Tuesday, October 27, 2015

Koning kraai!


Wie is Koning?- Tien magiese stories uit Afrika , deur Beverley Naidoo en Piet Grobler( Jacana, 2015). In Afrikaans vertaal deur Alet Kruger.

In hierdie 10 stories  kom  diere en mense voor verskillende uitdagings te staan, en altyd is daar ‘n les om te leer. Leeu word op sy plek gesit deur olifant as hy dink hy is koning van die diere; die twee vriende os en donkie moet hard vir ‘n boer werk; skilpad en sy banjo red die ander diere wat deur luiperd misbruik word; apie help vir vaalboskat om van sy vlooie ontslae te raak, maar eindig self in ‘n boom nadat hy die kat se stert aan ‘n boom vasgebind het; seekoei en vuur se vriendskap eindig rampspoedig as seekoei al sy hare verloor toe hy nie vuur se hitte kon ontsnap nie;  olifant se kort slurpie word gerek in ‘n toutrek kompetisie met krokodil; ‘n eentand olifant kom tot sy einde as hy ‘n vuur in sy maag kry ; hiëna verloor sy respek vir hoenderhaan toe hy ontdek hy het nie regtig ‘n vuur in sy kam nie en nou moet hoenderhaan kraai vir sy kos.

Die Meulenaar se slim dogter help haar pa om die sultan se toetse te slaag en word so sy bruid, en ‘n vrou gebruik haar muiskind om al die huiswerk te doen.     

Daar bestaan reeds baie versamelings diere-legendes en stories, maar sekerlik kan daar nooit genoeg wees nie! Hierdie 10 stories is geskikte voorlees-materiaal , en Piet Grobler sorg met sy vrolike illustrasies dat die regte atmosfeer geskep word.   Diere en voëls gee hom die geleentheid om uiting te gee aan sy ryk verbeelding, en weereens bewys Piet dat hy ‘n meester is.

Sy sterk humorsin kry ook vrye teuels- ‘n donkie het ‘n klein voëltjie op sy rug, die kleurvolle blomme op kameelperd se rug is vol beweging; klein goggatjies en voëltjies verskyn oral. Skilpad met sy banjo lyk tog te vrolik; en luiperd kan nie kwaaier lyk met sy lang naels en skerp tande nie. Die diere lyk slinks as hulle moet;, en blou apie is blouer as blou! Seekoei met die stoppeltjies oral op sy lyf waar daar voorheen hare was het nog ‘n brandende tak op sy voorkop; -die brandende vuur lyk skrikwekkend in diep oranje gele en bruine .Krokodil steek amper nie by die water uit as olifant niksvermoedend buk om water te drink nie. Die uiteindelike  toutrekkery is ‘n skets met olifant se ogie wat baie verskrik lyk. Unanana is liefdevol geskets waar sy die kinders versorg, en ou een-oog olifant lyk verskriklik as sy kop begin brand van die vuur binne-in hom. Hiëna het net die regte nadenkende kyk op sy gesig as hy die niksvermoedende hoenderhaan konfronteer. Die klein muisie wat so hard werk met die besem lyk regtig of hy verbete klou aan die lang dun stok. Die skutbladsye is kleurvol en vol detail.

‘n Kleurvolle en oorspronklike aanbieding. Piet Grobler gebruik deurgaans sterker helder kleure en daar is ‘n oortuigende Afrika gevoel met die warmte van ‘n Afrika son en sy diere. Mooi aanbieding.  

 

 

No comments:

Post a Comment