Wednesday, September 9, 2015

Die mees geliefde dierbare Heksie is terug!


Liewe Heksie Leesboekies bring die mees geliefde dierbare  heksie terug!

Verna Vels:  Liewe Heksie –Leesboeke 1-4(H&R, 2015)

Noem jy die naam Liewe Heksie aan grootmense, jongmense en kinders wat lees is daar dadelik en altyd ‘n reaksie van vrolike glimlagte en opmerkings  dat sy  een van hulle mees geliefde Kinderboek-karakters is. Sy is  nou nie een van daardie nare storieboek-hekse met skrikwekkende toorkragte waarteen menige ouer hul kinders waarsku nie. Liewe Heksie vergeet selfs haar toorwoorde en is naïef, impulsief, onopgesmuk , sagmoedig  en baie vriendelik. 

Waarom sou ons almal so met haar identifiseer, en veral juis toe ons kinders was? Want Liewe Heksie is die onskuld vanself; sy vergeet dinge;  sy is “dom”; sy verdraai woorde; sy kan skielik nie lees nie; sy maak foute; sy is maar net soos elke kind lief vir avonture en wil verjaarsdag hou; raak gou verveeld en wil in ‘n blink rooi motor rondry; weet nie wat ‘n verassing is nie; wil haar hulp aanbied waar sy kan, en saam met haar vriende in Blommeland piekniek hou of ‘n vakansie by die see geniet in ‘n pragtige bikini- al is hare onwetend  sommer erg ouderwets maar tog te dierbaar.

Wat maak hierdie nuwe reeks leesboekies ‘n noodsaaklike toevoeging vir tuis-skool en biblioteekversamelings?

Vir die eerste keer word Verna Vels se stories oor Liewe Heksie en die karakters van Blommeland in kleur aangebied as ‘n reeks leesboeke vir jong lesers. Elke leesboekie bevat 3 van die oorspronklike stories wat ietwat verkort is vir 3-6jariges. Hier is dus die geleentheid vir kinders in ‘n gesin om elk uit sy of haar eie kopie te lees of aan voorgelees te word. Dit is nie oorweldigend bonkig nie, word maklik hanteer en is  keurig versorg met helder kleurvolle omslae duidelik gemerk as Leesboek 1 - 6.  Verskillende kleure word vir die titels gebruik, en ‘n klein Liewe Heksie gesiggie is in die regterhoek in ‘n sirkeltjie geplaas. Jy voel dadelik lus en opgewonde om die boek oop te maak.

Die illustreerder Vian Oelofsen het die liefdestaak met groot vreugde aangepak want hy is baie duidelik ‘n Liewe Heksie bewonderaar. Hier benut hy die geleentheid om  met ‘n nuwe oorspronklike kunstige interpretasie die stories te help vertel.  Dit doen hy met oorgawe en gee hier ’n meesterlike vertolking  in verbeeldingryke illustrasies wat grootliks bydra tot die sjarme van die hele aanbieding. Teen ‘n kleurvolle agtergrond word die leser vermaak met die interessanste collages van vallende borde, ‘n trein en rooi motor, ‘n regte frikkadel, Koning Rosenkrans in al sy glorie en Blommeland se kwaai Gifappeltjies.

Hy vertel dat hy baie ge-eksperimenteer het met teken en animeer  en speel  met die gebruik van illustrator en Photoshop. Hy het papierpoppe van die karakters gemaak, Blommeland is opgebou met teksture met ‘n tipe collage metode. Die blommetjies van Blommeland het lewe gekry met blomme op sy grasperk, rokke en materiaal is gekombineer met “brushes” en geverf met vorms op sy rekenaar. Fotos is gebruik soos met die frikadelle wat gemaak is en afgeneem is. Sy mees gekompliseerde karakter was die Fee koningin omdat haar rok verskillende lae vereis het en die vlerke deurskynend moes wees. Sy is saam met Karel, Koring Rosenkrans en die Gifappels sy gunstelinge. Die Silwerroos is volgens hom die moeilikste en beste blom wat hy nog getekenhet. . Hy sê dat hy van al die karakters hou en dat Verna Vels se storie besonder en tydloos is en dat hy dit sooo geniet het om dit te lees en te teken.

Verna Vels se bekende Liewe Heksie karakter het haar debut in 1961 gemaak in die Siembamba –programme van die SAUK. Verskeie Liewe Heksie reekse  is uitgesaai.

Human & Rousseau uitgewers het dadelik besef dat die karaktertjie ook in boekvorm vasgelê moet word, en in 1965 verskyn die eerste Liewe Heksie-boek deur H&R met swart en wit lyntekeninge deur Dorothy Hill. Nuwe Liewe Heksie-stories het in 1999 by Human & Rousseau as Liewe Heksie en die rekenaar verskyn. Daarna is die oorspronklike , volledige stories in 2002in ‘n omnibus-formaat gepubliseer as Die Liewe Heksie Omnibus.

Hierdie stories is dus vanjaar 50 jaar oud.  Verna Vels is in 2014 oorlede, en die uitgewer bring met hierdie leesboekies ‘n spesiale erkenning en viering van haar groot bydrae  tot kinderlektuur in Suid  Afrika.  .

Ek verwys kortliks na gedeeltes van die stories ter illustrasie van  die kinderlike opregtheid , fyn humorsin , bekoring en sjarme van Verna Vels se verbeeldingswêreld :

Dit is Blommie Kabouter se verjaarsdag. Al die kabouters van Blommeland is by sy partytjie. Net Liewe Heksie is hartseer omdat sy nog nooit ‘n verjaarsdagpartytjie gehad het nie. Sy is mos maar nie baie slim nie en vergeet maklik dinge. Sou haar ouma Levinia Heks dalk vir haar gesê het wanneer, het sy al vergeet. Hulle besluit op ‘n datum en Karel Kat word ook uitgenooi. Tipies Liewe Heksie is sy bekommerd oor hoe haar hare lyk, wil sy die rooi koeldrank dêps voor haar gaste; vergeet sy om die roomys in die yskas te sit, en is daar ‘n gestryery omdat sy nou meer gereeld wil verjaar!

Lesers kan hul verkyk aan  kleurvolle sonneblomme met dansende dwergies wat ballonne dra, kunstige blomme netjies gerangskik in vrolike rye met heerlike roomyse in hul kelke; Blommie en Heksie se gesigsuitdrukkings wat boekdele spreek;  die pragtigste huisie met pampoene op die dak en gehuisves in ‘n veld van fyn blommetjies; ‘n laáng tafel met koppies in ‘n netjiese ry op ‘n blom-tafeldoek en ‘n reuse beker rooi koeldrank; geskenkpapiere wat oral rondwaai soos sy geskenke oopmaak; Heksie wat met haar groottoon in die grond boor soos sy skaamkry wanneer sy vra dat haar gaste haar presente teruggee.

Koning Rosekrans, deftig in sy rooi pak met rose versier, versoek sy onderdane in die volgende storie om geld in te samel vir die bou van ‘n hospitaal. Liewe Heksie vergeet sy naam gedurig en noem hom sommer Koning Rosedoring,  en kasterolie is volgens haar kasterboomolie of kosteralie. En sy moet tog liewers nie sing nie!

Oelofsen teken hier ‘n groot goue blik as geldbussie; musieknote soos blomme en geldstukke wat vrolik dans; ‘n R50 noot versier met Nelson Mandela se kop-hul wengeld vir ‘n see-vakansie. Heksie in haar outydse swempak, haar”bikini” waarin sy die Juffrou Seesand kompetisie wen; ‘n indrukwekkende swart lokomotief en interessante detail is versteek op die bladsye- ‘n klein krappie, ‘n regte horlosie, ‘n selfoon en seevoëls wat entoesiasties toekyk.

In Leesboek 2  word ‘n verassings-besoek van Karel Kat ‘n heerlike avontuur met Heksie wat verdwyn in sy pragtige rooi motor, later  gehelp deur Trompetter die olifant  wat die motor weer terugstoot- ’n oulike illustrasie met Heksie wat voor aan die motor hang,  halfpad in die lug met haar dun beentjies uitgestrek. Die illustrasie van Karel wat woedend kwaad is vir haar, spreek boekdele!

Wanneer Koning Rosekrans baie siek word is die “enigste en beste en mooiste Heksie” ‘n gewillige helper wat borde breek;  en aanbied om Koningin te word as hy sou doodgaan . Dit is genoeg motivering vir hom om dadelik gesond te word. Weer illustreer Oelofsen met  musieknote wat vloei na sy kop. Een  loerende oog  rus op ‘n kussing van blommetjies,  en Heksie se kinderlike briefie is skeef teen die bedstyl vasgeplak.

‘n Piekniek met Hessie se “dikkefrelletjies” en ‘n brood wat so hard is dat jy dit met ‘n saag moet sny gebeur langs die Gifappeltjie-land. Hul motor word uit die modder getrek deur Toorperd Griet en Heksie vergeet alweer die towerwoord. Die toorperd met sy hol rug en lang ore ; lekker bruin modder wat teen ‘n gifappeltjie spat, en Blommie met ‘n parmantige tongetjie wat hy uitsteek vir die Gifappeltjies,  dra weereens by tot die lekker leeservaring.

In ‘n verdere leesboek  is Liewe Heksie betrokke by ‘n donkie- sy beland agterstevoor op sy rug en huil omdat hy dan nie ‘n kop het nie! Sy word ‘n babawagter, en in die land van die Gifappeltjies word sy en Koning Rosekrans gevange geneem omdat die Gifappeltjies Blommeland wil oorneem.  Maar Liewe Heksie red hul uit die situasie want in haar eie woorde, is sy tog die slimste Heksie wat sy ken!

En hiermee stem elke leser en natuurlik  ‘n toekomstige geslag van lesers wel deeglik saam!

 

Baie geluk aan die uitgewer Human & Rousseau wat hier pragtige toeganklike leesboeke uitgegee het.

Lona Gericke, Augustus 2015

 

No comments:

Post a Comment