Wednesday, April 15, 2015

Olinosters wat kan bangmaak!


Olinosters op die dak deur Marita van der Vyver( Tafelberg, 2015) met illustrasies deur Dale Blankenaar.  Ook in Engels beskikbaar as Rhinocephants on the roof.

Lank en skraal en donker vertoon  hierdie heruitgawe van die boek wat  in 1996 gepubliseer is met illustrasies deur Piet Grobler en toe ‘n MER pryswenner. Hierdie uitgawe is geïllustreer deur Dale Blankenaar, ‘n voormalikge student van Piet Grobler!

En sal Piet nie trots wees op hierdie keurig versorgde pragboek nie!  Dit herinner aan baie van die Europese publikasies, en is ‘n duidelike bewys dat ons uitgewers in Suid Afrika kan kompeteer met die beste boeke internasionaal.

Daniel kuier by sy ouma en oupa en oornag daar in ‘n vreemde bed.  Hy hoor baie vreemde geluide, en telkens moet sy ouma of oupa hom geruss tel dat dit maar net ‘n olinoster of ‘n krokokoei, of ‘n blouwildekameel of ‘n bobberilla is , almal goeters waarvoor hy gladnie bang hoef te wees nie.  Die regte leeu is toe maar net  oupa se bont kat.

“Want wie’s nou bang vir olinosters?  Of ‘n krokokoei of ‘n blouwildekameel? Buitendien hy het ‘n bobberilla om hom op te pas.  En ‘n regte kat om sy bene warm te lê.”

Kinders leer hier om hul vrese in die nag te oorwin. Die humoristiese aanslag help ook. 

Marita van der Vyver se teks lees lekker en gerusstellend. 

Dale Blankenaar se donker verbeeldingryke illustrasies versterk die gevoel vna ‘n donker nag met onheilspellende gedoentes wat die seuntjie bang laat voel. Sy dubbel volblad illustrasies van elke spesifieke monster is regtig baie indrukwekkend. Daar is fyn detail in elke vertrek- Daniel in ‘n klein badjie oordonder deur die groot monster met die skubberige vel; ‘n beertjie wat teen die gordyn uitklim; die bobberilla met ‘n snaakse sneeu-kleurige vel en blink holtes vir oë; ‘n reuse leeu wat sy hele bed oordonder en net die klein seunskoppie met handjies wat sy oë toehou is sigbaar; en dan Daniel wat op die dier se rug deur die lug sweef met beertjie wat hom vanuit die huis se skoorsteen toekyk.  Hy is nou baie duidelik in beheer van die situasie.

Die donker kleure in die vertrek word telkens ligter as ouma of oupa hom verseker dat hy nie vir die gediertes bang hoef te wees nie.

Die boek is werklikwaar ‘n kunswerk van begin tot einde. Kunsliefhebbers  sal dit geniet, en kunsstudente kan leer by Blankenaar wat defnitief  hier werk van hoogstaande gehalte lewer.

Dit is ‘n boek vir fynproewers. 

Tuesday, April 7, 2015

Siembamba bekoor


Siembamba- immergroen rympies vir kinders  saamgestel deur Wendy Maartens met illustrasies deur Alzette Prins ( LAPA, 2015)

 

As kinderbibliotekaresse het ek met groot gesukkel Engelse rympies en vingerspeletjies in Afrikaans vertaal, en altyd gehoop iemand stel ‘n boek saam wat ouers en bibliotekaresse en onderwysers sal help om kleuters lief vir ons wonderlike taal te maak . Want niks onthou ‘n mens mos beter as daardie rympies,  raaisels, tongknopers , gebedjies en s laapliedjies van jou kinderjare nie.

En hier word Siembamba gepubliseer met die volledigste versameling van kinderrympies en versies ooit.

‘n Lys van erkennings en bronne word gegee, en skrywers soos C.J. Langenhoven, P.W.Grobbelaar; D.J.Opperman , Van Bruggen en nog vele meer se werk vind hier ‘n tuiste.

Dit is die heerlikste boek vir elke gesin ; noodsaaklik vir skool-en biblioteekversamelings en oumas en oupas moet maar die sak skud vir die kleinkinders as geskenke.  13 Hoofstukke met die opskrifte soos Duimpie Dikkedoor, Vrot tamaties lekker konfyt, Jorsie Worsie en sy maats, Allawiek, allawak, husse met lang ore, Sarel Marais het ‘n eier gelê, Sing is ‘n lekker ding en Doedoe, ogies toe ,maak jou nog meer lus om verder te lees.

Dan is daar as bonus die illustreerder Alzette Prins se vrolike  lewenslustige en kleurvolle illustrasies wat die boek as geheel ‘n pragboek maak. Haar aanvoeling vir die kind se verbeeldingswêreld is 100% in die kol.

‘n Groot dankie vir ‘n boek wat ‘n mens met groot vreugde kan koester en geniet.   

Prenteboeke van formaat!


Prenteboeke :

Die ruwe berg, deur Einar Turkowski( PROTEA, 2015) Uit Duits vertaal deur Nicol Stassen.

“In die land waar die kerse van onder af boontoe brand en dit uit die grond boontoe reën, is daar ‘n berg met ‘n onheilspellende naam.” Die ruwe berg verander elkeen wat dit waag om teen hom uit te klim emosioneel , fisies of intelektueel. ‘n Man besluit da thy die berg gaan aandurf. So begin die verhaal van sy tog en wedervaringe soos hy gelydelik die berg bestyg.

Hierdie is een van daardie besondere boeke wat die leser betrek, bekoor en waarna jy telkens sal terugkeer; miskien om die gelykenis van ‘n boekkunstenaar weereens te beleef, of om verdiep te raak in die meesterlike  verbeeldingryke keurige illustrasies wat jou intelektueel uitdaag en weer na detail laat kyk.

Hierdie is ‘n treffende voorbeeld van ‘n prenteboek wat kinders kan fassineer, maar veral ook volwassenes sal geniet. Absoluut ‘n kunswerk van gehalte!

Die vallei van die windmeulens deur Noelia Blanco en Valeria Docampo, in Afrikaans  uit Frans vertaal deur Nicol Stassen.  Die Engelse weergawe is vertaal deur Charl J.F.Cilliers.

In die vallei van die windmeulens het mense normaalweg geleef totdat die volmaakte masjiene opgedaag het en so hul hele wêreld verander het. “Dit was nie meer nodig om op ‘n verskietende ster te wag om ‘n wens te wens of ‘n droom te droom nie.

Selfs die windmeulens het ophou werk.

Anna die vallei se kleremaakster het tog nog in haar drome geglo. Sy ontmoet die Voëlma en hy vertel haar dat hy prpobeer om te vlieg sodat hy die hele wêreld kan sien.

Sy besluit om ‘n vliegkostuum vir hom te maak van die wind se hare. Toe die wind begin waai, begin die windmeulens weer werk, en so word die inwoners se wense weer versprei.

‘n Baie spesiale prenteboek wat jou verbeelding aangryp en die simboliek laat jou dink oor ‘n bestaan sonder drome gereguleer deur masjiene .   Die illustrasies is uniek en baie spesiaal. Anna wat die perdeblom pluk en in die wind laat versprei bied ‘n illustrasie wat jou betower.  

Hierdie is soos die Ruwe berg ‘n prenteboek wat hoort in versamelings waar boekliefhebbers die kunstigheid waardeer.

3 Titels  oor ‘n kat: My kat, die mees verspotte kat ter wêreld; Toe my kat nog klein was(2); en Nuus oor my kat(3) deur Gilles Bachelet. Uit Frans vertaal deur Nicol Stassen( PROTEA, 2015)

Die skrywer ,ook illustreerder, vertel deur sy humoristiese illustrasies die leser van sy kat wat baie groot, saggeaard en baie verspot is. Hy weet eintlik nie regtig watter soort kat hy het nie!

 Sy “kat” is ‘n olifant, en hy gaan voort om die leser te vermaak met humoristiese illustrasies van sy kat as hoofkarakter  onder elke denkbare situasie- besig om te eet,  rustende op enigeiets; sy toilet-maniere; as model vir ‘n skildery en met verskeie kleurvolle pelse.

Heel vermaaklik, en met ‘n sterk verbeelding aangedurf!

Toe my kat nog klein was:

Hier vertel die skrywer dat ‘n klein katjie entoesiasties moet wees; speel; slaap;  sonder sy baas moet kan funksioneer met bv. die hulp van ‘n nuwe speelding; of deur op ‘n wortel versot te raak!  Weereens vertel die illustrasies die verhaal oorspronklik en onderhoudend.

Nuus oor my kat:

Die skrywer en sy kat verhuis. Die huis is so groot soos sy kat. Hier ontmoet hy sy verloofde- sy is ‘n regte kat!  Die illustrasies hier laat die leser toe om hul verhouding mee te maak; snaakse voorbeelde van hoe sy hom was en mooimaak enin die tuin wegkruipertjie speel. 

Ek dink die skrywer het sy verbeelding vrye teuels gegee om alle denkbare situasies uit te beeld. Die boeke is in hardeband en van groot formaat; ouer kinders sal die humor waardeer.  Kleuters kan hul verdiep in die kleurvolle illustrasies.

Mimus 'n grootse verhaal


Mimus deur Lilli Thal( PROTEA, 2015)  In Afrikaans vertaal deur Amelia de Vaal

Vanaf ‘n rustige toneel waarin die toekomstige heersers van Monfiel insluitende die kroonprins Florin na sprokies sit en luister, ontwikkel hierdie lywige verhaal na ‘n boeiende meesleurende vertelling van die kroonprins se gevangeniskap in Vinland, die koningkryk wat met Monfiel in ‘n oorlog gewikkel was.  Florin ontvang die tyding dat ‘n vredesverdrag gesluit is en gaan op uitnodiging na Vinland vir ‘n vredesfees. Daar ontdek hy dat sy pa , koning Philip , en sy gevolg gevange geneem is. Florin word verdoem deur Koning Theodo om as hofnar opgelei te word deur Mimus- die gemene raaiselagtige hofnar.

So word dit die verhaal van Florin die hofnar. Mimus leer hom lawwe toertjies doen, grappe vertel, rympies voordra terwyl hy soos Mimus onder haglike omstandighede in strooi slaap en gedurig honger lei. Vir selfbehoud doen hy mee; vermaak die koning en sy gevolg, ook sy bekoorlike dogter prinses Alix. Terselfdertyd probeer hy sy vader wat gevange gehou word besoek. Sal hulle ooit gered word uit hierdie gevangeniskap?

‘n Verhaal wat enduit boei. Die skrywer het ‘n meestersgraad in Middeleeuse geskiedenis. In 2004 is die boek met die Deutscher Jugenliteraturpreis ( Duitse jeug-literatuur prys) beoordeel. Om die uitgewer aan te haal:

“Mimus is ‘n verhaal van konings en narre, mag en vernedering, humor en hartseer, en in die middel ‘n enkele hofnar wat terselfdertyd lig en donker verteenwoordig.”  Geskikvir jeug-12-18 jaar, maar ook vir volwassenes wat ‘n storie geniet waarin jy jou tande lekker kan inslaan. Hoogs aanbeveel. 

Monday, March 16, 2015

Bambaduze - wanneer woorde nie werk nie...


Bambaduze, deur Derick van der Walt(  Tafelberg, 2015)

 

En toe doen hy dit weer! Die skrywer van drie vorige jeugromans-  Lien se lankstaanskoene, Willem Poprok en Hoopvol met bekronings soos Goue en Silwer Sanlam-pryse, die MER –prys vir Jeuglektuur , die Scheepersprys vir Jeuglektuur en insluiting op IBBY se ererol  het weereens bewys dat hy ‘n storie kán vertel; dat hy ‘n fyn aanvoeling en begrip het vir menseverhoudings en veral die emosionele aspekte van ‘n tiener se lewe oortuigend kan analiseer en verwoord.

Ek het die boek met een sitting deurgelees, en was tot aan die einde betrokke en  gewilliglik saamgeneem op ‘n  emosioneel vaartbelynde reis.

Jurie steel karre, nie om regtig te steel nie, maar vir die gevoel van bevryding wat hy geniet wanneer hy die motor vir ‘n rukkie bestuur en dan weer terugbesorg na ‘n nabye staanplek.” Dit was op ‘n koelerige Saterdagoggend in September dat hy sy eerste kar gesteel het”. Hy beskryf hulle  huis soos volg:

“Die huis is ‘n eensame plek, al is die tuin mooi en die meubels duur..Dalk is dit omdat dit net ‘n huis met ‘n pappie is, sonder ‘n mammie of ‘n hondjie of ‘n katjie. Net die enkele debatable point of interest-hy- wat gereeld met ‘n motorfiets iewers heen vlug.

Sy ma het vir ses maande padgegee Engeland toe na sy ouer broer selfmoord gepleeg het. Hy neem haar kwalik dat sy hulle twee so alleen agtergelaat het; hy en sy pa sukkel om te kommunikeer; hy verwaarloos sy skoolwerk; begin swem vir die skool maar hou gou weer op; sy vriende voel verwaarloos, en sy isolasie en afsondering neem net toe. Selfs e-posse aan sy ma delete hy en word nooit afgestuur nie. Hierin word van sy emosies so mooi uitgebeeld. Sy word o.a.aangespreek as Mammie Mooi, Moeder, Maanskyn, Moekie en Ma.  Hy sluit af met name soos Jou liefhebbende seun Jurie; Boetie; Jou eie Ryk Neethling Viljoen en Jurie( die oorblywende).

Maar dan misluk sy poging om die meisie Nadi se Opel te steel toe hy  ontdek dat sy nog in die motor is. Sy verloor haar beursie in haar haas om weg te kom, en hy probeer haar opspoor. So begin ‘n vriendskap waaruit  beide baat vind- sy kan gesels oor haar ma se siekte en die ryk mense in wie se agterplaas hulle bly; hy is getroos deur haar aanvaarding van hom en sy probleem- sy moet tog net hom “Bambaduze”- sy gebrekkige interpretasie van die Xhosa woord- hom vashou en so  vertroos. Kort na hul ontmoeting vra sy aan hom: “Is jy daai bedorwe seuntjie wat alles het en nou steel jy karre omdat niks anders jou meer ‘n high gee nie?”

Maar die risiko wat hy neem met die motors moet een of ander tyd verkeerd loop. Hy word gevang, en dan volg ‘n periode van  skorsing uit die skool maar ‘n geleentheid om met ‘n sielkundige te gesels en op sy studies te konsentreer. Hierdie word ‘n suiwerings-proses waardeur die verhoudings tussen die verskillende karakters verbeter en baie issues opgeklaar word.

Hiermee het ek slegs ‘n oorsigtelike  bo-langse kykie in ‘n interessante verhaal gegee. Wat maak die boek dan so goed? Kortliks:

Vanaf die treffende inleidende kort paragraaf besef jy hierdie gaan ‘n juweel van ‘n jeugboek wees!

Jurie is ‘n werklike karakter en jy word toegelaat om hom behoorlik te leer ken.Dit gebeur in ‘n teks deurtrek met fyn waarneming; treffende dialoog; verassende insidente ; goed gebalanseerde karakterisering en interaksie tussen die karakters wat deurgaans oortuig en met groot gemak en ‘n juiste aanslag verhaal word. Jurie se e-posse aan sy ma sluit hoofstukke af en tref telkens- jy weet hoekom hy so kommunikeer; jy het begrip vir sy worsteling en woede. Sy pa en sy vriende is geloofbare karakters; selfs die huisbediende Hope is ‘n gerustellende teenwoordigheid met haar lekker kos!  Soos die verhaal ontplooi vind jy eers mettertyd uit wat daar gebeur het.

Dit voldoen aan al die  vereistes wat aan ‘n goeie verhaal gestel word- treffende karakterisiering; ‘n interessante plot; goed gestruktueer , ‘n  geskikte milieu; en aangebied in ‘n skryfstyl wat deurspek is met treffende beskrywings en raak kommentaar wat getuig van ‘n bedrewe talent.  

Bambaduze is Derick van der Walt op sy beste. Mooi gedaan. Dit behoort ‘n suksesvolle teksboek vir hoërskole te word,en moet in biblioteek-en tuisversamelings ‘n tuiste vind.

 

Lona Gericke   Maart 2015

 

Saturday, January 31, 2015

'n Oulike spokie op besoek


Preussler, Otfried: Die klein spokie( PROTEA, 2014) In Afrikaans vertaal deur Amelia de Vaal

 

“Vir donkiejare al woon in Kasteel Uilsteen ‘n klein spokie-‘n heeltemaal skadelose nagspokie wat niemand enige kwaad sal aandoen solank hy nie getreiter word nie”…

Om middernag neem hy sy 13 sleutels en verken die kasteel. Sy beste vriend is Oe-hoe Sjoe-hoe, ‘n uil. Sy grootste wens is om tog eenmaal die wêreld in die dag te sien. Toe die raadhuishorlosie twaalfuur verkeerdelik slaan, word hy in die dag wakker. Nou is hy swart soos die sonstrale hom verkleur het, en laat almal skrik wat hom teëkom.

Dit is die begin van sy opwindende avontuur in Uilenburg. Die dorp is in rep en roer, want ‘n swart gedaante doen die rondte! Met die 325-jarige viering van die beleg van UIlenburg deur die Swede besluit hy in sy onkunde om die stad te help red van die dreigende gevaar.Sy inmenging veroorsaak dat die hele geleentheid bederf word. Gelukkig ontmoet hy die apteker se kinders wat hom weer help om sy spook-lewe terug na “normaal” te bring. En hy kan weer lekker kuier by sy ou vriend, weer ‘n wit spokie soos die maanligstrale hom weer wit getower het. 

‘n Oulike fantasie verhaaltjie wat in Duits benoem is vir die Jugendbuch-prys en in 2013 is ‘n rolprent daarvan vervaardig , Das kleiner Gespenst.

KInders 6jaar en ouer behoort dit te geniet. Die vertaling lees lekker  en die spokie se avonture is heel snaaks en sjarmant.  Die illustrasies is toepaslik vir die tyd waarin die verhaal afspeel en die geheel indruk van die boek is  dat dit keurig versorg is.

‘n Klassieke werk wat ‘n plek verdien in tuis –en biblioteekversamelings.

 

Lona Gericke

Twee lekker ligte ontspanningsverhale vir tieners!-

Jonker, Marga: City girl en die swart hings ( Tafelberg, 2014) en

Neser, Christien: Franse vlegsel( LAPA, 2014)

City girl en die swart hings:

Perdestories bly gewild by jong lesers, en hierdie is die derde boek deur Marga Jonker, vooraf gegaan deur Sonder Chocolate Charlie (2013) en Brigadier en die raaiselponie(2014).

Weereens stel sy nie teleur nie. Nicole en haar ma gaan die vakansie op Elandsbaai deurbring waar haar ma navorsing in mikrobiologie gaan doen. Gelukkig word sy uitgenooi om saam met die Weskus ruiters perd te ry.  Die jongmense is geinteresseerd in ‘n swart hings –‘n wildeperd Soutvis wat hulle graag wil aankeer. Nicole op Raven, ‘n swart merrie, trek sy aandag. 

So begin ‘n opwindende vakansie vir City girl. Sy kom ‘n strandwolf teë en leer seil, maar die heel beste ondervinding is die maanligrit op die strand met Raven waar Soutvis nou begin saam hardloop en uiteindelik besluit het sy wilde jare is verby. Die vakansie was toe gladnie so sleg nie!

‘n Lekker storie met genoeg detail om oortuigend te wees. Die karakters oortuig in hierdie milieu, en die interaksie tussen karakters  wat uitgebeeld word is gemaklik en warm en oortuigend. Goeie waardes en gesonde gesinsverhoudings word uitgebeeld.

Franse vlegsel:

Hierdie is die sesde boek in die uiters gewilde tiener reeks met Elle Kroon as die hoofkarakter. Kondensmelk, Koshuiskoffie, Blou sjokolade, Rocksusters, en Duinebesies het voorheen verskyn.

Elle begin haar Graad 11 jaar maar sleg volgens haar- Alex gaan ‘n jaar lank weg op een of ander avontuur; haar status is dus nou alleenlopend; haar nuwe haarstyl is vreemd; sy verloor die sleuteltjie tot die ketting wat Alex met sy vertrek aan haar gegee het; en nou moet sy ook help om die twee uitruilstudente uit België tuis te laat voel by Gravitas. En om dinge nog ingewikkelder te maak is Maxime . die uitruilstudent, nogal baie aaantreklik! Gelukkig is daar die vakansie in Parys om na uit te sien-haar ouers gaan haar daar ontmoet met ‘n spesiale geskenk.

Soos die vorige boeke in die reeks lees Franse vlegsel ook lekker. Die gemaklike styl en geloofbare karakters bewys dat Neser se gewildheid net gaan bly. ‘n Lekker ontspanningsleesboek vir tieners.

 

Lona Gericke - Januarie 2015