Tuesday, April 7, 2015

Siembamba bekoor


Siembamba- immergroen rympies vir kinders  saamgestel deur Wendy Maartens met illustrasies deur Alzette Prins ( LAPA, 2015)

 

As kinderbibliotekaresse het ek met groot gesukkel Engelse rympies en vingerspeletjies in Afrikaans vertaal, en altyd gehoop iemand stel ‘n boek saam wat ouers en bibliotekaresse en onderwysers sal help om kleuters lief vir ons wonderlike taal te maak . Want niks onthou ‘n mens mos beter as daardie rympies,  raaisels, tongknopers , gebedjies en s laapliedjies van jou kinderjare nie.

En hier word Siembamba gepubliseer met die volledigste versameling van kinderrympies en versies ooit.

‘n Lys van erkennings en bronne word gegee, en skrywers soos C.J. Langenhoven, P.W.Grobbelaar; D.J.Opperman , Van Bruggen en nog vele meer se werk vind hier ‘n tuiste.

Dit is die heerlikste boek vir elke gesin ; noodsaaklik vir skool-en biblioteekversamelings en oumas en oupas moet maar die sak skud vir die kleinkinders as geskenke.  13 Hoofstukke met die opskrifte soos Duimpie Dikkedoor, Vrot tamaties lekker konfyt, Jorsie Worsie en sy maats, Allawiek, allawak, husse met lang ore, Sarel Marais het ‘n eier gelê, Sing is ‘n lekker ding en Doedoe, ogies toe ,maak jou nog meer lus om verder te lees.

Dan is daar as bonus die illustreerder Alzette Prins se vrolike  lewenslustige en kleurvolle illustrasies wat die boek as geheel ‘n pragboek maak. Haar aanvoeling vir die kind se verbeeldingswêreld is 100% in die kol.

‘n Groot dankie vir ‘n boek wat ‘n mens met groot vreugde kan koester en geniet.   

No comments:

Post a Comment