Thursday, December 3, 2015

Pragtige rympiesboek


Rympies vir Pikkies en Peuters, saamgestel deur Riana Scheepers. Suzette Kotzé-Myburgh en Gertie Smit( Tafelberg, 2015)

Met Linda Rode se In die land van Pamperlang, het Tafelberg die leserspubliek ‘n boek aangebied  wat as bundel so mooi en kosbaar is dat ‘n mens net dankbaar is vir die insig wat geopenbaar is met die keuse van skrywer en illustreerder.

Vanjaar verskyn Rympies vir Pikkies en Peuters, en weereens is dit ‘n bundel wat absoluut te pragtig vir woorde is!  Die samestellers is gesoute ervare mense, en ek is so verheug dat hulle ‘n groot leemte gevul het. As kinderbibliotekaresse het ek maar self bekende rympies in Afrikaans vertaal vir storietyd, want rympies is so uiters belangrik in die kind se ontwikkeling. Nou kan elke kinderbibliotekaress, ouers en grootouers ‘n boek bekom wat so uiters noodsaaklik en belangrik is!

Rympies is ingedeel onder die hoofde- hier is ek, ek speel, rondom my, ek raak slim, en in die natuur. Dit is oorspronklike digwerk deur verskeie digters wat bydraes gelewer het.

Die vier afdelings is deur verskillende kunstenaars geïllustreer-  Maja Sereda doen Hier is ek; Adelle van Zyl  ek speel; Alzette Prins –rondom my; Susie Appleby –ek raak slim; en Sam van Riet – in die natuur.

Elkeen se uitbeelding van die rympies is heel besonder , vrolik en treffend. Die omslag is gedoen in liggeel en blou met vriendelike kinders en ‘n baba wat beweeg tussen ‘n muis op ‘n fiets, ‘n beertjie wat aan ‘n sambreel rondvlieg, ‘n voëltjie op sy hok en ‘n spelerige worshondjiewat baba se gesig wil lek.

‘n Gebruiksgids is saamgestel deur Gertie Smit Grondslslagfase-lektor by die Onderwyskollege en Kaapse Skiereiland Universitiet op Wellington.

Met oortuiging kan ek sê hierdie is een van die mooiste boeke ooit!  Hoogs aanbeveel vir alle versamelings. Kinderbibliotekaresse- hier is ‘n belangrike boek vir julle.

Lona Gericke  Oktober 2015

No comments:

Post a Comment