Tuesday, September 19, 2017

Van n sirkus tot spoke en kupido


Scheeres, Solet en Van Heerden, Die leeutemmer se assistant(LAPA, 2017)

Min het Martjie geweet toe Bertus haar uitdaag om op die trein te klim en tot bo-op die leeu se krat te gaan staan, dat sy langs die leeu sou beland en met die trein op reis na ‘n vreemde bestemming sou gaan. Want toe die trein begin ry, kon sy nie betyds afklim nie.

So begin Martjie se avontuur saam met die Pagel sirkus. Baloi die leeu-oppasser laat haar toe om te help met die olifante, al die ander lede is gaaf en laat haar tuis voel, behalwe Sergei wat hom verbeel hy is nog in Rusland. Gou kom sy ook agter dat Sergei by ‘n smokkelary betrokke is. Wally is die nukkerige olifant wat later deur die polisie doodgeskiet word.

Die skrywer gee op bladsy 144 inligting oor die Pagel sirkus, gevolg deur ‘n sirkus-woordeboek, ‘n lys van woorde uit die 1930’s en ‘n bibliografie van geraadpleegde bronne.

Kinders wat bekoor word deur die sirkuslewe sal sekerlik die boek geniet. Scheeres skryf oortuigend, en die spanningslyn word goed gehandhaaf.   

Kaiblinger, Sonja: Harry Griesel –die spookmeesters( H&R, 2017)

Hierdie is die derde titel in die reeks. Otto en sy huisspoke Sir Tony, Bert enMolly en sy troeteldier vlermuis Otto bly in Radysstraat nommer agt. Tannie Sharon is die eienaar van die huis en versamel horlosies. ‘n Nuwe buurvrou trek in in meneer Olsen se huis,  Madame Olga, en tannie Sharon is dadelik beïndruk met die gawe vrou. Fernando is die Spaanse spook wat in die huis bly en hy pleit by Otto om van die verskriklike vroumens ontslae te raak.

Hulle dink dat sy spoke kan sien, veral as haar ligbruin oë  gloei. Mettertyd sal hulle uitvind dat ‘n werklike spookmeester deur haar werk. Dit is ‘n baie gevaarlike spook. Madame Olga waarsku die jongmense dat oom Archibald ‘n baie spesiale pers steen in hul tuin begrawe het,en die juweel lok die spookmeesters nader.  Drakemor die Verskriklike is die spook wat die steen wil bekom sodat hy die Grieselgrypers kan ontduik.    

Gaan Otto en sy helpers Drakemor op sy plek sit?

Lekker opwinding vir lesers van die Harry Griesel reeks , en sommer alle kinders wat van grillerige grieselrige stories hou!

Allers, Annabel: Kupido.com( LAPA, 2017)

‘n Debuutroman wat ideale leesstof  sal wees vir tieners wat ‘n romantiese storie geniet. Ons heldin is Léa, ‘n doodgewone meisie wat smoorverlief is op die hoofseun, Philip Cronjé- ‘n aantreklike donkerkop , slim ook, maar ongelukkig het hy reeds ‘n meisie. Léa se vriendinne is bekommerd oor haar vaal liefdeslewe, en Kaylie skep ‘n vals profiel vir haar op Kupido.com:

I’m a SingleLady wat baie sportief is, ‘n bikinimodel in haar vrye tyd . Sy hou van bloedrooi lipstiffie en haar ideale man is avontuurlustig en sportief en neem die leiding en moet haar kan beskerm. Toe Philip Stud-007  van haar profile hou en wil kennis maak, begin die uitdaging vir haar vriendinne om haar voorkoms meer opwindend te maak sodat sy Philip kan ontmoet- ‘n rooi pruik sal haar vaal haartjies wegsteek.

Die eerste ontmoeting is toe ook baie suksesvol, maar sal hulle dit kan volhou om Philip te mislei? En wat van Werner die ou wat haar detensie laat kry en gedurigdeur haar aandag probeer kry?

‘n Ligte verhaal wat moeiloos lees en veral meisies gaan bekoor.    

Smit, Louise : Haas Das se nuuskas-episode 4( H&R, 2017) Illustrasies deur Vian Oelofsen.

Klein Boeboe Bobbejaan raak weg. Die diere dink Hoohoeff Hiëna het hom gevang. Haas Das moet dus ‘n dringende uitsending aan die diere doen waar Koning Leeu direk met die diere gaan praat om te help met die soektog na die verlore klein bobbejaantjie.

Kleinstinkie Muishond is een van sy beste maatjies, en toe baasspeurder Tienie Ratel besluit dit is tydmors om verder na die kind te soek, besluit Kleinstinkie hy gaan hom probeer vind. Hy vertel hoe hy net toe Hoohoeff Boeboe wou vang sy stert gelig het en hom Kolskoot in sy bakkies stink gespuit het.

So word ‘n hartseertyd omskep in ‘n Feesdag in Diereland!

Vian Oelofsen se illustrasies verhef ‘n doodgewone kinderstorie  tot ongekende hoogtes met sy uitbeelding van die verskillende diere en hul omgewing – hy het ‘n besondere aanvoeling van prente wat die teks sal aanvul en die verhaal nog meer kleurvol en vermaaklik sal maak.  ‘n Pragtige boek wat op elkeboekrak tuishoort.

Viljoen, Fanie: Krappie en die kroon( H&R, 2017) Illustrasies deur Alistair Ackermann

Krappie hou van avontuur.  Sy sussie probeer hom nog waarsku om nie rond te loop nie, maar Krappie wil sy omgewing verken.Hy gewaar ‘n groot blink ding tussen die rotse- dit is ‘n glasbottel waarin ‘n seeslak vasgevang is. Toe hy sy knyper insteek om die sappige happie beet te kry,sit dit vas. Die  krewe is woedend, want Krappie het hul koning se kroon van die rotse afgestamp, en nou moet hy dit terugkry. Hy belowe om die kroon te gaan soek.

Die vasgekeerde seeslak kom tot sy redding  met goeie raad, en as die bottel breek tussen die rotse, oortuig hy die koning dat die gebreekte bottel se nek  soos ‘n kroon lyk, en die verlore kroon kan vervang.

So eindig sy avontuur wat amper sy lewe gekos het, op ‘n positiewe noot. En as sy ma tuiskom , verseker hy haar dat hulle sommer baie soet was!

‘n Groot formaat prenteboek met ongewone illustrasies deur Alistair Ackermann van reuse krewe en ‘n krappie wat rondswem met sy knyper wat in die bottel vassit. Die onderwater tonele gee werklik ‘n gevoel van die see , en die krappie en krewe het sowaar gesigsuitdrukkings wat wissel van vrees, woede en uiteindelik vreugde.

‘n Goeie lewensles word vertel- hulp kom soms vanuit ‘n onverwagte oord; dit help om vriende te maak en ‘n ander te vertrou, selfs as dit amper onmoontlik lyk onder die omstandighede.  

Jacobs, Jaco en Viljoen, Fanie: Die wonderwêreld van seelewe( LAPA, 2017)

Hierdie is die 13 de titel in die Hoezit! –reeks. Alle aspekte van oseane en die visse , seesoogdiere, jellievisse, krappe en krewe, voëls, seeskilpaaie, pikkewyne word in ‘n kleurvolle kinder-vriendelike publikasie uiteen gesit.

Vreemde feite oor bv. ‘n haai word gegee, dat ‘n Blouwalvisse tong omtrent soveel wweeg soos ‘n olifant; end at ‘n deel van ‘n seekat se brein in sy arms sit.

‘n Letterblok versteek seediere wat kinders kan soek, 5 mites uit die see word vertel, en daar is selfs ‘n tangram wat kinders kan gebruikom dierevorms te maak. Rekords uit die see, asook ‘n paar van die see se gevaarlikste bewoners soos die Leeuvis, die Blouringseekat en die Boksjellievis wat uiters giftig is. Daar is finaal ook ‘n versoek omons oseane te red,, en drie bladsye van vrae om kinders se kennis te toets volg.

Werklik ‘n nuttige publikasie wat teen R80 maklik bekombaar is, ook vir tuis versamelings.

 

  

 

 

No comments:

Post a Comment