Wednesday, September 9, 2015

Die mees geliefde dierbare Heksie is terug!


Liewe Heksie Leesboekies bring die mees geliefde dierbare  heksie terug!

Verna Vels:  Liewe Heksie –Leesboeke 1-4(H&R, 2015)

Noem jy die naam Liewe Heksie aan grootmense, jongmense en kinders wat lees is daar dadelik en altyd ‘n reaksie van vrolike glimlagte en opmerkings  dat sy  een van hulle mees geliefde Kinderboek-karakters is. Sy is  nou nie een van daardie nare storieboek-hekse met skrikwekkende toorkragte waarteen menige ouer hul kinders waarsku nie. Liewe Heksie vergeet selfs haar toorwoorde en is naïef, impulsief, onopgesmuk , sagmoedig  en baie vriendelik. 

Waarom sou ons almal so met haar identifiseer, en veral juis toe ons kinders was? Want Liewe Heksie is die onskuld vanself; sy vergeet dinge;  sy is “dom”; sy verdraai woorde; sy kan skielik nie lees nie; sy maak foute; sy is maar net soos elke kind lief vir avonture en wil verjaarsdag hou; raak gou verveeld en wil in ‘n blink rooi motor rondry; weet nie wat ‘n verassing is nie; wil haar hulp aanbied waar sy kan, en saam met haar vriende in Blommeland piekniek hou of ‘n vakansie by die see geniet in ‘n pragtige bikini- al is hare onwetend  sommer erg ouderwets maar tog te dierbaar.

Wat maak hierdie nuwe reeks leesboekies ‘n noodsaaklike toevoeging vir tuis-skool en biblioteekversamelings?

Vir die eerste keer word Verna Vels se stories oor Liewe Heksie en die karakters van Blommeland in kleur aangebied as ‘n reeks leesboeke vir jong lesers. Elke leesboekie bevat 3 van die oorspronklike stories wat ietwat verkort is vir 3-6jariges. Hier is dus die geleentheid vir kinders in ‘n gesin om elk uit sy of haar eie kopie te lees of aan voorgelees te word. Dit is nie oorweldigend bonkig nie, word maklik hanteer en is  keurig versorg met helder kleurvolle omslae duidelik gemerk as Leesboek 1 - 6.  Verskillende kleure word vir die titels gebruik, en ‘n klein Liewe Heksie gesiggie is in die regterhoek in ‘n sirkeltjie geplaas. Jy voel dadelik lus en opgewonde om die boek oop te maak.

Die illustreerder Vian Oelofsen het die liefdestaak met groot vreugde aangepak want hy is baie duidelik ‘n Liewe Heksie bewonderaar. Hier benut hy die geleentheid om  met ‘n nuwe oorspronklike kunstige interpretasie die stories te help vertel.  Dit doen hy met oorgawe en gee hier ’n meesterlike vertolking  in verbeeldingryke illustrasies wat grootliks bydra tot die sjarme van die hele aanbieding. Teen ‘n kleurvolle agtergrond word die leser vermaak met die interessanste collages van vallende borde, ‘n trein en rooi motor, ‘n regte frikkadel, Koning Rosenkrans in al sy glorie en Blommeland se kwaai Gifappeltjies.

Hy vertel dat hy baie ge-eksperimenteer het met teken en animeer  en speel  met die gebruik van illustrator en Photoshop. Hy het papierpoppe van die karakters gemaak, Blommeland is opgebou met teksture met ‘n tipe collage metode. Die blommetjies van Blommeland het lewe gekry met blomme op sy grasperk, rokke en materiaal is gekombineer met “brushes” en geverf met vorms op sy rekenaar. Fotos is gebruik soos met die frikadelle wat gemaak is en afgeneem is. Sy mees gekompliseerde karakter was die Fee koningin omdat haar rok verskillende lae vereis het en die vlerke deurskynend moes wees. Sy is saam met Karel, Koring Rosenkrans en die Gifappels sy gunstelinge. Die Silwerroos is volgens hom die moeilikste en beste blom wat hy nog getekenhet. . Hy sê dat hy van al die karakters hou en dat Verna Vels se storie besonder en tydloos is en dat hy dit sooo geniet het om dit te lees en te teken.

Verna Vels se bekende Liewe Heksie karakter het haar debut in 1961 gemaak in die Siembamba –programme van die SAUK. Verskeie Liewe Heksie reekse  is uitgesaai.

Human & Rousseau uitgewers het dadelik besef dat die karaktertjie ook in boekvorm vasgelê moet word, en in 1965 verskyn die eerste Liewe Heksie-boek deur H&R met swart en wit lyntekeninge deur Dorothy Hill. Nuwe Liewe Heksie-stories het in 1999 by Human & Rousseau as Liewe Heksie en die rekenaar verskyn. Daarna is die oorspronklike , volledige stories in 2002in ‘n omnibus-formaat gepubliseer as Die Liewe Heksie Omnibus.

Hierdie stories is dus vanjaar 50 jaar oud.  Verna Vels is in 2014 oorlede, en die uitgewer bring met hierdie leesboekies ‘n spesiale erkenning en viering van haar groot bydrae  tot kinderlektuur in Suid  Afrika.  .

Ek verwys kortliks na gedeeltes van die stories ter illustrasie van  die kinderlike opregtheid , fyn humorsin , bekoring en sjarme van Verna Vels se verbeeldingswêreld :

Dit is Blommie Kabouter se verjaarsdag. Al die kabouters van Blommeland is by sy partytjie. Net Liewe Heksie is hartseer omdat sy nog nooit ‘n verjaarsdagpartytjie gehad het nie. Sy is mos maar nie baie slim nie en vergeet maklik dinge. Sou haar ouma Levinia Heks dalk vir haar gesê het wanneer, het sy al vergeet. Hulle besluit op ‘n datum en Karel Kat word ook uitgenooi. Tipies Liewe Heksie is sy bekommerd oor hoe haar hare lyk, wil sy die rooi koeldrank dêps voor haar gaste; vergeet sy om die roomys in die yskas te sit, en is daar ‘n gestryery omdat sy nou meer gereeld wil verjaar!

Lesers kan hul verkyk aan  kleurvolle sonneblomme met dansende dwergies wat ballonne dra, kunstige blomme netjies gerangskik in vrolike rye met heerlike roomyse in hul kelke; Blommie en Heksie se gesigsuitdrukkings wat boekdele spreek;  die pragtigste huisie met pampoene op die dak en gehuisves in ‘n veld van fyn blommetjies; ‘n laáng tafel met koppies in ‘n netjiese ry op ‘n blom-tafeldoek en ‘n reuse beker rooi koeldrank; geskenkpapiere wat oral rondwaai soos sy geskenke oopmaak; Heksie wat met haar groottoon in die grond boor soos sy skaamkry wanneer sy vra dat haar gaste haar presente teruggee.

Koning Rosekrans, deftig in sy rooi pak met rose versier, versoek sy onderdane in die volgende storie om geld in te samel vir die bou van ‘n hospitaal. Liewe Heksie vergeet sy naam gedurig en noem hom sommer Koning Rosedoring,  en kasterolie is volgens haar kasterboomolie of kosteralie. En sy moet tog liewers nie sing nie!

Oelofsen teken hier ‘n groot goue blik as geldbussie; musieknote soos blomme en geldstukke wat vrolik dans; ‘n R50 noot versier met Nelson Mandela se kop-hul wengeld vir ‘n see-vakansie. Heksie in haar outydse swempak, haar”bikini” waarin sy die Juffrou Seesand kompetisie wen; ‘n indrukwekkende swart lokomotief en interessante detail is versteek op die bladsye- ‘n klein krappie, ‘n regte horlosie, ‘n selfoon en seevoëls wat entoesiasties toekyk.

In Leesboek 2  word ‘n verassings-besoek van Karel Kat ‘n heerlike avontuur met Heksie wat verdwyn in sy pragtige rooi motor, later  gehelp deur Trompetter die olifant  wat die motor weer terugstoot- ’n oulike illustrasie met Heksie wat voor aan die motor hang,  halfpad in die lug met haar dun beentjies uitgestrek. Die illustrasie van Karel wat woedend kwaad is vir haar, spreek boekdele!

Wanneer Koning Rosekrans baie siek word is die “enigste en beste en mooiste Heksie” ‘n gewillige helper wat borde breek;  en aanbied om Koningin te word as hy sou doodgaan . Dit is genoeg motivering vir hom om dadelik gesond te word. Weer illustreer Oelofsen met  musieknote wat vloei na sy kop. Een  loerende oog  rus op ‘n kussing van blommetjies,  en Heksie se kinderlike briefie is skeef teen die bedstyl vasgeplak.

‘n Piekniek met Hessie se “dikkefrelletjies” en ‘n brood wat so hard is dat jy dit met ‘n saag moet sny gebeur langs die Gifappeltjie-land. Hul motor word uit die modder getrek deur Toorperd Griet en Heksie vergeet alweer die towerwoord. Die toorperd met sy hol rug en lang ore ; lekker bruin modder wat teen ‘n gifappeltjie spat, en Blommie met ‘n parmantige tongetjie wat hy uitsteek vir die Gifappeltjies,  dra weereens by tot die lekker leeservaring.

In ‘n verdere leesboek  is Liewe Heksie betrokke by ‘n donkie- sy beland agterstevoor op sy rug en huil omdat hy dan nie ‘n kop het nie! Sy word ‘n babawagter, en in die land van die Gifappeltjies word sy en Koning Rosekrans gevange geneem omdat die Gifappeltjies Blommeland wil oorneem.  Maar Liewe Heksie red hul uit die situasie want in haar eie woorde, is sy tog die slimste Heksie wat sy ken!

En hiermee stem elke leser en natuurlik  ‘n toekomstige geslag van lesers wel deeglik saam!

 

Baie geluk aan die uitgewer Human & Rousseau wat hier pragtige toeganklike leesboeke uitgegee het.

Lona Gericke, Augustus 2015

 

Sunday, July 19, 2015

Soene en sirkusse, 'n honger leeu en 'n moordenaarsklok...


 
 

Banscherus, Jürgen: Speurder Kwaaikofski –soene en sirkusse(H&R, 2015)

Speurder Kwaaikofski word besoek deur Pedro van Zampano se sirkus.  Hy het hom nodig om vas te stel waarmee sy suster Vanessa haar besig hou- dalk met iets onwettig. Met hul vertoning as die Magiese Martelli’s gooi sy kegels en  elke keer gooi sy deesdae een mis wat dan weer dadelik akkuraat uit die gehoor na haar teruggegooi word.

Kwaaikofski word vergesel deur Olga van die kiosk om ‘n vertoning by te woon waar hy miskien sal kan vassstel waarmee Vanessa besig is. Selfs bekwame speurders soos Kwaaikofski kan flaters began as dit by ‘n ondersoek kom! Gaan dit toe uiteindelik om soene – hy is juis dodelik siek nah y Olga met ‘n soen oorrreed het om hom te vergesel!

‘n Gewilde reeks, die teks is lig en humoristies, en die illustrasies help om die hele leeservaring lekker te maak. Veral die leesbare grootdruk sal beginner lesers verwelkom.

Smith, Alex: Grietjie en die baie honger leeu( LAPA, 2015)Afrikaans deur Jaco Jacobs

Grietjie ontvang ‘n dringende oproep van tannie Poppie om te kom help, want sy is oortrek met kolle.

Die pad  is lank- Grietjie stap oor slapende krokodille, onderdeur kameelperde, en verby kwetterende apies, sluip tussen miershope, deur waai vir meerkatte en gaan sit in die skadu van ‘n boom om te rus.

Nou kom die geleentheid vir ons heldin om haarself te bewys, want ‘n honger leeu is reg om haar en tannie Poppie op te vreet. Wie gaan vir wie uitoorlê?!

‘n Lekker groot formaat-boek met illustrasies wat vol verbeelding en humor is. Die aanslag is modern, en jong lesers sal dit geniet om te sien watter komiese transformasie die honger leeu ondergaan, terselfdertyd is daar die subtiele les om nie kinders en tannies te wil opvreet nie! Baie lewendig en kleurvol.

Brain, Helen & Webb, Nicky: Tania en die perdry-kompetisie ( H&R, 2015)    Illlustrasies deur Rico Schacherl Ook verkrygbaar in Engels as Jamie and the horse show.

Tania en die towerfluitjie was die eerste avontuur in hierdie reeks- veearts-vriende.

Die  leser word weer bekend gestel aan ‘n uiters deurmekaar gesin- Arabella is die veearts ma; die Professor wie se onderbroeke gedurig in die toilet beland die pa; daar is Tiek en sy maat Chanza en Bieber Tiek se aap; die ouer boetie Tobie en natuurlik Tania die suster wat so graag die perd Oreo van Mevrou Bunhoffer wil koop maar natuurlik nie genoeg geld het om so ‘n spesiale perd te koop nie.  Die titel laat ‘n mens ‘n perdestorie verwag, maar hier is daar ‘n versameling van korter hoofstukke met snaakse insidente,   en selfs word ‘n ma-kat gered en ‘n gehawende African Grey neem ook sy intrek in ‘n reeds chaotiese deurmekaar huishouding. As die toilet nie aan mekaar

 verstop nie, maak die jong seuns vir die finale perderesies gemmerbier wat heelwat konsternasie veroorsaak, en bak die Professor ‘n quiche wat selfs hy nie kans sien om te eet nie!. Wat Tania betref word sy in haar gehawende ryklere op die moelike perd McTavish gestel teenoor die ryk versorgde meisie Shardonnay en haar ma Liberty Barker-Polls, lg. was saam met Arabella die veearts, op skool. Natuurlik “koop” Shardonnay   die perd wat Tania oor droom, maar is dit regtig die einde van Tania se droom?

Vir my verloor die boek memento deurdat die hooftema gedurigdeur afgewissel word met ander insidente , en hoewel die skrywer soms snaaks is en onderhoudend kan vertel, is sy sterker as verteller van komiese huishoudelike situasies en nie regtig so oortuigend met die uitbeelding van Tania se behoefte aan ‘n wenperd nie. Tania as karakter is ook te veel bewus van hoe sy afsteek teen die welgestelde opposisie- Shardonnay, en ‘n mens kry die gevoel van sterk selfbejammering met tye. Die vertaling is ook by tye lomp. Fifi die niggie wat lispel met haar naïwe opmerkings is soms die mees geloofbare karakter!  Die insident waar die kat met die drie kleintjies se lewe gered word is oortuigend gedoen, en dit is baie duidelik die bydrae van die medeskrywer Nicky Webb, ‘n veearts.

Die boek is geskik vir 8-10jariges en sal veral byval vind by lesers wat hou van snaakse insidente rondom ‘n gesin waar daar nooit ‘n vervelige oomblik is nie, en mens soms lekker kan lag vir hul manewales!

Vir 12-18jariges:

Verwey, Pieter: Clint Eastwood van Wyk en die moordenaarsklok( Tafelberg, 2015)

Clint Eastwood van Wyk , sy neef Budde wat so pas uit Amerika aangekom het vir die vakansie, sy ouers en die hond Walkabout- ‘n volgroeide boerboel bring die vakansie deur op die plaas Klleinbrandskraal in die Moordenaarskaroo waar sy pa glo ‘n groot argeologiese ontdekking gemaak het. Die enigste ander twee mense daar is Johnny oftewel Kiewiet en Oupa Gammie, ‘n regte Griekwa.

Dink jy as leser dit gaan ‘n gewone vakansiestorie wees? Dink weer! As dit nie sy ma is wat navorsing doen oor spoke nie, is daar die oerskerpioen wat sy pa ontdek het; Oupa Gammie se vertellings van die Karoo se baie stories – oor meerminne, ‘n Waterslang , ondergrondse mere en ‘n bobbejaan –die vermoorde Jan Prinsloo, ‘n spookhuis en selfs geheime waarvan hy hulle nie vertel nie en hulle later mee kennis sal maak.

Hulle grootse avontuur begin die dag toe Walkabout na een van sy rondloper-togte terugkom met ‘n dier in sy bek- ‘n versteende muishond. Prof Theuns besluit die gedierte moet by die Universiteit besorg word, en die jongmense vertrek om uit te vind waar Walkabout dit opgetel het. En wat ‘n wonderlike avontuur word dit nie! Die spore lei na ‘n ondergrondse grot, ‘n meer, versteende diere en drie versteende mensfigure; ‘n moordenaarsklok, ‘n Waterslang in die vorm van ‘n griffioen ,die landing van ‘n Zeppelin, Mr Theobold ‘n Victoriaanse  robot, en Lord Pinion, die eienaar van die Zeppelin. Natuurlik ontwikkel dit tot ‘n geveg om lewe en dood; terwyl die raaisel van die rookwolk en versteende diere en mense ook opgelos word.

Hierdie is ‘n boek geskep deur ‘n skrywer met ‘n verbeelding soos min, en ‘n liefde vir wetenskapfiksie. Retro-fantasie. Steampunk. Tydreise. Seuns sal hul eie verbeeldingsvlugte kan uitleef deur deel te neem aan Clint Eastwood en Budde en Kiewiet se oorlewingstog. Pieter Verwey het’n verhaal geskep wat tot nog toe nie tematies ge-ewenaar kan word in jeugliteratuur nie. Wel gedaan! Sjoe, ek was uitasem gelees.

Pantermüller, Alice en Kohl, Daniela: Lotta se lewe-‘n haas uit die hoed ( H&R, 2015)Afrikaans deur Kobus Geldenhuys.

Lotta se lewe het reeds in vier ander titels die lig gesien: Konyne by dosyne; Bendes, swape en skape; Wieg, wurm wieg;  en My skilpad uit sy dop.

In hierdie vyfde titel in die reeks Lotta se lewe het Lotta waterpokkies en hoef sy gelukkig nie skooltoe te gaan nie. Sy is egter verskriklik verveeld en besluit dat sy ‘n stokperdjie moet kry. Hierdie behoefte vorm die basis van die verdere gebeure. Chantelle, haar vriendin, moet kop bysit. Terug by die skool moet Paul-hy is deel van die Kwaai Konyne bende- ook help, maar hy is meer geïnteresseerd om sy eie toorkunsies te oefen. Die meisies besluit toe om te leer sierskaats doen-nog ‘n fiasko- en dan word hul begeerte om in Zack Zeeman se nuwe fliek as ekstras te speel die hoof-fokus vir die res van die verhaal. Natuurlik maak hul swak gedrag hul onsuksesvol. Die finale belediging is toe Paul vertel dat hy sonder dat hy probeer het,  ‘n rolletjie in die fliek gekry het. Die twee vriendinne ontdek die hasie uit Paul se towerhoed in die park, en speel toe maar met ‘n Frisbee- dalk is dit ‘n goeie idee vir ‘n stokperdjie?!

Lotta se aanhangers sal dit sekerlik weer geniet om te deel in haar eienaardige gewoontes, gedagtes en maniertjies.  Ek het die boek self nie baie opwindend gevind nie, maar gee erkenning aan die illustreerder wat met haar fyn illustrasies en die baie detail, ook met byskrifte , die boek meer lewendig en vermaaklik maak.

Krahtz, Carin: Elton amper-famous April en Juffrou Brom( Tafelberg, 2015)

Reeds met die lees van die eerste twee inleidende bladsye van die boek besef die leser hier is iets baie spesiaal.  Elton vertel in die inleidende naskrif dat hy ‘n prys gewen het vir Afrikaans in Graad 7en nou wil hy sy storie vertel.  Hy woon by sy ma,sy Dad is in Oudtshoorn, en Afrikaans is sy swakste vak op skool. :”Ek wil  hom vertel hoe swaar Afrikaans op my binneste lê”. Maar toe daag die nuwe Juffrou op vir Afrikaans- “Dit was of die wind haar uit nowhere spesiaal vir ons kom aflewer het”. Dit is die begin van Elton se bekendstelling aan die onderrrig van Afrikaans waar kreatiwiteit en oorspronklike denke aangemoedig word; hy mag nou wel nie goed kan spel nie, maar hy het sy ieie unieke aanslag met die taal. Sy beste maat Dawid deel sy drome- hy speel goed krieket, maar geld is min met ‘n ma wat onbetroubaar is en nou ook  haar laaste geld in ‘n piramiede-skema belê het. Sy is amper nooit tuis nie, en heel dikwels moet Elton maar by die Griek aanklop vir los werkies of selfs buite in die koue slaap. Maar dan is daar Juffrou Brom wat altyd op die regte tyd op die regte plek is in Elton se lewe. Hy moet ook uitvind dat al die gissings oor haar lewe tussen die kinders gladnie waar was nie.  En dan het sy daardie wonderlike vermoë om kinders soos Letitzia “vir ‘n se suit te haal!”

Die boek raak jou na aan die hart. Dit is nie net baie goed geskryf nie, maar deurspek met humor en ‘n duidelike  en geloofbare verklaring dat die menslike gees nie blusbaar is nie.

Carin Krahtz ken Afrikaans, en sy kan gerus nog baie skryf! Hoogs aanbeveel. 

 

 

 

 

 

 

 

 

Wednesday, July 1, 2015

Jonger lesers net vir julle!


Nuwe boeke vir kleuters en peuters!

Oerwoud-partytjie! H&R, 2015)  in die reeks Vrolike vriende: soek en pas en

Prettige plaas!( H&R, 2015)

Lennie Leeu wil  al sy vriende uitnooi na sy verjaarsdagpartytjie.  Een-een moet kleuters die diere identifiseer, en  dan seker maak dat almal betyds is vir die partytjie deur die mooi kartonkarakters uit die gleufies te haal en op die laaste bladsy saam te groepeer in die huertjie wat daar aangebring is. KLeuters 1+ leer hier hand-oog-koördinasie en basiese  probleemoplossing. Die twee boekies is kleurvol, stewig gebind en behoort kleintjies lekker besig te hou.

Jacobs, Jaco: Moenie die knoppie druk nie! ( LAPA, 2015) Illustreerder Chris Venter.

Watter gesin met babas ken nie hul voorliefde vir knoppies druk nie! Veral as hulle nou juis gevra word om dit nie te doen nie. Tiaan se bababoetie druk die stofsuier se knoppie, die grassnyer s’n; die wasmasjien en ook ‘n stootskraper word bygekom. Elke keer is daar groot konsternasie en baie aksie.

Wat ‘n heerlike leeservaring vir kleintjies! Chris Venter vul elke bladsy met lekker groot kleurvolle lewendige prente so beweeglik en vermaaklik dat die leser netnie genoeg kan deelneem aan elke snaakse situasie nie. Seuntjies is mos ook mal oor stootskrapers, en die finale stootskraper-insident sluit die boek amper af totdat die gesin heel laaste die museum besoek waar daar ‘n ;uitstalling oor die ruimte is……!  Hoogs aanbeveel.

Vels, Verna:  Liewe Heksie leesboek 1 en 2  ( H&R, 2015) Illustrasies deur Vian Oelofsen.

Elke leesboek bevaat 3 kort Liewe Heksie stories- ‘n verjaarsdag vir haar; ‘n geldinsameling, ‘n bikini-kompetisie, die insident met ‘n motor, hoe sy die koning gesond maak en toorwoorde gebruik tydens ‘n piekniek.

Afgesien daarvan dat die leser opnuut met die lees besef hoekom Verna Vels so bemind is – haar hoofkaraktertjie se “domheid”; die kinderlikheid en onopgesmuktheid van elke incident, is daar hier ‘n groot bonus-  Vian Oelofsen se meesterlike vertolking van die stories in die wonderlikste verbeeldingryke illustrasies!  Teen ‘n kleurvolle agtergrond word jy vermaak met die interessantste collages van vallende borde, ‘n trein en rooi motor , ‘n regte frikkadel( Liewe Heksie praat van dikkefrelletjie); Blommeland se kwaai gifappeltjies; en vrolike interessante blomme wat eintlik heerlike roomyse is!

Heirdie is defnitief die beste werk ooit uit Vian Oelofsen se pen, en die boekies “rock”! Hoogs aanbeveel.

Vir 7-9jariges:

Banscherus, Jürgen: Speurder Kwaaikofski – monsters, maanlig en mottegif( H&R, 2015) . IN Afrikaans vertaal  deur Kobus Geldenhuys.

In hierdie reeks het reeds tien boeke verskyn, en Speurder Kwaaikofski met sy voorliefde vir Carpenters kougom maak weer sy buiging in nog ‘n lekker speurverhaaltjie.

Daar is dertien privaatspeurders in sys tad. Hy is die een wat met kleiner sake werk. Hier word vir sy skool se eeufeesviering ‘n toneelstuk “Die ridder se reis na die reënboog” opgevoer. Die enigste probleem is dat elke seun wat gekies word om die hoofrol te speel na die toneel waar hy deur die vloer moet val tot in die Staatsteater se kelder, weier om verder deel te neem aan die produksie.

Speurder Kwaaikofski besluit dat hy gaan uitvind waarom die spelers so reageer, en om sy taak te bemoeilik  kry hy ook geen inligting uit hulle nie.  Maar Kwaaikofski gee nie so maklik tou op nie! 

Lekker groot druk wat die boek geskik maak vir beginner lesers en ook geskikte voorleesmateriaal.

   

 Viljoen,Fanie: Bravo, Lulu( LAPA, 2015) Illlustrasies deur Elsbeth Eksteen.

Lulu en haar vriendin Carmen is versot op ballet. Juffrou Peters wil Die Seerowerprins opvoer,en die twee word onderskeidelik gekies as meerminkoningin en  prinses. Lulu se ouers is beroemde modeontwerpers, en sy droom ook van so ‘n toekoms. Die tweeling Alet en Alex is gladnie beïndruk met ballet nie, en na ‘n stryery is Alex bereid om te wys hy kan ballet doen as hy wil; dus is hy die kandidaat vir die rol van die seerowerprins. Heelwat uitdagings lê vir hom voor- om te leer dans, en dan gewoond te raak aan die kostuum met ‘n baie benoude broek!  Gaan die konsert ‘n sukses wees? Gaan Alex deurdruk met sy uitdaging?

‘n Ideale leesboek vir dogtertjie-dogters en balletliefhebbers, en met Elsbeth Eksteen se pragtige fyn illustrasies in sagte pastelkleure sal die boek gekoester word deur veral lesertjies wat hou van “vroulike” prentjies en ‘n delikate aanslag.  Terselfdertyd het die skrywer balletterme nagevors en ook gesorg vir ‘n verassende einde. ‘n Besonder aantreklike boek.

 

 

Lona Gericke  Julie 2015  

 

Monday, June 15, 2015

Sink of swem liewe Ariel!


Swemlesse vir ‘n meermin deur Marita van der Vyver ( Tafelberg, 2015)

Op die pragtige omslag van die boek word die leser vertel: dit is die opvolg van die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom.  Hierdie boek was destyds ‘n gunsteling, ‘n heerlike storie met ‘n onfunksionele gesin, ‘n boek geskryf met groot opregtheid , snaaks en oorspronklik.

Dadelik dink ek- lekker! Nog ‘n storie uit die pen van ‘n talentvolle skrywer. Hanna Hoekom gaan my op verdere opwindende avonture neem.

Maar toe is dit ‘n handleiding vir haar baba sussie Ariel wanneer sy ‘n tiener is. Sy noem  o.a.dat dit  lewensbelangrike raad is wat Ariel hier gaan kry; ‘n eerlike gids vir ‘n moderne tiener, dat sy nie gaan preek nie. Dit is ‘n oorlewingsgids.En die hoofstukke word ook ingedeel  met opskrifte soos  Skool suig; hoe weet jy as jy verlief is?; ‘n kamer van jou eie;  oor voëls en bye om maar ‘ n paar toe noem. Weliswaar is hier ‘n skatkis van wyshede om Ariel voor te berei vir die emosies , verhoudinge, issues van haar tienerjare. Ariel word selfs gevra of sy nog byhou;  en Hanna gooi by al die wyshede en insigte nog sommer verwysings na boeke en skrywers  soos Tolstoi; Sylvia Plath ; Shakespeare, Jeanne d’Arc; Cyrano de Bergerac; Groucho Marx die komediant met ‘n verwysing na die ekslusiewe klub in London; N.P.van Wyk Louw se Raka; Oscar Wilde se wysheid en sy opmerking dat alle vroue daarna streef om soos hulle ma’s te word; Hamlet se – om te wees of nie te wees nie; en selfs Virginia Woolf se A room with a view en Jane Austin se karakter Darcy uit Pride en Prejudice, en Dorothy van The Wizard of Oz.  Ook Huxley se Brave new world!  Regtig ‘n belese suster die! Boeke wat ek dink die meeste lesers  veel later raakgeloop  het.

Ariel het sowaar ‘n wyse suster en behoort na al hierdie goeie raad ‘n goed geskoolde tiener te wees!  

Maar vir my persoonlik is hierdie veel eerder die stem van ‘n ouer vrou; ‘n ma miskien. Sy merk selfs op dat dit al meer begin klink na terapie vir haarself. Ek is geneig om saam te stem.  Hinderlik is ook die verwysings na Die Baba –waarom nie ook hier die suster direk aanspreek nie?  Die paar Anglisismes wat gebruik word klink ook geforseerd- soos “taf” om ‘n tiener te wees; crap; en skool “suig”.

Die enigste natuurlike “stem” of verteller in die verhaal is wanneer Hanna  die leser bekend stel aan die seun Benjamin, haar stiefbroer se beste vriend op  skool en die seun op wie sy verlief raak. Haar en haar vriendin se pogings om haar mooi te maak vir ‘n partytjie is oortuigend; ook soos hul verhouding ontwikkel veral na Benjamin vir ‘n ruk by hulle tuisgaan na ‘n motor ongeluk, en die verhouding tot iets moois groei . Sy en Benjamin se interaksie is myns insiens die “saving grace” van die verhaal. Van der Vyver kan skryf; maar verkieslik moet hierdie talent vir my aangewend word om ‘n storie te vertel . Dit kan sy tog  baie goed  doen.
Dit sal interessant wees om tieners se reaksie op die boek te hoor. Sekerlik sal baie ma’s die boek koop- dit is dan sulke goeie raad.Dalk sal tieners  hul heerlik verlustig in al die wyshede; ek sou as tiener verkies om hierdie dinge self te ondervind en uit my eie foute of suksesse self tot volwassenheid te groei.  Maar nouja, sy is geregtig daarop

Wednesday, May 27, 2015

Liefde is 'n sprokie!


Liefde is ‘n sprokie, saamgestel deur Santie Nel ( H&R, 2015)

Wie van ons onthou nie daardie heerlike jeugjare op  skool waar die  hunk of dalk net die nerd teenwoordig was waarop jy smoorverlief was nie? Gesprekke het lighartig maar soms bekommerd gegaan oor wie gaan my nooi vir die matriekbal of sal daar iemand wees die vakansie by die see om die tyd lekkerder te maak?  Gaan ek gespot word oor my gesig of maniere of net omdat ek die slimste kind in die klas is? Elke jong meisie wil sekerlik behoort en voel sy is spesiaal vir iemand.

Die Fynbosskrywers  bied hier aan 9-12jariges  ‘n versameling van 22  kort liefdesstories met as uitgangspunt bekende sprokies soos Skoonlief en die monster, Rooikappie , die Paddaprins en die Slapende prinses wat aangepas word in ‘n moderne  milieu.

En watter lekker ligte onderhoudende leeservaring is dit nie! Vanaf die eerste verhaal-  ‘n Wolf, drievarkies en ‘n brilpaddaprins mash-up deur Elizbé van der Colff  word die  leser betrek en hiervandaan word alles sommer net nog lekkerder! Die 22 stories is elkeen van ‘n goeie kwaliteit- die verskillende style is lewendig, vol humor , emosies oortuig en soms is dit gevul met lekker verassings . ‘n Mens kry die gevoel dat elke skrywer haar geniet het om haar storie te vertel, en die leeservaring word dus een van groot plesier omdat die eerlikheid en onopgesmuktheid van die vertelling jou tref.    

Die eerste storie vertel van ‘n kampervaring waar Carla verlief raak op die nerd met die aaklige bril. Dan is daar  Clara se nare stiefma(Lemoenkougom) wat nie Renaldo se rose vir Clara gee nie; Bleeksiel en die skoolhunk- Lila en Gerbrand; ‘n Bungee –sprong vir Alana wat dink sy is lelik; ‘n meisie wat kokaïen smokkel na London; ‘n duikoefening wat amper in ‘n tragedie eindig; ‘n juffrou met toorkragte en ‘n winterbal; Wipstert en Krok- ‘n seun met sy bene in ysterstutte en toe nie so ‘n groot krok nie; Vlam von Huten wat ontvoer word; Naidia se vriendinne wat ‘n ou vir haar soek; ‘n buurman wat tennis speel sodat tennissnare hartsnare word; Cindy die Cinderella wat onwetend haar stiefsuster se pragtige rooi rok na die bal dra; Gentian met sy geheime swart boekie; Keira wat soos haar vriendinne in die mode wil wees; ‘n Prins vir vingerhoedjie- Maia se bynaam; Amika wat selfbewus is omdat sy die langste meisie in die skool is en uitvind sy is model-materiaal; Amelia wat haar woorde moet tel as sy padda vra om saam met haar na die matriekbal te gaan-hy is toe nie so’n groot padda nie!; Erella wat ontvoer word met ‘n kamstige skoonheidsfotosessie; Rosabella in die spookhuis wat met ‘n soen ontwaak; Blinkoog versus Bolletjie-  Elfie se nare stiefma stuur haar na ‘n skool vir kinders met leesprobleme; Munah wie se ma haar soos goud oppas maar met haar lang blonde vlegsel haarself uit ‘n penarie red; en laaste Esther en Lizelle wat kragte meet in ‘n musiekblyspel…….

Hierdie versameling is goed geblanseerd; die aanslag is deurgaans lig en vrolik en getrou aan die jong meisie se ervaringswêreld.

Die samesteller verdien ‘n pluimpie, en elke Fynbosskrywer ook!

 

 

Wednesday, April 15, 2015

Olinosters wat kan bangmaak!


Olinosters op die dak deur Marita van der Vyver( Tafelberg, 2015) met illustrasies deur Dale Blankenaar.  Ook in Engels beskikbaar as Rhinocephants on the roof.

Lank en skraal en donker vertoon  hierdie heruitgawe van die boek wat  in 1996 gepubliseer is met illustrasies deur Piet Grobler en toe ‘n MER pryswenner. Hierdie uitgawe is geïllustreer deur Dale Blankenaar, ‘n voormalikge student van Piet Grobler!

En sal Piet nie trots wees op hierdie keurig versorgde pragboek nie!  Dit herinner aan baie van die Europese publikasies, en is ‘n duidelike bewys dat ons uitgewers in Suid Afrika kan kompeteer met die beste boeke internasionaal.

Daniel kuier by sy ouma en oupa en oornag daar in ‘n vreemde bed.  Hy hoor baie vreemde geluide, en telkens moet sy ouma of oupa hom geruss tel dat dit maar net ‘n olinoster of ‘n krokokoei, of ‘n blouwildekameel of ‘n bobberilla is , almal goeters waarvoor hy gladnie bang hoef te wees nie.  Die regte leeu is toe maar net  oupa se bont kat.

“Want wie’s nou bang vir olinosters?  Of ‘n krokokoei of ‘n blouwildekameel? Buitendien hy het ‘n bobberilla om hom op te pas.  En ‘n regte kat om sy bene warm te lê.”

Kinders leer hier om hul vrese in die nag te oorwin. Die humoristiese aanslag help ook. 

Marita van der Vyver se teks lees lekker en gerusstellend. 

Dale Blankenaar se donker verbeeldingryke illustrasies versterk die gevoel vna ‘n donker nag met onheilspellende gedoentes wat die seuntjie bang laat voel. Sy dubbel volblad illustrasies van elke spesifieke monster is regtig baie indrukwekkend. Daar is fyn detail in elke vertrek- Daniel in ‘n klein badjie oordonder deur die groot monster met die skubberige vel; ‘n beertjie wat teen die gordyn uitklim; die bobberilla met ‘n snaakse sneeu-kleurige vel en blink holtes vir oë; ‘n reuse leeu wat sy hele bed oordonder en net die klein seunskoppie met handjies wat sy oë toehou is sigbaar; en dan Daniel wat op die dier se rug deur die lug sweef met beertjie wat hom vanuit die huis se skoorsteen toekyk.  Hy is nou baie duidelik in beheer van die situasie.

Die donker kleure in die vertrek word telkens ligter as ouma of oupa hom verseker dat hy nie vir die gediertes bang hoef te wees nie.

Die boek is werklikwaar ‘n kunswerk van begin tot einde. Kunsliefhebbers  sal dit geniet, en kunsstudente kan leer by Blankenaar wat defnitief  hier werk van hoogstaande gehalte lewer.

Dit is ‘n boek vir fynproewers. 

Tuesday, April 7, 2015

Siembamba bekoor


Siembamba- immergroen rympies vir kinders  saamgestel deur Wendy Maartens met illustrasies deur Alzette Prins ( LAPA, 2015)

 

As kinderbibliotekaresse het ek met groot gesukkel Engelse rympies en vingerspeletjies in Afrikaans vertaal, en altyd gehoop iemand stel ‘n boek saam wat ouers en bibliotekaresse en onderwysers sal help om kleuters lief vir ons wonderlike taal te maak . Want niks onthou ‘n mens mos beter as daardie rympies,  raaisels, tongknopers , gebedjies en s laapliedjies van jou kinderjare nie.

En hier word Siembamba gepubliseer met die volledigste versameling van kinderrympies en versies ooit.

‘n Lys van erkennings en bronne word gegee, en skrywers soos C.J. Langenhoven, P.W.Grobbelaar; D.J.Opperman , Van Bruggen en nog vele meer se werk vind hier ‘n tuiste.

Dit is die heerlikste boek vir elke gesin ; noodsaaklik vir skool-en biblioteekversamelings en oumas en oupas moet maar die sak skud vir die kleinkinders as geskenke.  13 Hoofstukke met die opskrifte soos Duimpie Dikkedoor, Vrot tamaties lekker konfyt, Jorsie Worsie en sy maats, Allawiek, allawak, husse met lang ore, Sarel Marais het ‘n eier gelê, Sing is ‘n lekker ding en Doedoe, ogies toe ,maak jou nog meer lus om verder te lees.

Dan is daar as bonus die illustreerder Alzette Prins se vrolike  lewenslustige en kleurvolle illustrasies wat die boek as geheel ‘n pragboek maak. Haar aanvoeling vir die kind se verbeeldingswêreld is 100% in die kol.

‘n Groot dankie vir ‘n boek wat ‘n mens met groot vreugde kan koester en geniet.