler van Hamelin.”

In Gulsige man, gawe rots tref ‘n verskriklike droogte die land en die pa Hlohlesakhe is desperaat op soek na kos.  ‘n Rots voorsien hom daagliks van heerlike kos wat hy gulsig eet, sonder om iets na sy familie te neem. Totdat sy skerpsinnige dogter hom agtervolg en sy skande en gulsigheid ontbloot word.Soos in verskeie van die 9 verhale is hier foute in die teks, bv. “dat hy hulle raakgesien”. Die Afrikaanse vertaling is soms lomp en swak woordkeuses word gedoen, bv.”hy het skaars begin sing toe die kos uitstort.

Nokulunga, Moeder van goedheid, is juis die verhaal van ‘n vrou wat elke keer as haar man ‘n tweede vrou bykry, die vrou d.m.v haar towerpot laat verbrand.

Buhle , die veelkleurige kalf   beland tussen die ander beeste en Soyiso, hul oppasser, was verheug om die mooi kalf te versorg. ‘n Aaklige wrede man daag egter op, en omdat die kalf nie geroer het voordat daar vir hom gesing is nie, het hulle hom doodgemartel. Gelukkig het pragtige blomme in sy plek verskyn, want”Niks verdwyn ooit nie”.

Die vrou op die maan vertel van die hardkoppige vrou wat Nkanishe wat nie die reels van die dorp gehoorsaam het nie, en op Sondag uitgegaan het om hout te gaan kap. Sy is gevolg deur haar seuntjie en hul hond, en het nooit weer teruggekeer nie, Behalwe dat sy deur die woudgode na die maan verban is , en daar kan sy gesien word.

Twee van die verhale gaan oor diere, Sterker as Leeu en Hoe Dassie gemis het om sy stert te kry .In eersgenoemde word Leeu uitoorlè deur muis wat hom ‘n les leer omdat hy so gulsig was en die ander diere moes hongerly.

Dassie weer is te lui om soos die ander diere sy stert te gaan ontvang, en daarom is hy vandag nog sonder ‘n stert.

Die wrede koning lewe!  Dra die duidelike boodskap dat die wens van die ou koning dat sy gees moet voortleef in sy opvolger volbring is. Netsoos sy voorganger het sy volgelinge in armoede geleef, en het hy in oorvloed geleef.  Weer ‘n voorbeeld van ‘n drukfout:” hy was onder die vele wat vrymoeidiglik die ou koning aangeraai het….

Vandag, plant ons ‘n hoofman  dra die boodskap dat ‘n ongevoelige selfsugtige seun Lunga deur vriendskap, en met Madiba as voorbeeld kan verander en karaktertrekke soos dissipline, dapperheid en verdraagsaamheid  kan aanleer. (Die opsomming van die verhaal op die omslag is uiters verwarrend!

Die verhale het potensiaal vir voorlees en kan selfs gedramatiseer word, maar is defnitief nie ‘n voorbeeld van ‘n goeie Afrikaanse vertaling nie!

Magona, Sindiwe and Jablonski, Nina G : Onder my vel ( David Philip. 2018) Afrikaans deur Elna van der Merwe. Illustrasies deur Lynn Fellman.

‘n Absoluut prag publikasie waarin die seun Njabula gefassineer is deur ‘n verkleurmannetjie wat hom laat wonder hoekom almal nie soos verkleurmannetjies van kleur kan verander word nie. Sy oom Joshua se skrootwerf is die plek waar die skoolkinders ‘n taak oor herwinning moet doen. Dit word dan ook die agtergrond waarteen die kinders leer oor velkleur en daaroor gesels.  

Die wetenskapteks deur Nina Jablonski verskyn deur die hele publikasie en leer die groep jongmense  dat kleur oral is, hoekom ons nie van kleur kan verander nie, hoekom daar so baie kleure is, vertel van velkleurgene, hoe verskillende volke bymekaar uitgekom het, hoe nuwe velkleure ontwikkel het, en hoe om velkleur te verstaan. Die liedjie op bladsy 42 kan kinders rap met stokkej of ander rondlêgoed.:”My vel is daar buite, my hart is hier binne, dis wie ek is…”

Die multimedia –kunstenaar Lynn Feldman se illustrasies vul die teks en wetenskaplike insette treffend aan.  Hierdie is ‘n belangrike boek wat in skole, biblioteke en tuisversamelings hoort. Hoogs aanbeveel.

   

Tuesday, February 20, 2018

Van prenteboeke tot Asterix


Resensies van kinder/jeugboeke 2/2018:

Davies, Benji: Die stormwalvis in die winter( PROTEA, 2018)Afrikaans deur Rentia Bartlett-Möhl.

Die Stormwalvis se verhaal word verder vertel in hierdie verhaal waar Noi maar netnie die klein walvis kan vergeet wat hy gered het toe ‘n storm dit op die strand uitgespoel het nie. Toe dit winter word vaar sy pa vir ‘n laaste rit uit op die see, maar hy bly lank weg en Noi verdwaal as hy na sy pa gaan soek.Hy vind die boot, en die walvisse dra hom en die boot terug na veiligheid. Die vissermanne het sy pa gered, en sy walvis-vriend is weer terug. ‘n Treffende verhaal van vriendskap en moed met seetonele wat ‘n mooi agtergrond vorm.

Donaldson, Julia: Tirannosourus Sot( PROTEA, 2018). Illustrasies deur David Roberts. Rymvertaling deur Philip de Vos.

Die platbek-dinosourusse hou van water , riete en gras en waterblommetjies. In teenstelling met die vriendelike vreedsame groep is daar die tirannosorous-paar wat net wil moor en jag en oorlog maak. ‘n platbek-eier beland tussen die eiers van die moordadige groep, en toe die kleintjie uitbroei is dit tot almal se konsternasie want die een lyk vreemd met ‘n bek soos ‘n eend. Hy kry toe sommer die naam Tirannosourus Sot omdat hy net plante wil eet. Gelukkig beland hy in die water tussen sy groep en beland die nare klomp in die see. “ En op die wal sing eendbek-D’s- Daai T’s was naar en vrot en nou roe pons hiep=hiep –hoera vir Dinosourus  Sot!”

Verhale oor dinosourusse bly altyd gewild by kleintjies, en met Philip de Vos se vrolike beryming en Roberts se oorspronklike groep gediertes behoort die boek groot byval te vind.

Donaldson, Julia: Amok op ‘n besemstok( PROTEA, 2018) Illustrasies deur Axel Scheffler.

Daar is amok op die besemstok as die heksie se gepunte hoed deur die wind weggewaai word. Gelukkig red ‘n hond die hoed, en hy word genooi om by die heks en haar kat aan te sluit.Hierna word haar strik weggewaai, en opgeteldie ‘n voël wat nou ook by die groep aansluit. Haar towerstaf word deur ‘n padda gered. Ongelukkig breek die besem, en haar metgeselle beland in ‘n modderige moeras. Toe ‘n draak haar wil verslind, verskyn die aardige monster uit die moeras wat die draak wegjaag. Die dankbare heksie stook ‘n potjie en uit die pot verrys ‘n wonderbesemstok! “Met skittermooi stoele vir die heks, kat en hond, ‘n nes vir die voël en vir padda ‘n stort”.

Die skeppers van dei gewilde Goorgomgaai betower weereens met die prettige avontuur met die aller-vrolikste illustrasies, reg in die smaak van menige kind.  

Goes, Peter: Tydlyn- ‘n reis deur die geskiedenis( PROTEA, 2018)Uit Nederlands vertaal deur Zandra Bezuidenhout.

‘n Asemberowende ontdekkingsreis deur die geskiedenis, absoluut uniek en met groot sorg ontwerp in ‘n groot-formaat boek wat 16 uitgawes in België gehad het en in verskeie tale vertaal is.

Daar is geweldig baie detail in die illustrasies en kinders kom voor ‘n uitdaging te staan wat hulle sal boei as hulle tyd spandeer om elke fase in die wêreldgeskiedenis deeglik na te  speur en die fyn druk te lees wat die spesifieke fase verduidelik.

Die verhaal begin met die begin van lewe, gevolg deur die dinosourusse, die eerste mense, eerste nedersettings, Mesopotamië, Antieke Egipte, Antieke Griekeland, Die Kelte, Romeinse Ryk tot en met ruimtevaart en uiteindelik die 2010’s.

Daar is geen indeks of bladsyverwysings nie; die leser word weggevoer deur die geskiedenis deur te blaai en te lees wat volg op die vorige tydperk.

Die boek sal spreek tot lesers wat op soek is na ‘n oorspronklike talent en unieke uitbeelding, en volwassenes behoort die boek tot tuisversamelings te voeg omdat dit ‘n spesiale tuiste verdien. ‘n Prag-aanbieding.   

Palmer, Jose en Reinette: Leer my lees reeks Vlak 4 Boeke 1-10( LAPA, 2018) Illustreerder Zinelda McDonald.

In hierdie nuttige reeks het reeds Vlakke 1-3 verskyn, elk met 10 boekies. Tippie die olifant is die hoofkarakter wat sy avonture deel met jong lesers 5+jaar. Hy maak nuwe maats, besoek die dieretuin, besoek die leeupark, die lughawe, leer om pizza te maak, hou sywurms aan, soek insekte, vang vis, verjaar , en gaan selfs ysskaats.

Die skrywers het jare se ervaring in onderwys en wil met die boeke kinders lief vir lees maak. Elke boek is gekram, net 25 bladsye en is kleurvol en kinder-vriendelik met McDonald se toeganklike illustrasies wat die boekies nog lekkerder maak. Aktiwiteite is ingesluit met ‘n woordelys, hul begrip word getoets en nuwe woorde kan gemaak word. Onderwysers sal die boeke nuttig vind in klaskamers, en ouers kan dit handig tuis gebruik.    ‘n UIters leersame reeks met ‘n hoofkaraktertjie wat in kinders se harte sal kruip.

Viljoen, Fanie:   Slym  se stories( LAPA, 2018)

In 2004 het die eerste Slym-boek in die biblioteek aangekom, en dadelik het ek besef dat dit ‘n treffer is wat werk vir 7+jariges. Nou verskyn al vier Slym-boeke in ‘n volkleur- omnibus, deur die skrywer self geillustreer. Die boeke het reeds  twee ATKV-Woordveertjies gewen.

“Daar gebeur nooit iets opwindends met wurms nie. “ So het die klein wurmpie Slym gedink. Totdat hy sowaar in ‘n paddakonsert beland!Giftand die slang betrek Slym sodat hy paddas kan vang, maar gelukkig het Slym ‘n geheime wapen om Giftand ‘n les te leer. Hy neem selfs die rol van die paddaprins in die skoolkonsert oor, en word die eerste wurm wat in ‘n paddaskool toegelaat word.  En dit is maar net die eerste verhaal in hierdie omnibus!

Die boek hanteer lekker, is kleurvol, die illustrasies pret en vol humor, en Slym is die oulikste wurmpie ooit.  Die lekker groot druk maak die boek nog meer aantreklik en leesbaar.

Goscinny , R en Uderzo: Asterix en die groot moles ( PROTEA, 2017)  en

                                                Asterix in Helvesië(PROTEA, 2017)

Aanhangers van die Asterix boeke sal verheug wees om twee nuwe titels te sien , en bibliotekaresse verwelkom twee toevoegings tot ‘n reeks wat deur al die jare van die gewildste boeke in die kinderafdelings bly.Albert Uderzo se illustrasies uit hierdie geskiedkundige tydperk is onverbeterlik.

Lona Gericke Feb/2018   

 

 

 

 

Wednesday, January 31, 2018

Van 'n besoeker tot 'n somer vakansie


Damm, Antje:   Die besoeker( PROTEA, 2017)

In ‘n donker vertrek sit ‘n eensame figuurtjie Elise wat so bang vir alles is dat sy altyd  by haar huis bly waar sy minder bedreig voel as in die wêreld daar buite.

Op ‘n dag vlieg ‘n vreemde voorwerp by die venster in- ‘n papiervliegtuig wat sy dadelik verbrand.  ‘n Seuntjie klop aan haar deur op soek na sy speelding, en vra om haar toilet te gebruik.  Met sy verskyning bring die skrywer ‘n helder lig in hierdie donker omgewing , en wanneer hy haar vra om vir hom ‘n storie te lees, word die besoek net al lekkerder – hulle speel saam, en sy maak vir hom ‘n toebroodjie toe hy honger is.  Na sy vertrek weet Elise dat sy ‘n vlieër vir haar nuwe vriendjie  moet maak.

‘n Oorspronklike klein verhaal oor vriendskap en eensaamheid. Teen die agtergrond van vertrekke in har huis sit die figuurtjie wat soos ‘n papierpop  ingeteken is op elke bladsy. Die toevoeging van kleur in hierdie somber omgewing met die koms van die seun is treffend en verhelder haar omgewing en lewensomstandighede.  Baie treffend.

Ongansie, Susan: Kattekwaad ( LAPA, 2017) Illustrasies deur Linki Lutz

Mietsie en Maas speel tog te lekker, maar as sy aan die slaap raak gaan soek hy iemand anders om mee te speel. Mietsie word wakker, en begin haar boetie soek.  In die proses kom sy op gevaarlike straatkatte af, en  toe hulle drie deur straatbrakke gejaag word, vlug die drie en klim in ‘n boom. Hierna gewaar sy haar boetie en nooi die straatkatte om saam met hulle te gaan speel.

‘n Oulike storie met ‘n mooi kinkel waar die straatkatte en huiskatte maats maak.  Die illustrasies het ‘n kinderlike gevoel en kon deur ‘n kind self gedoen gewees het wat heel van pas is.  Sagte kleurskakerings skep ‘n rustige gevoel.

Scherz, Oliver: Ben ( PROTEA, 2017) Uit Duits vertaal deur Amelia de Vaal.

Ben en sy skilpad Meneer Minni is maats wat amper alles saam doen. Hulle speel saam in die bad,  besoek sy broer se boomhuis wat verbode terrein is, en saam vang hulle vis in die bure se visdammetjie en moet die vis weer terug besorg word by sy maatjie.  Ben probeer ‘n dapper Indiaan wees nadat hy nie dapper by die dokter was nie!

10 verskillende insidente en ontmoetings o.a.  met die nuwe bure se dogters , sy oupa, en die silwer sjokolade munte wat hy by sy broer vaslê, en ‘n besoek aan die veearts as Minni siek word , dra elkeen by om hierdie bundel genotvol te maak. So word sy wêreld vir hom oornag groter as hy sy eerste skooldag beleef, maar die nuwe ervaring word met ope arms verwelkom.

Heerlike groot druk in ‘n keurig versorgde aanbieding waarin Ben en sy skilpad Minni   dadelik in die leser se hart kruip met sy eerlike waarneming en vertelling van hul avonture saam. ‘n Pragtige boek!

Janosch :  Kyk hoe mooi is Panama( PROTEA, 2017)Uit Duits vertaal deur Rentia Bartlett-Möhl

Janosch is een van die bekendste Duitse kinderboek skrywer/illustreerders.  In hierdie prag publikasie word al ses  Tier-en Beer-verhale aangebied met sy kenmerkende illustrasies van die twee avonturiers wat net absoluut behoort tot die klassieke skat van kinderboeke.

“Eendag was daar ‘n klein beer en ‘n klein tier wat aan die onderkant van ‘n rivier gewoon het”… so begin die eerste verhaal in die bundel waar die twee besluit om na Panama te gaan soek want dit is klein beer se land van sy drome.

Met elke avontuur laat die skrywer die leser verstaan dat jou tuiste tog maar die lekkerste kan wees, dat ‘n skat in die grond nie die rykdom rondom hulle kan vervang nie, en deurgaans word hulle hieraan herinner deur die ander diere in die stories soos die mol wat wil hê dat hulle na die winter-koninkie se mooi gesang moet luister, en dan smaak die blomkool ook tog te lekker!

Maar die twee hou nooit op om nuuskierig en skeppend te wees nie, bv. toe hulle briefpos, lugpos en die telefoon uitgevind het waarby al hul vriende se kommunikasie verbeter.   Klein vark laat tier vergeet van sy verpligtinge tuis as hulle so lekker speel en dinge saam doen. As hy dan weer huistoe gaan, is beer nie daar nie. Gelukkig vind die twee toe weer mekaar.

Toe tier verjaar besluit hulle om partytjie te hou en al die diere word uitgenooi na die geselligheid. Padda besluit om die huisie vol water te laat loop om die partytjie darem vroliker te maak, en as die bokram laat daar aankom en die deur oopmaak, swem al die gaste heerlik na  buite!

Hierdie boek behoort in elke biblioteek/skool en ook tuisversamelings waar kinders blootgestel moet word aan die ryke skat van die internasionale kinderboek wêreld.

Viljoen, Fanie: Aksieheld Austin-nag van grille ( LAPA, 2018)

Vir jong lesers 9jaar + verskyn die tweede boek in die nuwe reeks  Aksieheld Austin na Operasie Sabotasie.

Ewald Eloff speel weereens die held Austin en spesiale gaste word uitgenooi na die fliek se première. Die hotel-joggie Toni met die skewe gesig vertel aan Ewald en sy vriend Cardo  van die museum agter die Marconi-teater waar die fliek gewys gaan word wat hulle moet besoek want dit is baie grillerig en word bestuur deur sy ma Madame Marconi.  Ewald die waaghals stem in dat hulle voor die aand se vertoning wel daar ‘n draai kan gaan maak.

Min het die twee vermoed dat hierdie besoek ‘n groot uitdaging en toets vir hulle dapperheid en ondernemingsgees gaan word, want die museum is die bêreplek van ou fliek-goeters uit rillers en grillers. Madame Marconi waarsku hule ook dat sommige plekke in die museum verbode is en onveilig is. En dan hoor hulle ook dat  Toni nie lekker in sy kop is nie en nie meer reg kan dink nie… waarom sou hy aandring dat hulle die museum besoek?

Ligte vermaak vir jong lesers wat hou van grillerige spanningsvolle stories met ‘n gelukkige einde want is Austin dan nie verniet ‘n aksieheld nie?!

Jeugboek:

Fouché, Jaco: Somer ( H&R, 2018)

Hierdie is die bekroonde skrywer se tweede jeugroman.

Na ‘n rugbyoefening nooi André Lourens  vir Maison Jonkers ‘n kleurlingseun om ‘n draai by hom te kom maak.  Beide vaar gemiddeld op skool, is vinnige atlete en lief vir duik en swem.  Altwee se ma’s is uithuisig- Andrè se ma reis op soek na ‘n nuwe tuiste oorsee vir die gesin, en Maison se ma doen liefdadigheidswerk na sy tot bekering gekom het.

Dit is die begin van ‘n vriendskap wat na matriek deur die somervakansie ontwikkel en die twee word gaandeweg goeie vriende wat saam die lewe leer ken. Hulle drink saam en steel drank, breek in by die seiljagklub, probeer vriende maak met die meisie Mimi, en kap bome af en verwerk die hout vir sakgeld.

André se broer Martin ly aan sy senuwees , sy pa werk in die boubedryf terwyl Maison se pa ‘n visserman is wat aan die begin van die verhaal sy boot in die see verloor en ander werk moet vind.

Die verhaal is dus gebou rondom twee seuns wat eers traag vriende word maar geleidelik al meer deel word van mekaar se lewens. Die milieu is die area rondom Onrus en Hermanus waar hulle die somervakansie deurbring en die tyd verwyl met kattekwaad en kuier en besoeke aan die strand.

Die roman is geskryf in eenvoudige  onopgesmukte  taal en baie oortuigend word die gevoel tuisgebring dat hier seuns aan die woord is. Sekere opmerkings en raak gesegdes bly ‘n mens by; die skrywer is absoluut in beheer van sy verhaal en tuis in hierdie omgewing waaroor hy skryf.

Maison se pa reageer op sy opmerking dat Andre dink dat hulle nou beste tjomme isterwyl hy volgens Maison ‘n paar jaar gelede hom nie raakgesien het nie:”Jy’s te jonk om daai wrok te dra. En soos ek sê,dis ‘n ander land…Howel ek baie keer wonder wat de hel demokrasie nou eintlik beteken”. Sy ma weer vra dat hy die wit seun moet help waar hy kan , want : “’n mens reageer wanneer iemand na jou uitreik”. Hierdie is ‘n nasie in wording, is die boodskap, so ook ‘n vriendskap in wording tussen die twee hoofkarakters.

Elke individu is  oortuigend geteken. Wat ek veral geniet het is dat die verhaal so ‘n rustige tempo het, daar is geen doelbewuste gejaag nie en die somervakansie beweeg teen die stadige pas wat so geloofbaar is. Die skrywer skryf nie doelbewus”mooi” nie, deurgaans bly die stemtoon opreg en direk. Byvoorbeeld:”Die lente kom met nuwe plantreuke en meer son wanneer ek soggens langs die pad vir die taxi wag”. “Ek gaan by die huis bly en visvang of sleg word of waddehel ook al. En dis as dinge goed gaan.”

Somer is geskikte leesstof vir klas besprekings oor identiteit, vriendskap, literêre meriete en kuturele verskille. Dit is ‘n leesbare jeugroman met ‘n eie stem wat jou bybly en aangenaam verras.

Lona Gericke, Januarie 2018.

   

 

 

Tuesday, November 28, 2017

Lillie die heksie met liedjies vir peuters


Smit, Gertie(comp.) : Liedjies vir pikkies en peuters( Tafelberg, 2017)

40 Versies uit die boek Rympies vir pikkies en peuters is getoonset vir 1-3jariges. Die boek bevat ook ‘n CD verwerk in saamsing-formaat met die stem van  Marlie Katzke.

Onderwerpe in 20 afdelings behandel baie van die onderwerpe wat vir die kleintjies belangrik is, soos hulle lyfies, gesin, die huis, troeteldiere, speeltyd, en gesonde kos. Onderwysers en ouers wat wil saamspeel of sing, sal saam met die kinders groot pret hê.

Persoonlik sou ek vir die ouerdom seisoene , insekte, en veiligheid bv. kon uitlaat,  en meer persoonlike situasies soos tande borsel, badtyd, ‘n eina, ingesluit het. Ek mis ook die pa- figuur en miskien ‘n ouer sussie of boetie.   

‘n Handige en bruikbare toevoeging tot materiaal vir die heel kleintjies.

Die illustrasies deur Astrid en Nadia Blumer gee kleur aan elke  situasie.

Onder die opskrif opvoedkundige motivering word die kenmerke van kinderliedjies, vir wie dit bedoel is en hoe dit gebruik kan word, behandel.

Baie duidelik is Gertie Smit ‘n ervare  opvoedkundige met ‘n liefde vir kinders wat hier duidelik uitgebeeld word. Hoogs aanbeveel vir tuis-en klaskamers, en biblioteke.

Knister: Lillie die heksie in Wonderland( PROTEA, 2017) Illustrasies deur Birgit Rieger.

17 titels het alreeds verskyn by PROTEA uitgewers, en met vertalings in 40 tale is die karaktertjie internasionaal baie geliefd.

Met haar gebruiklike sin vir avonture en nuuskierigheid, besluit Lillie vergesel van Hektor die drakie besoek hulle die sneeubedekte wonderland waar geheime op hul wag , want gou hoor hulle by Neutella die eekhoring dat die koning van Lente, Somer en Herfsland , koning Origano  gegaan het om die bergbewoners te help, en toe nooit weer teruggekeer het nie. Daar is gepraat van groot nood, honger en ysige koue.

Ons dapper helde besluit toe om self ondersoek in te stel, Ola die Ysingwekkende heers glo daar – ‘n wrede despot met geen genade of simpatie vir lewe nie.   ‘n Hoë muur omring die land van verskrikking, en en die twee moet by die twee hekwagte, ysbere, verby kom deur elke keer ‘n raaisel op te los. Sal hulle daarin slaag om koning Origano op te spoor? Wat is werklik die situasie in hierdie ysige plek?

Goed versorgde boeke met die karaktertjie Lillie as boekmerk, en met  heel aantreklike kindervriendelike illustrasies . As ‘n beginnerleser eers betrokke raak by ‘n reeks, is hulle baie verlig as nog ‘n titel verskyn! Vir selflees of voorlees.  

 

Monday, November 27, 2017

Baas Baba tot sterre en planete


Frazee, Marla: Baas Baba se Baas( PROTEA, 2017) Afrikaanse vertaler Amelia de Vaal

Baas Baba word opgevolg met hierdie vermaaklike verhaal waarin Baas Baba onttroon word deur die nuwe babasussie. Sy hersstruktueer die hele huishouding as die nuwe Hoof Uitvoerende Beampte –HUB. Baas Baba is omgekrap dat sy nou al die aandag kry- om net te dink aan al haar byvoordele soos ‘n organiese spysenieringsdiens, stresbestuur, en ‘n voltydse sosiale mediaspan!  Sy het haar eie  privaat limousine, en niks wat hy doen laat die personeel hom raaksien nie. Totdat die HUB ingryp en hom help om weer deel van die gesin te voel, hy is mos haar ouer boetie en dierbaar vir haar.

Defnitief ‘n “tong-in-die-kies-storie “ wat die hele gesin kan geniet, want ken lesers maar nie te goed soortgelyke situasies nie. Hoogs aanbeveel.

Schaapman, Karina: Die Muishuis-by die kermis(PROTEA, 2017) Gefotografeer deur Allard Bovenberg. Afrikaans deur Shané Kleyn.

Die Muishuis, Sam en Julia  het eers verskyn om lesers te betower. In By die kermis  neem die twee muise ons weer saam na ‘n kleremaker, kaasfabriek, boekwinkel, ‘n Chinese restaurant, en veral na al die heerlikhede by die kermis soos ‘n spookhuis en mallemeule. ‘n 8jarige meisie op besoek by my het gister dadelik verdiep geraak in die verbeeldingryke wêreld wat so kunstig geskep is, met soveel detail in elke gefotografeerde oomblik, dat sy beswaarlik die boek kon toemaak.  

Hierdie reeks behoort in elke biblioteek/skool en huis waar kinders deur blootstelling leer om vir boeke lief te word. Kinders kan www.themousemansion.com besoek , asook die Mouse Mansion-blad op facebook en die kanaal op YouTube.

Schaapman, Karina: Die Muishuis- By die teater( PROTEA, 2017) . Afrikaans deur Shané Kleyn. Gefotografeer deur Eddo Hartmann.

‘n Gelukbringerklip wat Sam en Julia opgetel het moet Sam se senuwees help kalmeer vir sy optrede in die teater. Daar is die mooiste dubbelblad voorstelling van die teater om jou aan te vergaap! Ander situasies volg met ‘n besoek aan die rommelboer, ‘n suikerfees, appeltert, en ‘n verjaarsdag. Julia breek haar been met die skopfiets en  Sam besoek haar in die hospitaal.

Die skrywer behandel dus onderwerpe wat belangrik is vir die belewingswêrelde van kinders, soos dat hul deel is van ‘n gemeenskap wat bestaan uit bure wat van hulle kan verskil maar nie ‘n bedreiging inhou nie. Jong lesers leer uit hierdie twee karakters se gedrag dat die lewe opwindend en interessant kan wees. Jy het net ‘n nuuskierige leergierige ingesteldheid nodig.  Die boeke is kunswerke geskep deur ‘n talentvolle skrywer. Absoluut juwele!

Sirett, Dawn: My eerste 100 woorde( LAPA, 2017).

‘n Pragtige kartonboek waarin babas en kleuters met behulp van illustrasies en fotos bekend gestel word aan hul liggaam, klere, speelgoed, kleure, etenstyd, hul huis, badtyd-en slaaptyd. Daarby kom ook plaasdiere, buite in die natuur, voertuie, troeteldiere en  wilde diere.

Daar is voldoende verskeidenheid ingesluit in hierdie eerste 100 woorde om hul aandag te hou. Elke illustrasie verskyn teen ‘n eie agtergrond wat dit laat uitstaan en die boek ‘n netjiese dog kleurvolle aantreklike voorkoms gee. Boeke met woorde is baie gewild en in aanvraag.

Martin, Peter: Bybel-speurder  en Jesus-speurder( PROTEA, 2017)Geïllustreer deur Peter Kent.

Hierdie twee titels is ook in Engels beskikbaar as Bible detective en Jesus detective.

Wat ‘n interessante manier om kinders bekend te stel  aan die karakters en geskiedenis van die Bybel in gedetailleerde illustrasies, elk op ‘n dubbelbladsy omring met figure en items uit die illustrasie wat kinders moet vind.

Ek het self probeer, en werklik so betrokke geraak dat mens jou moeilik kon wegskeur van so ‘n uitdagende en prettige situasie!

In Bybel-speurder leer jy van Noag, Abraham se nomadiese laer, die slawe in Egipte, Moses en die Tabernakel, Nasaret en word die geskiedenis in prente vertel tot en met die hawe van Caesarea. Elke  illustrasie word vervolgens verklein en  die antwoorde word genommer vir die ywerige speurders. ‘n Indeks verwys na dubblebladsynommers.  Hoogs aanbeveel vir tuis –en biblioteek/skool versamelings.      

Jacobs, Jaco:  Hoendervleis- grillerige stories en rympies( LAPA, 2017) Illustrasies deur Zinelda McDonald.

Weereens bewys Jaco Jacobs dat hy ‘n meester is met die vertel van stories wat kinders geniet. Veral as dit ‘n grillerige boek soos hierdie is wat jou hoendervleis laat kry, jou lekker laat skrik en gril, en selfs laat bibber van vrees!

Elke kort verhaaltjie het verassende elemente en betrap jou onverwags. Maja vind op ‘n eienaardige manier uit dat vampiere nie bestaan nie; hoekom Liza die hardste van almal in die fliek gegil het; dat ‘n vreeslike ding met jou kan gebeur as jy ‘n vaal seuntjie op skool boelie; is die man in die akkedispak dalk ‘n regtige akkedis; om te slaap in ‘n spookkamer en ‘n besoek te ontvang van twee hondjies net om later uit te vind hulle is lankal dood; om ‘n onnie soos Juffrou Grimbeek te hê mag dalk gevaarlik wees; en dat Tannie Gerda se handskoene jou dalk kan help om beter klavier te speel; en dalk bly daar regtig iets in die hangkas in Zack se kamer…

Die ideale kersgeskenk vir grilvrate . Hoogs aanbeveel.

Tienerfiksie:

Neser, Christien: Strikdas( LAPA, 2017)

Die negende boek in die reeks met Elle Kroon as hoofkarakter word verwelkom deur elke leser wat met Kondensmelk reeds ‘n aanhanger van Elle se avontuurlike lewe , later ook in Gravitas, geword het.

Elle is nou in haar matriekjaar en ook hoofmeisie van die skool. Die jaar behoort die beste ooit te wees, maar hulle geliefde hoof, mevrou Bender, word onverwags siek en die aaklige man, dokter Grimm,  met die strikdas neem waar as hoof.

Meneer Grimm bewys gou dat hy geen belangstelling toon om die skool se tradisies te laat voortleef nie. Hy het net een ambisie- Gravitas moet die beste wiskundeskool in die land word.

Mevrou Bender het Elle nie verniet gewaarsku dat dit ‘n bittersoet jaar gaan wees vir haar as hoofmeisie nie,en dat sy ‘n ysterlelie sal moet wees. Min het sy toe geweet hoe uitdagend dokter Grimm die jaar gaan maak, want sommer vanuit die staanspoor stamp hulle koppe.

Maar dit is juis hierdie konflik tussen die twee karakters wat die verhaal onderhoudend en interessant maak. Gaan Elle haar hoofmeisie-balkie behou?

Neser skryf goed, haar karakters is oortuigend en die verhaal boei tot die laaste bladsy. Mag Elle weer in ‘n volgende verhaal verskyn!

Nie-fiksie:

My ensiklopedie van baie belangrike dinge-vir slimkoppe wat alles wil weet(LAPA, 2017)Samesteller: Dorling Kindersley. Afrikaans deur Mia Oosthuizen.

Dorling Kindersley is bekend vir nie-fiksie boeke van gehalte, en stel weereens nie teleur nie. Dit is belangrik dat feiteboeke , veral ook in biblioteke nie verouderd raak nie. Die boek het in 2016 verskyn, en in 224 bladsye word inligting gegee oor planete, plekke van belang, diere, mense, myself en ‘n paar ander belangrike dinge soos kleure, vorms, babadiere, vlae, edelstene en sterretekens word ook bespreek. Interessant is  ook dat die top-10 lande –die grootste en kleinste gelys word, asook die Top-10 langste riviere, grootste woestyne, dodelike diere, en bedreigde diere. Die indeks beslaan 4 bladsye, gevolg deur ‘n lys van erkennings.

In die inhoudsopgawe word die verskillende onderwerpe in ‘n identifiserende kleur gemerk, en so kan die leser vining na die spesifieke seksie blaai. Die uitleg van die boek is uiters aantreklik waar getekende illustrasies afgewissel word met fotos sodat elke bladsy stimulerend en prikkelend werk.

Hierdie is werklik ‘n prag uitgawe.

Stowell, Louie en Allen, Peter: Die storie van sterre en planete( PROTEA, 2017). Afrikaans deur Amelia de Vaal.

Die eerste uitgawe verskyn in 2014 deur Usborne,en lesers word aangemoedig om die Usborne Quicklinks te gebruik.

Hierdie is ‘n onderwerp wat altyd inspireer. ‘n Mens bly maar betower deur die hemelruim, en die onderwerp word op ‘n heel interessante wyse bespreek. Vrae oor die ruimte word beantwoord in besprekings oor astronomie, planete, sterrekunde deur die eeue,ruimtereise, lewe in die ruimte, teleskope en ander tegnologie, en die storie van die heelal. ‘n Astronomiese tydlyn word gegee, gevolg deur sterrekaarte soos jy in ‘n rigting kyk gedurende spesifieke maande.

‘n Woordelys word gevolg deur ‘n indeks en lys van erkennings. Die boek is aantreklik uiteengesit, bv. met vinnige feite oor planete en ongewone inligting  geblok in ‘n soort van kantlyn effek wat dadelik jou aandag trek.’n Nuttige toevoeging tot nie-fiksie versamelings.       

 

         

 

Tuesday, November 7, 2017

Ligte pret vir kleintjies en 'n besondere jeugboek


Ligte pret vir die kleintjies! En ‘n besondere Jeugboek…

Wilde diere( LAPA, 2017) Afrikaans deur Mia Oosthuizen.R80 elk.

Hierdie stewige kartonboek met versteekte diere is ‘n voorbeeld van die tipe boeke wat peuters tot boeke aangetrokke laat voel, en dit behoort in  elke tuis-en biblioteekversameling waar kinders geleer word om lief te word vir boeke.

Wilde diere word kortliks beskryf, en dan kan die kind deur die blokkie te stoot, die dier verder identifiseer. ‘n Krokodil, kameelperd, slang en apie word op ‘n interaktiewe manier ontmoet. Uiters geskik vir beginners.

Plaasdiere( LAPA, 2017) Afrikaans deur Mia OOsthuizen

Plaasdiere  maak dit vir kleintjies groot pret om ‘n varkie, perd, koei en skaap se babas met die trek van die ingeboude blokkies te vind. Kinders geniet dit om iets te soek in ‘n boek, en bly dus betrokke by die storie. Hulle leer ook  verskillende diere ken, en die voorleser kan baie inligting oor die diere terselfdertyd vertel om die ervaring nog meer leersaam te maak. Hoogs aanbeveel.

Maartens, Wendy : Padda word kwaad ( LAPA, 2017.Illustrasies deur Zinelda McDonald.R50 elk.

18 titels verskyn in hierdie Ek lees self-reeks, o.a. ook Rooi Hen bak brood, Die drie rammetjies rof, Die gans wat goue eiers kon lê, Sprinkaan leer werk en Muis red Leeu se lewe.

Die reeks trek dadelik die aandag met die kleurvolle omslae waarop ‘n bytjie die titel van die reeks in die linkerkantste hoekie uitwys op ‘n kontrasterende agtergrond met die omslag se kleur. Die boekies hanteer maklik en die druk is geskik vir kinders  wat begin lees. Zinelda McDonald se illustrasies is vrolik, vol uitdrukking en lekker kleurvol. Elke boekie is regtig mooi om te sien, met natuurlik die beste bonus die lekker storietjie wat vertel word.

Wanneer Padda se seun deur Os doodgetrap word, verduidelik Gly aan haar dat ‘n reuse monster sy boetie doodgetrap het. Padda blaas haarself al groter op sodat Gly kan verduidelik hoe groot die monster nou regtig was, en daarby wil sy net almal oortuig dat niemand groter as sy is nie- totdat sy in duisend stukkies uitmekaar bars! ‘n Dure les het sy geleer- sy wou mos dink sy is groter as Os.

Handige boekies vir beginner lesers.

Vir bietjie ouer lesers, 7+ jariges:

Viljoen, Fanie: La di da, Lulu( LAPA, 2017) R120.

3 Titels het alreeds in hierdie gewilde reeks verskyn, naamlik Oe la la, Lulu; Bravo, Lulu en Oepse daisy, Lulu.

Elsbeth Eksteen is die illustreerder wat met elke Lulu storie se omslag fyntjies en in delikate pastelkleure jong meisies  betower. Dit is ook uiters gepas vir die hoofkarakter Lulu, want sy is ‘n talentvolle modeontwerper met wonderlike idees vir klere.

Die skool se spesiale verjaarsdagfees is haar geleentheid om vir die drompoppies nuwe uniforms te ontwerp. Lulu luister egter nie toe sy gevra word om die belangrike geleentheid nog mooier te maak nie, en sy verstaan dat sy ‘n poprokkie moet teken! Selfs toe sy aanbied om weer te probeer, moet sy uitvind dat ‘n ander kind die opdrag gekry het. Later moet sy uitvind wie die meisie is- gaan dit die einde van haar vriendskap met ‘n beste vriendin beteken?

Lekker ligte leesstof met net die regte tikkie spanning sodat lesers betrokke sal bly.

Vir ouer lesers:

Polleke, deur Guus Kuiker( PROTEA, 2017) R275. Afrikaans deur Martjie Bosman.

Vyf boeke in die Polleke reeks verskyn hier as een bundel, wat dit veral lekker maak vir die leser wat dadelik betower word deur die uitgesproke parmantige meisie Polleke wat self ook as verteller optree. Vir my is hierdie die beste jeugboek wat vanjaar verskyn het.

Polleke se ouers is geskei, en nou vind sy uit dat haar Meneer op haar ma verlief is. Mimoen is haar vriend en van Marokko afkomstig, sodat daar gedurigdeur ‘n botsing tussen die twee kulture plaasvind, want Mimoen wil nie meer met haar uitgaan nie omdat sy ‘n digter wil word, in sy kultuur mag dit  nie gebeur dat ‘n vrou ‘n digter is nie!

En Polleke skryf die mooiste gedigte wat telkens in die boek verskyn as sy iets baie spesiaal wil vertel. Die boek is deurtrek met Polleke se idees oor omtrent enige onderwerp denkbaar- pa’s, ‘n jonger sussie Hilletjie, geloof, oor Grietjie wat dragtig is, haar Oupa en Ouma;  haar pa Spiek vir wie sy baie lief is want hy is ook ‘n digter, oor haar beste vriendin Caro en die lawwe speletjies wat hulle speel; hoe sy van bome leer en mooi kan bid; ‘n kuier by Meneer se ma in haar beste rooi rok; oor die seun Tom op die plaas en oor haar gunsteling lekkers- drop; oor ‘n straatpartytjie en nog veel meer…

Hierdie verhaal oor ‘n Nederlandse dogter is ‘n duidelike voorbeeld daarvan dat basiese menslike behoeftes en emosies geld as ‘n universele konneksie tussen mense en lesers orals in die wêreld.

Polleke se verhouding met haar probleem-pa, die egskeiding, haar ma se nuwe verhouding, haar liefde vir Mimoen en Consuela uit Meksiko; haar verhouding met haar Oupa en Ouma, haar  liefde vir die kalfie wat nou ook Polleke heet; vind aanklank by soortgelyke situasies in elke kultuur.

Die skrywer het ‘n besondere styl wat jou raak deur juis die eenvoud en absolute eerlikheid van Polleke se taal. Sy het ‘n heerlike humorsin, en maak dikwels die snaakste en onverwagte verfrissende opmerkings.

Kuijer het verskeie toekennings vir sy Polleke-boeke ontvang, en die boeke is in Nederland verfilm.

Een van Polleke se gediggies:

“Toe ek klein was

Kon ek enigiets doen

En wat ek nie kon doen nie,

Kon ek nie

Omdat ek klein was.”        

Die elfde hoofstuk sê slegs: Ek is nou dertien.

Na haar geliefde Oupa se dood skryf sy:

“Iets is nou weg

wat ek vroeër geniet het,

iets kleins, iets sags,

‘n mooi, vrolike lied.

Daar waar dit was,

is nou ‘n kuil

en op die bodem skuil

‘n onverwagse verdriet”.

Hoogs aanbeveel virjongmense en volwassenes.   Bosman se vertaling is in die kol!

 

Lona Gericke. 

Wednesday, September 20, 2017

'n Besondere groep nuwe prenteboeke


 

Gaudesaboos, Pieter en Francis, Lorraine( PROTEA, 2017) Afrikaanse vertaling deur Rentia Bartlett-Möhl

Stel jou voor ‘n seuntjie wat altyd moeg is en oral aan die slaap raak!- Walter slaap as hy swem, teken, skoppelmaai ry, in die akwarium, in die verkeer, selfs by sy verjaarsdagpartytjie. Die raad by ‘n Koninklike Hospitaal vir Slaapsiektes faal, so ook die raad van ‘n wyse ou vrou wat in die oerwoud woon.

Almal is buite raad, totdat ‘n hond in die huis verskyn. Dis net wat Walter nodig gehad het- iemand om mee te speel.

Die illustreerder het ‘n unieke styl . Die illustrasies word digitaal gedoen, en ek stem saam met die uitgewer dat dit ‘n “nostalgiese of retro-gevoel” gee. Elke situasie is oorspronklik geteken en spreek van ‘n ryk verbeelding. Die boek is ook op dowwe papier gedruk, wat bydra tot die ongewone gevoel . Of die boek veel aftrek gaan kry onder lesers, moet ons maar sien. Defnitief is dit spesiaal maar tot ‘n uitgesoekte gehoor gerig.

Misheiker, Betty: Die dapper muis( LAPA, 2017) Illustrasies deur Chris Venter.

Die skrywer is bekend vir haar gewilde liedjies , en die uitgewer het dit goed gedink om haar op hierdie manier weereens erkenning te gee.

“Ek’s ‘n dapper muis, kyk hoe stap ek deur die huis, en daar’s niks waarvoor ek skrik nie”. As kinderbibliotekaresse het ek gereeld die liedjie in die biblioteek gesing,  dit is regtig n persoonlike gunsteling!

Hiermee saam is Chris Venter se illustrasies van die geliefde lied in die kol. Hy slaag daarin om lewe aan die teks te gee op ‘n  prettige en vrolike manier,  en ‘n muis kan eenvoudig nie ‘n meer dapper houding inslaan as juis sy illustrasie van die dapper muis nie!

Die boek het net absoluut ‘n onweerstaanbare bekoring, en spreek van ‘n fyn aanvoeling vir wat kleintjies gaan gelukkig maak. Hoogs aanbeveel.

Misheiker, Betty: Die eensame krokodil( LAPA, 2017). Illustrasies deur Johann Strauss.

Die krokodil is baie hartseer omdat hy graag maters wil hê, maar “almal sê ek vreet te graag”.

Hy “ontsnap” uit die watergat en beland nader aan ‘n moontlike prooi deur sy lyf om ‘n boomstam te rank.  Maar die tak breek, en uiteindelik beland hy terug waar hy hoort,sonder dat hy enige “vriende”gemaak het. 

Strauss se illustrasies dra ‘n sterk gevoel oor van hoe gevaarlik die krokodil regtig is , en ook hoe grillerig.  Hoewel die toeskouers heel opgewonde lyk met die krokodil se mannewales, is daar tog afsku op gesigte te bespeur as die opsigters by die dieretuin hom weer gevange neem.

Persoonlik het ek die krokodil oneindig jammer gekry! Die verhaal begin waar ‘n heerlike stuk vleis na hom gegooi word, maar in die laaste illustrasie is sy bek nog toegebind terwyl hy tranerig aan die stuk vleis vasklou. Ek huil sommer saam met hom.

Misheiker, Betty: Die Lappop( LAPA, 2017) Illustrasies deur Karen Ahlschläger.

‘n Lappop word op die ashoop weggegooi omdat sy stukkend, “gedaan”, en nie meer mooi is nie.

En wie is haar metgeselle hier?”: ‘n vrot pampoen, ‘n stukkende skoen, ‘n grammofoonplaat, ‘n kous sonder maat. ‘n lëe bottle bier, ‘n verlepte angelier, ‘n gelapte binneband, en ‘n ou koerant”.

Sy voel gou beter toe hulle haar as die ashoop-koningin kroon, en nou word sy deur haar onderdane bedien, wat haar sommer baie gelukkig maak.

Hierdie lappop het sekerlik die grootste groen oë en herinner aan die Big eyes kunstenaar , Margaret Keane , se werk. Dogtertjies sal maar moet besluit of sy hulle bekoor- dit twee illustrasies waar sy gekroon word en daarna  op haar troon sit, is besonder vrolik en feestelik. Om nie te praat van die finale knipoog omring deur ‘n vrolike hart nie!

Preller, Martie: Die Babalela-storieboek( LAPA, 2017) Illustrasies deur Andries en Erica Maritz.

Wat ‘n heuglike ervaring om al 4 Babalela-boeke hier in een storie-omnibus te vind!  Martie Preller se Babalela-stories het ek as bibliotekaresse daagliks aanvrae voor gekry, en dit was en is nog altyd een van die mees geliefde karaktertjies wat in Afrikaans kinderboeke ‘n verskyning gemaak het.

Die uitgewer meld dat meer as 85000 eksemplare van die vier titels reeds verkoop is, die verhoogstuk het landwyd getoer, en selfs ‘n Babalela-pop, T-hemde en ‘n CD het ook bygedra tot die pers figuurtjie se gewildheid.   

Hierdie omnibus behoort in elke biblioteek-en tuisversameling waar ouers en bibliotekaresse kinders lief vir stories wil maak.

Babalela is ‘n parmantige individu wat uitgelos wil word deur buitestaanders, en net tuis en gelukkig voel , “diep , diep in ‘n donker bos waar die son net soms deur die take loer…” Hoe lekker was dit nie om die kindergesiggies dop te hou as die verteller begin vertel met die hulp van hierdie pragtige teks nie! Ek is seker groot vreugde gaan hierdie omnibus aan baie kinders bring.

Schaapman, Karina:  Die Muishuis- Sam en Julia( PROTEA, 2017)Ton Bouwer het die vertrekke en situasies in die verhaal gefotografeer.

Die uitgewer vertel hoe Schaapman gedink het dat sy ‘n regte muishuis kon bou, en toe so gemaak het. Dit is begin deur lemoendose te versamel en te omskep in die vertrekke van die huis.” Vir die binneversiering is outentieke materiaal uit die jare vyfig, sestig en sewentig en allerlei soorte afvalmateriaal gebruik. “Daar is ‘n verwysing na www.themousemansion.com, sowel as die Mouse Mansion-blad op Facebook en die kanaal op YouTube. Die boek is in 2012 bekroon met ‘n Silveren Penseel en in 2015 met ‘n Gouden Boekprys.

Op die skutblaaie kan gesien word hoeveel detail daar in elke vertrek van die Muishuis gebruik is met o.a. meubels, boeke, plante,en materiaal.

En as die Muishuis self nie jong lesers se verbeelding reeds gaan aangryp nie, is daar as bonus die twee dierbare muiskinders, Sam en Julia wat in die Muishuis woon. Die twee het hul eie geheime hut gebou, en verder doen hulle al die gebruiklike dinge soos pannekoek bak, musiek maak, nuwe babas help versorg, verjaarsdag partytjie hou, met die wasgoed help , waterpokkies kry en by ‘n bakkery besoek aflê.Hulle besoek ook Meneer Sinkel se winkel vir seep, en geniet die Sjabbat saam met die ander muise, skrik vir Julia se skaduwee, en gaan dan slaap na ‘n uiters opwindende dag.   

Die Muishuis behoort baie jong lesertjies te fassineer.