Friday, March 24, 2017

Aaklige Alberta ontmoet die Kewerknaap!


Afrikaanse boekresensies 3/2017

Walliams, David: Aaklige Ant Alberta( PROTEA 2017)

In die Saxby herehuis woon  jong Stella na haar ouers se dood alleen saam met aaklige Ant Alberta en haar groot berguil Wagner, ,die stokou butler Gibbon, en ‘n spookseun Roet ‘n skoorsteenveër .

Ant Alberta is gedetermineerd om die transportakte van die herehuis op te spoor sodat Stella dit aan haar kan afteken. Die verhaal word dus die strydtussen die twee hoofkarakters met Ant Alberta wat Stella eers in ‘n koma plaas, haar verder in die donker kelder toesluit en Wagner gebruik om haar nog verder te intimideer.

Maar Stella kry hulp van Roet, ‘n spookseun, en Ant Alberta se pogings misluk menigmaal.

Wat ‘n opwindende vermaaklike verhaal propvol avonture, ‘n suggestive van misdaad en noue ontkomings om enige jong lesers ure van lekker leesgenot  te bied! Walliams skryf met humor en ‘n enorme verbeelding wat nooit sonder idees raak nie- voorbeelde van spooktoertjies,  glastenks met ‘n verskeidenheid van opgestopte uile,  Alberta se versameling dodelke plante wat sy kweek, onsigbare maatjies in allerhande vorms en groottes, ‘n uil-folterbank, wraak-idees om Alberta mee te folter, en idees vir die grootste uilmuseum ooit.

‘n Wenner en word hoogs aanbeveel vir jong lesers. Quentin Blake se humoristiese illustrasies dra ook by tot die sukses van die verhaal.

Walliams, David: ‘n Seun se rok( PROTEA, 2017)

Dennis “is anders’. …”sy gedagtes is vol kleure en poësie, al is sy lewe baie vervelig”.

Hy bly saam met sy pa en broer John. Sy ma het uitgetrek en sy oorgewig pa weier om ooit iets van haar te hoor. Hy het selfs al haar fotos verbrand. Dennis is sy skool se top doel-skopper, maar hy geniet dit nog meer om na mode tydskrifte te kyk . Die skoolhoof, Meneer Hawtrey haat kinders. Toe Dennis ‘n bal by sy kantoor inskiet, kry hy detensie. Hier word hy maats met die pragtige Lisa. Sy maak briljante rokontwerpe en gou is die twee groot vriende. Wanneer sy Dennis oorreed om een van haar rokke aan te trek skooltoe en voor te gee dat hy haar vriendin, die Franse uitruilstudent Denise is, begin die verhaal meer onvoorspelbaar en interessant raak!

Baie subtiel lewer Walliams tog sosiale kommentaar en word die winkelier Raj, die Franse juffrou Windsor, sy getroue vriend Darvesh en sy verhouding met sy broer John, en natuurlik Dennis en sy voorliefde vir mooi klere, mondstukke vir Walliams se waarneming van mense en verhoudinge. Goeie lewenslesse ookhier te leer.

Leonard, M.G. Kewerknaap( PROTEA, 2017) Uit Engels- Beetle boy- vertaal deur Kobus Geldenhuys.

Doktor Bartholomew Cuttle is nie die soort man wat geheimsinnig verdwyn nie”. Maar dit gebeur wel op ‘n doodgewone Dinsdag dat hy , nadat hy sy seun Darkus Cuttle skool toe geneem het, verdwyn uit die Natuurhistoriese museum waar hy direkteur van Wetenskap is.

Darkus woon nou by sy oom,professor Maximillian en slaap in ‘n piepklein kamertjie met ‘n hangmat as bed. By die nuwe skool word hy vriende met Virginia  en Bertolt.  In die bouvallige woonstel bokant die gebou bly twee neefs wat die gebou geerf het, en hy is gewaarsku om uit hul pad te bly. ‘n reuse kewer spring uit die een neef se broekspyp en stap soos ‘n oorlogstenk reg op Darkus af.

Dit is die begin van ‘n vriendskap met Baxter die kewer  en van Darkus se nuutgevonde belangstelling in kewers, netsoos die van sy pa en die geheimsinnige vrou   madame Cutter wat kewers net sien as versamel-items wat uitgestal word in glaskaste.

Wanneer hy onverwags afkom op die ongelooflike versameling kewers in die neefs se plek, begin die verhaal momentum optel en word dit steeds interessanter en ‘n spanningsvolle avontuur waar dit gaan om Darkus en die kewers se oorlewing, en ‘n poging om ook sy pa weer op te spoor.

‘n Verhaal wat die verbeelding aangryp en die leser bekend stel  aan kewers en hul lewenswyse en  gedrag, veral onvergeetlik is die vriendskap tussen Darkus en Baxter die kewer! Vol inhoud en detail. Hoogs aanbeveel.

Beyers-Boshoff, C.F. Jasper in die koshuis( PROTEA, 2017)

Agt titels is reeds weer uitgegee in die gewilde reeks.

Jasper se ouers gaan oorsee vir ‘n paar maande, en nou is hy verplig om ‘n koshuisseun te wees. Sy vryheid is natuurlik aan bande gelê. Hy sal nie meer so maklik ‘n bendevergadering kan hou nie, en die avonture saam met  sy bendemaats  gaan ook ingeperk word. Maar Jasper laat hom nie inkort nie, en gou is hy in die moeilikheid as hy aan ‘n fietsresies deelneem wanneer hy veronderstel is om in die koshuis by ‘n debatvergadering te wees. Hy word gehok, maar kom af op diewe wat die gewere vir kadette steel uit ‘n baksteengeboutjie.  Dadelik besluit hy om hulle te agtervolg, en dit word sy grootste en heldhaftigste avontuur as koshuisseun! Maar gou is dit egter weer sulketyd vir Jasper- hy beland gedurigdeur in die moeilikheid!

.

‘n Reeks wat seuns sal geniet- veral seker diegene  wat half nostalgies voel oor die goeie ou dae waar seuns nog met ‘n rottang pak gekry het!, ‘n telefoonoproep vyf sent gekos het, jy 50sent kon verdien deur met ‘n sirkustoertjie te help, en misdadigers slegs seshonderd rand vir ‘n vrag gewere gevra het!  Of miskien dalk baie verlig is dat tye verander het!

Nie-fiksie:  

Maartens, Wendy en Ackermann, Alistair: My eerste diere-atlas –ongelooflike diere van regoor die wêreld( LAPA, 2017)

Kinders word hier bekend gestel aan die diere wat elkeen van die vastelande bewoon, vier diere word op elke bladsy behandel met getekende illustrasies. Vir Antartika is daar die moordvis, die keiserpikkewyn,kril, die sneeustormvoël, seesterre, muggie, en klein landdiere, die weddelrob, grootalbatros, witoorpikkewyn, suidelike olifantrob, en die blouwalvis. 

Vir die verskillende vastelande word ook al die lande en vlae geïdentifiseer. Die beskrywing van elke leer is maklik toeganklik en amper op ‘n geselstrant aangebied wat kinders leser-vriendelik sal vind.

Vir my is die grootste pluspunt van die boek dat al die provinsies in Suid-Afrika individueel behandel word met die diere wat spesifiek in die provinsie voorkom, sodat skoliere maklik die diere van elke area kan identifiseer. (Bladsy 48-109).

Lesers word aangemoedig om te helpom ‘n verskil te maak t.o.v natuurbewaring. ‘n Uitgebreide bronnelys van boeke en webblaaie is ook aangeheg.

‘n Netjies goed versorgde aanbieding heeltemaal kleurvol en baie leersaam.

 

No comments:

Post a Comment