Tuesday, February 23, 2016

Van prenteboeke tot Professor Fungus


Prenteboeke vir kleuters:

100 eerste woorde deur Cheeky Monkey Publishing( H&R, 2016) Afrikaans deur Charles Siboto

Wat is nou lekkerder vir nuuskierige kleintjies om ‘n boek te kry met loergaatjies en flappe?!

Die honderd eerste woorde is versprei deur die hardeband boek met ‘n loergaatjie en flappie op elke tweede bladsy waar kinders kan raai wat hulle deur die loergaatjie sien.

Die woorde is saamgegroepeer onder speelgoed, kos, klere, buite speel en badtyd saans.

Die plusunte van die boekie is die feit dat al die speelgoed en klere fotos van die item is; die hele aanbieding is heerlik kleurvol , die flappies se agtergrond kleure vertel waarop die woorde betrekking het, en die stewige hardeband belowe lang ure van vermaak en leer. Oulike aanbieding.

100 woorde oor diere deur Cheeky Monkey publishing( H&R, 2016) Afrikaans deur Charles Siboto

Diere bly nou maar ‘n groot gunsteling onder jong lesers, en dan is die diere hier regtige diere en sal hul leer om diere te identifiseer en ook deur die loergaatjie en flappies op te spoor. In die veld, die oerwoud, die see , in die wildernis en as troeteldiere is daar 100 items om te waardeer. Elke boek bevatdie 100 woorde op die agterbladsy in ‘n helderkleurige geel tabel.   Baie aanloklike boekies!

Wilde diere-feite en geite: kan ‘n olifant sonbrand? Deur Camilla de la Boyere met illlustrasies deur Aleksei Bitskoff. Afrikaans deur Kobus Geldenhuys.

4 stewige sagteband prenteboeke verskyn in die reeks. Die ander titels is Kan’n krokodil basketball speel?; Kan ‘n tier touloop? En Kan ‘n apie waterski? en ander vrae.

Hierdie is nou werklik 4 boeke wat veral kinders met ‘n goeie humorsin baie gaan geniet, terwyl hulle ook meer leer oor die gewoontes en eienaardighede van die spesifieke dier.

So vind ek uit dat ‘n baba olifant 10 liter melk in ‘n dag drink en die ma kan weglê aan 1400 appels! Baba olifante suig aan hul slurpe as hul snags troos soek; en een weeg soveel as 8 kinders. Hulle blyplek word op ‘n kaart aangedui, en elke boekie sluit af met ‘n poskaart deur die olifantaan ‘n mens-gesin.

Hierdie vier boeke is vanaf elke kleurvolle omslag met vrolike diere wat baljaar en hulleself geniet, en verder met elke bladsy net een groot heerlike skaterlag-ervaring. Hoogs aanbeveel.

Vir beginner lesers, 7+jariges:

Twee nuwe titels in die gewilde Professor Fungus reeks:

Professor Fungus en die diepsee-dilemma deur Jaco Jacobs met illustrasies deur Johann Strauss( LAPA, 2016)

Hierdie is die negende titel in die reeks, en weereens was ek nie teleurgesteld nie en kon die boek soos die vorige titels baie geniet.

Professor Fungus en sy vriend Igtus nooi Bennie en Jennie om hul te vergesel wanneer die nuwe spesiale duikboot V.I.S (Veeldoelige immerslewe seevaartuig) uitgetoets gaan word. Die duikboot moet die twee geleerdes help om vas te stel of daar ook ‘n Hipermegasuperdoeper Pylinkvis bestaan. So vaar hulle die dieptes in, met die robot Edison al brommende saam, want hy wil tog nie nat word nie. ‘n pylinkvis –ma laat hul boot sink, en dit is die twee kinder swat dit vir hulle moontlik maak om die eiland te verlaat waar hulle gestrand is; en Jennie het gelukkig ook die pylvis met haar selfoon op ‘n video vasgelê.

Jaco Jacobs het nou maar ‘n aanvoeling vir ‘n kind se ervaringswêreld en kan hul vermaak en nuuskierig maak om verder te lees. Johann Strauss se illustrasies bly absoluut ‘n groot vreugde en dra ongetwyfeld by tot die genot van die leeservaring.

Professor Fungus en die vreeslik gevaarlike tuinkabouters: Jaco Jacobs, met illustrasies deur Johann Strauss.( LAPA, 2016)

Die tiende titel in die reeks is weer propvol vermaak. Baie lesers sal saamstem dat daardie tuinkabouters in tuine nou nie juis die meeste mense se gunsteling tuinverfraaiers is nie; en ‘n mens kry ook soms so ‘n onheilspellende gevoel as jy een so stokstyf sien staan!

Jy was toe nie verniet ongemaklik nie, want Professor Fungus en die twee kinders ontdek in die verhaal dat tuinkabouters onskadelik mag lyk, maar pasop as Zenobia Ziervogel, Professor Fungus se grootste vyand, vanuit haar Zirkopter in die lug opdragte uitblaf aan haar onderdanige kabouter-linie wat maar te gereed is om die Professor se laboratorium te verwoes. Gelukkig is die robot Edison in staat om stemme na te boots, en so word Bennie ook gered.Die Professor se fantastiese ruk-en-rol-spaghetti eksperiment word ook ingesluit sodat energieke kinders dit kan probeer maak.

Lekker ligte vermaaklike leesstof wat beginner lesers sal aanspoor tot ‘n liefde vir boeke en lees. Johan Strauss beïndruk nogmaals met super aksie-belaaide prente.   

 

 

No comments:

Post a Comment