Tuesday, April 7, 2015

Mimus 'n grootse verhaal


Mimus deur Lilli Thal( PROTEA, 2015)  In Afrikaans vertaal deur Amelia de Vaal

Vanaf ‘n rustige toneel waarin die toekomstige heersers van Monfiel insluitende die kroonprins Florin na sprokies sit en luister, ontwikkel hierdie lywige verhaal na ‘n boeiende meesleurende vertelling van die kroonprins se gevangeniskap in Vinland, die koningkryk wat met Monfiel in ‘n oorlog gewikkel was.  Florin ontvang die tyding dat ‘n vredesverdrag gesluit is en gaan op uitnodiging na Vinland vir ‘n vredesfees. Daar ontdek hy dat sy pa , koning Philip , en sy gevolg gevange geneem is. Florin word verdoem deur Koning Theodo om as hofnar opgelei te word deur Mimus- die gemene raaiselagtige hofnar.

So word dit die verhaal van Florin die hofnar. Mimus leer hom lawwe toertjies doen, grappe vertel, rympies voordra terwyl hy soos Mimus onder haglike omstandighede in strooi slaap en gedurig honger lei. Vir selfbehoud doen hy mee; vermaak die koning en sy gevolg, ook sy bekoorlike dogter prinses Alix. Terselfdertyd probeer hy sy vader wat gevange gehou word besoek. Sal hulle ooit gered word uit hierdie gevangeniskap?

‘n Verhaal wat enduit boei. Die skrywer het ‘n meestersgraad in Middeleeuse geskiedenis. In 2004 is die boek met die Deutscher Jugenliteraturpreis ( Duitse jeug-literatuur prys) beoordeel. Om die uitgewer aan te haal:

“Mimus is ‘n verhaal van konings en narre, mag en vernedering, humor en hartseer, en in die middel ‘n enkele hofnar wat terselfdertyd lig en donker verteenwoordig.”  Geskikvir jeug-12-18 jaar, maar ook vir volwassenes wat ‘n storie geniet waarin jy jou tande lekker kan inslaan. Hoogs aanbeveel. 

No comments:

Post a Comment