Monday, September 11, 2017

'n Versteekte krokodil en boosaardige broers..


Jacobs, Jaco:  Daar’s nie ‘n krokodil in hierdie boek nie( LAPA, 2017) Illustrasies deur Chris Venter

Kombineer Jaco se storie-vernuf met Chris Venter se verfrissende humoristiese oog, en die boek kan nie anders as om te slaag nie!

Lesers word sommer met die intrapslag verseker dat hoe hard hulle nou ookal mag soek, daar is nie ‘n krokodil in die boek nie. Natuurlik net die regte aansporing vir nuuskierige kleintjies om te begin soek na daardie verskuilde groen monster! Karakters uit geliefde feëverhale is die krokodil in vermomming: Cinderella se groen stert is goed weggesteek; maar as sy uit die paleis hardloop is die gesig heel duidelik die van die krokodil.

Die reus in Jan en die boontjierank hardloop verskrik weg as hy Jan as die krokodil ervaar; die prinsessie wat die padda wil soen om haar goue bal terug te kry, soen die aanloklike rooi mond van die krokodil. Gouelokkies is nie heeltemaal so onskuldig as sy deur die bere gewaar word nie, en Rooikappie se ouma as die wreedaardige krokodil leer die wolf behoorlik ‘n les!

Chris Venter kleur die bladsye in met vriendelike muise, ‘n fee, die groenste kronkelende boontjierank, geel pampoene, ‘n verskrikte reus, die allerfraaiste aandtoneel waar die prinses langs die waterpoel sit omring deur ‘n skitterende feestelike omgewing waar wit blommetjies in die naglig skitter; ‘n goue krulledos vir Goue Lokkies wat krul en krul; en drie stywe beere wat amper opgestop lyk; en ‘n regtig grillerige gesiggie van die krokodil omraam deur goue krulle in die bed.

 Rooikappie se woud bestaan uit ‘n verskeidenheid van regop boompies wat langs die pad staan. En in amper elke illustrasie is daar die muis-karaktertjies wat toekyk. Sy illustrasies is heerlik kleurvol, vol humor en beweging en baie oorspronklik.

Die boek behoort baie lesertjies ure van genot te verskaf. 

Radloff, Adeline: Die boosaardige broers Botha( Tafelberg, 2017) Illustrasies deur Alex van Houwelingen.

“Die broers Botha woon in die Bosveld, ver van die groot stad af, waar dinge nog rof gaan…”

Barend is die oudste en ‘n rofstoeier van beroep. Ben is die tweede oudste en altyd knorrig , daarom is sy bynaam Brom. Bernard is die derde broer  met die bynaam Buskruit-hy hou van skiet en jag.

Bulelani Botha is die jongste en is heeltemaal verskillend van die ander drie. Hy hou van gesonde kos, lees en is vreedsaam , is lief vir diere en hou nie van jag nie.  Die ma Bettie is oorlede, en gevolglik moet die ouer broers na Bulelani omsien. Maar hulle slaag netnie daarin om hom te verander nie! Hy besluit dus om elkeen van sy broers ‘n les te leer deur elkeen ‘n lelike streep te trek.

Die broers verander so in meer voorbeeldige  karakters, en hulle besluit selfs om die kinders reg te sien by die skool wat Bulelani so boelie. Hoe hy hulle regsien en wat met die kinders by die skool gebeur, moet die lesertjie maar self uitvind met die lees van die boek! 

Die skrywer vermaak die leser met die broers en hul eienaardighede; en baie duidelik is die lewensles dat mense kan verander, dit mag dalk net aanpassing verg en die begeerte om die wêreld ‘n beter plek vir almal te maak.”Mense soos Breker, Brom, Buskruit en Bulelani, die boosaardige broers Botha!”

Baie geskik vir beginner lesers en almal met ‘n sin vir humor.

No comments:

Post a Comment