Tuesday, July 5, 2016

Hartbreker na blokkiesraai!


Steyn, Cecilia: Hartbreker( H&R, 2016)  Tienerharte 2

Die eerste boek in die Tienerharte reeks was Hartklop. In Hartbreker is Dewald en Megan ‘n paartjie, en Stefan haar aantreklike broer word deur die welgestelde meisie Surette se pa Professor Delport gevra om die Paasvakansie te kom huis oppas omdat die gesin Milaan toe gaan. Die pragtige huis is in Kampsbaai, en hy nooi sy suster en Dewald saam, asook Ciska Megan se vriendin .  Surette besluit om liewers tuis te bly, want sy is verlief op Stefan. Die Professor dreig om die lewe vir hom moeilik te maak op Universiteit as hy nie naSurette omsien nie. Vir hom is Surette een van daardie meisies” vir wie ‘n mens ‘n prentjie moet teken as jy wil hê sy moet iets verstaan.” Ciska egter, is “nie soos enige meisie wat hy ken nie”.

Hy ontdek gou dat hy eintlik in Ciska belangstel, maar Surette aak die situasie baie gekompliseerd. En dan is daar nog Rowan wat Ciska prober annekseer.

Hier gebruik die skrywer die bekende resep wat ‘n Tienerharte reeks laat werk: Mooi jongmense saamgegooi in ‘n situasie waar daar gedurigdeur onsekerheid is oor wie nou eintlik in wie belangstel; maar uiteindelik word die twee verliefdes tog bymekaar gebring met ‘n gelukkige einde.

Populêre fiksie wat jong tienerharte vinniger sal laat klop; en hul kry ook’n voorsmakie van die volgende boek in die reeks, Hartedief.

Baie mooi omslag wat dadelik die aandag trek.

‘n Heruitgawe van 8 Roald Dahl boeke in Afrikaans!( H&R, 2016:

Die GSR; Marius se merkwaardige medisyne; Fantastiese Mnr. Vos; Matilda;Charlie en die groot glashyser; James en die reuseperske , Charlie en die sjokoladefabriek en Die Twakke. Die GSR is deur Mavis de Villiers vertaal;Marius se merkwaardige medisyne deur Leon Rousseau; en Kobus Geldenhuys is die vertaler van die ander 6 boeke.

Hierdie geliefde skrywer bly een van die grootste kinderboekskrywers van alle tye.  Sy humor, aweregse styl en fyn aanvoeling vir die geesteswêreld van die kind maak hom ‘n welkome gas in elke huis.

In vrolike kleurvolle omslae met interessante illustrasies is hierdie reeks in hierdie heruitgawe keurig versorg,  en as gewese bibliotekaris  weet mens ook hoe nuttig die reeks in biblioteke en vir tuisversamelings gaan wees.

Dinneen, Susie: Nombulelo en die mot(Penguin Random House, 2016)Illustrasies deur Maja Sereda. In Afrikaans vertaal deur Sandra du Toit.

Nombulelo het daarvan gehou om op haar Gogo se skoot te sit en na stories van die bos te luister: dat ‘n luiperd haar Gogo gevolg het in diebos, en van die slang wat Gogo melk gegee het met diebelofte dat sy nie gepik gaan word nie, ook nie haar kinders nie.

Maar vir Nombulelo was Gogo se kosbaarste besitting die pragtige houtdosie waarin ‘n “ droë mot met die kleur van sagte bruinsuiker “ op ‘n geel kaartjie vasgesteek was. Met Gogo se dood het ‘n stem uit die dosie haar gevra om haar vry te laat. Die mot se huis was by die bopunt van die waterval aan die anderkant van die bos. Nombulelo het dapper die bos binne gegaan “ die diep donkergroen wildernis” langs hul huis om die mot tuis te laat kom.  Toe hy wegvlieg het “’n sagte goue stofwolk vansy vlerke afgegly en Nombulelo in ‘n blink mis toegevou”…

Hierdie verhaal kruip diep in jou hart ; dit is die kwaliteit storie waarna ‘n verteller soek om met kinders te deel. Die liefdevolle verhouding tussen ‘n dogtertjie en haar Gogo en Gogo se dood word simbolies in die mot se soeke na bevryding en koestering uitgebeeld.

‘n Oorspronklike roerende verhaal word gekomplimenteer met Maja Sereda se ongelooflik mooi illustrasies. Sy openbaar die fynste aanvoeling vir die verhaal in haar weergawe van die teks – gevoelvol en uiters verbeeldingryk. Hierdie is ‘n spesiale prenteboek wat gekoester moet word. 

Kinney, Jeff: Dagboek van ‘n Wimp( Puffin, 2012) Heruitgawe 2016. Afrikaans deur Carina Diedericks-Hugo- ‘n Tekenprent roman.

Greg Heffley stel dit onomwonde dat hierdie sy joernaal is, en as sy ma sou dink dat hy sy “gevoelens” hierin gaan skryf, is sy “lekker koekoes”!

Greg betrek die leser by sy interpretasie van skool en grade en kinders en die manewales wat hy en sy klasmaats deel. Die stem van die verteller is droog, vol humor en uiters vermaaklik. Daarby sal elke kind kan identifiseer met Greg se waarnemings en opinies:

“ Virdie rekord: Ek dink die hoërskool is die domste ding wat nog ooit uitgedink is. Dis ‘n plek waar outjies soos ek, wat nog nie begin uitskiet nie, tussen gorillas moet oorleef wat twee keer per dag skeer”.

Hierdie boek en die reeks “dagboeke” wat hierop volg bly van die gewildste boeke in ‘n biblioteek en defnitief word dit hartlik ontvang in elke huis en skool. Kinney verstaan die emosies en gedagtewêreld van ‘n kind.

Die verlater het terselfdertyd briljant vertaal.

Beskikbaar deur Puffin is ook die titels Rodrick regeer, In die hondehok; Die laaste strooi; en Die nare waarheid(2016). Die vertaler van laasgenoemde is Tinus Horn.

In die New York Times”’n Pittigheid wat die spyker op die kop slaan, en ‘n oortuigende selfgesentreerde held”. Volgens ‘n ander resensent is dit die reeks vir kinders wat hou van lees en die wat nie daarvan hou nie.  Ek stem volmondig saam!

RAPPORT Junior blokraaiboek(Tafelberg, 2016) Saamgestel deur G. Olwagen.

Hierdie kleurvolle versameling van blokraaie verskyn weekliks in RAPPORT. Ek was beïndruk met die kwaliteit , noukeurige keuses van inligting wat selfs ‘n volwassene se algemene kennis verskerp. Die uitgewer het die noodsaaklikheid gesien om so ‘n blokraai-skat in een bundel aan ‘n wyer leserspubliek beskikbaar te stel. Die blokraaisels handel oor ‘n groot uitgebreide verskeidenheid van onderwerpe om kinders se kennis te toets en te verbeter: o.a. die ruimte, plante en diere; die mens; selfs spreekwoorde; ‘n blokraai opgedra aan die renosterhoring, piramides, en Suid Afrikaanse geskiedenis.

Die oplossings word aan die einde vir elke bladsy gegee. Werklikwaar ‘n pragtige nuttige publikasie wat kinders gaan vermaak terwyl hulle kennis opdoen. Hoogs aanbeveel.  

 

 

 

 

    

No comments:

Post a Comment