Wednesday, September 20, 2017

'n Besondere groep nuwe prenteboeke


 

Gaudesaboos, Pieter en Francis, Lorraine( PROTEA, 2017) Afrikaanse vertaling deur Rentia Bartlett-Möhl

Stel jou voor ‘n seuntjie wat altyd moeg is en oral aan die slaap raak!- Walter slaap as hy swem, teken, skoppelmaai ry, in die akwarium, in die verkeer, selfs by sy verjaarsdagpartytjie. Die raad by ‘n Koninklike Hospitaal vir Slaapsiektes faal, so ook die raad van ‘n wyse ou vrou wat in die oerwoud woon.

Almal is buite raad, totdat ‘n hond in die huis verskyn. Dis net wat Walter nodig gehad het- iemand om mee te speel.

Die illustreerder het ‘n unieke styl . Die illustrasies word digitaal gedoen, en ek stem saam met die uitgewer dat dit ‘n “nostalgiese of retro-gevoel” gee. Elke situasie is oorspronklik geteken en spreek van ‘n ryk verbeelding. Die boek is ook op dowwe papier gedruk, wat bydra tot die ongewone gevoel . Of die boek veel aftrek gaan kry onder lesers, moet ons maar sien. Defnitief is dit spesiaal maar tot ‘n uitgesoekte gehoor gerig.

Misheiker, Betty: Die dapper muis( LAPA, 2017) Illustrasies deur Chris Venter.

Die skrywer is bekend vir haar gewilde liedjies , en die uitgewer het dit goed gedink om haar op hierdie manier weereens erkenning te gee.

“Ek’s ‘n dapper muis, kyk hoe stap ek deur die huis, en daar’s niks waarvoor ek skrik nie”. As kinderbibliotekaresse het ek gereeld die liedjie in die biblioteek gesing,  dit is regtig n persoonlike gunsteling!

Hiermee saam is Chris Venter se illustrasies van die geliefde lied in die kol. Hy slaag daarin om lewe aan die teks te gee op ‘n  prettige en vrolike manier,  en ‘n muis kan eenvoudig nie ‘n meer dapper houding inslaan as juis sy illustrasie van die dapper muis nie!

Die boek het net absoluut ‘n onweerstaanbare bekoring, en spreek van ‘n fyn aanvoeling vir wat kleintjies gaan gelukkig maak. Hoogs aanbeveel.

Misheiker, Betty: Die eensame krokodil( LAPA, 2017). Illustrasies deur Johann Strauss.

Die krokodil is baie hartseer omdat hy graag maters wil hê, maar “almal sê ek vreet te graag”.

Hy “ontsnap” uit die watergat en beland nader aan ‘n moontlike prooi deur sy lyf om ‘n boomstam te rank.  Maar die tak breek, en uiteindelik beland hy terug waar hy hoort,sonder dat hy enige “vriende”gemaak het. 

Strauss se illustrasies dra ‘n sterk gevoel oor van hoe gevaarlik die krokodil regtig is , en ook hoe grillerig.  Hoewel die toeskouers heel opgewonde lyk met die krokodil se mannewales, is daar tog afsku op gesigte te bespeur as die opsigters by die dieretuin hom weer gevange neem.

Persoonlik het ek die krokodil oneindig jammer gekry! Die verhaal begin waar ‘n heerlike stuk vleis na hom gegooi word, maar in die laaste illustrasie is sy bek nog toegebind terwyl hy tranerig aan die stuk vleis vasklou. Ek huil sommer saam met hom.

Misheiker, Betty: Die Lappop( LAPA, 2017) Illustrasies deur Karen Ahlschläger.

‘n Lappop word op die ashoop weggegooi omdat sy stukkend, “gedaan”, en nie meer mooi is nie.

En wie is haar metgeselle hier?”: ‘n vrot pampoen, ‘n stukkende skoen, ‘n grammofoonplaat, ‘n kous sonder maat. ‘n lëe bottle bier, ‘n verlepte angelier, ‘n gelapte binneband, en ‘n ou koerant”.

Sy voel gou beter toe hulle haar as die ashoop-koningin kroon, en nou word sy deur haar onderdane bedien, wat haar sommer baie gelukkig maak.

Hierdie lappop het sekerlik die grootste groen oë en herinner aan die Big eyes kunstenaar , Margaret Keane , se werk. Dogtertjies sal maar moet besluit of sy hulle bekoor- dit twee illustrasies waar sy gekroon word en daarna  op haar troon sit, is besonder vrolik en feestelik. Om nie te praat van die finale knipoog omring deur ‘n vrolike hart nie!

Preller, Martie: Die Babalela-storieboek( LAPA, 2017) Illustrasies deur Andries en Erica Maritz.

Wat ‘n heuglike ervaring om al 4 Babalela-boeke hier in een storie-omnibus te vind!  Martie Preller se Babalela-stories het ek as bibliotekaresse daagliks aanvrae voor gekry, en dit was en is nog altyd een van die mees geliefde karaktertjies wat in Afrikaans kinderboeke ‘n verskyning gemaak het.

Die uitgewer meld dat meer as 85000 eksemplare van die vier titels reeds verkoop is, die verhoogstuk het landwyd getoer, en selfs ‘n Babalela-pop, T-hemde en ‘n CD het ook bygedra tot die pers figuurtjie se gewildheid.   

Hierdie omnibus behoort in elke biblioteek-en tuisversameling waar ouers en bibliotekaresse kinders lief vir stories wil maak.

Babalela is ‘n parmantige individu wat uitgelos wil word deur buitestaanders, en net tuis en gelukkig voel , “diep , diep in ‘n donker bos waar die son net soms deur die take loer…” Hoe lekker was dit nie om die kindergesiggies dop te hou as die verteller begin vertel met die hulp van hierdie pragtige teks nie! Ek is seker groot vreugde gaan hierdie omnibus aan baie kinders bring.

Schaapman, Karina:  Die Muishuis- Sam en Julia( PROTEA, 2017)Ton Bouwer het die vertrekke en situasies in die verhaal gefotografeer.

Die uitgewer vertel hoe Schaapman gedink het dat sy ‘n regte muishuis kon bou, en toe so gemaak het. Dit is begin deur lemoendose te versamel en te omskep in die vertrekke van die huis.” Vir die binneversiering is outentieke materiaal uit die jare vyfig, sestig en sewentig en allerlei soorte afvalmateriaal gebruik. “Daar is ‘n verwysing na www.themousemansion.com, sowel as die Mouse Mansion-blad op Facebook en die kanaal op YouTube. Die boek is in 2012 bekroon met ‘n Silveren Penseel en in 2015 met ‘n Gouden Boekprys.

Op die skutblaaie kan gesien word hoeveel detail daar in elke vertrek van die Muishuis gebruik is met o.a. meubels, boeke, plante,en materiaal.

En as die Muishuis self nie jong lesers se verbeelding reeds gaan aangryp nie, is daar as bonus die twee dierbare muiskinders, Sam en Julia wat in die Muishuis woon. Die twee het hul eie geheime hut gebou, en verder doen hulle al die gebruiklike dinge soos pannekoek bak, musiek maak, nuwe babas help versorg, verjaarsdag partytjie hou, met die wasgoed help , waterpokkies kry en by ‘n bakkery besoek aflê.Hulle besoek ook Meneer Sinkel se winkel vir seep, en geniet die Sjabbat saam met die ander muise, skrik vir Julia se skaduwee, en gaan dan slaap na ‘n uiters opwindende dag.   

Die Muishuis behoort baie jong lesertjies te fassineer.     

 

No comments:

Post a Comment