Saturday, January 31, 2015

'n Oulike spokie op besoek


Preussler, Otfried: Die klein spokie( PROTEA, 2014) In Afrikaans vertaal deur Amelia de Vaal

 

“Vir donkiejare al woon in Kasteel Uilsteen ‘n klein spokie-‘n heeltemaal skadelose nagspokie wat niemand enige kwaad sal aandoen solank hy nie getreiter word nie”…

Om middernag neem hy sy 13 sleutels en verken die kasteel. Sy beste vriend is Oe-hoe Sjoe-hoe, ‘n uil. Sy grootste wens is om tog eenmaal die wêreld in die dag te sien. Toe die raadhuishorlosie twaalfuur verkeerdelik slaan, word hy in die dag wakker. Nou is hy swart soos die sonstrale hom verkleur het, en laat almal skrik wat hom teëkom.

Dit is die begin van sy opwindende avontuur in Uilenburg. Die dorp is in rep en roer, want ‘n swart gedaante doen die rondte! Met die 325-jarige viering van die beleg van UIlenburg deur die Swede besluit hy in sy onkunde om die stad te help red van die dreigende gevaar.Sy inmenging veroorsaak dat die hele geleentheid bederf word. Gelukkig ontmoet hy die apteker se kinders wat hom weer help om sy spook-lewe terug na “normaal” te bring. En hy kan weer lekker kuier by sy ou vriend, weer ‘n wit spokie soos die maanligstrale hom weer wit getower het. 

‘n Oulike fantasie verhaaltjie wat in Duits benoem is vir die Jugendbuch-prys en in 2013 is ‘n rolprent daarvan vervaardig , Das kleiner Gespenst.

KInders 6jaar en ouer behoort dit te geniet. Die vertaling lees lekker  en die spokie se avonture is heel snaaks en sjarmant.  Die illustrasies is toepaslik vir die tyd waarin die verhaal afspeel en die geheel indruk van die boek is  dat dit keurig versorg is.

‘n Klassieke werk wat ‘n plek verdien in tuis –en biblioteekversamelings.

 

Lona Gericke

No comments:

Post a Comment