Monday, October 19, 2015

Ek onmoet Naledi !


My Bekendmaking met Naledi se boeke:

 

Maartens, Wendy: Kaptein Seeley Kimberley se waterwoef( Naledi, 2015) . Ilustrasies deur Colleen Gericke

Die inspirerende verhaal van die dapper hond Kaptein Seeley- haar naam was eers Gigi en haar redding uit Kimberley se Groot Gat deur die polisieman John Seeley. Haar verhaal het jou verbeelding aangegryp, en hier vertel Wendy Maartens dit in eenvoudige taal sodat jong lesers self kan lees. Die boek word uitgegee as ‘n reeks Ware diere-avonture  1.

Hierdie boek in sagteband is baie treffend geillustreer deur ColleenGericke. Deurgaans gebruik sy donker kleure wat opgehelder word met die rooi helicopter –‘n teken van hoop, en dan haar redder in sy rooi mondering. Kaptein Seeley word met fyn aanvoeling geteken- die leser sien voortdurend sy geel lyfie teen die donker agtergrond van ‘n diep onheilspellende gat.

Die eerste boek in die reeks is uiters geslaagd en sal baie kinders se harte verbly.

Botha, Jaco: Die avonture van Lulu Lerulu (Naledi, 2015) Illustrasies deur Janienke van Zyl.

Watter jong leser sal nie soos ek absoluut betrokke raak by Lulu se avonture nie!

Lulu word aangeneem deur die vriendelike Tannie Pizza. Sy sorg goed vir Lulu maar ongelukkig is sy spoedig verplig om vir Lulu ‘n ander tuiste te kry, want Tannie Pizza word aangekeer omdat sy dronk bestuur, en Lulu word die eiendom van die nare polisieman sersant Brand en sy afknouerige seun Krisjan. Haar omstandighede word al hagliker- sy moet self iets vind om te eet, en word later in die tuin vasgemaak waar sy verswak en amper van honger omkom. Gelukkig besluit Tannie Pizza om te gaan kyk hoe dit met haar gaan, en Inkie en haar man besluit dat Lulu by hulle kan bly. Hier kry sy die geleentheid om te wys hoe dapper sy regtig is.

Lulu se verhaal, grotendeels ‘n ware verhaal, behoort  baie lesertjies te boei .

Die illustrasies en aanbieding in die geheel het amper ‘n gevoel van ongekunstelheid en en opregtheid.

Persoonlik sou ek die bedankings van die skrywer aan Lulu se honde vriende se eienaars wat hoofstukke geborg het, aan die einde van die verhaal geplaas het.

Marais, Elaine: Bont alarm( Naledi, 2015)

Hierdie is Elaine Marais se eerste jeugverhaal, Sy skryf gewilde Christelike liefdesromans, en die inslag is duidelik subtiel ingeweef in ‘n verhaal waar die hoofkarakter Juhan Bruwer uit ‘n godsdienstige familie kom en deur ‘n fase in sy lewe gaan waar hy moet leer om weer die seun te word waarop hy self ook trots kan wees.

Hy “leen” sy Pa se motorfiets, en ry tannie Lenie se hondjie dood. So begin hy die tannie help in haar tuin en om die huis, en ‘n sterk vriendskap ontwikkel tussen die twee. Sy bederf hom met haar heerlike gebak, en later oortuig hy sy twee vriende om hom te help om haar huis ook te verf.

‘n Interessante verwikkeling is sy belangstelling in die meisie Karien ; sy dink hy wil die hondjie by hulle koop vir ‘n ander meisie.

Die skrywer is duidelik ervare en gee ‘n lekker afsluiting tot die verhaal waar die karakters  uiteindelik bymekaar gebring word. Die godsdienstige inslag is baie diskreet gedoen, en nie hinderlik nie. Goeie aanbieding.

Kulsen, Anzil: Sorrie maak nie gesond nie( Naledi, 2015)

Vanaf die eerste paragraaf waar Rose en Rodriek in sy kar teen Soetberg geparkeer is,  sal tieners betrokke raak by ‘n verhaal waar baie meisies sal identifiseer met Rose se stryd om nie seksueel aktief te wees en aan Rodriek se versoeke gehoor te gee nie. Ongelukkig het hul besoek aan die klub Las Vegas Rose wel in n situasie gebring waar sy verwagtend is, en omdat sy niks van die aan onthou nie, glo dat Rodriek haar verkrag het.

Haar huislike omstandighede is ook ingewikkeld met ‘n ma wat te veel drink, en nog steeds treur oor Rose se oorlede boetie. Haar pa weer probeer by die gesin betrokke wees, maar slaag nie altyd hierin nie.

Kulsen skryf hier ‘n verhaal wat soms onaangenaam is om te lees,maar terselfdertyd is die situasies werkliken die emosies sterk , oortuigend en aangrypend.   Rose se omstandighede en stryd is geloofbaar en werklik. Tieners sal baat vind by die lees van ‘n boek wat uiters leersaam is. ‘n Sterk verhaal, met die boodskap dat Sorrie nie gesond maak nie.

Mia Oosthuizen as uitgewer word geluk gewens met die keuses wat sy gemaak het- elke boek het meriete en die keuring was in die kol.

 

Lona Gericke.  Oktober2015

No comments:

Post a Comment