Tuesday, July 16, 2019

'n Grillerige storie gevolg deur karre en kroeks


De Wet Hugo, Die meisie in die maanlig( H&R, 2019) Grilgrypers 4.

Die vierde titel in ‘n gewilde uiters grillerige reeks wat weereens jou as leser hipnotiseer met al die onverklaarbare en vreesaanjaende insidente in die lewe van die hoofkarakter Babette.

Babette se pa gaan oorsee vir werk en sy moet op Rustfontein gaan bly by tannie Theodora , die dorp waar haar pa se eerste liefde Heleen spoorloos verdwyn het. Die dorp het ook ‘n ou geskiedkundige begraafplaas, en Babette haat begraafplase na sy ‘n fliek oor zombies gesien het.

Dus met die intrapslag is die dorp vir haar onruswekkend en vreemd- sy moet in ‘n Victoriaanse herehuis bly; die straat is Angelierstraat en vir haar is angeliere begrafnisblomme, en in die voortuin staan ‘n grafsteen.

Sy word ontmoet deur die tante en ‘n seun Tiaan wat haar dadelilk vertel dat daar ‘n musiekproduksie by die plaaslike teater gedoen gaan word, en sy is mos musikaal. Sy verneem ook dat oom Carel ‘n lyksbesorgerwas en ‘n gedeelte van die huis was sy lykshuis.

Die toneelstuk gaan oor zombies en monsters, en sy verneem ook van Avani dat die begraafplaas deur ‘n meisie se familie vervloek is  tot ‘n zombienes.

So skep die skrywer op vernuftige wyse ‘n toneel waarin Babette meegesleur word in vreemde gebeure; o.a. ‘n zombie in haar klerekas;  sy word agtervolg deur ‘n vrou in ‘n swart lykswa, sy begin zombies sien , en in haar klerekas sien sy ‘n tienermeisie met ‘n halwe gesig in ‘n wit rok wat lyk of bloed oor haar gerëen het… 

Geleidelik word die verhaal opgebou tot die skrikwekkende finale gebeure waar Babette om haar lewe moet veg…die onsterflikes op die dorp gebruik die zombies om onskuldige kinders na die begraafplaas te lok…

De WetHugo skryf met vernuf en ‘n ryk verbeelding om die lesers heeltemaal te betrek by ‘n grillerige verhaal. Daar is uiteindelik ‘n goeie balans tussen fantasie en die werklikheid wat vir Babette toe heeltemaal gerusstellend verloop.

Hierdie genre is uiters gewild by jong lesers, en Grilgryper 4 stel nie teleur nie. 

Walliams, David: Karre en kroeks( PROTEA, 2019) Afrikaans deur Kobus Geldenhuys.

As daar nou een skrywer van jeugboeke is wat lesers op ‘m mallemeule-vaart kan neem is dit ongetwyfeld Walliams.

Daar het reeds 11 vertaalde werke van hom in Afrikaans verskkyn by PROTEA uitgewers, en elke boek is net een groot plesier om te lees.

Frank is tog te trots op sy pa wat ‘n kampioen renjaer met stampkarre is in sy ou Mini Queenie. Maar met ‘n ongeluk verloor hy sy been, sy vrou Rita verlaat die twee en finansiëel gaan dinge ook maar broekskeur. So raak hy betrokke by gevaarlike boewe, hy leen geld by Meneer Groot sy vrou se nuwe man en beland in die tronk toe hy Frank teen die boewe wou beskerm.

Frank is egter ‘n seun met groot planne. Hy dink ‘n meesterplan uit om sy pa uit die tronk te kry en die geld wat uit die bank gesteel is weer terug te plaas.

  Die verhaal word uitmuntend aangevul met Tony Ross se sketse; verskeie letterfonte word gebruik om dinge nog lewendiger te maak, en afgesien van al die jaende motors is daar interessante karakters soos pastoor Judith, tannie Flip en Raj die winkelier wat hom help om sy pa uit die tronk te laat ontsnap.

Walliams gee vrye teuels aan sy verbeelding, en kyk met ‘n soms siniese blik na die karakters in sy verhaal. Veral seuns sal diet Karre en Kroeks baie geniet; en ongetwyfeld word die pa-seun verhouding positief en met waardering uitgebeeld. Hoogs aanbeveel.

 

No comments:

Post a Comment