Thursday, December 3, 2015

Oorlogwinter


Oorlogwinter, deur Jan Terlouw( PROTEA, 2015) Uit Nederlands vertaal deur Daniel Hugo.

Hier bied die skrywer ‘n lekker geleentheid vir jeugdiges en ook volwassenes om ‘n verhaal oor gebeure in die Tweede Wêreldoorlog te lees wat jy moeilik kan neersit. Die vertaling is gedoen in Afrikaans wat amper “ouderwets” klink en juis so getrou bly as ‘n aanvaarbare vertaling van die Nederlandse teks.

Michiel is die hoofkarakter- ‘n 15-jarige seun  wat  op sy eie manier ‘n persoonlike versetbeweging voer teen die Duitsers. Hy help die duisende vlugtelinge deur fietse en ander vervoermiddels te herstel; help kos vind vir die honger mense, en die verhaal word meer opwindend en spanningsvol wanneer hy verantwoordeliklheid neem vir die versorging van ‘n Engelse vlieënier in ‘n versteekte skuilplek. Sy suster raak ook betrokke met die verpleging van Jack.

Maar hy help ook ‘n Jood en sy seun om te ontvlug.  Daar is onvergeetlike  en dapper karakters soos die  interessante barones Weddik Wansfeld wat haar verset teen die Duitsers; Michiel se vriend Dirk wat gevange geneem word; die raaiselagtige dood van die Duitse soldaat vir wie se dood Michiel se pa ook doodgeskiet word; Schafter wie Michiel oortuig is ‘n verraaieris. En sy oom Ben?  Oom Ben se identiteit word ook ‘n verassing. 

Die spanningslyn word goed gehandhaaf tot die einde; die verhaal word ‘n ontroerende boodskap van dapperheid en verset teen oorlog. Die boodskap dat oorlog soveel smart veroorsaak word telkens gedemonstreer in die verhaal: “  Sy pa was reg toe hy gesê het oorlog beteken honger, trane,ontberings, angs, pyn…”Terselfdertyd is daar die boodskap van hoop en dat jy iets kan leer van die oorlog, dat daar iets aan oorlog is waarop jy die res van jou lewe kan steun- die onblusbaarheid van die menslike gees.

Soos Michiel en Dirk finaal besluit:” Net een ding het sin”. “Om nooit weer in ‘n oorlog te veg nie, net teen oorlog”.

Oorlogswinter sal inderdaad ‘n leemte vul by Afrikaaanse jeugverhale.

 

Lona Gericke Desember 2015

 

No comments:

Post a Comment