Thursday, July 14, 2016

Van monsters ,weerwolwe ,gedigte en 'n Boudebiljoener


Steyn, Sanri: Die monsters van Middernagstraat( LAPA, 2016)

Wanneer Sanri en Markus ‘n besoek aan Middernagstraat bring, is Sanri seker een van die drie Yorkies by een van die huise se gesiggie het in die van ‘n monster verander, maar netso skielik was dit weg. Maar sy is nou eenmaal ‘n joernalis en altyd op soek na ‘n nuwe storie. Met ‘n troeteldierskou verdwyn Markus se kat, ‘n poedel en ‘n skaaphond ook, en die twee gaan terug na Claudia Müller se huis waar die drie Yorkies tuisgaan. Hul soektog eindig in ‘n huisie in die hoek van die tuin waar hulle op ‘n skrikwekkende fonds afkom- ‘n laboratorium waar diere verander word in monsters! Gaan die twee daarin slaag om die twee skurke wat Claudia en haar pa gevangenes hou uit te oorlê? 

Die ideale leesstof vir jonger lesers in ‘n reeks wat reeds baie gewild is. Sanri se verslag in die Raaiselfontein Gazette van die gebeure aan die einde van die storie rond die verhaal mooi af.

Theresa van Balen se illustrasies is puik ; die omslag  treffend sodat die boek dadelik jou aandag trek.

Steyn, Sanri: Die nag van die weerwolwe(LAPA, 2016)

Sanri en Markus is betrokke by hul skool se opvoering van  Prinses Leila en die blou draak, min wetende dat die aankoms van die nuwe meisie Chrissie Wolvaardt en haar pa as aflosonderwyser ‘n gewone skoolopvoering uiteindelik gaan verander in ‘n onvergeetlike aand van groot skrik! Want Chrissie en haar pa is eintlik weerwolfjagters wat werk vir ‘n organisasie wat toegewei is aan die bekamping van weerwolfgeweld teen Mense. Die opvoering is juis Vrydag die 13de en volmaan, en Chrissie waarsku hulle dat daar wel ‘n werewolf rondsluip wat gekeer moet word…

Lekker onderhoudende leesstof met genoeg aksie en verassings om jong lesers te boei. Weereens tref Theresa van Baalen se illustrasies my en dra dit grootliks by tot die aantreklike boek.

 Sterkykers-gedigte vir tieners( LAPA, 2016)Saamgestel deur Jaco Jacobs.

50 gedigte deur ‘n groot verskeidenhied van skrywers soos o.a. Koos Kombuis, Izak de Vries,Fanie Viljoen, Pieter Hugo en Nathan Tantraal maak van hierdie klein bundel iets heel spesiaal en kosbaar.

Die stemme is eietyds, vol gevoel en deurgaans word jy getref deur die oorspronklikheid en sterk individuale uitbeelding van die diepste emosies en ook sosiale kommentaar oor verhoudings en o.a. skool, ‘n lugskou, ‘n sinkdak-begin, biologieklas, geleerdheid, troetelwoorde, die kuns van hande vashou, om te lig bevind te word, 18 keuses van ‘n 18-jarige; die dood van ‘n pa; ma wat sop kook terwyl sy emosieloos die wêreld om haar laat verbygaan; ‘n skooltrui:”vasgeknoop deur twaalf winters uitgerek straitjacket geloop”( Tania Joubert); ‘n mesaanval; en Hani se begrafnis.

Toulopers was die eerste bundel saamgestel deur Jaco Jacobs, en Sterkykers sluit treffend hierby aan:

“om te dig

Was om vlees aan siel geweef te hou

En om jou lief te hê…”( Hamartia deur Sisca Julius)

 

Walliams, David: Mnr Stink( PROTEA, 2016). In Afrikaans vertaal deur Kobus Geldenhuys.

“Meneer Stink het gestink. Hy was die stinkste superstankstinker wat nog ooit gelewe het”.

Chloe, ‘n twaalfjarige meisie besluit om die ou boemelaar in die park met sy hond, Hertogin, te nader en ‘n geselsie aan te knoop. Dit is die begin van ‘n besondere vriendskap . Meneer Stink word genooi om in haar ouers se tuinhuisie te bly, en Chloe smokkel eetgoed uit na hom.Haar ma aspireer na ‘n politieke loopbaan, en Chloe oortuig haar om Meneer Stink te gebruik om haar kanse te versterk-sy ontferm haar dan oor ‘n hawelose mens!

Hierdie is fyn sosiale kommentaar en die skrywer spot heerlik met mense se sosiale front en valse goedheid en pretensies. Chloe en haar pa gee werklik om, en mettertyd ontdek sy ook die waarheid oor Meneer Stink se afkoms en verlede.

Die verhaal behoort aanklank te vind by jong lesers wat aweregse humor geniet en ook ‘n “omgee” sosiale bewustheid het. Dit gaan ook oor vriendskap, soms tussen die mees onwaarskynlike persone- Meneer Stink waardeer die meisie wat self ook eensaamheid ken:”Chloe weet niks van Menner Stink af nie. …Hy lyk ook eensaam, nie net alleen nie, maar eensaam in sy siel. Dit maak Chloe hartseer. Sy weet maar te goed hoe dit voel om eensaam te wees”.   

Rotburger en Ouma is ‘n kroek het in 2015 by PROTEA verskyn.

Walliams, David: Boudebiljoenêr( PROTEA, 2016) Afrikaans deur Kobus Geldenhuys.

Ontmoet Joe Spud. Sy pa is ‘n “boudebiljoenêr”wat ryk geword het deur “varsboude” toiletpapier te ontwerp .Joe het alles wat sy hart kan begeer, behalwe ‘n opregte vriend. Hy vra dat sy pa hom vanuit ‘n rykmansskool moet oorplaas na ‘n gewone staatskool waar die kinders nie sal weet hoe ryk sy pa is nie. Dalk sal hy hier ‘n ware vriend ontmoet. So word Bob sy vriend. Maar Bob word afgeknou deur die tweeling, die goorgatte. Joe koop hulle om om Bob uit te los. Toe hy sy pa vra om vining sy geskiedenis opstel by die skool te kry, land die met ‘n helicopter en nou is sy geheim bekend. Hy kan sy geluk nie glotoe die beeldskone meisie Lauren by die skool aansluit en dadelik te kenne gee dat sy van hom hou.

Maar weereens het die skrywer ‘n eenvoudige belangrike lewensles om te vertel: geld maak jou nie noodwendig gelukkig nie; wat sal gebeur as sy pa skielik alles moet verloor; wie is regtig Joe se vriend?

Joe kry ook die geleentheid om  sy pa te wys dat die klein toiletrol-ruimtevuurpyl wat sy pa vir hom gemaak het toe hulle nog niks besit het nie, die beste present is wat sy pa nog ooit vir hom gegee het.  Humor,  en ‘n sterk verbeelding laat Walliams toe om sy gehoor te betrek. Sy lys van alles wat Joe reeds besit ;Sapphire se wenslys vir haar verjaarsdag,’n lys van snaakse name en vanne en selfs die voorstelling van die grade van pers boude dra alles by tot die aweregse humor.   

 

 

 

 

 

 

No comments:

Post a Comment