Wednesday, September 16, 2015

'n Potpourri van nuwe Afrikaanse kinder en jeugboeke...


‘n Potpourri van nuwe Afrikaanse kinder en jeugboeke:

Jacobs, Jaco: Zackie Mostert en die katkrisis( LAPA, 2015)

Hierdie is die elfde titel in ‘n baie gewilde reeks. Zackie en Vincent kry die twyfelagtige voorreg om die buurvrou, Mevrou Langenhoven se kat vir drie dae op te pas. Katinka is nie ‘n gewone kat nie- sy sal heel moontlik groot kopsere veroorsaak. Die seuns hoop dat hulle met hul beloning die nuwe Squekky  Squirrrel Wars VI speletjie kan bekostig! Die enigste oplossing is om haar baie blikkies tuna te voer. Vincent begin om foto’s van haar te neem, en dit word ‘n lekker speletjie met ‘n blog en videos wat baie aanhangers kry.

Jacobs skryf met sy gebruiklike raak aanvoeling vir ‘n teks en situasies wat jong lesers sal geniet; sy humorsin en energieke styl maak dit ‘n genot om die boek te lees.

Jacobs, Jaco: Zackie Mostert en die vreeslike verjaarsdag( LAPA, 2015)

In die twaalfde titel word Zackie se idee om vir Vincent ‘n verassings-verjaarsdagpartytjie te reël ‘n kompetisie met Anton wat sy partytjie op dieselfde Saterdagoggend  beplan en telkens probeer om meer lekker dinge as trekpleister te gebruik en so Zackie se verassing te dwarsboom. Maar ‘n seun met ondernemingsgees maak altyd weer ‘n plan!

Beyers-Boshoff, C.F. : Jasper op hoërskool( PROTEA, 2015)

Hierdie is die tweede uitgawe  van ‘n titel  in 1959 verskyn het in die bekende reeks.

Interessant was dit om te lees hoe ‘n skrywer in die vyftiger jare ‘n skoolstorie vir seuns sou skryf.   Leliesvlei is ‘n klein dorpie met onderwysers wat nog met ‘n rottang slae uitdeel waar nodig; ‘n seun se “portret”in ‘n jaarboek verskyn; bendes kleilat-oorloë voer; hul jagtoerusting bestaan uit ‘n knipmes, ‘n rekker en ronde rivierklippies; die wengeld vir ‘n seepkis-kompetisie R50 is en die seepkis om die karretjie te maak vir vyf sent by die winkel gekoop is.   ‘n Brief word nog op ‘n tikmasjien geskryf ; seuns van bendes deel pamflette uit vir die dominee se kerkbasaar; en die dapper seuns red ‘n vierjarige seun wat verdwaal het; hulle prober vir die eerste keer rook en steek ‘n rietbos aan die brand met ‘n stompie; en dan vang hulle nog ‘n skaapdief en sien kans vir Lelievlei se spookhuis.

Ek sal dit geniet om kinders se reaksies op die boek te hoor! Onskuldige vermaak wat ‘n mens laat verlang na kinderjare in die tyd – toe jy nog versigtig was om perskes te steel by Oom Faan wie vertel dat hy sy perskes vergif het om kwaaijongens af te skrik of om die dominee of onderwysers sonder respek te behandel!

Neser, Christien: Middernagklub( LAPA, 2015)

Elle en haar vriendinne bring nog ‘n tiener-avontuur na hul lesers in die sewende titel in ‘n reeks wat met Kondensmelk afgeskop het en steeds bekoor.

Hier is die Lys van Dertig- volgende jaar se prefekte – ‘n doelwit wat vir die meisies beteken dat hulle geen reëls mag oortree nie. En sommer met die intrapslag word hul Middernagklub op heterdaad betrap! Maar die twee meisies Maria en Thandeka wat so deel van hul lewe word –hulle is van die kinderhuis Kaya Kumba en die meisies moet hul help om Graad Elf se werk te hersien- bring ‘n nuwe vriendskap en selfs kontak met ‘n ou Gravitas dame Stella Maas wat nou ‘n modeontwerper in New York is.  

Die skoolhoof se verjaarsdagviering word ‘n groot plesierige geleentheid, en die dertig leiers wat ‘n verpligte kamp by Thaba Thula aangebied deur Staal en Yster en die gemaskerde Russiese instrukteur Kalashnikoff moet bywoon, ervaar meer as net opleiding en ‘n heerlike verassing vir Elle. Is enige van die vriendinne dalk skoolleiers volgende jaar?

Neser hanteer hierdie verhaal met haar gebruiklike vaardigheid; ‘n goeie balans van jeugdige vermaak , oortuigende karakteruitbeelding en ‘n verhaal wat ontplooi tot ‘n einde wat die lesers sal laat uitsien na Elle en haar vriendinne se avonture in Graad 12! Lekker ligte leesstof.      

Baggot, Stella: Protea se plakpoppies modeontwerper trouversameling( PROTEA, 2015) In Afrikaans vertaal deur Rentia Bartlett-Möhl.

 

   Jong meisies het hier die geleentheid om modeontwerper te speel met ‘n pragtige versameling van  ontwerpe, kleure en patrone, plakkers  en poppe wat gereed staan om aangetrekte word vir verskillende troues en sprokiesbruide.

Hierdie is ‘n wenner-geskenk idee vir meisies wat sou belang stel om kreatief modeontwerpers te “speel”. ‘n Boek wat dadelik die aandag trek en tematies ‘n groot mark kan bereik.

Baggot, Stella: Protea se Plakpoppies Modes van lank gelede( PROTEA, 2015) Vertaler Rentia Bartlett-Möhl.

Plakkerblaaie bevat die modes van o.a.Antieke Egipte, Rome, Sjina; die Middeleeue; Frankryk, Engeland(1810),  Victoriaanse tye ; Amerika in die 1950’s en Londen in die 1960’s.

Hoe lekker sal kinders nie die mooi poppe kan aantrek nie! Terselfdertyd vind daar ‘n leerproses plaas.Ek onthou hoe daar dikwels in biblioteke gevra word na die tradisionele drag van ‘n spesifieke tydperk; en hierdie boek is weereens ‘n bewys dat nie-fiksie nie noodwendig  nie-plesier beteken nie! Baie inspirerend.

Reeks:  Leer ken Woorde, Getalle  en Diere( H&R, 2015) Ook beskikbaar in Engels.

‘n Reeks van kleurvolle aantreklike hardeband boeke ‘n groot formaat stel kinders bekend aan woorde in verskeie situasies –‘n leerproses wat prettig kan wees, Die illustrasies is van werklike items en nie tekeninge nie. ‘n Tuinslang is ‘n tuinslang, ‘n erdwurm die werklike een, ;n hark en spinnekop en leunstoel werklik en in mooi kleure voorgestel.

In die getalle-boek leer die kind getalle met interaktiewe vrae en eenvoudige speletjies; groepering, vorms , patrone en sekwensies.  

Die  diere-boek bevat o.a. troeteldiere, plaasdiere, reusediere, skubdiere, babadiere, diere se huise , wegkruipers en diere in aksie.

Die groot format sal dit ook maklik maak vir kinders om saam deur die boek te kyk,of met ouers ‘n leersame leeservaring prettig te beleef.  Hoogs aanbeveel vir skool, tuis en biblioteekversamelings.

Daly, Nike en Jude: Baie dankie, Jackson( Jacana, 2015)Vertaal deur Alet Kruger.

Die eenvoudige treffende verhaal van ‘n boer, sy vrou Beauty en hul seun Goodwill. Hul donkie Kackson moes elke markdag ‘n vrag groente teen die bult uitdra en hy het nooit gekla of gerus in die taak nie. Een oggend verseg hy egter om verder te loop om so’n ondankbare taak te vervul. Die boer dreig om die donkie met ‘n groot stok te slaan as hy nie opstaan nie. Goodwill kom tot sy redding deur iets in die donkie se oor te fluister.

So leer die boer dat dit belangrik is om asseblief en dankie te sê. Klein dingetjies maak ‘n groot verskil in verhoudinge en gesindhede.

Jude Daly slaag daarin om met haar gebruiklike eevoudige manier van illustreer die storie te dra tot iets besonder mooi en kosbaar. Haar landskap is ontneem van detail en “clutter”; plante staan in netjiese rye; die heuwel se steilte word ge-aksensueer met die groot oop ruimtes waarin slegs ln man en sy donkie die kaal landskap vul. Veral bly die donkie se passiewe gesit jou bly wanneer die boer een twee en drie tel. Daar is reeds ‘n afstand tussen die twee en die vrou en kind wat agterbly, maar die seun Goodwill pak die bult dapper aan, oortuig da thy die sleutel dra tot die donkie se uiteindelike bereidwilligheid om verder te loop.

Die marktoneel is kleurvol en die verkopers en hul ware word netjies en noukeurig uitgestal.In die laaste twee illustrsies is daar ‘n glimlag om elke gesig; nog steeds uiters subtiel en fyn soos net Jude kan illustreer.

‘n Besonder kunstige werk; die storie hou ‘n les in vir elkeen van ons; die illustrasies verbeeld ‘n liefde vir die eenvoud van ‘n spesifieke Afrika-landskap.   

 

No comments:

Post a Comment