Tuesday, February 23, 2016

Van prenteboeke tot Professor Fungus


Prenteboeke vir kleuters:

100 eerste woorde deur Cheeky Monkey Publishing( H&R, 2016) Afrikaans deur Charles Siboto

Wat is nou lekkerder vir nuuskierige kleintjies om ‘n boek te kry met loergaatjies en flappe?!

Die honderd eerste woorde is versprei deur die hardeband boek met ‘n loergaatjie en flappie op elke tweede bladsy waar kinders kan raai wat hulle deur die loergaatjie sien.

Die woorde is saamgegroepeer onder speelgoed, kos, klere, buite speel en badtyd saans.

Die plusunte van die boekie is die feit dat al die speelgoed en klere fotos van die item is; die hele aanbieding is heerlik kleurvol , die flappies se agtergrond kleure vertel waarop die woorde betrekking het, en die stewige hardeband belowe lang ure van vermaak en leer. Oulike aanbieding.

100 woorde oor diere deur Cheeky Monkey publishing( H&R, 2016) Afrikaans deur Charles Siboto

Diere bly nou maar ‘n groot gunsteling onder jong lesers, en dan is die diere hier regtige diere en sal hul leer om diere te identifiseer en ook deur die loergaatjie en flappies op te spoor. In die veld, die oerwoud, die see , in die wildernis en as troeteldiere is daar 100 items om te waardeer. Elke boek bevatdie 100 woorde op die agterbladsy in ‘n helderkleurige geel tabel.   Baie aanloklike boekies!

Wilde diere-feite en geite: kan ‘n olifant sonbrand? Deur Camilla de la Boyere met illlustrasies deur Aleksei Bitskoff. Afrikaans deur Kobus Geldenhuys.

4 stewige sagteband prenteboeke verskyn in die reeks. Die ander titels is Kan’n krokodil basketball speel?; Kan ‘n tier touloop? En Kan ‘n apie waterski? en ander vrae.

Hierdie is nou werklik 4 boeke wat veral kinders met ‘n goeie humorsin baie gaan geniet, terwyl hulle ook meer leer oor die gewoontes en eienaardighede van die spesifieke dier.

So vind ek uit dat ‘n baba olifant 10 liter melk in ‘n dag drink en die ma kan weglê aan 1400 appels! Baba olifante suig aan hul slurpe as hul snags troos soek; en een weeg soveel as 8 kinders. Hulle blyplek word op ‘n kaart aangedui, en elke boekie sluit af met ‘n poskaart deur die olifantaan ‘n mens-gesin.

Hierdie vier boeke is vanaf elke kleurvolle omslag met vrolike diere wat baljaar en hulleself geniet, en verder met elke bladsy net een groot heerlike skaterlag-ervaring. Hoogs aanbeveel.

Vir beginner lesers, 7+jariges:

Twee nuwe titels in die gewilde Professor Fungus reeks:

Professor Fungus en die diepsee-dilemma deur Jaco Jacobs met illustrasies deur Johann Strauss( LAPA, 2016)

Hierdie is die negende titel in die reeks, en weereens was ek nie teleurgesteld nie en kon die boek soos die vorige titels baie geniet.

Professor Fungus en sy vriend Igtus nooi Bennie en Jennie om hul te vergesel wanneer die nuwe spesiale duikboot V.I.S (Veeldoelige immerslewe seevaartuig) uitgetoets gaan word. Die duikboot moet die twee geleerdes help om vas te stel of daar ook ‘n Hipermegasuperdoeper Pylinkvis bestaan. So vaar hulle die dieptes in, met die robot Edison al brommende saam, want hy wil tog nie nat word nie. ‘n pylinkvis –ma laat hul boot sink, en dit is die twee kinder swat dit vir hulle moontlik maak om die eiland te verlaat waar hulle gestrand is; en Jennie het gelukkig ook die pylvis met haar selfoon op ‘n video vasgelê.

Jaco Jacobs het nou maar ‘n aanvoeling vir ‘n kind se ervaringswêreld en kan hul vermaak en nuuskierig maak om verder te lees. Johann Strauss se illustrasies bly absoluut ‘n groot vreugde en dra ongetwyfeld by tot die genot van die leeservaring.

Professor Fungus en die vreeslik gevaarlike tuinkabouters: Jaco Jacobs, met illustrasies deur Johann Strauss.( LAPA, 2016)

Die tiende titel in die reeks is weer propvol vermaak. Baie lesers sal saamstem dat daardie tuinkabouters in tuine nou nie juis die meeste mense se gunsteling tuinverfraaiers is nie; en ‘n mens kry ook soms so ‘n onheilspellende gevoel as jy een so stokstyf sien staan!

Jy was toe nie verniet ongemaklik nie, want Professor Fungus en die twee kinders ontdek in die verhaal dat tuinkabouters onskadelik mag lyk, maar pasop as Zenobia Ziervogel, Professor Fungus se grootste vyand, vanuit haar Zirkopter in die lug opdragte uitblaf aan haar onderdanige kabouter-linie wat maar te gereed is om die Professor se laboratorium te verwoes. Gelukkig is die robot Edison in staat om stemme na te boots, en so word Bennie ook gered.Die Professor se fantastiese ruk-en-rol-spaghetti eksperiment word ook ingesluit sodat energieke kinders dit kan probeer maak.

Lekker ligte vermaaklike leesstof wat beginner lesers sal aanspoor tot ‘n liefde vir boeke en lees. Johan Strauss beïndruk nogmaals met super aksie-belaaide prente.   

 

 

Wednesday, February 10, 2016

Van 'n meisie op die dak, kattemanewales tot die hasies wat wou slaap...


Steyn, Cecilia: Die meisie op die dak(  LAPA, 2016)

‘n  “Nuwe, aaklige, giggelgeel kombuis”, ‘n nuwe tuiste in een van die “goorste buurte” op die dorp. 

Estelle moet vrede maak met die feit dat haar pa wat in die tronk is omdat hy van geld verduistering aangekla is, sy en haar ma nou hier laat beland het. Dan is sy nog hoofmeisie by haar skool in die rykmansbuurt; en die matriekjaar lê voor! Stel jou net voor die geskinder van kinders wat sy sal moet verduur.

Maar die nuwe huis bring ook ‘n lekker kuier-kat  Cornelius; ‘n aantreklike donkerkop seun Aiden met ‘n voorliefde vir dak kuiertjies en skilder; toevallig toe ook die nuwe seun in haar matriek-klas. 

Hierdie is ‘n debuut jeugverhaal en “werk” want die skrywer laat geen van die struikelblokke in Estelle se lewe oorneem  nie. Haar aanslag bly lig en lesers sal ingetrek word deur die ontluikende vriendskap tussen Estelle en Aiden. ‘n Mens kry die gevoel dat Cecilia Steyn wesenlik ‘n romantikus is; sy wil liefde laat sëevier en die leeservaring lig en lekker hou.

Die pragtige omslag van die meisie op die dak is ‘n wenner en maak jou lus om die boek te lees! Welkom tot die wêreld van jeugboeke geskryf vir die genot van lees, Cecilia Steyn! Jy kan maar.

Marc de Bel: Kaskenades onder  die volmaan en  Die bal van Biljart(  PROTEA, 2016) Uit Nederlands vertaal deur Zandra Bezuidenhout.

Met Protea uitgewers se gebruiklike kwaliteit versorging van omslag, uitleg en in hardeband gebind, verskyn hierdie eerste twee titels in ‘n nuwe reeks, Robbie Ramkat.

Robbie was Kampioenkat van die Jaar, en volgens hom is hy nie vet nie, hy het net “so ietsie opgetel”! Hy sien uit na Kieta se verjaarsdagpartyjie; die enigste probleem is dat hy iets lekkers in die hande moet kry as geskenk sodat Bronko goed jaloers kan wees.

In die tweede boek, Die bal van Biljart,  moet hy en sy vriende die tennisbal waarop die superstar Bil Jart sy naam geteken het en dus uiters waardevol is , probeer opspoor en terugkry.  Hier is die beroemde sangeres Lola Lala ‘n moontlike verdagte. 

Ander karakters wat die leser ontmoet is Bamboes die Labrador vir wie Robbie baie versigtig is; Vaal-Willem van der Rot wat net weet hoe om hom uit te oorlê ; drie straatkatte en ‘n rooi afleweringswa van die Rooi Draak restaurant; ‘n “piepklein suurlemoengeel dwergpapegaaitjie; “ ‘n plek waar navorsing op diere gedoen word en waar Robbie ook die geleentheid kry om ‘n reddingspoging te doen.

Die Robbie Ramkat-lied word aan die einde van elke boek gegee; en indien die reeks gewild word, sal sy bewonderaars seker lekker wil saamsing as Robbie vertel van sy grasgroen oë en rooibruin hare en sy liefde vir die stylvolle sjarmante Kieta.

Vir beginner lesers behoort Robbie en sy vriende se avonture lekker leesgenot te verskaf.

Carl-Johan Forssén Ehrlin: Die hasie wat aan die slaap wou raak ( H&R, 2015)In Afrikaans vertaal deur Aldré Lategan.

Volgens die omslag van die boek is dit ‘n #1 internasionale blitsverkoper ; die skrywer vertel die “inhoud is gebaseer op kragtige sielkundige tegnieke vir ontspanning” en die doel is om kinders te help om makliker aan die slaap te raak by die huis, die skool of ‘n voorskoolse groepie.

Instruksies word gegee aan die verteller oor hoe om jou stem te gebruik deur beklemtoning, stadig lees of met ‘n kalm stem te lees.

Natuurlik stem ek saam dat dit duidelik is dat die skrywer se teks die tegnieke weerspieël en dui op kennis, maar persoonlik is ek baie nuuskierig om te weet hoe suksesvol dit plaaslik al gebruik is met kinders!

Jare van stories vertel aan kinders laat my dadelik soos volg reageer: 19 bladsye van teks ; ‘n paar naïwe illstrasies van ‘n grootoog hasie; ellelange teks wat gelees moet word om die kind/kinders uiteindelik aan die slaap te maak- watter ouer het hiervoor tyd?!  Ek sien al hoe die kindes dadelik belangstelling gaan verloor as ek begin met “Sommige mense raak dadelik aan die slap, terwyl ander eers ‘n rukkie vat voor hulle in droomland is, gaap – naam”.   En dan die titel : Die hasie wat aan die slaap wou raak-  die probleem gewoonlik is dat die kind nie wil slaap nie, en die ouer gebruik verskillende metodes om dit reg te kry- iets soos tone vryf; sy gunsteling storie oor en oor te lees; defnitief nie ‘n professionele publikasie geskryf vanuit ‘n sielkundige agtergrond en perspektief nie!

Nouja, sterkte aan die ouers of onderwysers wat gaan probeer met hierdie boek.

 

Lona Gericke   Februarie 2016

Thursday, December 3, 2015

Sarel seemonster, Karel Kraai en Haas Das leer die kleintjies!


Smit, Louise en Fischer, Shân: Sarel seemonster leer ons van kleure( H&R,

2015)

‘n Reeks van 4 titels in die Wielie Walie Woelwaters reeks met elkeen van die 4 titels in ‘n helder kleurvolle omslag- blou, geel, rooi en groen.

Die boekies is in hardeband gedoen, met ‘n draaiwiel waar kleure opgespoor kan word. Verskillende aktiwiteite kan gedoen word en kinders kan hulleself ‘n regmerkie in die blokkie gee as hulle dit korrek doen. Kleurvolle balonne kan verbind word met ‘n tou in dieselfde kleur; in die park word kleurvolle dinge uitgewys; ‘n stopstraat se tekens word verduidelik; en selfs hoe kleur vermeng word om ‘n ander kleur te kry word verduidelik. ‘n Rëen boog se kleure verskyn, asook kleure wat nie in die rëenboog voorkom nie. Kinders leer hoe om ‘n kleurwiel te maak en dit te gebruik. ‘n Pen is ingesluit wat weer skoongevee kan word.  Baie mooi kleurvol en behoort kleintjies besig te hou terwyl hulle leer.

Smit, Louise en Fischer Shân: Karel Kraai leer ons van syfers( H&R, 2015)

Die wiel kan gedraai word om die eiers in ‘n nes te tel. Vanaf die getal 1tot 20 kan elke getal geidentifiseer word  en die kolletjies in ‘n blokkie word verbind en die kind kan dan die getal skryf. Elke getal word weer verteenwoordig deur bv. Blomme, of kersies of skoenlappers . ‘n telspeletjie word ook ingesluit.

Smit, Louise en Fischer, Shân: Haas Das leer ons van teenoorgesteldes( H&R, 2015)

Woelwaters kan die wiel draai en na al die groot diere kyk. Met die omblaai leer hulle weer van die kleinste diere. Vinnig en stadig word dan verduidelik met die luiperd en ‘n slakkie; en lank en kort diere is verteenwoordig deur kameelperd en dassie. Nat en droog kry ‘n beurt, hard en sag en sterk en swak. Selfs op en af, bo en onder fluks en lui is nie vergeet nie. Kinders kan teenoorgestelde stomstreke speel deur teenoorgesteldes te verduidelik met gebare en aktiwiteite.

Smit, Luise en Fischer, Shân: Bennie Boekwurm leer on van vorms( H&R, 2015)

Deur die wiel te draai kan kinders ‘n fiets kies met wiele wat elk van die 6 die verskillende vorms verteenwoordig. Verder word elke vorm verduidelik met voorbeelde. Die vriendelike Bennie Boekworm is deurgaans teenwoordig as die karaktertjie wat hulle help om te leer. Laastens word hul uitgenooi om hul eie vorm-prentjie te maak, bv. soos die vuurpyl wat maan toe vertrek.

Die boeke is by die Suid Afrikaanse  storietyd karakters in die Wielie Walie Woelwaters reeks aangepas in samewerking met die Cheeky Monkey uitgewersmaatskappy in Engeland. Hierdie aktiwiteitsboeke kan ook op Facebook opgespoor word by www.facebook.com/NBJongklomp.

Vir ouers en grootouers wat kinders besig wil hou terwyl hulle sommer leer ook, is hierdie boeke net die regte ding!

Lona Gericke Oktober 2015.

 

Pragtige rympiesboek


Rympies vir Pikkies en Peuters, saamgestel deur Riana Scheepers. Suzette Kotzé-Myburgh en Gertie Smit( Tafelberg, 2015)

Met Linda Rode se In die land van Pamperlang, het Tafelberg die leserspubliek ‘n boek aangebied  wat as bundel so mooi en kosbaar is dat ‘n mens net dankbaar is vir die insig wat geopenbaar is met die keuse van skrywer en illustreerder.

Vanjaar verskyn Rympies vir Pikkies en Peuters, en weereens is dit ‘n bundel wat absoluut te pragtig vir woorde is!  Die samestellers is gesoute ervare mense, en ek is so verheug dat hulle ‘n groot leemte gevul het. As kinderbibliotekaresse het ek maar self bekende rympies in Afrikaans vertaal vir storietyd, want rympies is so uiters belangrik in die kind se ontwikkeling. Nou kan elke kinderbibliotekaress, ouers en grootouers ‘n boek bekom wat so uiters noodsaaklik en belangrik is!

Rympies is ingedeel onder die hoofde- hier is ek, ek speel, rondom my, ek raak slim, en in die natuur. Dit is oorspronklike digwerk deur verskeie digters wat bydraes gelewer het.

Die vier afdelings is deur verskillende kunstenaars geïllustreer-  Maja Sereda doen Hier is ek; Adelle van Zyl  ek speel; Alzette Prins –rondom my; Susie Appleby –ek raak slim; en Sam van Riet – in die natuur.

Elkeen se uitbeelding van die rympies is heel besonder , vrolik en treffend. Die omslag is gedoen in liggeel en blou met vriendelike kinders en ‘n baba wat beweeg tussen ‘n muis op ‘n fiets, ‘n beertjie wat aan ‘n sambreel rondvlieg, ‘n voëltjie op sy hok en ‘n spelerige worshondjiewat baba se gesig wil lek.

‘n Gebruiksgids is saamgestel deur Gertie Smit Grondslslagfase-lektor by die Onderwyskollege en Kaapse Skiereiland Universitiet op Wellington.

Met oortuiging kan ek sê hierdie is een van die mooiste boeke ooit!  Hoogs aanbeveel vir alle versamelings. Kinderbibliotekaresse- hier is ‘n belangrike boek vir julle.

Lona Gericke  Oktober 2015

Oorlogwinter


Oorlogwinter, deur Jan Terlouw( PROTEA, 2015) Uit Nederlands vertaal deur Daniel Hugo.

Hier bied die skrywer ‘n lekker geleentheid vir jeugdiges en ook volwassenes om ‘n verhaal oor gebeure in die Tweede Wêreldoorlog te lees wat jy moeilik kan neersit. Die vertaling is gedoen in Afrikaans wat amper “ouderwets” klink en juis so getrou bly as ‘n aanvaarbare vertaling van die Nederlandse teks.

Michiel is die hoofkarakter- ‘n 15-jarige seun  wat  op sy eie manier ‘n persoonlike versetbeweging voer teen die Duitsers. Hy help die duisende vlugtelinge deur fietse en ander vervoermiddels te herstel; help kos vind vir die honger mense, en die verhaal word meer opwindend en spanningsvol wanneer hy verantwoordeliklheid neem vir die versorging van ‘n Engelse vlieënier in ‘n versteekte skuilplek. Sy suster raak ook betrokke met die verpleging van Jack.

Maar hy help ook ‘n Jood en sy seun om te ontvlug.  Daar is onvergeetlike  en dapper karakters soos die  interessante barones Weddik Wansfeld wat haar verset teen die Duitsers; Michiel se vriend Dirk wat gevange geneem word; die raaiselagtige dood van die Duitse soldaat vir wie se dood Michiel se pa ook doodgeskiet word; Schafter wie Michiel oortuig is ‘n verraaieris. En sy oom Ben?  Oom Ben se identiteit word ook ‘n verassing. 

Die spanningslyn word goed gehandhaaf tot die einde; die verhaal word ‘n ontroerende boodskap van dapperheid en verset teen oorlog. Die boodskap dat oorlog soveel smart veroorsaak word telkens gedemonstreer in die verhaal: “  Sy pa was reg toe hy gesê het oorlog beteken honger, trane,ontberings, angs, pyn…”Terselfdertyd is daar die boodskap van hoop en dat jy iets kan leer van die oorlog, dat daar iets aan oorlog is waarop jy die res van jou lewe kan steun- die onblusbaarheid van die menslike gees.

Soos Michiel en Dirk finaal besluit:” Net een ding het sin”. “Om nooit weer in ‘n oorlog te veg nie, net teen oorlog”.

Oorlogswinter sal inderdaad ‘n leemte vul by Afrikaaanse jeugverhale.

 

Lona Gericke Desember 2015

 

Tuesday, October 27, 2015

Koning kraai!


Wie is Koning?- Tien magiese stories uit Afrika , deur Beverley Naidoo en Piet Grobler( Jacana, 2015). In Afrikaans vertaal deur Alet Kruger.

In hierdie 10 stories  kom  diere en mense voor verskillende uitdagings te staan, en altyd is daar ‘n les om te leer. Leeu word op sy plek gesit deur olifant as hy dink hy is koning van die diere; die twee vriende os en donkie moet hard vir ‘n boer werk; skilpad en sy banjo red die ander diere wat deur luiperd misbruik word; apie help vir vaalboskat om van sy vlooie ontslae te raak, maar eindig self in ‘n boom nadat hy die kat se stert aan ‘n boom vasgebind het; seekoei en vuur se vriendskap eindig rampspoedig as seekoei al sy hare verloor toe hy nie vuur se hitte kon ontsnap nie;  olifant se kort slurpie word gerek in ‘n toutrek kompetisie met krokodil; ‘n eentand olifant kom tot sy einde as hy ‘n vuur in sy maag kry ; hiëna verloor sy respek vir hoenderhaan toe hy ontdek hy het nie regtig ‘n vuur in sy kam nie en nou moet hoenderhaan kraai vir sy kos.

Die Meulenaar se slim dogter help haar pa om die sultan se toetse te slaag en word so sy bruid, en ‘n vrou gebruik haar muiskind om al die huiswerk te doen.     

Daar bestaan reeds baie versamelings diere-legendes en stories, maar sekerlik kan daar nooit genoeg wees nie! Hierdie 10 stories is geskikte voorlees-materiaal , en Piet Grobler sorg met sy vrolike illustrasies dat die regte atmosfeer geskep word.   Diere en voëls gee hom die geleentheid om uiting te gee aan sy ryk verbeelding, en weereens bewys Piet dat hy ‘n meester is.

Sy sterk humorsin kry ook vrye teuels- ‘n donkie het ‘n klein voëltjie op sy rug, die kleurvolle blomme op kameelperd se rug is vol beweging; klein goggatjies en voëltjies verskyn oral. Skilpad met sy banjo lyk tog te vrolik; en luiperd kan nie kwaaier lyk met sy lang naels en skerp tande nie. Die diere lyk slinks as hulle moet;, en blou apie is blouer as blou! Seekoei met die stoppeltjies oral op sy lyf waar daar voorheen hare was het nog ‘n brandende tak op sy voorkop; -die brandende vuur lyk skrikwekkend in diep oranje gele en bruine .Krokodil steek amper nie by die water uit as olifant niksvermoedend buk om water te drink nie. Die uiteindelike  toutrekkery is ‘n skets met olifant se ogie wat baie verskrik lyk. Unanana is liefdevol geskets waar sy die kinders versorg, en ou een-oog olifant lyk verskriklik as sy kop begin brand van die vuur binne-in hom. Hiëna het net die regte nadenkende kyk op sy gesig as hy die niksvermoedende hoenderhaan konfronteer. Die klein muisie wat so hard werk met die besem lyk regtig of hy verbete klou aan die lang dun stok. Die skutbladsye is kleurvol en vol detail.

‘n Kleurvolle en oorspronklike aanbieding. Piet Grobler gebruik deurgaans sterker helder kleure en daar is ‘n oortuigende Afrika gevoel met die warmte van ‘n Afrika son en sy diere. Mooi aanbieding.  

 

 

Monday, October 19, 2015

Ek onmoet Naledi !


My Bekendmaking met Naledi se boeke:

 

Maartens, Wendy: Kaptein Seeley Kimberley se waterwoef( Naledi, 2015) . Ilustrasies deur Colleen Gericke

Die inspirerende verhaal van die dapper hond Kaptein Seeley- haar naam was eers Gigi en haar redding uit Kimberley se Groot Gat deur die polisieman John Seeley. Haar verhaal het jou verbeelding aangegryp, en hier vertel Wendy Maartens dit in eenvoudige taal sodat jong lesers self kan lees. Die boek word uitgegee as ‘n reeks Ware diere-avonture  1.

Hierdie boek in sagteband is baie treffend geillustreer deur ColleenGericke. Deurgaans gebruik sy donker kleure wat opgehelder word met die rooi helicopter –‘n teken van hoop, en dan haar redder in sy rooi mondering. Kaptein Seeley word met fyn aanvoeling geteken- die leser sien voortdurend sy geel lyfie teen die donker agtergrond van ‘n diep onheilspellende gat.

Die eerste boek in die reeks is uiters geslaagd en sal baie kinders se harte verbly.

Botha, Jaco: Die avonture van Lulu Lerulu (Naledi, 2015) Illustrasies deur Janienke van Zyl.

Watter jong leser sal nie soos ek absoluut betrokke raak by Lulu se avonture nie!

Lulu word aangeneem deur die vriendelike Tannie Pizza. Sy sorg goed vir Lulu maar ongelukkig is sy spoedig verplig om vir Lulu ‘n ander tuiste te kry, want Tannie Pizza word aangekeer omdat sy dronk bestuur, en Lulu word die eiendom van die nare polisieman sersant Brand en sy afknouerige seun Krisjan. Haar omstandighede word al hagliker- sy moet self iets vind om te eet, en word later in die tuin vasgemaak waar sy verswak en amper van honger omkom. Gelukkig besluit Tannie Pizza om te gaan kyk hoe dit met haar gaan, en Inkie en haar man besluit dat Lulu by hulle kan bly. Hier kry sy die geleentheid om te wys hoe dapper sy regtig is.

Lulu se verhaal, grotendeels ‘n ware verhaal, behoort  baie lesertjies te boei .

Die illustrasies en aanbieding in die geheel het amper ‘n gevoel van ongekunstelheid en en opregtheid.

Persoonlik sou ek die bedankings van die skrywer aan Lulu se honde vriende se eienaars wat hoofstukke geborg het, aan die einde van die verhaal geplaas het.

Marais, Elaine: Bont alarm( Naledi, 2015)

Hierdie is Elaine Marais se eerste jeugverhaal, Sy skryf gewilde Christelike liefdesromans, en die inslag is duidelik subtiel ingeweef in ‘n verhaal waar die hoofkarakter Juhan Bruwer uit ‘n godsdienstige familie kom en deur ‘n fase in sy lewe gaan waar hy moet leer om weer die seun te word waarop hy self ook trots kan wees.

Hy “leen” sy Pa se motorfiets, en ry tannie Lenie se hondjie dood. So begin hy die tannie help in haar tuin en om die huis, en ‘n sterk vriendskap ontwikkel tussen die twee. Sy bederf hom met haar heerlike gebak, en later oortuig hy sy twee vriende om hom te help om haar huis ook te verf.

‘n Interessante verwikkeling is sy belangstelling in die meisie Karien ; sy dink hy wil die hondjie by hulle koop vir ‘n ander meisie.

Die skrywer is duidelik ervare en gee ‘n lekker afsluiting tot die verhaal waar die karakters  uiteindelik bymekaar gebring word. Die godsdienstige inslag is baie diskreet gedoen, en nie hinderlik nie. Goeie aanbieding.

Kulsen, Anzil: Sorrie maak nie gesond nie( Naledi, 2015)

Vanaf die eerste paragraaf waar Rose en Rodriek in sy kar teen Soetberg geparkeer is,  sal tieners betrokke raak by ‘n verhaal waar baie meisies sal identifiseer met Rose se stryd om nie seksueel aktief te wees en aan Rodriek se versoeke gehoor te gee nie. Ongelukkig het hul besoek aan die klub Las Vegas Rose wel in n situasie gebring waar sy verwagtend is, en omdat sy niks van die aan onthou nie, glo dat Rodriek haar verkrag het.

Haar huislike omstandighede is ook ingewikkeld met ‘n ma wat te veel drink, en nog steeds treur oor Rose se oorlede boetie. Haar pa weer probeer by die gesin betrokke wees, maar slaag nie altyd hierin nie.

Kulsen skryf hier ‘n verhaal wat soms onaangenaam is om te lees,maar terselfdertyd is die situasies werkliken die emosies sterk , oortuigend en aangrypend.   Rose se omstandighede en stryd is geloofbaar en werklik. Tieners sal baat vind by die lees van ‘n boek wat uiters leersaam is. ‘n Sterk verhaal, met die boodskap dat Sorrie nie gesond maak nie.

Mia Oosthuizen as uitgewer word geluk gewens met die keuses wat sy gemaak het- elke boek het meriete en die keuring was in die kol.

 

Lona Gericke.  Oktober2015