Wednesday, April 15, 2015

Olinosters wat kan bangmaak!


Olinosters op die dak deur Marita van der Vyver( Tafelberg, 2015) met illustrasies deur Dale Blankenaar.  Ook in Engels beskikbaar as Rhinocephants on the roof.

Lank en skraal en donker vertoon  hierdie heruitgawe van die boek wat  in 1996 gepubliseer is met illustrasies deur Piet Grobler en toe ‘n MER pryswenner. Hierdie uitgawe is geïllustreer deur Dale Blankenaar, ‘n voormalikge student van Piet Grobler!

En sal Piet nie trots wees op hierdie keurig versorgde pragboek nie!  Dit herinner aan baie van die Europese publikasies, en is ‘n duidelike bewys dat ons uitgewers in Suid Afrika kan kompeteer met die beste boeke internasionaal.

Daniel kuier by sy ouma en oupa en oornag daar in ‘n vreemde bed.  Hy hoor baie vreemde geluide, en telkens moet sy ouma of oupa hom geruss tel dat dit maar net ‘n olinoster of ‘n krokokoei, of ‘n blouwildekameel of ‘n bobberilla is , almal goeters waarvoor hy gladnie bang hoef te wees nie.  Die regte leeu is toe maar net  oupa se bont kat.

“Want wie’s nou bang vir olinosters?  Of ‘n krokokoei of ‘n blouwildekameel? Buitendien hy het ‘n bobberilla om hom op te pas.  En ‘n regte kat om sy bene warm te lê.”

Kinders leer hier om hul vrese in die nag te oorwin. Die humoristiese aanslag help ook. 

Marita van der Vyver se teks lees lekker en gerusstellend. 

Dale Blankenaar se donker verbeeldingryke illustrasies versterk die gevoel vna ‘n donker nag met onheilspellende gedoentes wat die seuntjie bang laat voel. Sy dubbel volblad illustrasies van elke spesifieke monster is regtig baie indrukwekkend. Daar is fyn detail in elke vertrek- Daniel in ‘n klein badjie oordonder deur die groot monster met die skubberige vel; ‘n beertjie wat teen die gordyn uitklim; die bobberilla met ‘n snaakse sneeu-kleurige vel en blink holtes vir oë; ‘n reuse leeu wat sy hele bed oordonder en net die klein seunskoppie met handjies wat sy oë toehou is sigbaar; en dan Daniel wat op die dier se rug deur die lug sweef met beertjie wat hom vanuit die huis se skoorsteen toekyk.  Hy is nou baie duidelik in beheer van die situasie.

Die donker kleure in die vertrek word telkens ligter as ouma of oupa hom verseker dat hy nie vir die gediertes bang hoef te wees nie.

Die boek is werklikwaar ‘n kunswerk van begin tot einde. Kunsliefhebbers  sal dit geniet, en kunsstudente kan leer by Blankenaar wat defnitief  hier werk van hoogstaande gehalte lewer.

Dit is ‘n boek vir fynproewers. 

No comments:

Post a Comment