Wednesday, November 27, 2019

Lulu, Toring van Jasmyn en Sindikaat


Lulu se nuwe avontuur, en die SANLAM pryswenners 2019:


Viljoen, Fanie: Olke bolke, Lulu( LAPA, 2019)Illustreerder Elsbeth Eksteen.

Fanie Viljoen se gewilde reeks oor die dogtertjie Lulu met die talent om klere te ontwerp, deel hier met haar jong lesers ‘n nuwe avontuur, getooi in Elsbeth Eksteen se kenmerkende dogtertjie-vriendelike illustrasies.
Op ‘n dag ruik Lulu babapoeier in hulle  huis. Oom Theuns die motorbestuurder het gevra of hulle ‘n paar dae na die seuntjie kan kyk terwyl sy dagmoeder siek is. By die skool is daar ‘n nuwe leerder in hulle klas, Greta. Greta prober dadelik almal se guns wen met koek uitdeel, maar agter Lulu se rug beskinder sy haar by die tweeling.  Sy daag Lulu uit met ‘n modeparade-kompetisie. Lulu wil graag ‘n modeontwerper word, maar dalk is Greta meer talentvol as sy. Toe haar boek waarin sy al haar idees aanteken verdwyn, maar later weer verskyn,is sy stomgeslaan om  by die kompetisie te sien dat  Greta se ontwerpe presies soos hare is! Behalwe natuurlik vir die finale ontwerp  wat sy nie in haar boek gehad het nie, en waar Greta se gebrek aan talent toe baie duidelik openbaar word. Dalk  het  Greta  nou ‘n les geleer.
 Ideale leesstof vir beginnerlesers wat hou van regte verfynde “dogtertjie”-stories met frilletjies en valle en oulike babas… en ‘n gawe talentvolle hoofkarakter wat ten spyte van Greta se afguns, nogtans bereid is om daarna met haar vriende te wees.

Derick van der Walt:Toring van Jasmyn( Tafelberg, 2019). SANLAM pryswenner- Goud vir Jeuglektuur.

Markus en sy sussie Nina en ‘n vriend Neil vergesel hulle pa op ‘n besigheidsreis na  Istanbul.   
Die verhaal is dus geplaas in hierdie kleurvolle maar ook gevaarlike milieu waar ‘n bom onlangs op die lughawe ontplof het. Tipies jongmense verken elkeen die nuwe vreemde omgewing op hul eie manier:  Nina koop net aanmekaar goed, maar Markus word geïnteresseerd in die ou gebou, die toring van Jasmyn op een van sy nagtelike wandelings. Hy let op dat jong mans in swart gekelee die plek besoek en wonder waarom hierdie besoeke gaan.
Nina raak bevriend met die Turk Sahib, en hy nooi Markus om saam met sy span sokker te speel. So word hulle ook genooi na Sahib se oom se huis, en hulle ontmoet ook sy suster Meryem en ander familie. 
Die toeriste bedrywighede van die karakters word   ‘n ervaring vir elkeen op ‘n veel dieper vlak deurdat hulle met ‘n Turkse gesin bevriend raak. Terselfdertyd is daar ‘n sterk spannings-element met Markus se belangstelling in die Toring van Jasmyn wat opbou tot ‘n klimaks wanneer Nina ontvoer word en hy vermoed waar sy aangehou word.
Derick van der Walt kyk na Istanbul met fyn waarneming en interessante kommentaar, en sy beskrywings van die plek is netso kleurvol as Istanbul self.
Die jongmense word ook oortuigend uitgebeeld, elke individu is geloofwaardig en oortuig, ook Neil met sy boodskappe aan ‘n vriendin waarin hy kommentaar lewer oor hierdie gesin. Neil vertel dan aan haar dat Markus ‘n stiefma Charlotte het en dat hy emosioneel nognie die egskeiding van sy ouers aanvaar het nie. Maar ook hier vind daar ontwikkeling plaas en maak Markus kontak met haar d.m.v die lampie wat hy toe vir haar koop.   Die leser hoor ook dat Neil sy ouers verloor het.
Hier is daar dus nie die fout wat so baie skrywers maak om issues ‘n sentrale fokus van die verhaal te maak nie; karakters se emosionele problem plaas soms ‘n demper op die leser se genot met die lees van ‘n verhaal.  Hierdie skrywer weet hoe om ‘n gesonde balans te handhaa. Baie subtiel vertel hy  jou van persoonlike problem waarme die jong karakters worstel, en baie subtiel ook weer is daar die tekens van hoop en vernuwing.  
Van der Walt is gemaklik met Afrikaans, met sy karakters en vertel ‘n boeiende verhaal wat afspeel in ‘n eksotiese omgewing, maar ook word jy as leser bekend gestel aan werklike mense in hierdie vreemde land en die probleme waarmee ook hulle te kampe het. 
‘n Waardige wenner van die SANLAM goue medalje. Die boek sal tieners boei en betrek ook op emosionele vlak.

Barnard, Annerle:  Sindikaat( Tafelberg, 2019).  Silwer medalje wenner.
Paul en sy twee vriende Karlien en Adriaan is in opdrag van Paul se pa op ‘n safari na Zimbabwe en Zambië onder aanvoering van die rowwe onverskrokke recce Bossie. Hulle is in lewensgevaar nadat Paul heel onskuldig en niksvermoedend sy hand in ‘n Chinese vriend  Chang se beskuitblik gesteek het en  hulle so bloot toevallig met ‘n sindikaat en smokkelary kennis gemaak het. Buitendien was Paul voorheen ontvoer, en vandaar sy pa se besluit dat hy ‘n lyfwag moet hê. Bossie moet die jongmense beskerm teen moontlike bendelede wat Paul se bloed soek, en hy tref voorsorgmaatreëls, selfs deur wapens oor die grens te smokkel. Hulle eerste kennismaking met die vyand is by die Victoria Falls Nasionale Park. Bossie reken egter gou met die twee aanvallers af.
Baie  minder vervelig as my verbeeldinglose weergawe van gebeure is die werklike situasies en veral Paul se kommentaar, emosionele uitbarstings en  waarnemings in kleurvolle byderwetse taal wat tieners ken. Daar is wrede situasies ook, soos toe Paul sy geliefde kat Russel gekruisig gesien het voor hul vertrek, of Guinness die hond wat net net ‘n aanval oorleef, of Karlien se poedel se keel wat afgesny word… of die boot aanval op die Zambesi rivier…
Hierdie word ‘n reis van vele spannende ontmoetings tussen die jongmense, hul beskermheer Bossie, en ‘n sindikaat wat hulle medoënloos agtervolg.
Die skrywer plaas die gebeure in Zimbabwe en Zambië in hoofstukke, afgelos met hoofstukke wat die gebeure in Bloemfontein vooraf, vertel. Hierdie is dus ‘n slim manier om die leser geleidelik ‘n volledige prentjie te gee van die hele ontplofbare situasie waarin die karakters hulle bevind.
Paul as verteller is ‘n boeiende energieke hoofkarakter met sterk emosies en hy handhaaf ‘n vinnige tempo van vertel en meelewing.  Sy beskrywing van situasies en insidente is skerp, soms komies en altyd raak, bv. as hy sê: “ Bossie se kop raas in stereo”.  En “As die humiditeit jou alleen in hierdie wêreld kry, pop hy jou soos ‘n springmielie”.   
‘n Verhaal wat op ‘n gallop hardloop en die leser ‘n genotvolle leeservaring bied.  


No comments:

Post a Comment