Wednesday, February 10, 2016

Van 'n meisie op die dak, kattemanewales tot die hasies wat wou slaap...


Steyn, Cecilia: Die meisie op die dak(  LAPA, 2016)

‘n  “Nuwe, aaklige, giggelgeel kombuis”, ‘n nuwe tuiste in een van die “goorste buurte” op die dorp. 

Estelle moet vrede maak met die feit dat haar pa wat in die tronk is omdat hy van geld verduistering aangekla is, sy en haar ma nou hier laat beland het. Dan is sy nog hoofmeisie by haar skool in die rykmansbuurt; en die matriekjaar lê voor! Stel jou net voor die geskinder van kinders wat sy sal moet verduur.

Maar die nuwe huis bring ook ‘n lekker kuier-kat  Cornelius; ‘n aantreklike donkerkop seun Aiden met ‘n voorliefde vir dak kuiertjies en skilder; toevallig toe ook die nuwe seun in haar matriek-klas. 

Hierdie is ‘n debuut jeugverhaal en “werk” want die skrywer laat geen van die struikelblokke in Estelle se lewe oorneem  nie. Haar aanslag bly lig en lesers sal ingetrek word deur die ontluikende vriendskap tussen Estelle en Aiden. ‘n Mens kry die gevoel dat Cecilia Steyn wesenlik ‘n romantikus is; sy wil liefde laat sëevier en die leeservaring lig en lekker hou.

Die pragtige omslag van die meisie op die dak is ‘n wenner en maak jou lus om die boek te lees! Welkom tot die wêreld van jeugboeke geskryf vir die genot van lees, Cecilia Steyn! Jy kan maar.

Marc de Bel: Kaskenades onder  die volmaan en  Die bal van Biljart(  PROTEA, 2016) Uit Nederlands vertaal deur Zandra Bezuidenhout.

Met Protea uitgewers se gebruiklike kwaliteit versorging van omslag, uitleg en in hardeband gebind, verskyn hierdie eerste twee titels in ‘n nuwe reeks, Robbie Ramkat.

Robbie was Kampioenkat van die Jaar, en volgens hom is hy nie vet nie, hy het net “so ietsie opgetel”! Hy sien uit na Kieta se verjaarsdagpartyjie; die enigste probleem is dat hy iets lekkers in die hande moet kry as geskenk sodat Bronko goed jaloers kan wees.

In die tweede boek, Die bal van Biljart,  moet hy en sy vriende die tennisbal waarop die superstar Bil Jart sy naam geteken het en dus uiters waardevol is , probeer opspoor en terugkry.  Hier is die beroemde sangeres Lola Lala ‘n moontlike verdagte. 

Ander karakters wat die leser ontmoet is Bamboes die Labrador vir wie Robbie baie versigtig is; Vaal-Willem van der Rot wat net weet hoe om hom uit te oorlê ; drie straatkatte en ‘n rooi afleweringswa van die Rooi Draak restaurant; ‘n “piepklein suurlemoengeel dwergpapegaaitjie; “ ‘n plek waar navorsing op diere gedoen word en waar Robbie ook die geleentheid kry om ‘n reddingspoging te doen.

Die Robbie Ramkat-lied word aan die einde van elke boek gegee; en indien die reeks gewild word, sal sy bewonderaars seker lekker wil saamsing as Robbie vertel van sy grasgroen oë en rooibruin hare en sy liefde vir die stylvolle sjarmante Kieta.

Vir beginner lesers behoort Robbie en sy vriende se avonture lekker leesgenot te verskaf.

Carl-Johan Forssén Ehrlin: Die hasie wat aan die slaap wou raak ( H&R, 2015)In Afrikaans vertaal deur Aldré Lategan.

Volgens die omslag van die boek is dit ‘n #1 internasionale blitsverkoper ; die skrywer vertel die “inhoud is gebaseer op kragtige sielkundige tegnieke vir ontspanning” en die doel is om kinders te help om makliker aan die slaap te raak by die huis, die skool of ‘n voorskoolse groepie.

Instruksies word gegee aan die verteller oor hoe om jou stem te gebruik deur beklemtoning, stadig lees of met ‘n kalm stem te lees.

Natuurlik stem ek saam dat dit duidelik is dat die skrywer se teks die tegnieke weerspieël en dui op kennis, maar persoonlik is ek baie nuuskierig om te weet hoe suksesvol dit plaaslik al gebruik is met kinders!

Jare van stories vertel aan kinders laat my dadelik soos volg reageer: 19 bladsye van teks ; ‘n paar naïwe illstrasies van ‘n grootoog hasie; ellelange teks wat gelees moet word om die kind/kinders uiteindelik aan die slaap te maak- watter ouer het hiervoor tyd?!  Ek sien al hoe die kindes dadelik belangstelling gaan verloor as ek begin met “Sommige mense raak dadelik aan die slap, terwyl ander eers ‘n rukkie vat voor hulle in droomland is, gaap – naam”.   En dan die titel : Die hasie wat aan die slaap wou raak-  die probleem gewoonlik is dat die kind nie wil slaap nie, en die ouer gebruik verskillende metodes om dit reg te kry- iets soos tone vryf; sy gunsteling storie oor en oor te lees; defnitief nie ‘n professionele publikasie geskryf vanuit ‘n sielkundige agtergrond en perspektief nie!

Nouja, sterkte aan die ouers of onderwysers wat gaan probeer met hierdie boek.

 

Lona Gericke   Februarie 2016

No comments:

Post a Comment