Thursday, November 27, 2014

Zackie Mostert doen dit weer!


Zackie Mostert en die  meisie-moles

Hierdie is die 9de boek in ‘n gewilde reeks  vir jong lesers.

Zackie is oortuig dat vroumense net moeilikheid beteken. Soos mevrou Langenhoven sy buurvrou”as hulle so oud soos mevrou Langenhoven is, is hulle erger as ‘n T-rex met tandpyn”.

Hy kry regtig met meer as een meisie te doen toe die nare Vincent briefies namens hom aan verskeie meisies skryf en elkeen dink hy het haar na die Lentedans genooi!  Natuurlik sweer hulle  wraak, en die onskuldige Zackie loop lekker deur. Maar daar is wel ‘n manier om Vincent terug te kry…

Lekker ligte leesstof . Hoogs aanbeveel vir 9+ jariges.

Jacobs, Jaco( LAPA, 2014)

Zackie Mostert en die baie beroemde hond

Frankenstein, Zackie se hond is alweer in die moeilikheid by mevrou Langenhoven, die buurvrou. Hierdie keer dreig sy dat sy hulle by die munisipaliteit gaan verkla.  Selfs sy ouers dreig om Frankenstein weg te gee.  Zackie sien dalk’n uitkoms vir sy probleme met die kompetisie wat gehou word waarin hy Frankenstein kan inskryf as die mees gehoorsame hond.  Maar Vincent spog met sy gehhorsame hond wat gaan wen.  Die kompetisie lewer allerhande kinkels op. Gaan daar dalk ‘n beromede hond aangewys word? En wat van mevrou Langenhoven se behemtheid met die beoordelaar meneer du Preez…

Weereens ‘n oortuigende en snaakse incident in Zackie en sy Frankenstein se lewens.

Jacobs, Jaco( LAPA, 2014)

Monday, November 10, 2014

Momo en Monsieur Ibrahim


Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran

Die skrywer van Oskar en die pienk tannie  bied die leser hier ‘n grensverskuiwende verhaal wat herinner aan die klassieke  werk The little Prince.  Dit is een van daardie spesiale boeke wat gewoonlik nie ‘n groot lesersaanhang trek nie; maar wanneer dit onder hul aandag gebring word, veral ook as ‘n verhoogstuk soos hier beplan word, is daar skielik groot belangstelling in die werk.

Momo is ‘n tiener-seun wat alleen saam met sy pa in die Rue Bleu-distrik in Parys woon. Sy pa funksioneer nie wonderlik na sy vrou en geliefde seun Popol  weg is nie, en gevolglik voel Momo alleen  en  moet hy self eksperimenteer oor grootword . Monsieur Ibrahim het ‘n kruidenierswinkel in die area, ‘n Arabiese kruidenier in ‘n Joodse straat.  Momo begin by hom blikkieskos  steel, maar die vriendskap tussen die twee groei tot ‘n betekenisvolle en leersame verhouding  vir Momo wat wonderlike lewenslesse van Monsieur Ibrahim  leer.

Ongetwyfeld is hierdie ‘n werk van literêre waarde. Vir my is ‘n teks wat eenvoudig maar met groot deernis en opregtheid geskryf het, die teks wat jou lank bybly en roer. Momo se haat verdwyn. Hy leer van liefde, geloof en vriendskap. Soos hy vertel:” Sedert Monsieur Ibrahim tussenbeide begin tree het, het die grootmenswêreld begin oopkraak. Dit was nie meer die muur waarteen ek my altyd vasgeloop het nie; deur die bars het iemand ‘n hand na my toe uitgesteek.”

‘n Juweel van ‘n boekie wat gekoester moet word.

Schmitt, Eric-Emmanuel( H&R, 2014) In Afrikaans vertaal deur Naòmi Morgan. 

 

Bennie Boekwurm is hier


Bennie  Boekwurm vertel  lekker stories

Die 4 stories in die boek is gebaseer op die TV-reeks wat in die tagtiger jare op SABC was.

Bennie Boekwurm is lief om vir kinders stories te lees.  Hy woon diep onder die grond in Wielie-Walie-park, en die kinders moet hom wakker raas as hulle stories wil hoor.  En dan soek hy gewoonlik ook nog sy bril.

Japie Apie soek sy mamma, Tokka die stoute kabouter, Mimi Mier dink diep en Die wurmpie wat nie vroeg wou opstaan nie is elkeen ‘n storie waarna kleintjies lekker sal kan luister. Die temas is welbekend- ‘n mamma  wat soek is; stoute kinders wat so lief is om blomme se koppe af te skop,  een wesentjie wat verkies om te dink terwyl haar span werk, en dan die bekende wurmpie wat uiteindelik in ‘n skoenlapper verander.

Louise Smit praat die taal van kinders. Hier is ‘n eerlike onopgesmukte teks wat lekker lees. Die rympies is ook toepaslik en maak die leeservaring nog vroliker.

Séan Verster se lewendige, opgewekte en kleurvolle illustrasies maak regtig die boek! Ek het by hom navraag gedoen oor die prosesse wat hy volg: Met potloodtekeninge word die illustrasies eers sorgvuldig op die bladsy geplaas. Dan word dit met swart ink ingekleur . Hierna word die illustrassies geskandeer en met Photoshop ingekleur.

Die resultaat is ‘n boek wat vanaf die omslag die leser aantrek  en lus maak om te lees.  Die diere , kinders en selfs die natuur  leef en beweeg en die gesigsuitdrukkings is ongelooflik korrek  in die  weerspieëling van die spesifieke dier of mens se gevoelens.    

Hierdie is sowaar ‘n fees vir die oog!  Goed gedaan.  Vir voorlees of selflees.

Louise Smit( H&R, 2014) Illustrasies deur Séan Verster.

 

Wednesday, November 5, 2014

Cool Oumas en Bonsende beddens!


Die coolste Ouma op aarde

Wie is die person wat in elke kind se lewe naas hul ouers, en Oupa, seker die belangrikste rol speel?

Hulle ouma natuurlik!

En hier bring Marita van der Vyver met illustrasies deur Zinelda McDonald vir kleintjies die geleentheid om deur die teks te vertel hoe elkeen se ouma lyk. Natuurlik nie soos die oumas in storieboeke wat maar valerig vertoon naas hul eie persoonlike unieke oumas nie.

Hier kan lesers kies en keur:  ‘n Cool ouma wat altyd besig is; ‘n dokter wat seerplekke gesond soen; ‘n ouma wat hou van helder kleure; ‘n rockster; ‘n tuinier; ‘n rosyntjie-ogies ouma lief vir bak; ‘n dame”; ‘n atletiese ouma; ‘n ouma wat stories lees; ‘n reisiger; ‘n onderste-bo ouma wat joga doen; ‘n ouma wat netsoos ‘n storieboek-ouma lyk, maar sy is natuurlik beter want sy is die kind se eie ouma.

“’n Regte ouma is altyd cooler as ‘n storieboek-ouma”. “Druk haar styf teen jou vas en vertel haar sy’s cool”

‘n Heerlike groot formaat prenteboek met die coolste illustrasies wat die teks uitbundig en kleurvol vol beweging  aanvul.   Knap gedaan! Hierdie gaan ongetwyfeld ‘n wenner wees.

Marita van der Vyver( LAPA, 2014) Illustrasies deur Zinelda McDonald    

Ons bons op die bed

Henk en Hestie bons op die bed. Dit lyk tog te lekker vir hul dieremaats, en een vir een sluit hulle by die twee kinders aan. Muis, Kangeroe, Tier, Sebra , Eend en Hond. Tot Olifant kom met dawerende pote by hulle aansluit. O nee! Daar bons die bed op sy rug en skiet deur die venster en vlieg deur die lug.  Olifant wil nie alleen agterbly nie. Saam gaan die avontuurlustiges op ‘n verbeeldingsvlug in die ruimte. Watter planet lyk die lekkerste om te besoek?  Raai nou net.

‘n Prenteboek wat kleintjies sal geniet want wie het nou nognie op ‘n bed rondgebons nie! En wat die ervaring  nog lekkerder maak is die moonlikheid dat hul heeltemaal kan ontsnap uit die werklike situasie na ‘n ongelooflike avontuur.

Bonsende kinders en vrolike bonsende diere maak hierdie boek ‘n lekker leeservaring.

Jarman,Julia(LAPA, 2014) Illustrasies deur Adrian Reynolds. Afrikaanse vertaling Jaco Jacobs

Tuesday, November 4, 2014


Plons

Dink nou net as julle ‘n swembad in die tuin het wat slymerig en groen van vuilheid is, en onverwags daag die mooiste meisie by julle voordeur op en bied aan om die swembad “blinkblou” te kry? Dis nou as jy die seun in die huis is met ‘n klein sussie Lanie wat met niks help nie.

Impulsief sê Hein gretiglik ja vir die aanbod.  Gou sal hy ontdek dat alles nie pluis is met sy skoonmakertjie nie-  sy het dan  skubbe. En toe die res van haar meermin-familie ook by haar aansluit en heerlik hul intrek in die swembad en later in hul badkamer neem, word Hein se probleem al meer oorweldigend!

Hy moet met alle geweld sy gesin van die swembad af weghou; in die see gaan swem is die alternatief, en met hul tuiskoms word die boodskap van hierdie aweregse verhaaltjie duidelik- selfs die meerminne kan nie meer die besoedeling in die see verduur nie. Met ‘n skoner see, sal hulle natuurlik liewer teruggaan see toe.

‘n Heerlike ligte leeservaring, moeiteloos geskryf, ‘n kombinasie van fantasie /realiteit wat 9-11jariges sal geniet. Arnelle Woker se volblad illustrasies van grootoog meerminne en mense werk sagkens teen ‘n deurgaans sagte groen agtergrond.  Dalk is daar ‘n regte meermin in elke swembad verskuil!   Maak seker …….

Viljoen, Fanie( LAPA, 2014)

 

Chuck Norris 'n leeservaring


Chuck Norris kan deel  deur  nul

Hierdie jeugroman het so pas die SANLAM-prys vir jeuglektuur se goue medalje 2013 verower.

Die Mullers se huis in 12de straat : Hier woon Albert se Ouma, ‘n wewenaar Pa, Marlie die 16jarige dogter, die verkleurmannetjie Dompeldorius ,en Albert. Albert dink Steve Jobs was cool. Hy is mal oor Chuck Norris grappe . Hy is die verteller in die verhaal en vanaf die inleidende paragraaf neem hy die leser op ‘n reis waarin jy sy drome leer ken, sy beste vriend Ashish, sy Ouma wat heel dikwels wegraak in winkels; Lungelo die skoolseun van wie hy aanfanklik nie baie hou nie; en dan die nuwe intrekkers oorkant die straat- Janine wat verwagtend is en ‘n man wat later blyk haar broer te wees. Twee onderwysers is betrokke by die verhaal se verloop- Meneer Potgieter wat hulle ‘n EWB taak laat doen en die Yskoningin- die LO onderwyseres.

Albert se bynaam by die skool is Mini-Me want hy is kort. Maar Albert is “lank” as ‘n  dromer, want hy voel “voor jy iets kan doen, moet jy iets kan droom”. Soos Steve Jobs. Hy neem fotos as ‘n stokperdjie  en hy en Ashish is mal oor games en speel gereeld in die Akasia Mall. Hulle hoor dat die games arcade gaan toemaak. Baie later sal hul uitvind wie die eienaar is.

 Hierdie is die dinge en mense in sy lewe wat hom raak:

Hulle gesin: sy ouma se gereelde wegrakery; Marlie se simple eks-boyfriends; sy Pa wat gedurig besig is en hom as die toekomstige Drain Wizard and Son kandidaat sien; en Marlie se snaakse idees dat hul oorlede ma nie dood is nie.

 Die skool:  Hy en Ashish se belangrike projek vir EWB wat handel oor sy droom om elke minderbevoorregte kind in die land van tweedehandse selfone te voorsien.

Marlie se vriendin Suzanne –‘n droom-meisie;  die verkleurmannetjie Dompeldorius vir wie Albert baie lief is; en baie belangrik- Chuck Norris –grappe – Albert is mal oor sulke grappe en vertel dit gedurig. 

Hierdie verhaal  bied die leser ‘n interessante, geloofwaardige en vermaaklike kykie in die lewe van ‘n gewone Suid Afrikaanse gesin en die jongmense met Albert as die spreekbuis vir hul drome en gevoelens.

Die karakteruitbeelding is oortuigend . Die styl gemaklik, snaaks, kort  sinne vertel die storie. Die spanningselement word goed gehandhaaf- hoekom verdwyn Ouma gedurig?; waarom dink Marlie hul ma leef nog?; wie stuur eposse aan Marlie en wie is die man Steve  wat sy gaan ontmoet?; gaan sy e-pos aan Bill Gates vrugte afwerp?; gaan  Janine na haar baba se geboorte ‘n groter rol in hul gesin speel?; wat gaan gebeur met hul EWB taak wat Meneer Potgieter administreer?

Dit is veral Albert se humorsin, beeldspraak en kommentaar en Chuck Norris grappe wat ek die meeste geniet het. Sy verhouding met sy Ouma is ook heerlik om te deel.Hy is altyd besorg oor haar; spot oor die slegte kos wat sy maak:Sy Ouma se Chinese herderspastei: As die Chinese dit regtig gereeld eet , kan daar onmoontlik soveel van hulle op die aarde wees”;-Sy Ouma se verdwynery wat dalk ‘n “alien abduction” kan wees; die baie visvingers wat sy koop is genoeg “vir ‘n gesin robbe vir ‘n jaar lank”.Hy sê van Steve:”As daai man hot is, is ek wraggies so warm jy kan met my sweis”.

Tieners sal kan identifiseer met die Muller gesin en die mense by wie hulle betrokke is. Die tieners verteenwoordig menige tiener in die drome wat hul nastreef, die frustrasies van verhoudinge met maats en ouers; maar ook die issue van ‘n oorlede ma en ‘n dogter se behoefte om met haar kontak te maak. Daar is ‘n opregte warm gevoel wat dwarsdeur die boek loop. Selfs die feit dat sy Ouma se optrede suggereer dat sy mediese hulp nodig het, word fyn ingeweef in die verhaal. Die verskillende spanningselemente word ook dwarsdeur die verhaal gedra en tot ‘n klimaks gebring.

Hierdie is ‘n volwaardige wenner van die SANLAM prys virJeuglektuur.Ideaal vir biblioteke en sal ‘n welcome voorgeskrewe  werk vir skole kan wees.

Ferreira, Annelie(Tafelerg, 2014)

 

 

Monday, November 3, 2014

Speurhond Willem rocks!


Speurhond Willem en die diamantdiewe(Tafelberg, 2014)

Adriaan vertel Willem dat hulle graad gedurende die vakansie op die Oranjerivier gaan roei, dus kan hulle nie die boomhuis bou wat hy Willem belowe het nie.  Toe hy by dis skool aankom om te vertrek, daag Willem op in ‘n swart motor en vertel Adriaan hulle het ander planne- hulle gaan Nabimië toe om diamantsmokkelaars te vang.

Konstabel Kolgans van die Spesiale Veldeenheid verwelkom hulle op die lughawe vergesel van die groot swart wolfhond Max. Oppad  los hy die twee in die middel van die woestyn sonder water of kos.

Gelukkig kom ‘n snaakse klein mannetjie hul te hulp. Hy gee aan Willem ‘n pragtige pienk klippie as geskenk.  Soos die ondersoek vorder kom die twee speurders voor baie kopkrappers te staan- hoe word die diamante uitgesmokkel?

Hierdie is die sesde boek in die uiters gewilde Speurhond Willem reeks. Die skrywer het weereens bewys dat sy haar lesers nie teleur stel nie.  Die Namibiese omgewing word oortuigend geskilder; die plot is goed uitgedink en hou die leser betrokke tot die einde, en met haar gemaklike skryfstyl en humoristiese aanslag is dit net ‘n groot plesier om in nog ‘n Willem avontuur te deel. Chris Venter se illustrasies is ook in die kol en skep net die regte atmosfeer met sy uitbeelding van die verskillende karakters en omgewing.

Mag Speurhond Willem nog baie heerlike avonture geniet!  My gunsteling aanhaling uit die boek:”Sedert ons Willem van die Dierebeskermingsvereniging gered het , was my lewe(Adriaan )  al meer dikwels in gevaar as wat my ma vir ons poeding maak op Sondag”.

Elizabeth Wasserman( Tafelberg, 2014)  Illustrasies deur Chris Venter