Tuesday, August 1, 2017

'n Mengelmoes van kinder-en jeugboeke


‘n Potpourrie van Afrikaanse kinder-en jeugboeke:

Krahtz, Karin: Elton die verskriklike April verloor dit!( Tafelberg, 2017)

Elton amper famous April en juffrou Brom (2015) was ‘n heerlike reguit op die man af verhaal wat beïndruk het met ‘n geloofbare karakter sonder pretensies wat so dadelik in jou hart gekruip het. Verblydend is die verskyning van ‘n tweede April storie, en weereens is die verhaal net so ‘n lekkerte om te lees!

Hy en sy ma bly nou in ‘n ouetehuis Groendakkies,  waar sy verpleegster is, en Elton is maar te bly om ‘n dak oor sy kop te hê, ‘n vol maag en nogal ‘n paar vriendelike tannies wat lekker port kan drink. Skool is ‘n uitdaging, want as ‘n groentjie word hy misbruik deur twee boelies, beland eers in die verkeerde klas- Mechanics – terwyl hy eintlik hoort by kunsklasse en sy musiektalent moet kan uitleef. Gelukkig is daar die noodhulp kursus saam met die pragtige Roxy in die biblioteek-‘n veilige plek om vir Popeye weg te kruip- “want die word bibbeljoeteek is beslis nie in sy woordeskat nie”.

Elton bly kwaad, en word gestuur na die sielkundige tannie Kameel wat hom aanmoedig om sy gevoelens uit hom te teken… maar help dit regtig? Want hy moet alweer “cover” vir sy ma wat laat huistoe kom, en Elton is oortuig die Samajoor in die tehuis is sy ma se nuwe kêrel.  Maar niks erger kan wees as die nuus dat sy ma weer ‘n baba verwag nie! Sê Elton: “ Die lewe skuiyt op my soos ‘n onmanierlike duif”.

“Ek is  ver verby gatvol.En nou weet ek gatvol is baie gevaarliker as woede, want as jy woedend is, gee jy nog om”.

Hierdie joernaal met Elton aan die woord loop oor van treffende opmerkings wat aan Elton  se gevoelens gestalte gee. ‘n Verhaal wat jou bybly, wat weer gelees wil wees, en ‘n plek verdien in biblioteek, skool en tuisversamelings.

Engelbrecht, Nelia: Die Poort-krygers( Tafelberg, 2017)

Hierdie is die vierde en finale titel in die POORT-reeks- bewakers, reisigers en helers, en nou krygers. Kali van Gala en die ander nuweling-bewakers van Bospoort  het die geleentheid om hul Kragte en Magte te oefen, maar swak beheer hiervan laat hulle beland in Ierland in ‘n kasteel wat dien as ‘n beheersentrum wat al die Poorte op aarde monitor.

 

Die stryd duur voort tussen die bewaarders en die Ander: Chanda –Mundia en sy volgelinge wat hul gedurig opponeer. Dan is daar ook die interessante verhouding tussen die drie- Kali , Zak en Leonardo- watter jongman gaan uiteindelik haar hart volkome verower, of is dit nie moontlik nie?

‘n Aksie-belaaide verhaal waar die bewakers uiteindelik tog die mense van Bospoort moet verdedig teen die Ander wat in beheer van die Poort wil wees.

Lesers wat die vorige drie boeke gelees het sal hierdie finale hoofstuk in die saga baie geniet.  Pragtige treffende omslae.     

Webb, Holly: Lana en Rakker-vakansie by die see( LAPA, 2017)

Die 5de titel in ‘n prettige reeks met Lana en haar onnutsige hondjie Rakker as die hoofkarakters. ‘n Vakansie by haar Oupa en Ouma by die see is dit die geleentheid vir Rakker om met seewater kennis te maak, en Lana se ouma te irriteer met sy stoutighede. Maar toe hy wegloop en hulle hom moet soek, vermurwe selfs Ouma se hart.

Onskuldige ligte leesstof vir kinders wat al ‘n eenvoudige teks kan bemeester, en hou van ‘n storie met ‘n gewone gesin wat vakansie hou by die see.

Webb, Holly: Lana en Rakker –Rakker se prettige Kersfees( LAPA, 2017)

In die sesde boek in die reeks kry die twee die geleentheid om te help met die diereskuiling Vierpotige Vriende se Kersfeesfunksie in Julie om fondse in te samel.

Lana is dadelik baie entoesiasties en betrek ook ander maats by ‘n vertoning van kersliedere. Sy oortuig selfs haar ouers om vir hul huis ‘n reuse kersfeesboom te koop. Rakker besef hy sal nie sy been teen hierdie boom kan lig nie! Elkeen van die kinders trek vir hulle honde oulike kersfees-uitrustings aan- Rakker is tog te oulik met sy hoed, maar ‘n bietjie van ‘n verleentheid toe hy saam met die koor begin “sing”.

Ligte leesstof met ‘n rakker van ‘n hondjie wat gedurig nuwe stoutighede aanvang.

Smit, Louise: Haasdas se nuuskas-episode 3( H&R, 2017) Illustrasies deur Vian Oelofsen.

Die dag vir die sportbyeenkoms breek aan . Groot opgewondenheid heers in Diereland om die wedloop tussen Hasie Kwassie en Skillie Skilpad te sien.

Hasie is vol selfvertroue dat hy gaan wen:”Met my Spoetnieke( sy wegholskoene) hol ek sonder brieke”. Hy neem net deel om vir eens en altyd die storie dat skilpad haas gewen het, stop te sit. Sal hy dit regkry? Of is daar diere wat ‘n stokkie voor sy grootmond uitsprake gaan steek?

Vian Oelofsen se illustrasies lewer ‘ngroot bydrae tot die aantreklikheid van die boek: Piet Muis met sy groen strikdas en geel broekie, die twee skilpaaie met die rooi pette; die maer hasie met sy ontwerperskoene; die wildebees en oupa Dassie  elk met ‘n Veldnuus koerant; en daardie bloedrooi tv waarna die diertjies met soveel konsentrasie kyk om uit te vind wie nou regtig die wedstryd gewen het! Om nie te praat van die imposante koning Leeu en die pikswartmoeder Raaf se gesprek om ‘n oplossing te vind vir die kleintjies wat blootgestel word aan die ou afgetrede diere se stories sodat daar geen stilte meer is nie.

Baie vermaaklik en ironies.

Bertish, Greg: The little optimist( The little optimist trust) 2017 Illustrations by Chip Snaddon. An Afrikaans edition will come.

The author is a South African champion lifesaver achieved as a multiplecardiac surgery survivor, and ambassador for the Children’s Hospital Trust.  In 22016 he sailed a children’s optimist dinghy around the Cape of Storms. The beautiful Langebaan lagoon was the final destination, and the setting for his story about the little yacht – an Optimist –the smallest of all yachts. But this yacht compensated for his size by having the biggest heart you can imagine. He would say to himself:” I may be slow and I may be small. Mysail is square and I’m not tall. But I am special and I have a heart.My dreams are big and this is just the start”.

In a brave rescue attempt he safes an old Houseboat which was in trouble far out in the dangerous waters, something none of the other bigger boats would attempt.

A charming story with tremendous appeal in its sincerity , a lesson in courage and  to trust one’s own abilities.  www.thelittleoptimist.org.

Davies, Benji: Oupa se eiland( PROTEA, 2017) Vertaler: Carmen Hansen-Kruger. R150

Simon se Oupa woon aan die onderpunt van hulle tuin in ‘n huis. Hy besoek sy Oupa gereeld. Op ‘n dag kry hy sy Oupa op ‘n ongewone plek- op die solder waar hy agter ‘n laken’n groot metaaldeur laat verskyn en Simon nooi om saam met hom op ‘n bootreis te vaar na ‘n pragtige tropiese eiland . Hulleherstel’n vervalle huisie op die eiland, en Simon dink dit is die beste plek ooit. Hy weet egter dat hulle sal moet truggaan, maarsy Oupa vertel hom dat hy daar gaan agterbly. Toe hy na sy tuiskoms weer ‘n draai by oupa se huis gaan maak is Oupa nie meer daar nie. ‘n Voël bring aanhom’n koevert met ‘n foto van glimlaggende Oupa op die eiland omring deur tropiese voëls en diere.

Keurig versorg soos kenmerkend van PROTEA se kinderboeke -die tropiese eiland is aanloklik met die welige plantegroei en  diere.

Die boek word bemark as ‘n verhaal wat “‘n mooi maar hartseer storie op ‘n avontuurlustige manier vertel hoe kinders’n geliefde grootouer groet, hetsy dit vir altyd of tydelik is”. Ek dink nie hierdie voorstelling van die dood en afskeid gaan in alle ouers  se smaak val nie; dink na oor hoe dit met kinders gebruik gaan word.

Punt-Fouché, Louisa: Skaarser-as-skaarste Oewerkonyn van die Karoo( Christel Foord, 2017).

‘n Sterk poëtiese ontroerende teks stel die leser bekend aandie Oewerkonyn, ‘n bedreigde soogdier waarvan daar vandag na beraming net 250 pare oor is volgens die skrywer.  Feite oor die dier se eetgewoontes en bedreigde habitat word verweef in ‘n teks wat sing en dans:”Die bossies wat ons eet, rivierdraaibos, gannabos, bierbos, inkbos en skaapbos, word daarom al hoe skaarser”.

‘n Pragtige gedig word aan die Oewerkonyn opgedra, hiervan ‘n uitreksel:

“jou ore so lank jou voete so sag

Jy verstaan die fluisteringe van die donkerste nag”…..  ‘n Ongewone boek deur ‘n kunstenaar se hand –‘n mengelmoes van kleure, letters en sterk gevoel.

Rousseau, Leon:  Ek leer van kleure; Ek leer die ABC; Ek leer tel( H&R, 2017) Illustrasies deur Karen Ahlschläger en Johann Strauss.

Drie individuele boeke in sagteband wat voorskoolse kinders help met getalle, om letters te kan identifiseer, en kleure waar te neem.

In Ek leer van kleure is dit gewoonlik oulike muise wat elke individuele kleur voorstel en dienaam van die kleur telkens herhaal. Dan word die rëenboog se kleure aangedui, en op die finale twee bladsye is daar ‘n dorpstoneel kompleet met ‘n treintjie wat kinders uitnooi om te noem watter kleure hulle hier raaksien.

In Ek leer die ABC kan kinders deur herhaling ook die letters van die ABC leer identifiseer met klanke daarby om te help met die uitspraak. ‘n Prettige Appeltert-alfabet word gebruikas objek om die kind tot by die letter z te neem. Heel oorspronklik!

In Ek leer tel is die muiskaraktertjies weer hard aan die werk om kinders se tellery verleidelik mooi te illustreer.

Hierdie is baie aantreklike boeke en behoort goed ontvang te word deur volgelinge van die Storiemuis-reeks.                                      

 

 

 

Friday, July 28, 2017

Lekker boeke vir 9jariges plus!


 

Jacobs, Jaco: Zackie Mostert en die super stinkbom( LAPA, 2017) R85

Die 13de titel in hierdie gewilde reeks stel weereens nie teleur nie! Zackie en Vincent sluit by die skoolkoor aan omdat hulle op die lekker koorkamp wil gaan, net om te hoor dat die rugbykamp dieselfde tyd plaasvind. Anton die skoolboelie begin sommer dadelik spot met Zackie Mozart, maar sy nuwe koormaats besluit ‘n stinkbom is net die regte ding om Anton stil te kry. Maar dit is juis Anton se sangstem wat hom self in die koor laat beland- die grootste straf ooit! Vir hierdie boelie.

Jacobs, Jaco: Zackie Mostert en die slim speurder( LAPA, 2017) R85

Zackie word verkies tot kaptein van die krieketspan, wat Anton dadelik laat besluit hy moet wraak neem . Toe Jenny Jay by die skool optree, verdwyn haar kosbare halssnoer, en Anton probeer Vincent van die diefstal beskuldig. Maar Zackie hou sy lyf speurder, en die verlore halssnoer word op ‘n spesiale plekkie opgespoor.

Ligte leesstof vir Zackie se aanhangers met net die regte balans van humor en ‘n onderhoudende storielyn.

Roux, Lize: Stalmaats 19- Pretrit( LAPA, 2017) R100

Anri en haar twee vriendinne is opgewonde oor die skoolvakansie wanneer hulle rylesse en ‘n Paaseier-soektog vir die kinders van die Peace Shelter gaan reel. Nadine, haar beste vriendin van die vorige ryskool kom kuier, maar dit is baie duidelik dat sy gladnie by die lesse betrokke wil raak nie. Anri kan dit nie verstaannie, totdat Nadine haar die rede hiervoor vertel. Dalk word dit nog ‘n heerlike pretrit!

Roux, Lize: Stalmaats 20-Perdediewe( LAPA, 2017) R100

Anri en haar gesin gaan vir die langnaweek Kaap toe waar haar broer aan die fietsryproewe gaan deelneem. Sy weet Jacques mis sy perd Thunder baie waar sy en haar vulletjie Storm ook in die Kaap is sodat Storm geopereer kan word vir sy knieë. Hulle nooi Jacques saam sodat hy sy perd kan opsoek. ‘n Perde diefstal vind plaas, en die jongmense probeer die skuldiges vastrek.

‘n Opwindende  storie met onverwagse wendings. Die Stalmaats aanhangers sal lekker kan lees.

Jacobs, Jaco: SKWIEK( LAPA, 2017) R100.

Nathan hou nie van Dinsdae nie . Maar vreemde dinge kan op ‘n Dinsdag gebeur- soos ‘n boks wat vir hom afgelwer word met ‘n hamster as geskenk. Charlie sy vriend kom kuier, en hy word deur die hamster gehipnotiseer. So leer Nathan dat die hamster net kaaskrulle eet, terwyl Charlie niks onthou van die situasie nie. Nathan het nou hope pret met die hamster wat sy sussie en ander kinders hipnotiseer. Toe belangrike inligting van sy ma se rekenaar verdwyn, vind hy uit waarom SKWIEK daar is, en nog ‘n groter verassing oor sy ma se werklike beroep. Die skurk Basil Beyers wil die wêreld oorneem met sy uitvindsel. Gaan hy daarin slaag? , of sal hy op sy plek gesit word…

‘n Heel oorspronklike tema met hope aksie en verassings om jong lesers te vermaak. 

Steyn, Sanri: Die vampiere van Vlermuishoogte( LAPA, 2017) R100. Illustrasies deur Johann Strauss.

Hierdie is die sewende titel in ‘n gewilde reeks met Sanri Steyn as hoofkarakter.. Sy wil ‘n wêreldberoemde joernalis word, en het haar eie koerant , die Raaiselfontein Gazette begin.  

Sal die koms van Markus se neef en sy ouers en hul nuwe tuiste die indrukwekkende klipkasteel  op Vlermuishoogte weer sorg vir ‘n goeie storie? ‘n Besoek aan die kasteel maak dit duidelik dat sy ouers vampiere is, en wat dan van Danté wat die ewebeeld van Markus is? Is Markus nie dalk ook ‘n vampier nie?

‘n Heerlike grillerige storie wat versterk word deur Johann Strauss se verbeeldingryke illustrasies.    

 

  

Tuesday, July 25, 2017

Sewe prenteboeke duer PROTEA uitgewers


7 Prenteboeke – ‘n Fees! Vir prenteboek-liefhebbers.

Bolliger, Max: Clemens die kat ( PROTEA, 2017) R130  Illustrasies deur Obrist, Jürg.

Clemens die swart kat woon op die werf saam met ‘n hen, koei, varkie, bok, skaap en ‘n konyn. Soos ander katte hou hy darvan om in die veld rond te hartloop of in die son te lê en bak. Die diere prys sy mooi voorkoms, net konyn wens hy was so vry soos Clemens.

Al die komplimente gaan mettertyd na sy kop, en hy pronk al meer. Toe sy bewonderaars hom klere aantrek, vlieg selfs die swaeltjies verskrik weg!  Dit laat Clemens tot sy sinne kom, en hy word weer die swart kat wat deur die veld hardloop en  voëls bekruip.

Kleurvolle groot illustrasies wat die bladsye vul, saam met heerlilke humor en ‘n gesonde lewensles laat hierdie puik versorgde boek lee fen ‘n lekker leeservaring maak.

Bouchard, André: Ernst, meester van die wêreld( PROTEA, 2017) R150 

Ernst die kiem is piep-klein en afstootlik. Professor Pluk doen biologiese navorsing. Toe hy na ‘n luis op die kop van ‘n reuseponie soek, verskyn Ernst onder sy mikroskoop.  Maar Ernst spring op sy lyf en neem die Professor se brein oor. Hy laat hom alles doen wat hy vra, gewoonlik aaklige goed soos om himself as Rooikappie te vermom en in die arena met ‘n gevaarlike bul te spring. Pluk word Mars toe gestuur om al die marsmannetjies rooi te verf, en Ernst keer terug aarde toe as n bedreiging vir almal. As jy ‘n blou kat sien wat besig is om te bad…. O aarde!

Aweregse humor , verbeeldingryk en hoogs vermaaklik veral vir ouer kinders wat die komiese situasies sal geniet.

Bouchard, André: Wolf! Wolf! ( PROTEA, 2017) R150

‘n Groot swart wolf staan by die bed van ‘n slapende meisie en wil hê sy moet wakker word, maar hy kry teestand van haar nagmerrie wat onder die bed woon en weer haar slegs kan bangmaak as sy slaap. Wolf slluk nagmerrie in, en haar Ouma se nagmerrie kom om hom te help. Altwee word doodmoeg, en die dogtertjie klim uit die bed en gaan haal haar Ouma om die twee ‘n les te leer. En watter onaangename les leer ou wolf toe!

Alreeds laat die omslag met die aaklige wolf gesig jou nuuskierig maak oor die inhoud van die boek. ‘n Baie slim manier om kinders gerus te stel oor nagmerries , veral as hulle in hierdie gedaantes verskyn.

Davies, Benji: Die stormwalvis( PROTEA, 2017)R150.

Die oorspronklike The Storm Whale het vele pryse gewen, en die Nederlandse vertaling is aangewys as die kinderboek van 2017.

Noi is ‘n seun wat meestal alleen by die huis bly terwyl sy pa as visserman werk. Na ‘n stormagtige nag ontdek Noi ‘n klein walvis wat op die strand uitgespoel het. Hy neem die walvis huistoe en probeer om hom tuis te laat voel; vertel selfs stories en probeer hom wegsteek vir sy pa. Maar sy pa weet die walvis moet teruggeneem word see toe.  Noi mis sy vriend,maar hy hoop om hom weer eendag te sien.

Die eenvoud van die omgewing word treffend deur Davies geteken, en skep die regte milieu vir ‘n storie wat ook tref juis oor die eenvoud en opregte gevoel van die eensame kind. ‘n Mooi aanbieding. Ek het net die ses katte gemis in die eerste illustrasie! 

Donaldson, Julia: Die Voëlverskrikkertroue( PTOTEA, 2017) R150. Illustrasies deur Axel Scheffler. In Afrikaans vertaal deur Philip de Vos.

6 Titels deur die skrywer is reeds beskikbaar by PROTEA.

Met sy gebruiklike gawe om ‘n teks in rym lewe te gee vermaak de Vos weer met die verhaal kinders met ‘n heerlike snaakse teks . Bettie van Riet en ou Stokkies van Graan “die eenwas van hawer, die ander van strooi; die een nes die ander en albei was mooi”.

Stokkies besluit hulle twee moet trou, en die voorbereidings vir die huwelik begin – hul lysie bevat vere, skulpe, blomme, twee ringe en twee klokke! Die diere is baie behulpsaam, maar toe Stokkies water gaan soek op padda se aanbeveling en deur stadige slakkie ook langer wegbly van sy toekomstige bruid,probeer Albertus haar oorreed fom eerder met hom te trou. Gelukkig laat hy sy sigaar val, en Stokkies red die situasie met water en blomme.

“En so was die troudag vanStokkies en Bettie-met lag, en met dans en met hope konfetti”.  ‘n Lawwe, vrolike lewendige verhaal.

Donaldson, Julia: Zok en die vlieënde dokters( PROTEA, 2017) Illustrasies deur Axel Scheffler. Afrikaans deur Philip de Vos.

‘n Ridder Boudewijn en ‘n prinses Mynie is vlieënde dokters wat kwale regmaak met Zok die dapper draak as hul vervoermiddel.Hul hulp aan ‘n meermin wat verbrand het , ‘n eenhoring wat sukkel met ‘n ekstra horing, en ‘n grieperige leeu, kom toe handig te pas toe Mynie se oom siek word en die dokters nie raad het vir sy oranjebruin gesig nie! Hy erken nou dat Mynie nie ‘n prinses wil wees met ‘n kroontjie en borduurwerk nie, maar dat sy ‘n regtige dokter is en so baie kan beteken.

Weereens is Philip de Vos in die kol met sy prettige vertaling, en kan lesertjies die draak en twee dokters se avonture geniet.

Freedman, Claire en Hindley, Kate: Paul en Vlekkie( PROTEA, 2017) R150.Vertaler Kristèl de Weerd.

Die seuntjie Paul mis sy vriende nadat hy na die groot stad moes trek. Skielik sien hy een oggend in die rëen iets raak”so helder soos ‘n papawer in ‘n koringland”: ‘n kelin papnat hondjie met ‘n rooi leiband wat lyk asof hy verdwaal het. Paul wil hom nie alleen los nie, en h yen Vlekkie begin die stad verken en Paul is vir die eerste keer gelukkig van hy in die stad woon. Maar wanneer dit skemer word, word Vlekkie altyd hartseer en tuur na buite waar sy regte huis moet wees. Paul weet hy moet sy eienaar prober opspoor. Aanfanklik is daar geen reaksie nie, totdat hulle een oggend gaan stap en Vlekkie afstorm op ‘n meisie wat eensaam op ‘n swaai sit- sy regte eienaar! Rosa is tog te bly om haar hondjie terug te kry, maar sy nooi dadelik Paul om saam met hulle te loop sodat Paul besef hy het nog ‘n vriend bygekry.

‘n Mooi storie waarmee elke diereliefhebber sal identifiseer, veral waar jy gedurig hoor van diere wat vermis word en hartseer eienaars agter laat.

Die illustrasies dra by tot die bekoring van die boek- fyn tekeninge van ‘n klein seuntjie en baldadige hond ; kleure word subtiel aangewend en daar is ‘n goeie balans tussen teks en illustrasies. Die hondjie se rooi nekbandjie is altyd sigbaar .

Friday, June 23, 2017

Pasop vir die tande-terroris!


Walliams, David: Die tande-terroris( PROTEA, 2017)Illustrasies deur Tony Ross .

Ses titels deur Walliams het al sedert 2015 by PROTEA  verskyn, en elke boek is met groot genoegdoening gelees. Die Tande-terroris is geen uitsondering nie-“dit is ‘n gruwelike storie met baie opgemaakte woorde!”

Stel jou voor: vreemde goed gebeur in die nag in hierdie dorp- die tande wat kinders onder hul kussings los vir die tandfeetjie word deur aaklikge goeters soos dooie slakke en spinnekoppe vervang. Toe ‘n nuwe tandarts Dr. Payne haar verskyning maak word Alfie gou een van haar slagoffers- hy het ‘n mondvol slegte tande na ‘n pynlike ondervinding met ‘n vorige tandarts, maar niks het hom voorberei vir waartoe Dr. Payne in staat is nie!  Hy is nou gedetermineerd om uit te vind wie die booswig is wat die kinders so treiter, en Raj die winkelier skenk sy tand vir die proefneming. Alfie moet ook nog die nuuskierige maatskaplike werker Winnie en sy siek pa en Gabz , sy vriendin hanteer. Dit word letterlik’n heksejag en baie gevaarlik vir Gabz en Alfie.

Walliams se vrugbare skeppende verbeelding en fyn humorsin stel weer nie teleur nie! Alfie se ondervinding in Dr. Payne se stoel sal menige leser nagmerries gee- en groot dankbaarheid dat sy net in hierdie storie lewendig word.  ‘n Grillerige vreesaanjaende leeservaring soos min. 

     

Thursday, June 15, 2017

Van Apies na 'n rooikop en handgranaat...


Haden, Rosamund: Die apies se  dieretrein( Tafelberg, 2017) Illustrasies deur Tony Pinchuck

“Die apies nooi elke enkele dier na hulle pretpark met plesier…die tjoe-tjoetrein sal almal aflaai by Hotel Aa-Aai in Kokosneutbaai.”

So begin ‘n onvergeetlike prettige reis vir al die diere, geroep deur die opgewonde Olifant. Gou is elke wa tjok en blok vol; en as die dieretrein op die stasie stop, storm die hele spul na die hotel waar oneindig baie plesier op hul wag.

Tony Pinchuck se illustrasies komplementeer die teks in rym met diere wat elkeen geïdentifiseer kan word, getrou aan die spesifieke dier se voorkoms. Elkeen van die treinwaens gee hy ‘n eie identiteit met verskillende versierings getooi. Daar is soveel detail , beweging en kleur dat ek net kan sien hoe kinders hul gaan vergaap aan die pragtige diere , die oulike kleurvolle trein en uiteindelik saam met die diere al die lekker pret en plesier by die hotel gaan geniet!  Die skutblaaie met die ry bome elk met ‘n apie op sy stam is treffend en duidelik is hierdie  ‘n illustreerder met ‘n agtergrond in argitektuur. Die bladsye is gevul met detail, maar ‘n balans word deurgaans gehandhaaf tusssen die verkillende elemente.  Hoogs aanbeveel. Baie spesiaal.

Ferreira, Annelie:  Die rooikop, dieleeu en die handgranaat( LAPA, 2017)

Annelie Ferreira het reeds twee keer die Sanlamprys verower vir haar jeugboeke, asook die M.E.R prys vir Tot siens, koning Arthur.

Adele haar hoofkarakter, is ‘n tiener met 3 belangrike vrae- Kan ‘n meisie soos sy ‘n heldin wees?; Wanneer verander die lewe die meeste? Gedurende bloedige oomblikke, of deur kuns en skoonheid? En dan nog ‘n moeiliker vraag: waar het die leeu vandaan gekom?!

Saam met haar twee beste vriende Li en Ruan  neem sy deel aan die gewone skoolaktiwiteite, maar ook leer die leser hul huislike omstandighede ken wat verskil waar Li van Sjinese afkoms is en Ruan gay. Adele se ma is een van die snoepie-tannies by die skool.  Haar kunsonderwyseres hou skielik nie meer van haar kuns-pogings nie; en dan is daar die reuse leeu wat sy in hul tuin gesien het en volgens die res ’n blote verbeeldingsvlug was.  

Haar boetie Hendrie wil met alle mag ‘n ontdekkingsreisiger word; Li is ongemaklik met Hank die ou wat by haar broer Yan kuier en haar gedurig agtervolg.

Die verhaal beweeg sommer vanaf die afskop teen ‘n vinnige tempo,en jy as leser moet uithaal om by te hou!

 Adele  kry ‘n antwoord op al haar vrae-  meestal lekker antwoorde,  maar lekker wat voorafgegaan is deur ‘n erg traumatiese ervaring. Soos sy tereg opmerk:

“Miskien verander die lewe op die ou end nie die meeste in bloedige oomblikke of deur kuns en skoonheid nie, maar deur dapperheid. En die dapperste ding kan dalk wees om te glo jy maak saak . En dat jy die moeite werd is om liefgehê te word”.

‘n Gemaklike skryfstyl, daar is soms oorspronklike raak opmerkings deur die karakters wat elkeen geloofbaar is as tipiese tieners ; sy skryf met  humor en verskaf ook ‘n element van spanning wat goed gehandhaaf word, gevolg deur ‘n verassende  ontplooiing aan die einde. Vir my is dit nie heeltemaal so goed soos die vorige twee jeugverhale nie; die onsekerheid oor die bestaan van die leeu in die tuin word nie sterk genoeg deur die verloop van die verhaal gedra nie. Want natuurlik wil jy die hele tyd weet en wonder was daar regtig’n leeu?, en hierdie vraag vervaag  ‘n bietjie teenoor ander gebeure. Tog is dit ’n lekker ligte vinnig-bewegende leeservaring met genoeg interessante kinkels om Ferreira se lesers te boei.

 

Thursday, May 25, 2017

'n Maanlig-meermin in die Karoo


Goosen, Troula: Maanlig-meermin(  Tafelberg, 2017) R140

Kate se pa besluit onverwags na hy ‘n brief ontvang om hul vakansie in Durban te kanselleer en na sy geboorteplaas in die Karoo, Kaimanskuil te gaan. Amber vergesel Kate, en sommer met die aankoms op die plaas lyk dinge spookagtig en onheilspellend: Ant Jannetjie ontvang hulle baie onvriendelik en waarsku haar pa dat hulle nie moet bly nie; Donovan is die plaasseun wat die Saksofoon so mooi bespeel; die pragtige Sirene woon ook in die huis; die buurplaas is die tuiste van die seun Herman en sy ma. Daar is ook verwysings na ‘n Karoomeermin, Nyah teen wie sy  gewaarsku word.

Die verhaal ontwikkel in intriges tussen die paar jongmense; Kate wat bonatuurlike ervarings het; soektogte en verdwynings en  ‘n testament wat die ou man iewers versteek het…  wie was Kate se ma?  Waarom is die waterval in die Kloof so belangrik? Gaan Kate oorleef of ingetrek word by die meermin se behoeftes?

Ligte leesstof met ‘n verbeeldingryke mengsel van avontuur, fantasie, ‘n moontlike liefdesintrige en skrikwekkende ervari ngs.  Die boek hardloop met ‘n gallop tot die einde! Troula Goosen het defnitief ‘n baie vrugbare verbeelding, maar nie noodwendig ‘n sterk literêre inslag nie.

Smit, Louise: Haas Das se nuuskas( H&R, 2017) R140 Illustrasies deur Vian Oelofsen.

Haas Das se Nuuskas maak ‘n belangrike deel van elke dier in Diereland se lewe uit- om ses uur is dit hul geleentheid om te sien wat alles in Diereland gebeur.

Koning Leeu bespreek die nuus met Haas Das en vertel van sy samesprekings met verskillende diere- Grootoom Flapoor Olifant, oupa Dassie en Bulletjie Wildebees het elkeen ‘n klagte waarna die koning moet luister: grotendeels gaan dit hier om oud word en min waardering vir hulle wat altyd die ander diere beskerm het, en hulle moet nie onnodig skrikgemaak word nie.

Meggie Mossie kry gedurig Piet-my-vrou se kleintjies in haar nes om te help grootmaak, en al wat Moeder Raaf doen is om haar te kritiseer. Piet Muis doen die weerverslag, en vir sportnuus is daar hasie Kwassie wat aan n marathon oorsee gaan deelneem.

Hierdie is die eerste titel in ‘n nuwe reeks wat ideaal is vir kinders wat  self begin lees of vir voorlees.

Vian Oelofsen se illustrasies is oorspronklik, lewendig, vol humor en maak die hele boek toeganklik en lekker om te lees. Die diere se gesigsuitdrukkings spreek boekdele; Koning Leeu is deurgaans ‘n groot teenwoordigheid; en Haas Das met sy helderblou das met ‘n silwer ster daarop lyk absoluut die outoriteit as nuusleser!     ‘n Baie aantreklike boek.   

    

Monday, May 15, 2017

Mooi , mooi en mooier boeke!


Nolte, Noreen: Om te dans ( LAPA, 2017)

Dit is so lekker om n debuut roman vir tieners te lees, en opgewonde te word oor die skrywer – sy het ‘n goed gebalanseerde boek geskryf waar ‘n mooi balans gehou word tussen Lisa se huislike dramas, die nuwe skool en nuwe uitdagings waar sy begin swem en aanfanklik ook nie weer ballet wil doen nie,vir redes wat later duidelik word. Veral mooi is die verfrissende verhouding met haar Ouma ; laasgenoemde se lewensfilosofie is  dat probleme verdwyn as jy doelgerig en dapper daarna kyk. Om nie te praat van die vriendskap wat ontwikkel tussen haar en die droomseun Jaco nie! Soos in alle tiener /skool situasies is daar die gebruiklike jaloerse mooi meisie wat Lisa probeer benadeel met ‘n onwaar skinderstorie; die getroue vriendinne wat haar bystaan; die uitdagings van skoolwerk , swem en ballet oefen, en geleenthede om te presteer op ‘n gekose gebied.

Lisa verteenwoordig sovele jongmense wat probeer vrede maak met ‘n verbrokkelde huislike omstandighede ; onverwagse siektes of ontrouheid in ‘n huwelik, aanpassing by ‘n nuwe skool en of nuwe omstandighede… die skrywer moet erkenning kry vir ‘n baie oortuigende storie waar dramatiese gebeure  nooit mooi oomblikke en verhoudings vertroebel nie. 

Die verhaal lees lekker en behoort aanklank by jong tieners te vind. Daar is altyd plek vir lekker ontvlugting en ‘n tikkie romanse in elkeen se lewe! Noreen Nolte kan gerus weer skryf!

Ferreira, Henry en Ackermann, Alistair: Cowboy Koekemoer van die Klein Karoo en die petrol padda( LAPA, 2017)

Die vorige twee titels in die reeks het ATKV- Kinderboektoekennings verower, en was soos ‘n fris briesie in die genre vir jong lesers 7+.  Want Cowboy Koekemoer en sy getroue kameelperd Shorty  leef rustig in die Karoo en geniet hul avonture saam; en daar is altyd ‘n geleentheid om nog ‘n vreemde ervaring te beleef. In hierdie verhaal word boere se brandstof gesteel deur Piet Parasiet, en een nag word die twee gekonfronteer met twee vlammende rooi oë wat skielik die lug in skiet soos twee vuurpyle!  Nou verskyn ‘n massiewe gedaante wat lyk soos’n padda maar reusagtig is,  aan die twee maats. Dit is die begin van ‘n nuwe avontuur en die geleentheid om die petroldief te ontmasker.

As ‘n beginner leesboekie is die aanbieding ideaal- strokiesprent-agtige illustrasies vul die teks aan; die teks is ook heel oorspronklik op die bladsye geplaas om die leesproses nog aangenamer te maak. ‘n Welkome terugkeer van ‘n geliefde karaktertjie.

Hartmann, Wendy en Theron, David: Die fantastiese avonture van Theo die kat ( LAPA, 2017)

Toe die drie stories destyds gepubliseer is kan ek nog goed onthou dat veral Theo die biblioteekkat een van my gunsteling stories was. Hier verskyn ‘n omnibus met al drie stories, nuut geïllustreer deur David Theron.

Theo die biblioteekkat hou van lees. Hy boer in die biblioteek. Toe Mevrou Zuurpruim al die katte nooi om by haar in te trek, is Theo dadelik op sy hoede. Hy besef dat sy die katte gevange geneem het,en hy moet ‘n plan beraam om hulle te red. Met haar uit die pad woon al die katte indie enorme huis Kietziekatzie, behalwe Theo. Hy lees grillerige stories vir die ander katte voor, totdat hulle ontvoer word en Theo moet help. Gelukkig is Fransiena die vark byderhand om ook te help.

Die vragmotor van die Boozwig-broers verskyn in die dorp met ‘n plakkaat dat hulle sirkusdiere benodig om toertjies te doen. Die diere is natuurlik baie opgewonde oor so ‘n geleentheid, maar Theo sien ‘n versteekte plakkaat wat hom laat besef dat die broers ander planne met die diere het…

Lekker ligte leesvermaak vir beginners. David Theron se illustrasies gee ‘n baldadige aweregse kinder-vriendelike atmosfeer aan die omnibus. Bibliotekaresse kan die boek ook handig vind vir voorlees tydens biblioteek-orientasies.

Vels, Verna: Liewe Heksieen die sterretjieskombuis( H&R, 2017) Illustrasies deur Vian Oelofsen.

Teen ‘n pers agtergrond op die treffende voorblad verskyn Liewe Heksie end die Koningin van Feetjieland om kleuters te verwelkom na nog ‘n heerlike Liewe Heksie-avontuur. Sy en haar kat Matewis wil haar huis ook verf ter ere van die Koningin van Feëland se besoek- selfs die silwer Roos word blinkgevryf. Maar toe Heksie die swaar klip van haar huis se dak afstoot, waai die dak weg. Daardie aand geniet sy dit om na die sterre te kyk deur die gat in die dak. ‘n Feëtjie daag op as ‘n onverwagse gas en sy geniet die sterrehemel saam met hulle. Tot haar verbasing ontdek sy by die paleis dat dit sowaar die Feëkoningin is wat haar gas was. Heksie kry ‘n nuwe dak van glas, en sy is seker sy is die enigste heksie met ‘n “sterretjieskombuis”.

Pragtige illustrasies deur Oelofsen maak die boek’n lus vir die oog! Die wasige vlerkies van die Feëkoningin is so mooi! Elke kind sal net wil kyk en kyk na al die mooi in hierdie boek waar elke bladsy grensloos gevul is met sterk sprekende prente. Hoogs aanbeveel.

Smit, Louise: Bennie Boekwurm vertel lekker stories 2( H&R, 2017) Illustrasies deur Johann Strauss.

In hierdie aantreklike versameling word ingesluit  Missie Muis se verjaarsdagpartytjie, Tokka Kabouter maak grappies, Babet By hou van dans en die Hondjie met die rooi halsbandjie.

Die kinders roep altyd vir Bennie Boekwurm om uit sy tonnelhuis diep onder die grond te voorskyn te kom om vir hulle stories te lees. Hy soek altyd sy bril, maar die kinders is geduldig, wand die wag is altyd die moeite werd!

Ratte Rot moet nie weet van Missie se verjaarsdagpartytjie nie, want hy wil net vreet en vreet. Sy bak geurige kolwyntjies, en hy word nader gelok deur die reuk. Sy kry ‘n spesiale apiekoek vir haar verjaarsdag, maar Ratta Rot steel die koek. Gelukkig bring die gaste eetbare geskenke en saam skep hulle ‘n anderster lekker verjaarsdagkoek!

Tokka Kabouteris lief om grappies te maak- so doen hy die handeloop dat sy nuwe skoene nie vuil word nie, skuif tussen sy Oupa se tuinkabouters in wat te  koop is om ‘n moontlike koper skrik te maak; maak Juffrou Lollies bang met sy klei-slang; en gebruik stinkbessies om Ouma se teepartytjie meer kleur te gee.

Babet By kan maar netnie haar take as bytjie  reg doen nie- as sy nie te ver vlieg nie,dans sy te veel. Gelukkig vir haar kry die Koningin haar jammer en laat haar toe om al haar talente te gebruik- sy kan bedags nektar bymekaarmaak, en saans vir die Koningin dans en sing.

Ouma Hanna word oppad huistoe gevolg deur ‘n hondjie op straat. Hy doen die snaakste toertjies, en sy is so gelukkig dat sy nou geselskap het. Sy weet sy moet sy regte eienaars soek. Sy ontdek hy is Herkules die Wonderhond, en behoort aan sirkus Bruno Bossel.

Toe sy en die kinders daardie aand die sirkus besoek, weier hy om sy toertjies te doen, behalwe as sy of die kinders hom die toertjies laat doen. ‘n Woedende Meneer Bossel besluit toe maar die hondjie wil klaarblyklik liewer by ouma Hanna bly- hy is nou haar hondjie.

Afgesien van die oortuigende stories, maak Strauss se vrolike kleurvolle illustrasies hiervan ‘n heerlike belewenis! Die bytjies tussen die pragtige pers blomme; Babet se stout gesiggie; Ouma Hanna in haar pers rok met die hondjie wat haar so vriendelik begroet; Tokka wat so op sy hande loop met sy nuwe swart skoene, elk met ‘n klokkie op die skoen se punt; en Missie Muis so ‘n regte dametjie in teenstelling met die rot met sy sluwe gepunte gesig. Hierdie is werklik ‘n boek wat kinders sal koester.    

 

Lona Gericke 15 Mei 2017