Thursday, December 3, 2015

Sarel seemonster, Karel Kraai en Haas Das leer die kleintjies!


Smit, Louise en Fischer, Shân: Sarel seemonster leer ons van kleure( H&R,

2015)

‘n Reeks van 4 titels in die Wielie Walie Woelwaters reeks met elkeen van die 4 titels in ‘n helder kleurvolle omslag- blou, geel, rooi en groen.

Die boekies is in hardeband gedoen, met ‘n draaiwiel waar kleure opgespoor kan word. Verskillende aktiwiteite kan gedoen word en kinders kan hulleself ‘n regmerkie in die blokkie gee as hulle dit korrek doen. Kleurvolle balonne kan verbind word met ‘n tou in dieselfde kleur; in die park word kleurvolle dinge uitgewys; ‘n stopstraat se tekens word verduidelik; en selfs hoe kleur vermeng word om ‘n ander kleur te kry word verduidelik. ‘n Rëen boog se kleure verskyn, asook kleure wat nie in die rëenboog voorkom nie. Kinders leer hoe om ‘n kleurwiel te maak en dit te gebruik. ‘n Pen is ingesluit wat weer skoongevee kan word.  Baie mooi kleurvol en behoort kleintjies besig te hou terwyl hulle leer.

Smit, Louise en Fischer Shân: Karel Kraai leer ons van syfers( H&R, 2015)

Die wiel kan gedraai word om die eiers in ‘n nes te tel. Vanaf die getal 1tot 20 kan elke getal geidentifiseer word  en die kolletjies in ‘n blokkie word verbind en die kind kan dan die getal skryf. Elke getal word weer verteenwoordig deur bv. Blomme, of kersies of skoenlappers . ‘n telspeletjie word ook ingesluit.

Smit, Louise en Fischer, Shân: Haas Das leer ons van teenoorgesteldes( H&R, 2015)

Woelwaters kan die wiel draai en na al die groot diere kyk. Met die omblaai leer hulle weer van die kleinste diere. Vinnig en stadig word dan verduidelik met die luiperd en ‘n slakkie; en lank en kort diere is verteenwoordig deur kameelperd en dassie. Nat en droog kry ‘n beurt, hard en sag en sterk en swak. Selfs op en af, bo en onder fluks en lui is nie vergeet nie. Kinders kan teenoorgestelde stomstreke speel deur teenoorgesteldes te verduidelik met gebare en aktiwiteite.

Smit, Luise en Fischer, Shân: Bennie Boekwurm leer on van vorms( H&R, 2015)

Deur die wiel te draai kan kinders ‘n fiets kies met wiele wat elk van die 6 die verskillende vorms verteenwoordig. Verder word elke vorm verduidelik met voorbeelde. Die vriendelike Bennie Boekworm is deurgaans teenwoordig as die karaktertjie wat hulle help om te leer. Laastens word hul uitgenooi om hul eie vorm-prentjie te maak, bv. soos die vuurpyl wat maan toe vertrek.

Die boeke is by die Suid Afrikaanse  storietyd karakters in die Wielie Walie Woelwaters reeks aangepas in samewerking met die Cheeky Monkey uitgewersmaatskappy in Engeland. Hierdie aktiwiteitsboeke kan ook op Facebook opgespoor word by www.facebook.com/NBJongklomp.

Vir ouers en grootouers wat kinders besig wil hou terwyl hulle sommer leer ook, is hierdie boeke net die regte ding!

Lona Gericke Oktober 2015.

 

Pragtige rympiesboek


Rympies vir Pikkies en Peuters, saamgestel deur Riana Scheepers. Suzette Kotzé-Myburgh en Gertie Smit( Tafelberg, 2015)

Met Linda Rode se In die land van Pamperlang, het Tafelberg die leserspubliek ‘n boek aangebied  wat as bundel so mooi en kosbaar is dat ‘n mens net dankbaar is vir die insig wat geopenbaar is met die keuse van skrywer en illustreerder.

Vanjaar verskyn Rympies vir Pikkies en Peuters, en weereens is dit ‘n bundel wat absoluut te pragtig vir woorde is!  Die samestellers is gesoute ervare mense, en ek is so verheug dat hulle ‘n groot leemte gevul het. As kinderbibliotekaresse het ek maar self bekende rympies in Afrikaans vertaal vir storietyd, want rympies is so uiters belangrik in die kind se ontwikkeling. Nou kan elke kinderbibliotekaress, ouers en grootouers ‘n boek bekom wat so uiters noodsaaklik en belangrik is!

Rympies is ingedeel onder die hoofde- hier is ek, ek speel, rondom my, ek raak slim, en in die natuur. Dit is oorspronklike digwerk deur verskeie digters wat bydraes gelewer het.

Die vier afdelings is deur verskillende kunstenaars geïllustreer-  Maja Sereda doen Hier is ek; Adelle van Zyl  ek speel; Alzette Prins –rondom my; Susie Appleby –ek raak slim; en Sam van Riet – in die natuur.

Elkeen se uitbeelding van die rympies is heel besonder , vrolik en treffend. Die omslag is gedoen in liggeel en blou met vriendelike kinders en ‘n baba wat beweeg tussen ‘n muis op ‘n fiets, ‘n beertjie wat aan ‘n sambreel rondvlieg, ‘n voëltjie op sy hok en ‘n spelerige worshondjiewat baba se gesig wil lek.

‘n Gebruiksgids is saamgestel deur Gertie Smit Grondslslagfase-lektor by die Onderwyskollege en Kaapse Skiereiland Universitiet op Wellington.

Met oortuiging kan ek sê hierdie is een van die mooiste boeke ooit!  Hoogs aanbeveel vir alle versamelings. Kinderbibliotekaresse- hier is ‘n belangrike boek vir julle.

Lona Gericke  Oktober 2015

Oorlogwinter


Oorlogwinter, deur Jan Terlouw( PROTEA, 2015) Uit Nederlands vertaal deur Daniel Hugo.

Hier bied die skrywer ‘n lekker geleentheid vir jeugdiges en ook volwassenes om ‘n verhaal oor gebeure in die Tweede Wêreldoorlog te lees wat jy moeilik kan neersit. Die vertaling is gedoen in Afrikaans wat amper “ouderwets” klink en juis so getrou bly as ‘n aanvaarbare vertaling van die Nederlandse teks.

Michiel is die hoofkarakter- ‘n 15-jarige seun  wat  op sy eie manier ‘n persoonlike versetbeweging voer teen die Duitsers. Hy help die duisende vlugtelinge deur fietse en ander vervoermiddels te herstel; help kos vind vir die honger mense, en die verhaal word meer opwindend en spanningsvol wanneer hy verantwoordeliklheid neem vir die versorging van ‘n Engelse vlieënier in ‘n versteekte skuilplek. Sy suster raak ook betrokke met die verpleging van Jack.

Maar hy help ook ‘n Jood en sy seun om te ontvlug.  Daar is onvergeetlike  en dapper karakters soos die  interessante barones Weddik Wansfeld wat haar verset teen die Duitsers; Michiel se vriend Dirk wat gevange geneem word; die raaiselagtige dood van die Duitse soldaat vir wie se dood Michiel se pa ook doodgeskiet word; Schafter wie Michiel oortuig is ‘n verraaieris. En sy oom Ben?  Oom Ben se identiteit word ook ‘n verassing. 

Die spanningslyn word goed gehandhaaf tot die einde; die verhaal word ‘n ontroerende boodskap van dapperheid en verset teen oorlog. Die boodskap dat oorlog soveel smart veroorsaak word telkens gedemonstreer in die verhaal: “  Sy pa was reg toe hy gesê het oorlog beteken honger, trane,ontberings, angs, pyn…”Terselfdertyd is daar die boodskap van hoop en dat jy iets kan leer van die oorlog, dat daar iets aan oorlog is waarop jy die res van jou lewe kan steun- die onblusbaarheid van die menslike gees.

Soos Michiel en Dirk finaal besluit:” Net een ding het sin”. “Om nooit weer in ‘n oorlog te veg nie, net teen oorlog”.

Oorlogswinter sal inderdaad ‘n leemte vul by Afrikaaanse jeugverhale.

 

Lona Gericke Desember 2015

 

Tuesday, October 27, 2015

Koning kraai!


Wie is Koning?- Tien magiese stories uit Afrika , deur Beverley Naidoo en Piet Grobler( Jacana, 2015). In Afrikaans vertaal deur Alet Kruger.

In hierdie 10 stories  kom  diere en mense voor verskillende uitdagings te staan, en altyd is daar ‘n les om te leer. Leeu word op sy plek gesit deur olifant as hy dink hy is koning van die diere; die twee vriende os en donkie moet hard vir ‘n boer werk; skilpad en sy banjo red die ander diere wat deur luiperd misbruik word; apie help vir vaalboskat om van sy vlooie ontslae te raak, maar eindig self in ‘n boom nadat hy die kat se stert aan ‘n boom vasgebind het; seekoei en vuur se vriendskap eindig rampspoedig as seekoei al sy hare verloor toe hy nie vuur se hitte kon ontsnap nie;  olifant se kort slurpie word gerek in ‘n toutrek kompetisie met krokodil; ‘n eentand olifant kom tot sy einde as hy ‘n vuur in sy maag kry ; hiëna verloor sy respek vir hoenderhaan toe hy ontdek hy het nie regtig ‘n vuur in sy kam nie en nou moet hoenderhaan kraai vir sy kos.

Die Meulenaar se slim dogter help haar pa om die sultan se toetse te slaag en word so sy bruid, en ‘n vrou gebruik haar muiskind om al die huiswerk te doen.     

Daar bestaan reeds baie versamelings diere-legendes en stories, maar sekerlik kan daar nooit genoeg wees nie! Hierdie 10 stories is geskikte voorlees-materiaal , en Piet Grobler sorg met sy vrolike illustrasies dat die regte atmosfeer geskep word.   Diere en voëls gee hom die geleentheid om uiting te gee aan sy ryk verbeelding, en weereens bewys Piet dat hy ‘n meester is.

Sy sterk humorsin kry ook vrye teuels- ‘n donkie het ‘n klein voëltjie op sy rug, die kleurvolle blomme op kameelperd se rug is vol beweging; klein goggatjies en voëltjies verskyn oral. Skilpad met sy banjo lyk tog te vrolik; en luiperd kan nie kwaaier lyk met sy lang naels en skerp tande nie. Die diere lyk slinks as hulle moet;, en blou apie is blouer as blou! Seekoei met die stoppeltjies oral op sy lyf waar daar voorheen hare was het nog ‘n brandende tak op sy voorkop; -die brandende vuur lyk skrikwekkend in diep oranje gele en bruine .Krokodil steek amper nie by die water uit as olifant niksvermoedend buk om water te drink nie. Die uiteindelike  toutrekkery is ‘n skets met olifant se ogie wat baie verskrik lyk. Unanana is liefdevol geskets waar sy die kinders versorg, en ou een-oog olifant lyk verskriklik as sy kop begin brand van die vuur binne-in hom. Hiëna het net die regte nadenkende kyk op sy gesig as hy die niksvermoedende hoenderhaan konfronteer. Die klein muisie wat so hard werk met die besem lyk regtig of hy verbete klou aan die lang dun stok. Die skutbladsye is kleurvol en vol detail.

‘n Kleurvolle en oorspronklike aanbieding. Piet Grobler gebruik deurgaans sterker helder kleure en daar is ‘n oortuigende Afrika gevoel met die warmte van ‘n Afrika son en sy diere. Mooi aanbieding.  

 

 

Monday, October 19, 2015

Ek onmoet Naledi !


My Bekendmaking met Naledi se boeke:

 

Maartens, Wendy: Kaptein Seeley Kimberley se waterwoef( Naledi, 2015) . Ilustrasies deur Colleen Gericke

Die inspirerende verhaal van die dapper hond Kaptein Seeley- haar naam was eers Gigi en haar redding uit Kimberley se Groot Gat deur die polisieman John Seeley. Haar verhaal het jou verbeelding aangegryp, en hier vertel Wendy Maartens dit in eenvoudige taal sodat jong lesers self kan lees. Die boek word uitgegee as ‘n reeks Ware diere-avonture  1.

Hierdie boek in sagteband is baie treffend geillustreer deur ColleenGericke. Deurgaans gebruik sy donker kleure wat opgehelder word met die rooi helicopter –‘n teken van hoop, en dan haar redder in sy rooi mondering. Kaptein Seeley word met fyn aanvoeling geteken- die leser sien voortdurend sy geel lyfie teen die donker agtergrond van ‘n diep onheilspellende gat.

Die eerste boek in die reeks is uiters geslaagd en sal baie kinders se harte verbly.

Botha, Jaco: Die avonture van Lulu Lerulu (Naledi, 2015) Illustrasies deur Janienke van Zyl.

Watter jong leser sal nie soos ek absoluut betrokke raak by Lulu se avonture nie!

Lulu word aangeneem deur die vriendelike Tannie Pizza. Sy sorg goed vir Lulu maar ongelukkig is sy spoedig verplig om vir Lulu ‘n ander tuiste te kry, want Tannie Pizza word aangekeer omdat sy dronk bestuur, en Lulu word die eiendom van die nare polisieman sersant Brand en sy afknouerige seun Krisjan. Haar omstandighede word al hagliker- sy moet self iets vind om te eet, en word later in die tuin vasgemaak waar sy verswak en amper van honger omkom. Gelukkig besluit Tannie Pizza om te gaan kyk hoe dit met haar gaan, en Inkie en haar man besluit dat Lulu by hulle kan bly. Hier kry sy die geleentheid om te wys hoe dapper sy regtig is.

Lulu se verhaal, grotendeels ‘n ware verhaal, behoort  baie lesertjies te boei .

Die illustrasies en aanbieding in die geheel het amper ‘n gevoel van ongekunstelheid en en opregtheid.

Persoonlik sou ek die bedankings van die skrywer aan Lulu se honde vriende se eienaars wat hoofstukke geborg het, aan die einde van die verhaal geplaas het.

Marais, Elaine: Bont alarm( Naledi, 2015)

Hierdie is Elaine Marais se eerste jeugverhaal, Sy skryf gewilde Christelike liefdesromans, en die inslag is duidelik subtiel ingeweef in ‘n verhaal waar die hoofkarakter Juhan Bruwer uit ‘n godsdienstige familie kom en deur ‘n fase in sy lewe gaan waar hy moet leer om weer die seun te word waarop hy self ook trots kan wees.

Hy “leen” sy Pa se motorfiets, en ry tannie Lenie se hondjie dood. So begin hy die tannie help in haar tuin en om die huis, en ‘n sterk vriendskap ontwikkel tussen die twee. Sy bederf hom met haar heerlike gebak, en later oortuig hy sy twee vriende om hom te help om haar huis ook te verf.

‘n Interessante verwikkeling is sy belangstelling in die meisie Karien ; sy dink hy wil die hondjie by hulle koop vir ‘n ander meisie.

Die skrywer is duidelik ervare en gee ‘n lekker afsluiting tot die verhaal waar die karakters  uiteindelik bymekaar gebring word. Die godsdienstige inslag is baie diskreet gedoen, en nie hinderlik nie. Goeie aanbieding.

Kulsen, Anzil: Sorrie maak nie gesond nie( Naledi, 2015)

Vanaf die eerste paragraaf waar Rose en Rodriek in sy kar teen Soetberg geparkeer is,  sal tieners betrokke raak by ‘n verhaal waar baie meisies sal identifiseer met Rose se stryd om nie seksueel aktief te wees en aan Rodriek se versoeke gehoor te gee nie. Ongelukkig het hul besoek aan die klub Las Vegas Rose wel in n situasie gebring waar sy verwagtend is, en omdat sy niks van die aan onthou nie, glo dat Rodriek haar verkrag het.

Haar huislike omstandighede is ook ingewikkeld met ‘n ma wat te veel drink, en nog steeds treur oor Rose se oorlede boetie. Haar pa weer probeer by die gesin betrokke wees, maar slaag nie altyd hierin nie.

Kulsen skryf hier ‘n verhaal wat soms onaangenaam is om te lees,maar terselfdertyd is die situasies werkliken die emosies sterk , oortuigend en aangrypend.   Rose se omstandighede en stryd is geloofbaar en werklik. Tieners sal baat vind by die lees van ‘n boek wat uiters leersaam is. ‘n Sterk verhaal, met die boodskap dat Sorrie nie gesond maak nie.

Mia Oosthuizen as uitgewer word geluk gewens met die keuses wat sy gemaak het- elke boek het meriete en die keuring was in die kol.

 

Lona Gericke.  Oktober2015

Rympies vir Pikkies en Peuters


Rympies vir Pikkies en Peuters, saamgestel deur Riana Scheepers. Suzette Kotzé-Myburgh en Gertie Smit( Tafelberg, 2015)

Met Linda Rode se In die land van Pamperlang, het Tafelberg die leserspubliek ‘n boek aangebied  wat as bundel so mooi en kosbaar is dat ‘n mens net dankbaar is vir die insig wat geopenbaar is met die keuse van skrywer en illustreerder.

Vanjaar verskyn Rympies vir Pikkies en Peuters, en weereens is dit ‘n bundel wat absoluut te pragtig vir woorde is!  Die samestellers is gesoute ervare mense, en ek is so verheug dat hulle ‘n groot leemte gevul het. As kinderbibliotekaresse het ek maar self bekende rympies in Afrikaans vertaal vir storietyd, want rympies is so uiters belangrik in die kind se ontwikkeling. Nou kan elke kinderbibliotekaress, ouers en grootouers ‘n boek bekom wat so uiters noodsaaklik en belangrik is!

Rympies is ingedeel onder die hoofde- hier is ek, ek speel, rondom my, ek raak slim, en in die natuur. Dit is oorspronklike digwerk deur verskeie digters wat bydraes gelewer het.

Die vier afdelings is deur verskillende kunstenaars geïllustreer-  Maja Sereda doen Hier is ek; Adelle van Zyl  ek speel; Alzette Prins –rondom my; Susie Appleby –ek raak slim; en Sam van Riet – in die natuur.

Elkeen se uitbeelding van die rympies is heel besonder , vrolik en treffend. Die omslag is gedoen in liggeel en blou met vriendelike kinders en ‘n baba wat beweeg tussen ‘n muis op ‘n fiets, ‘n beertjie wat aan ‘n sambreel rondvlieg, ‘n voëltjie op sy hok en ‘n spelerige worshondjiewat baba se gesig wil lek.

‘n Gebruiksgids is saamgestel deur Gertie Smit Grondslslagfase-lektor by die Onderwyskollege en Kaapse Skiereiland Universitiet op Wellington.

Met oortuiging kan ek sê hierdie is een van die mooiste boeke ooit!  Hoogs aanbeveel vir alle versamelings. Kinderbibliotekaresse- hier is ‘n belangrike boek vir julle.

Lona Gericke  Oktober 2015

 

Wednesday, September 16, 2015

'n Potpourri van nuwe Afrikaanse kinder en jeugboeke...


‘n Potpourri van nuwe Afrikaanse kinder en jeugboeke:

Jacobs, Jaco: Zackie Mostert en die katkrisis( LAPA, 2015)

Hierdie is die elfde titel in ‘n baie gewilde reeks. Zackie en Vincent kry die twyfelagtige voorreg om die buurvrou, Mevrou Langenhoven se kat vir drie dae op te pas. Katinka is nie ‘n gewone kat nie- sy sal heel moontlik groot kopsere veroorsaak. Die seuns hoop dat hulle met hul beloning die nuwe Squekky  Squirrrel Wars VI speletjie kan bekostig! Die enigste oplossing is om haar baie blikkies tuna te voer. Vincent begin om foto’s van haar te neem, en dit word ‘n lekker speletjie met ‘n blog en videos wat baie aanhangers kry.

Jacobs skryf met sy gebruiklike raak aanvoeling vir ‘n teks en situasies wat jong lesers sal geniet; sy humorsin en energieke styl maak dit ‘n genot om die boek te lees.

Jacobs, Jaco: Zackie Mostert en die vreeslike verjaarsdag( LAPA, 2015)

In die twaalfde titel word Zackie se idee om vir Vincent ‘n verassings-verjaarsdagpartytjie te reël ‘n kompetisie met Anton wat sy partytjie op dieselfde Saterdagoggend  beplan en telkens probeer om meer lekker dinge as trekpleister te gebruik en so Zackie se verassing te dwarsboom. Maar ‘n seun met ondernemingsgees maak altyd weer ‘n plan!

Beyers-Boshoff, C.F. : Jasper op hoërskool( PROTEA, 2015)

Hierdie is die tweede uitgawe  van ‘n titel  in 1959 verskyn het in die bekende reeks.

Interessant was dit om te lees hoe ‘n skrywer in die vyftiger jare ‘n skoolstorie vir seuns sou skryf.   Leliesvlei is ‘n klein dorpie met onderwysers wat nog met ‘n rottang slae uitdeel waar nodig; ‘n seun se “portret”in ‘n jaarboek verskyn; bendes kleilat-oorloë voer; hul jagtoerusting bestaan uit ‘n knipmes, ‘n rekker en ronde rivierklippies; die wengeld vir ‘n seepkis-kompetisie R50 is en die seepkis om die karretjie te maak vir vyf sent by die winkel gekoop is.   ‘n Brief word nog op ‘n tikmasjien geskryf ; seuns van bendes deel pamflette uit vir die dominee se kerkbasaar; en die dapper seuns red ‘n vierjarige seun wat verdwaal het; hulle prober vir die eerste keer rook en steek ‘n rietbos aan die brand met ‘n stompie; en dan vang hulle nog ‘n skaapdief en sien kans vir Lelievlei se spookhuis.

Ek sal dit geniet om kinders se reaksies op die boek te hoor! Onskuldige vermaak wat ‘n mens laat verlang na kinderjare in die tyd – toe jy nog versigtig was om perskes te steel by Oom Faan wie vertel dat hy sy perskes vergif het om kwaaijongens af te skrik of om die dominee of onderwysers sonder respek te behandel!

Neser, Christien: Middernagklub( LAPA, 2015)

Elle en haar vriendinne bring nog ‘n tiener-avontuur na hul lesers in die sewende titel in ‘n reeks wat met Kondensmelk afgeskop het en steeds bekoor.

Hier is die Lys van Dertig- volgende jaar se prefekte – ‘n doelwit wat vir die meisies beteken dat hulle geen reëls mag oortree nie. En sommer met die intrapslag word hul Middernagklub op heterdaad betrap! Maar die twee meisies Maria en Thandeka wat so deel van hul lewe word –hulle is van die kinderhuis Kaya Kumba en die meisies moet hul help om Graad Elf se werk te hersien- bring ‘n nuwe vriendskap en selfs kontak met ‘n ou Gravitas dame Stella Maas wat nou ‘n modeontwerper in New York is.  

Die skoolhoof se verjaarsdagviering word ‘n groot plesierige geleentheid, en die dertig leiers wat ‘n verpligte kamp by Thaba Thula aangebied deur Staal en Yster en die gemaskerde Russiese instrukteur Kalashnikoff moet bywoon, ervaar meer as net opleiding en ‘n heerlike verassing vir Elle. Is enige van die vriendinne dalk skoolleiers volgende jaar?

Neser hanteer hierdie verhaal met haar gebruiklike vaardigheid; ‘n goeie balans van jeugdige vermaak , oortuigende karakteruitbeelding en ‘n verhaal wat ontplooi tot ‘n einde wat die lesers sal laat uitsien na Elle en haar vriendinne se avonture in Graad 12! Lekker ligte leesstof.      

Baggot, Stella: Protea se plakpoppies modeontwerper trouversameling( PROTEA, 2015) In Afrikaans vertaal deur Rentia Bartlett-Möhl.

 

   Jong meisies het hier die geleentheid om modeontwerper te speel met ‘n pragtige versameling van  ontwerpe, kleure en patrone, plakkers  en poppe wat gereed staan om aangetrekte word vir verskillende troues en sprokiesbruide.

Hierdie is ‘n wenner-geskenk idee vir meisies wat sou belang stel om kreatief modeontwerpers te “speel”. ‘n Boek wat dadelik die aandag trek en tematies ‘n groot mark kan bereik.

Baggot, Stella: Protea se Plakpoppies Modes van lank gelede( PROTEA, 2015) Vertaler Rentia Bartlett-Möhl.

Plakkerblaaie bevat die modes van o.a.Antieke Egipte, Rome, Sjina; die Middeleeue; Frankryk, Engeland(1810),  Victoriaanse tye ; Amerika in die 1950’s en Londen in die 1960’s.

Hoe lekker sal kinders nie die mooi poppe kan aantrek nie! Terselfdertyd vind daar ‘n leerproses plaas.Ek onthou hoe daar dikwels in biblioteke gevra word na die tradisionele drag van ‘n spesifieke tydperk; en hierdie boek is weereens ‘n bewys dat nie-fiksie nie noodwendig  nie-plesier beteken nie! Baie inspirerend.

Reeks:  Leer ken Woorde, Getalle  en Diere( H&R, 2015) Ook beskikbaar in Engels.

‘n Reeks van kleurvolle aantreklike hardeband boeke ‘n groot formaat stel kinders bekend aan woorde in verskeie situasies –‘n leerproses wat prettig kan wees, Die illustrasies is van werklike items en nie tekeninge nie. ‘n Tuinslang is ‘n tuinslang, ‘n erdwurm die werklike een, ;n hark en spinnekop en leunstoel werklik en in mooi kleure voorgestel.

In die getalle-boek leer die kind getalle met interaktiewe vrae en eenvoudige speletjies; groepering, vorms , patrone en sekwensies.  

Die  diere-boek bevat o.a. troeteldiere, plaasdiere, reusediere, skubdiere, babadiere, diere se huise , wegkruipers en diere in aksie.

Die groot format sal dit ook maklik maak vir kinders om saam deur die boek te kyk,of met ouers ‘n leersame leeservaring prettig te beleef.  Hoogs aanbeveel vir skool, tuis en biblioteekversamelings.

Daly, Nike en Jude: Baie dankie, Jackson( Jacana, 2015)Vertaal deur Alet Kruger.

Die eenvoudige treffende verhaal van ‘n boer, sy vrou Beauty en hul seun Goodwill. Hul donkie Kackson moes elke markdag ‘n vrag groente teen die bult uitdra en hy het nooit gekla of gerus in die taak nie. Een oggend verseg hy egter om verder te loop om so’n ondankbare taak te vervul. Die boer dreig om die donkie met ‘n groot stok te slaan as hy nie opstaan nie. Goodwill kom tot sy redding deur iets in die donkie se oor te fluister.

So leer die boer dat dit belangrik is om asseblief en dankie te sê. Klein dingetjies maak ‘n groot verskil in verhoudinge en gesindhede.

Jude Daly slaag daarin om met haar gebruiklike eevoudige manier van illustreer die storie te dra tot iets besonder mooi en kosbaar. Haar landskap is ontneem van detail en “clutter”; plante staan in netjiese rye; die heuwel se steilte word ge-aksensueer met die groot oop ruimtes waarin slegs ln man en sy donkie die kaal landskap vul. Veral bly die donkie se passiewe gesit jou bly wanneer die boer een twee en drie tel. Daar is reeds ‘n afstand tussen die twee en die vrou en kind wat agterbly, maar die seun Goodwill pak die bult dapper aan, oortuig da thy die sleutel dra tot die donkie se uiteindelike bereidwilligheid om verder te loop.

Die marktoneel is kleurvol en die verkopers en hul ware word netjies en noukeurig uitgestal.In die laaste twee illustrsies is daar ‘n glimlag om elke gesig; nog steeds uiters subtiel en fyn soos net Jude kan illustreer.

‘n Besonder kunstige werk; die storie hou ‘n les in vir elkeen van ons; die illustrasies verbeeld ‘n liefde vir die eenvoud van ‘n spesifieke Afrika-landskap.