Tuesday, May 29, 2018

Paddington, Boelies, en Hanli die hasie


Bond,  Michael:  Paddington( PROTEA, 2018) Afrikaans deur Amelia de Vaal.Illustrasies deur R.W. Alley

Drie Paddington verhaaltjies word hier in een publikasie aangebied- Paddington die kunstenaar, in die hospitaal en by die dieretuin.

Paddington word geïnspireer deur ‘n buiteluguitstalling om sy verfkwaste ook nader te pluk en sy eie uitstalling te hou. Hy raak aan die slaap , en tot sy verbasing is al sy werke verkoop toe hy wakker word. Meneer Gruber was nauurlik die weldoener, en Paddington is so gelukkig dat hy nou ‘n familieportret wil aanpak, min wetende dat hy nou nie die kunstigste beertjie ooit is nie! Maar selfs bere het mos vriende wat hul ondersteun.

 In Paddington in die hospitaal maak hy sy skouer seer, ly blykbaar aan geheueverlies sodat die familie besluit hy moet in die hospital opgeneem word vir toetse en observasie. So word ‘n beers verblyf  in die hospitaal lesers se bekendstelling aan hierdie omgewing, en ook  ‘n goeie leerskool vir die dokter.   Paddington het dit ook geniet om n proefkonyn te wees, en deur sy voorbeeld kan kinders leer om nie bang te wees vir ‘n hospitaal en dokters nie.

Paddington by die dieretuin:

 Op ‘n uitstappie na die dieretuin neem Paddington ‘n stapel marmeladetoebroodjies saam wat hy een vir een verloor by die verskillende diere wat hy besoek. Paddington besluit agterna dat dieretuin mens honger maak, want al jou toebroodjies word gegaps,  en dat net die pappegaai sy gunsteling dieretuin-bewoner is, want net hy het vir hom dankie gesè vir die toebroodjie.

Paddington is ‘n geliefde karakter wat kinders al baie jare lank vermaak met sy onskuldige manewales, en  tersefdertyd is daar ‘n lewensles ook telkens subtiel ingeweef in die gebeure.  ‘n Aantreklike boek met die oulikste beertjie illustrasies deur Alley; onskuldige pret vir kleintjies wat van bere hou, en wie dan nie?

 

De Kinder, Jan: Is jy bang in die bos, Pappa Wolf?: (PROTEA, 2018)  Vertaal uit Nederlands deur Amelia de Vaal.

Tot groot vermaak van kinders is Pappa Wolf die bang karakter in die storie wat deur sy seun die klein Wolfie teen sy sin saamgesleep word na die bos. Klein Wolfie moet sy pa deurgaans gerusstel as hy skrik vir iets.  Hy hardloop verskrik weg as die dogtertjie haar verskyning maak, en die twee kinders bespreek saam die feit dat hulle ouers so versigtig is vir mekaar!

‘n Pragtige boek met die mooiste volblad illustrasies in die bos . Subtiele kleure oorheers, die enigste helder kleur rooi is Rooikappie se rokkie, met hier en daar ook spatsels rooi in die teks en aan die wolwe se klere.

De Kinder skryf met humor en tong-in-die-kies en gee ‘n oorspronklike kinkel aan die klassieke verhaal. Die kinders is in beheer van die verhaal, wat hul selfvertroue ‘n hupstoot sal gee.

De Kinder, Jan: Rooi waarom boelies nie snaaks is nie( PROTEA, 2018). 

‘n Dogtertjie wys ewe onskuldig na die seun Tobie se rooi wange, en wanneer meer kinders bykom, verander die onskuldige oomblik in ‘n ernstige situasie waar almal hom konfronteer oor sy rooi wange, veral aangevuur deur Paul die boelie . Hy raak al meer luidrugtig en onsmaaklik soos hy Tobie spot, en die dogter vra hom om op te hou. Maar selfs sy word bang vir Paul: ”Paul se tong is so skerp soos’n mes. En sy vuis is so hard soos ‘n baksteen”. Wanneer die juffrou die klas uitvra oor die geboelie, is sy uiteindelik dapper genoeg om haar hand op te steek, gevolg deur die ander kinder swat hulle nou by haar skaar teen die boelie Paul.

De Kinder vertel die verhaal van ‘n boelie subtiel en effektief ,en die eenvoudige dog treffende  illustrasies maak ook ‘n sterk bydrae tot die impak van die verhaal. Onskuldige kindergesigte word geplaas teen ‘n rooi agtergrond en ‘n aaklige wolf figuur,  om hul vrees vir die paaiboelie en sy venyn uit te beeld. Teen hierdie rooi agtergrond vertel die dogter dat sy nie wil doodgaan nie, maar ewe dapper steek sy tog haar hand op sodat die boelie uitgewys kan word, gevolg deur die ander kinders.  Nou is Paul se lag hol, en vir die meisie lyk hy nou behoorlik groen.

Die illustrasies is so effektief gedoen- - die kindergesiggies is byvoorbeeld  in rooi, met net die wit van hulle oë en haar streeptrui en wit gesiggie om die donker emosies van die boelie te kontrasteer.‘n Oorspronklike boek wat nuttig gebruik kan word om  kinders te leer dat standpunt ingeneem moet word,verkieslik as ‘n groep, teen paaiboelies.

Stanley, Mandy: Hanli(PROTEA, 2018). In Afrikaans vertaal deur Amelia de Vaal.

Drie Hanli-stories is saamgevat in een boek- Die vlieënde hasie, die Ysprinses en die Kersfeeswens.

Ek onthou nog hoe ek die Engelse titels in Afrikaans vertaal het om vir kinders te vertel aangesien Hanli net eenvoudig die oulikste hasie ooit kan wees en hulle moes haar stories hoor! Nou is die Afrikaanse weergawes gelukkig beskikbaar.

Hanli wil tog te graag leer om te vlieg, maar al haar pogings misluk. Sy sien ‘n klein pienk vliegtuigie en besluit om in te klim.  Die vliegtuigie word deur ‘n dogtertjie op afstand beheer, en toe Hanli weer grondvat,beheer die dogter haar vlug terug huistoe, tot die bewondering van die heleHasie-familie.

Eeen wintersmiddag sluit Hanli aan by kinders wat ‘n fees op die ys hou waar die ysprinses gekroon gaan word.   Hulle maak vir haar ‘n rokkie en sy kry klein ysskaatse Die prinses se tiara val a fen Hanli red dit uit die struike. Haar belonging is ‘n sterretjiesarmband en as sy tuiskom, dans sy die dans van die ysprinses vir haar familie.

Hanli in die Kersfeeswens val op die ys en volg kinder swat oppad is om Kersfees te gaan vier by hul huis.  Sy wou nog altyd wee twat Kersfees beteken.  By die huis sien sy koekies, en toe ‘n glinsterende boom met onder die boom ‘n  feetjiepop!  Sy vertel aan die kinders dat sy graag ‘n kersfeetjiewil wees, en hulle trek haar aan. Toe sy huistoegaan, versier hulle die boom buite hul gat. Soword die hasies se Kersfees ook betowerend mooi en gelukkig.

‘n Pragtige  boek wat baie dogtertjies met vreugde sal wil lees en besit. Hoogs aanbeveel vir jong lesertjies.

 

Wednesday, May 23, 2018

Van perde, mummies, drakies ,kewers en Max die masjien


Resensies van Afrikaanse kinder/jeugboeke nr 6/2018

Van Balen, Theresa: ‘n Piekniek op die strand( LAPA, 2018) Illustrasies Zinelda McDonald.

Beginner lesers het hier die geleentheid om saam met die twee vriendinne Jana en Alisha te deel in hul vakansiepret by die see. Wat is nou lekkerder as om piekniek te hou op die strand? Maar die seuns wil hulle pret bederf, en die meisies klim toe maar op ‘n hoë duin waar hulle nie lastig geval word nie. Hul hondjie Ben let op dat ‘n wit wollerige hondjie op die strand sy poot seergemaak het, en hulle help om hom weer by sy eienaar te besorg. Hulle word beloon met heerlike roomys, en dit word die beste dag ooit!

Van Balen, Theresa: Vlieërs en filmsterre( LAPA, 2018)

Die tweede titel in die Vakansiepret-reeks hou ook heerlike vakansie pwinding vir die twee in as hulle op soek na ‘n vlieër deel word van ‘n film wat geskiet word waar twee blommemeisies dringend benodig word. End it nogal saam met Clint du Bell, hulle filmheld.

Ideale leesstof vir 7+jariges. Oulike illustrasies toepaslik vir die ouderdomsgroep.

Maartens, Wendy: Max die dapper gorilla en ander ware dierestories(LAPA, 2018) Illustrasies deur Alex van Houwelingen.

 

   6 Ware dierestories met Max die dapper gorilla, Huberta die seekoei, ‘n vlermuis, ‘n bobbejaan wat lus is vir koek, Zhu die sterk Chinese vark en ‘n beer wat soldaat word. 

Ware diereverhale was nog altyd gewild in biblioteke, en hier is ‘n goeie balans getref tussen net genoeg teks en lewendige kleurvolle illustrasies sodat beginner lesers se aandag gehou kan word.  Die gesegde aan die einde van elke storie dra by tot die leersaamheid van die teks.

Jacobs, Jaco: 101 Dieregrappe, 101 Klop-klop-grappe, 101 lawwe grappe, en grappe vir pousetyd ( LAPA, 2018)

Elkeen van die 4 boekies bevat 101 grappe vir 7+jariges, met Jaco Jacobs se gebruiklike fyn humorsin weerspieël in elke grappie!  Daar kan nooit genoeg boeke met grappe in sirkulasie wees nie.  Ek kan net sien hoe kinders dit vir mekaar gaan voorlees en vra.

Siegner, Ingo: Klapper die drakie en die swart ridder( H&R, 2018) Afrikaans deur Kobus Geldenhhuys.

Klapper en die ystervarkie Matilda vergesel sy oom Hardus na die ridderryk om te gaan waakby die appelboom wat die ridders wil afkap. Maar Hardus beland in die Swart ridder se kloue wat hom wil gebruik om die koning te oortuig da thy met sy dogter kan trou. Gelukkig is Klapper en Matilda byderhand om die minnesanger te help wat werklik lief is vir die prinses, en met Hardus se hulp word die swart ridder verslaan, en het die verhaal ‘n gelukkige einde vir die jongmense.

Herdie is ‘n baie aantreklike volkleur reeks met genoeg aksie en verassings om jong lesers te boei. 

Siegner, Ingo: Klapper die drakie en die groot towenaar( H&R, 2018) Afrikaans deur Kobus Geldenhuys.

Klapper enMatilda loop ‘n bol in die veld raak wat aan hulle vertel dathy eintlik die groot towenaar Rikus Ringkop is, die heerser van Bottelland, maar dat die slegte Bokbaard sy towerstaffie gesteel het. Hulle besluit om hom te help om terug te keer na Bottelland, en die nare Bokbaard ‘n streep te trek.

‘n Heerlike aksiebelaaide avontuur wat jong lesertjies baie gaan geniet.

Bloemhof, François en Ackermann, Alistair: Agent Snoet 5 in 1( LAPA, 2018)

Hierdie uiters gewilde strokiesprente-reeks verskyn nou in een bundel Keurig versorg met ‘n omslag wat dadelik die aandag trek. Agent Snoet en die Botterdiamant. Kattekwaad, en die Hondelewe, en die Groen Genugtig,en die Windlawaai  is ‘n reeks wat uniek is in Afrikaans en baanbrekerswerk is gedoen met boeke wat strokiesprente bevat. Kinders is gaande oor hierdie tipe aanbieding, end it was ‘n briljante idee om dit in een publikasie saam te vat. Hoogs aanbeveel.

 

Jacobs, Jaco: Max die masjien( LAPA. 2018) Illustrasies deur Stephen Wallace.

Zander word op ‘nSondagoggend verras deur ‘n vrou in ‘n goue sweetpak wat hom meedeel dat hy die  groot prys in ‘n kompetisie waaraan hy deelgeneem het, gewen het. Hy verwag ‘n nuwe Playstation , maar wen ‘n week met Max die Masjien as sy persoonlike lyfwag!  Hy is ‘n rofstoeier, en Zander het nie ‘n idee wat hy met hom gaan doen nie. By die skool moet hy baie spot verduur, veral van sy grootste vyand, die boelie  Wynand.  Miskien gaan dit sy geleentheid word om Wynand ‘n les te leer?  En Max verbaas die gesin verder as hy Zander se pa leer om meer oortuigend vir werk aansoek te doen, en dan is hy nog goed met wiskunde ook… 

Jaco Jacobs stel weereens nie teleur met sy ongelooflike insig in die wêreld van jongmense nie- hulle drome en behoeftes ook in gesinsverband. Snaaks, onderhoudend en ‘n wenner. Hoogs aanbeveel.

Wallace se illustrasies is in die kol- Max die masjien lyk absoluut skrikwekkend!

Taute, Dihanna: Die legendariese Lua Verwey( H&R, 2018)  Illustrasies deur Theodore Key.

Lua en haar gesin se manewales herinner my sterk aan die gewilde Lotta- reeks. Sy is ‘n dogtertjie wat haarself as super slim beskou, seuns haat, uitgesproke en parmantig is, en dolgraag krieket wil speel- nogal nie iets wat die ander meisies gaan beïndruk nie! 

Sy is deurgaans aan die woord, en neem die leser saam na haar huis en skool.  Die teks is eenvoudig, direk, en weerspieël die dogtertjie se sterk karakter. Sy sal sommer gou ‘n klomp lesers aantrek wat met so ‘n karakter kan identifiseer. Veral verassend is die ouers se groot nuus aan die einde van die verhaal,en soos Lua tereg opmerk: “Ons is nogal ‘n unieke klomp bymekaar…”

De Wet Hugo: Web van die mummie- Grilgrypers 2( H&R, 2018) illustrasies deur Shân Fischer.

Stel jou voor dat jy spinnekoppe uit jou neusgate sien kriewel as jy in die spieël kyk, jouself troos dat dit net ‘n aaklige nagmerrie is en dan nog verder ontstel word met die nuus dat daar ‘n kaal mummie op die plaas ontdek word, opgehang, en dat dit dalk haar pa se vermiste suster Annette kan wees!

Dit is maar die begin van ‘n uiters spannende en grillerige verhaal wat my enduit geboei het!

In die nuwe skool is sy in ‘n kamer saam met 3 ander meisies. Haar Dame is die gawe Melinda wat haar vertel dat haar boetie Adriaan in die Paarl Hoërskool vir seuns is.  Haar koshuismoeder is ‘n reusagtige vrou wat die meisies Weerbeer noem. Sy sien weer die mummie wat die massiewe spinnekop se kop afbyt as sy gaan stort…dinge is regtig nie pluis in die skool nie. En dan sterf Melinda as sy by die trappe afval, en nog erger, toe sy ontdek is, was haar liggaam oortrek van spinnekoppe!  Die een grillerige gebeurtenis volg op die ander; wat is werklik aan die gang?

Die spanningslyn word deurgaans baie effektief gehandhaaf;  ek is oortuig die reeks gaan sommer baie aanhangers kry!  Hoogs aanbeveel. Ek het die boek selfs meer geniet as Grilgrypers 1.

Leonard, M.G. : Kewerwraak( PROTEA, 2018) Afrikaans deur Kobus Geldenhuys.

Hierdie is die finale boek in die kewertrilogie en volg op Kewerknaap en Kewerkoningin.

Soos die vorige twee titels is die boek deurspek met inligting oor kewers, bevat ‘n entomoloog se woordeboek , bronne en webwerwe waar lesers meer kan leer oor hierdie interessante ongewerweldes.

Maar terselfdertyd is dit goed geskryf, is daar interessante avonture waarop die karakters gaan, en die finale reeks gebeurtenisse waar Darkus en sy vriende Lucretia Cutter se geheime vesting- die bioom in die Amasone-reënwoud probeer opspoor, is opwindend en vol verassings.

Die verhaal bereik ‘n klimaks met die deurslaggewende geveg in die bioom- gaan Darkus en sy oom Lucretia kan verslaan?

Die reeks word hoogs aanbeveel vir lesers wat ‘n verhaal soek met baie lyf en detail en defnitief met  literère meriete.

Van den Berg, Jacolet: Kate in Harmonie( LAPA, 2018)

Kate en haar ouers en broer Dieter moet hul geliefde Johannesburg groet om op ‘n plaas naby die Paarl te gaan woon sodat haar pa weer kan werk.

Sommer dadelik word sy aangetrek tot die perd Harmonie wat duidelik ‘n probleemperd is , en niemand waag dit om ‘n saal op sy rug te sit nie. Will is die plaasseun wat haar tuis laat voel, asook Els wie se pa Vrydagaande te veel drink.  Kate besluit sy moet Harmonie se vertroue wen,en sy spandeer baie tyd langs sy kamp sodat hy aan haar gewoond moet raak. Maar nou is daar die moontlikheid dat hy verkoop gaan word, en dit mag netnie. Aanfanklik is sy ook bekommerd oor haar broer wat hom onttrek en met verkeerde seuns deurmekaar raak.

Hierdie was nie vir my sommer net ‘n gewone voorspelbare perdestorie nie. Dit is goed geskryf, die karakters is oortuigend, en die boek raak spesiaal met die uitbeelding van Kate en Harmonie se verhouding. Karakter ontwikkeling vind plaas, elkeen groei op ‘n eie spesiale manier, en as leser gee dit jou ‘n warm gevoel. ‘n Potensiële goeie skrywer wat hopenlik nog gaan skryf.      

 

  

 

 

 

Tuesday, May 8, 2018

Nina en die crazy klere


Van der Colff, Elizbè : Nina en die crazy klere( Tafelberg, 2018) Illustrasies deur Chris Venter.

Hierdie is die derde boek in die gewilde Nina-reeks en volg op Nina en die wacky hare , en Nina en die funky eksperiment.

Nina en haar vriendin Jessie het kaartjies gewen om die Eksotiese Eksperimente Ekspo in die stad by te woon waar ook nuwe uitvindings uitgestal gaan word.  Hulle besluit dit sal dalk die ideale geleentheid wees om ‘n kenner te nader wat dalk sal help om  of hulle towerpet se kragte wetenskaplik te verklaar. Die pet wys hulle vooraf twee jingmense wat werk aan ‘n masjien, die rommeloplosser. Hulle verneem ook dat Dr. Crower, ‘n wetenskaplike uitvinder, sy nuwe gedagteleser, die Animus Recitator vir die eerste keer gaan ten toon stel. Dalk is hy die regte persoon om hulle met die pet te help.

Min het hulle geweet hoe interessant en gevaarlik hul besoek aan die Ekspo gaan wees! 

Die skrywer slaag daarin om die leser saam met die twee vriendinne op ‘n opwindende avontuur te neem waar hulle inisiatief en dapperheid getoets word.  Haar karakters is oortuigend en geloofbaar, veral aantreklik is die natuurlikheid van die meisies en die verligting dat hier net skoon plesier te vind is sonder die drama van ‘n gesin wat nie funksioneer of afwykend is nie! Lekker leesstof.  Die skrywer en illustreerder Chris Venter is ‘n wen-kombinasie. 

       

Tuesday, April 24, 2018

Liewe Heksie , Klapper die drakie tot 'n slymboek!


Vels, Verna: Liewe Heksie en die helikopter( H&R, 2018) Illustrasies deur Vian Oelofsen

Hierdie is die derde pragtige groot formaat- boek wat volg op Liewe Heksie en die silwer roos en Liewe Heksie en die sterretjieskombuis.

Karel Kat kom kuier vir Liewe Heksie met sy geel helikopter en sy word genooi om saam met Karel op ‘n rit te gaan in die “meuliekopter” volgens Heksie. Koning Rosekrans wil ook saamry, maar hy en Karel land in ‘n boom en Heksie moet help om die twee grond toe te bring.  Wanneer Karel die koning later veilig paleis toe neem, gaan Heksie agterna op haar besem met Matewis net ingeval die “meuliekopter “ se wiele in ‘n boom vashaak!

Vian Oelofsen bied vir die leser ‘n fees van kleur met die heldergeel helikopter, blou en pienk blomme in die veld, Koning Rosekrans se rooi baadjie , groen blare en veral effektief is die delikate effek wat hy verkry vir die helikopter se vlug in die lug met Liewe Heksie se gesiggie so wasig binne. Hierdie boeke met Oelofsen se pragtige illustrasies steel absoluut jou hart. Liewe Heksie aanhangers kan hul verlustig in die sprokieswèreld waar sy haar bevind. Hoogs aanbeveel.

Siegner, Ingo: Klapper die drakie is nie bang nie!( H&R, 2018) Afrikaans deur Kobus Geldenhuys.

Klapper en die draakkinders besluit om na Rooi Rudolf die gevreesde seerower se rooi edelsteen te gaan soek op die skilpadeiland. In die see sien hulle ‘n duikboot en ontmoet die seerower aan wie dit behoort. Saam sit hulle die soektog voort, maar word aangeval deur ‘n reuse seekat. Die seerower help hulle om te ontsnap,en die kinders prys hom vir sy dapperheid, en almal is nou groot vriende.

Klapper is die oulikste drakie ooit, en daarby dapper en getrou aan sy vriende. Siegner se illustrasies laat jou nog meer verlief raak op die bekoorlike karakters. Beginner lesers behoort die boeke baie te geniet.

 

Siegner, Ingo: Klapper die drakie gaan skooltoe( H&R, 2018) Afrikaans deur Kobus Geldenhuys.

Klapper is oppad na sy eerste skooldag en ‘n klein vreetdrakie ontmoet hom langs die pad. Hy nooi die vreetdrakie saam skooltoe, en saam moet die twee eers sy vreetdraak-ouers oortuig dat hy saam met Klapper skooltoe kan gaan, want vreetdrake glo nie aan skoolgaan nie.

Vreetdrakie leer ook om te swem in die skool, en hy bewys aan sy ouers dat hy kan swem toe hy die rooi steen uit die diep water red.

Die Klapper –reeks laat beginner lesers kennis maak met karaktertjies wat omgee vir mekaar, saam avonture beleef, en nog leer om te lees en skryf ook!

Lees ook Klapper die drakie en die groot towenaar, en Klapper die drakie en die swart ridder.

Jacobs, Jaco: Spaghetti tussen jou tone( LAPA, 2018) Illustrasies deur Alex van Houwelingen.

Tom en Trevor is beste maats met die spesiale talent dat hulle hou van grappe maak en poetse bak. Die nuwe juffrou by die skool, Zaan van Graan word vir die twee ‘n groot uitdaging want sy word eenvoudig nie kwaad nie al gebeur wat. Hulle besluit dus om haar te probeer kwaad maak. So suksesvol is dit, dat hulle volgende uitdaging word om haar weer vriendelik te kry! Min wetende dat sy ook hou van poetse bak…

Lekker ligte leesstof vir beginners met Jacobs se fyn humorsin teenwoordig om die leeservaring net ‘n groot plesier te maak. Van Houwelingen se illustrasies skep die regte atmosfeer.

Nolte, Noreen: Dans, Jenna( LAPA, 2018)

Nolte se debuut was Om te dans in 2017. Die gekwalifiseerde balletonderwyseres skryf oortuigend met ballet as tema.

Jenna is ‘n meisie wat ballet liefhet en net wil dans. Sy en haar ma sukkel finansieel,en sy weet dat sy eenvoudig met haar gehawende skoene sal moet dans wanneer die Kunstekaap  die Sint Petersburg Balletgroep aanbied met geleenthede vir jong kunstenaars om die winterskool by te woon indien hulle in die kompetisie uitblink.

‘n Verhaal vir 9-11jariges met veral ‘n liefde vir ballet. Karakterisering is gebalanseer met die gebruiklike vriendinne wat mekaar ondersteun versus die jaloerse dogter wat Jenna as kompetisie sien en met haar ma se hulp Jenna se drome probeer verongeluk.

Die vrolike omslag met die stralende Jenna trek dadelik die aandag.

Nie-fiksie vir kinders :

Brooks, Susie: Knip verf plak-50 prettige kunsprojekte( LAPA, 2018). Afrikaans deur Jaco Jacobs.

Die drie titels wat bespreek word is weereens ‘n bewys dat nie-fiksie nie beteken nie-plesier vir lesers nie!

Handwerkprojekte help kinders en onderwysers met idees om kuns te maak. Basiese kunsbenodighede word gelys met nuttige wenke oor hoe die spesifieke projek aangepak kan word. Van vlermuis-skaduwees, hand-diere, prettige pikkewyne ,robotte wat rock , swemmende skillies tot ‘n monster-makietie- die idees is eindeloos en stapsgewys genommer en kleurvol geïllustreer.Daar is 4 bladsye met patrone wat gebruik kan word, en ‘n volledige onhoudsopgawe.

‘n Nuttige boek vir biblioteek-, skool en tuisversamelings.

Jacobs, Jaco en Viljoen, Fanie:  Hoezit! Die wonderwêreld van my liggaam(LAPA, 2018)

‘n Aantreklike boek propvol feite oor die menslike liggaam. Die inhoudsopgawe lys elke aspek van die liggaam, o.a. jou spiere, senuweestelsel, gesond eet, kleurblindheid, sintuie, en verduidelik selfs wat met jou liggaam gebeur as jy slaap.   

Van die bladsye is met ‘n vet-pret logo gemerk en is aktiwiteitsblaaie met speletjies en kopkrappers.  Ek sou dus nie sommer aanbeveel vir biblioteke nie, aangesien die blaaie met aktiwiteite probleme kan skep, maar vir onderwysers en tuisversamelings is die boek ideaal.

 

   

 

  

Die Slym-boek-alles wat jy moet weet om die perfekte slym te maak!(LAPA. 2018). Afrikaans deur Linda Roos.

Meer as 30 fantastiese resepte word hier aangebied. Voorbeelde van nie-eetbare slym word gevolg deur eetbare slym projekte.  Die slymprojekte het name soos rekkerige, skuimerige, sterretjies. Lekkerruik, krakerige , knetterig, monstersllym, dinosourusse in amber en gloeiende slym!

Basiese slymbenodighede word gelys, en elke individuele projek meld wat jy hiervoor benodig, die tyd betrokke, hoe maklik of moeilik en met ‘n waarskuwing dat dit eetbaar of nie-eetbaar is nie. Basiese stappe is gemerk van 1-3, en ‘n knippie wetenskap word by elke projek ingesluit, bv. waaruit gom bestaan, wat skeerskuim spesiaal maak, en dat party diere ook slym maak.    

Die boek is deeglik uiteengesit met kleurvolle illustrasies wat die prosesse eenvoudig verduidelik. Bladsy 64 verduidelik hoe jy jou slym moet bêre, hoe om op te ruim, basiese wenke word gegee  as die slym te taai is, of as dit breek as jy dit rek, of as dit nie genoeg glinster nie.

Kinders wat hou van kreatief handwerk-doen en nuuskierig is om nuwe projekte aan te pak, sal die boek verwelkom.  Onthou net dat die opruim en bêre aspekte baie belangrik is.

 

Monday, April 23, 2018


Resensies van kinder/jeugboeke 4/2018:

DeWet Hugo: Die vloek van vreesbaai- Grilgrypers ( H&R, 2018)

Of dit nie erg genoeg is dat sy ouers na die kusdorpie Vreesbaai getrek het en hy ‘n nuwe skool moet trotseer, word Miek nog deur ‘n reusagtige hond met rooi oë aangeval wat netso skielik verdwyn. Iets is nie pluis in hierdie spookagtige plek nie, daarvan is hy oortuig. Veral as ander kinders ook vertel van vreemde dinge wat hulle sien, soos Lisa se nar met skerp tande en Donovan met die monster-krokodille …

Al genade is dat hy die plaaslike sielkundige Meneer Swart gaan sien, veral na die skielike dood van’n seun wat in ‘n vlak modderpoel verdrink nadat ‘n Modderding hom soontoe gesleep het! Hier kry hy ook geen hulp nie. Dit het tyd geword dat die kinders saam hul vrese konfronteer. En wat ‘n skokkende ontdekking wag nie op hulle nie!

Hierdie reeks is ideaal vir kinders wat hou van grillerige stories. Grilgrypers 2- Web van die mummie en Grilgrypers 3: Kamp van die monsters is nog twee titels in die reeks waarna hulle kan uitsien.

Jacobs, Jaco: Dinge wat ek nie van skape geweet het nie( LAPA, 2018)

Omdat Luan en sy twee vriende op die punt staan om uit die skool geskors te word na ‘n onverskoonbare optrede teen ‘n onderwyser, besluit sy pa, “Meneer Uitsorteer “ dat hy saam met sy eksentrieke ouma Alice op vakansie moet gaan . Hulle vertrek in haar ou Land Rover op ‘n onvergeetlike reis. Sy ouma fotograveer windpompe. Oppad ontmoet hulle Lana en haar ouers- haar pa trap fiets om geld in te samel vir borskanker lyers. By die plaaslike kerkbasaar sien die jongmense ‘n skaap wat uiters depressief lyk, en toe Luan impulsief die skaap steel om haar van ‘n gewisse slagting te red, word die verhaal heel opwindend en die skaap amper die hoofkarakter in hul avontuurlike reis. Luan leer sy ouma beter ken, en vind dinge uit van ‘n skaap wat hy nie geweet het nie!

Jaco Jacobs het weereens bewys dat hy jongmense se emosies verstaan; terwyl hy ‘n verhaal opwindend en met ‘n tikkie humor aanbied. Luan leer ‘n belangrike lewensles deur sy ouma se lewensverhaal te leer ken- sy herinner hom dat jy altyd ‘n keuse het in besluite wat jy neem, selfs al dwing omstandighede jou om die verkeerde besluit te neem.    

‘n Oulike storie waarin gebeure met humor en insig vertel word, en Luan as karakter groei.

Neser, Christien: Pienk is nie vir sissies nie( Tafelberg, 2018)

Helene Rust wil met haar pienk boekie vir meisies haar “ willewragtag” dogter Nicci in ‘n jong dame omskep, maar Nicci focus slegs op fietsry, haar passie, en iets wat sy baie goed kan doen. Hierdie keer jaag sy weer vooruit, maar word so die prooi van twee diewe wat haar van haar fiets beroof, en haar aanval en ernstig beseer terwyl hulle haar vir ‘n seun aansien.

Dit word ‘n lang herstelproses, een waarin sy nie kan ry nie maar veral geteister word deur die gedagte dat hulle haar vir ‘n seun aangesien het. Daar is dus in Nicci hierdie tweestryd – sal sy weer haar peink balletskoene aantrek, aanvaar dat pienk nie vir sissies is nie, of bly skuil agter ‘n masker van onvroulikheid?

Neser het my beïndruk met die gewilde Elle-reeks, veral met die verskyning van die eerste boek Kondensmelk in 2009. Sy slag weer daarin om te oortuig met deeglike navorsing oor fietsry, ‘n goeie balans tussen die verskillende karakters en hul emosies en behoeftes, karakterontwikkeling vind plaas en die storie is onderhoudend geskryf.  ‘n Storie vir 12-16jariges met genoeg diepte om ‘n blywende positiewe indruk te laat.

Paterson, Katherine: Brug na Terabithia( PROTEA, 2018) Uit Engels vertaal deur Kobus Geldenhuys.

In 1977 verskyn hierdie klassieke jeugverhaal waarvoor Paterson die Newbery-medalje gewen het. In 1998 en 2006 word sy ook bekroon met die Hans Christian Andersen-prys en die Astrid Lindgren gedenkprys.

Hierdie vertaling in Afrikaans is goeie nuus, en Geldenhuys bewys weereens  dat hy meesterlik kan vertaal en so die geleentheid skep vir Afrikaanse kinders om ‘n roerende verhaal oor vriendskap tussen twee kinders te lees.

Jess Aarons is ‘n alleenkind, daardie “simpel outjie” wat altyd teken, en dus besluit hy hy gaan die vinnigste hardloper in sy klas word, hy wil weer voel hoe dit is om te wen. ‘n Nuwe meisie en haar ouers trek in by die Perkinse se ou plek, sy pas ook nie in by die ander kinders nie, maar Leslie Burke hardloop vinniger as hulle. Dit is die begin van ‘n vriendskap tussen twee jongmense wat saam hul eie magiese koningkryk Terabithia in die woud skep waar hulle heers as koningin en koning. Leslie word sy “ander, meer opwindende self- sy pad na Terabithia en al die ander onbekende wêrelde”.

Hulle bereik Terabithia deur met ‘n tou wat vasgemaak is aan ‘n houtappelboom oor te swaai na hierdie geheimsinnige land. Daar is hulle kasteel en die dennebos waarheen Terabithia se heersers ten tyde van die grootste hartseer of vreugde kom .

Aanhoudende reëns maak dit moeilik vir die jongmense om hul veilige plek te besoek, en dan vind ‘n tragedie plaas wat Jess voor sy grootste uitdaging ooit plaas- sal hy hierna kan oorleef? Hy was ‘n “simpel outjie wat snaakse prente geteken het en in ‘n koeikamp geoefen het om vinniger te hardloop sodat hy hom grootmeneer kan hou –en probeer het om die horde dwase vrese wat hom op hol jaag, weg te steek”.En Leslie het prober om “die mure in sy kop te verskuif en die skitterende wêreld te laat sien”.

‘n Roerende verhaal oor die vriendskap tussen twee kinders wat elke jongmens moet lees wat fokus in hul lewe soek, of selfs net om blootgestel te word aan ‘n werk van groot literêre waarde. Hoogs aanbeveel.

Steyn, Cecilia: Presiesanders 2- cupcakes en kupido’s ( H&R, 2018).

Kan ‘n tweeling so vreeslik verskil? Ja, want Zoya is ‘n swak student wat meer belang stel in grimering en mooi klere en om haar naels te verf as in rekeningkunde , terwyl Zoe presteer en Zoya oortuig is haar sussie het van haar breinselle geabsorbeer in hul ma se baarmoeder!

Zoya kry egter die geleentheid om die lentebal as voorsitter van die komitee te reël, en sy sien selfs kans om met die begroting te werk, want Erwee gaan saam met haar werk en sy is dolverlief op hom. 

Maar hoekom oorspandeer sy so geweldig dat sy verplig is om geld te probeer insamel met cupcakes bak?  Is daar dalk met die syfers geknoei deur ‘n jaloerse meisie? En dan is daar nog haar pa wat hom verbeel hy moet soos die tieners praat en optree om haar nog meer in die verleentheid te stel!

‘n Verhaal wat geniet sal word deur tieners wat op soek is na ligte leesstof, tog met genoeg humor en vaardig geskryf.

Van der Colff, Elizbè : Nina en die crazy klere( Tafelberg, 2018) Illustrasies deur Chris Venter.

Hierdie is die derde boek in die gewilde Nina-reeks en volg op Nina en die wacky hare , en Nina en die funky eksperiment.

Nina en haar vriendin Jessie het kaartjies gewen om die Eksotiese Eksperimente Ekspo in die stad by te woon waar ook nuwe uitvindings uitgestal gaan word.  Hulle besluit dit sal dalk die ideale geleentheid wees om ‘n kenner te nader wat dalk sal help om  of hulle towerpet se kragte wetenskaplik te verklaar. Die pet wys hulle vooraf twee jingmense wat werk aan ‘n masjien, die rommeloplosser. Hulle verneem ook dat Dr. Crower, ‘n wetenskaplike uitvinder, sy nuwe gedagteleser, die Animus Recitator vir die eerste keer gaan ten toon stel. Dalk is hy die regte persoon om hulle met die pet te help.

Min het hulle geweet hoe interessant en gevaarlik hul besoek aan die Ekspo gaan wees! 

Die skrywer slaag daarin om die leser saam met die twee vriendinne op ‘n opwindende avontuur te neem waar hulle inisiatief en dapperheid getoets word.  Haar karakters is oortuigend en geloofbaar, veral aantreklik is die natuurlikheid van die meisies en die verligting dat hier net skoon plesier te vind is sonder die drama van ‘n gesin wat nie funksioneer of afwykend is nie! Lekker leesstof.  Die skrywer en illustreerder Chris Venter is ‘n wen-kombinasie. 

       

Tuesday, March 20, 2018

Volksverhale en Onder my vel


Resensies van Afrikaanse  Kinder/Jeugboeke 3/2018:

Magona, Sindiwe:  Volksverhale uit Afrika 1-9 ( David Philips, 2016) 2de uitgawe

Hierdie reeks het reeds in 2014 verskyn.  9 titels handel oor ‘n verskeidenheid verhale met ‘n Afrika agtergrond, behalwe Die vreemdeling en sy fluit wat geïnspireer is deur Robert Brwoning se gedig “Die fluitspeler van Hamelin.”

In Gulsige man, gawe rots tref ‘n verskriklike droogte die land en die pa Hlohlesakhe is desperaat op soek na kos.  ‘n Rots voorsien hom daagliks van heerlike kos wat hy gulsig eet, sonder om iets na sy familie te neem. Totdat sy skerpsinnige dogter hom agtervolg en sy skande en gulsigheid ontbloot word.Soos in verskeie van die 9 verhale is hier foute in die teks, bv. “dat hy hulle raakgesien”. Die Afrikaanse vertaling is soms lomp en swak woordkeuses word gedoen, bv.”hy het skaars begin sing toe die kos uitstort.

Nokulunga, Moeder van goedheid, is juis die verhaal van ‘n vrou wat elke keer as haar man ‘n tweede vrou bykry, die vrou d.m.v haar towerpot laat verbrand.

Buhle , die veelkleurige kalf   beland tussen die ander beeste en Soyiso, hul oppasser, was verheug om die mooi kalf te versorg. ‘n Aaklige wrede man daag egter op, en omdat die kalf nie geroer het voordat daar vir hom gesing is nie, het hulle hom doodgemartel. Gelukkig het pragtige blomme in sy plek verskyn, want”Niks verdwyn ooit nie”.

Die vrou op die maan vertel van die hardkoppige vrou wat Nkanishe wat nie die reels van die dorp gehoorsaam het nie, en op Sondag uitgegaan het om hout te gaan kap. Sy is gevolg deur haar seuntjie en hul hond, en het nooit weer teruggekeer nie, Behalwe dat sy deur die woudgode na die maan verban is , en daar kan sy gesien word.

Twee van die verhale gaan oor diere, Sterker as Leeu en Hoe Dassie gemis het om sy stert te kry .In eersgenoemde word Leeu uitoorlè deur muis wat hom ‘n les leer omdat hy so gulsig was en die ander diere moes hongerly.

Dassie weer is te lui om soos die ander diere sy stert te gaan ontvang, en daarom is hy vandag nog sonder ‘n stert.

Die wrede koning lewe!  Dra die duidelike boodskap dat die wens van die ou koning dat sy gees moet voortleef in sy opvolger volbring is. Netsoos sy voorganger het sy volgelinge in armoede geleef, en het hy in oorvloed geleef.  Weer ‘n voorbeeld van ‘n drukfout:” hy was onder die vele wat vrymoeidiglik die ou koning aangeraai het….

Vandag, plant ons ‘n hoofman  dra die boodskap dat ‘n ongevoelige selfsugtige seun Lunga deur vriendskap, en met Madiba as voorbeeld kan verander en karaktertrekke soos dissipline, dapperheid en verdraagsaamheid  kan aanleer. (Die opsomming van die verhaal op die omslag is uiters verwarrend!

Die verhale het potensiaal vir voorlees en kan selfs gedramatiseer word, maar is defnitief nie ‘n voorbeeld van ‘n goeie Afrikaanse vertaling nie!

Magona, Sindiwe and Jablonski, Nina G : Onder my vel ( David Philip. 2018) Afrikaans deur Elna van der Merwe. Illustrasies deur Lynn Fellman.

‘n Absoluut prag publikasie waarin die seun Njabula gefassineer is deur ‘n verkleurmannetjie wat hom laat wonder hoekom almal nie soos verkleurmannetjies van kleur kan verander word nie. Sy oom Joshua se skrootwerf is die plek waar die skoolkinders ‘n taak oor herwinning moet doen. Dit word dan ook die agtergrond waarteen die kinders leer oor velkleur en daaroor gesels.  

Die wetenskapteks deur Nina Jablonski verskyn deur die hele publikasie en leer die groep jongmense  dat kleur oral is, hoekom ons nie van kleur kan verander nie, hoekom daar so baie kleure is, vertel van velkleurgene, hoe verskillende volke bymekaar uitgekom het, hoe nuwe velkleure ontwikkel het, en hoe om velkleur te verstaan. Die liedjie op bladsy 42 kan kinders rap met stokkej of ander rondlêgoed.:”My vel is daar buite, my hart is hier binne, dis wie ek is…”

Die multimedia –kunstenaar Lynn Feldman se illustrasies vul die teks en wetenskaplike insette treffend aan.  Hierdie is ‘n belangrike boek wat in skole, biblioteke en tuisversamelings hoort. Hoogs aanbeveel.

   

Tuesday, February 20, 2018

Van prenteboeke tot Asterix


Resensies van kinder/jeugboeke 2/2018:

Davies, Benji: Die stormwalvis in die winter( PROTEA, 2018)Afrikaans deur Rentia Bartlett-Möhl.

Die Stormwalvis se verhaal word verder vertel in hierdie verhaal waar Noi maar netnie die klein walvis kan vergeet wat hy gered het toe ‘n storm dit op die strand uitgespoel het nie. Toe dit winter word vaar sy pa vir ‘n laaste rit uit op die see, maar hy bly lank weg en Noi verdwaal as hy na sy pa gaan soek.Hy vind die boot, en die walvisse dra hom en die boot terug na veiligheid. Die vissermanne het sy pa gered, en sy walvis-vriend is weer terug. ‘n Treffende verhaal van vriendskap en moed met seetonele wat ‘n mooi agtergrond vorm.

Donaldson, Julia: Tirannosourus Sot( PROTEA, 2018). Illustrasies deur David Roberts. Rymvertaling deur Philip de Vos.

Die platbek-dinosourusse hou van water , riete en gras en waterblommetjies. In teenstelling met die vriendelike vreedsame groep is daar die tirannosorous-paar wat net wil moor en jag en oorlog maak. ‘n platbek-eier beland tussen die eiers van die moordadige groep, en toe die kleintjie uitbroei is dit tot almal se konsternasie want die een lyk vreemd met ‘n bek soos ‘n eend. Hy kry toe sommer die naam Tirannosourus Sot omdat hy net plante wil eet. Gelukkig beland hy in die water tussen sy groep en beland die nare klomp in die see. “ En op die wal sing eendbek-D’s- Daai T’s was naar en vrot en nou roe pons hiep=hiep –hoera vir Dinosourus  Sot!”

Verhale oor dinosourusse bly altyd gewild by kleintjies, en met Philip de Vos se vrolike beryming en Roberts se oorspronklike groep gediertes behoort die boek groot byval te vind.

Donaldson, Julia: Amok op ‘n besemstok( PROTEA, 2018) Illustrasies deur Axel Scheffler.

Daar is amok op die besemstok as die heksie se gepunte hoed deur die wind weggewaai word. Gelukkig red ‘n hond die hoed, en hy word genooi om by die heks en haar kat aan te sluit.Hierna word haar strik weggewaai, en opgeteldie ‘n voël wat nou ook by die groep aansluit. Haar towerstaf word deur ‘n padda gered. Ongelukkig breek die besem, en haar metgeselle beland in ‘n modderige moeras. Toe ‘n draak haar wil verslind, verskyn die aardige monster uit die moeras wat die draak wegjaag. Die dankbare heksie stook ‘n potjie en uit die pot verrys ‘n wonderbesemstok! “Met skittermooi stoele vir die heks, kat en hond, ‘n nes vir die voël en vir padda ‘n stort”.

Die skeppers van dei gewilde Goorgomgaai betower weereens met die prettige avontuur met die aller-vrolikste illustrasies, reg in die smaak van menige kind.  

Goes, Peter: Tydlyn- ‘n reis deur die geskiedenis( PROTEA, 2018)Uit Nederlands vertaal deur Zandra Bezuidenhout.

‘n Asemberowende ontdekkingsreis deur die geskiedenis, absoluut uniek en met groot sorg ontwerp in ‘n groot-formaat boek wat 16 uitgawes in België gehad het en in verskeie tale vertaal is.

Daar is geweldig baie detail in die illustrasies en kinders kom voor ‘n uitdaging te staan wat hulle sal boei as hulle tyd spandeer om elke fase in die wêreldgeskiedenis deeglik na te  speur en die fyn druk te lees wat die spesifieke fase verduidelik.

Die verhaal begin met die begin van lewe, gevolg deur die dinosourusse, die eerste mense, eerste nedersettings, Mesopotamië, Antieke Egipte, Antieke Griekeland, Die Kelte, Romeinse Ryk tot en met ruimtevaart en uiteindelik die 2010’s.

Daar is geen indeks of bladsyverwysings nie; die leser word weggevoer deur die geskiedenis deur te blaai en te lees wat volg op die vorige tydperk.

Die boek sal spreek tot lesers wat op soek is na ‘n oorspronklike talent en unieke uitbeelding, en volwassenes behoort die boek tot tuisversamelings te voeg omdat dit ‘n spesiale tuiste verdien. ‘n Prag-aanbieding.   

Palmer, Jose en Reinette: Leer my lees reeks Vlak 4 Boeke 1-10( LAPA, 2018) Illustreerder Zinelda McDonald.

In hierdie nuttige reeks het reeds Vlakke 1-3 verskyn, elk met 10 boekies. Tippie die olifant is die hoofkarakter wat sy avonture deel met jong lesers 5+jaar. Hy maak nuwe maats, besoek die dieretuin, besoek die leeupark, die lughawe, leer om pizza te maak, hou sywurms aan, soek insekte, vang vis, verjaar , en gaan selfs ysskaats.

Die skrywers het jare se ervaring in onderwys en wil met die boeke kinders lief vir lees maak. Elke boek is gekram, net 25 bladsye en is kleurvol en kinder-vriendelik met McDonald se toeganklike illustrasies wat die boekies nog lekkerder maak. Aktiwiteite is ingesluit met ‘n woordelys, hul begrip word getoets en nuwe woorde kan gemaak word. Onderwysers sal die boeke nuttig vind in klaskamers, en ouers kan dit handig tuis gebruik.    ‘n UIters leersame reeks met ‘n hoofkaraktertjie wat in kinders se harte sal kruip.

Viljoen, Fanie:   Slym  se stories( LAPA, 2018)

In 2004 het die eerste Slym-boek in die biblioteek aangekom, en dadelik het ek besef dat dit ‘n treffer is wat werk vir 7+jariges. Nou verskyn al vier Slym-boeke in ‘n volkleur- omnibus, deur die skrywer self geillustreer. Die boeke het reeds  twee ATKV-Woordveertjies gewen.

“Daar gebeur nooit iets opwindends met wurms nie. “ So het die klein wurmpie Slym gedink. Totdat hy sowaar in ‘n paddakonsert beland!Giftand die slang betrek Slym sodat hy paddas kan vang, maar gelukkig het Slym ‘n geheime wapen om Giftand ‘n les te leer. Hy neem selfs die rol van die paddaprins in die skoolkonsert oor, en word die eerste wurm wat in ‘n paddaskool toegelaat word.  En dit is maar net die eerste verhaal in hierdie omnibus!

Die boek hanteer lekker, is kleurvol, die illustrasies pret en vol humor, en Slym is die oulikste wurmpie ooit.  Die lekker groot druk maak die boek nog meer aantreklik en leesbaar.

Goscinny , R en Uderzo: Asterix en die groot moles ( PROTEA, 2017)  en

                                                Asterix in Helvesië(PROTEA, 2017)

Aanhangers van die Asterix boeke sal verheug wees om twee nuwe titels te sien , en bibliotekaresse verwelkom twee toevoegings tot ‘n reeks wat deur al die jare van die gewildste boeke in die kinderafdelings bly.Albert Uderzo se illustrasies uit hierdie geskiedkundige tydperk is onverbeterlik.

Lona Gericke Feb/2018