Thursday, July 26, 2018

'n Verlore pikkewyn en baie honger reus



Freedman, Claire en Hindley, Kate: Die verlore pikkewyn-‘n Paul en Vlekkie verhaal( PROTEA( 2018)Afrikaans deur Carmen Hansen-Kruger

Vir die beste maats Paul, Rosa en Vlekkie is dit die lekkerste van alles om saam na die dieretuin te gaan. Daar merk Vlekkkie ‘n klein pikkewyntjie op wat baie hartseer lyk. Hy is ‘n pikkewyn wat gered is en seker verlang na sy ou huis. Met hul volgende besoek hoor hul dat Piep wel weg is, en die drie begin na hom soek. Dit is al laat toe hulle hom opspoor, en die twee kinders stry oor by  wie hy vir die nag moet oorbly. Daar raak Vlekkie en Piep weg, en die kinders spoor hulle eers die volgende dag by die dieretuin op.Gelukkig word Piep verwelkom deur die ander pikkewyne, en die maats kan gerus huistoe gaan, en gaan roomys eet!
‘n groot formaat prenteboek in hardeband met die mooiste delikaat getekende illustrasies van diere en voëls in sagte kleure . Op elke bladsy is die teks en illustrasies goed gebalanseer, en genoeg wit ruimtes word gelaat om die lekker groot druk sonder hindernis te kan lees. Die twee kinders se helder klere vorm ‘n mooi kontras met die geboue en ander elemente.Die diere word saam gegroepeer en lyk nuuskierig en betrokke by elke gebeurtenis. Ronde oplettende lewendige ogies van die kinders en diere straal energie en meelewendheid uit. ‘n Oulike prenteboek met net genoeg spanning om die aandag te hou wanneer die hondjie en Piep verdwyn.

Woollard, Elli en Davies, Benji: Die Reus van der Bees( PROTEA, 2018) Rymvertaling uit Engels deur Philip de Vos.

Die nare reus kon vreeslik mor en grom as hy honger word.Veral nadat Jan hom by die boontjierank uitoorlê het soek hy Jan se bloed.
Toe hy by die kinders kom word hy net vriendelik ontvang en word gekomplimenteer. So gaan haal hy hul bal uit die fontein, red hul kat uit ‘n hoë boom, en die kleine Jan vra hom om hom te abba. Natuurlik is hy reg vir die reus se pan want sy naam is dan Jan! Maar die kinders oortuig die reus dat reuse in die land baie eerder koek eet, en die reus vergeet van mensvleis want hulle het hom nou oortuig hy is lief, vroom en ‘n “doodgoeie oom!”  
‘n Spelerige humoristiese bekendstelling aan ‘n grommerige reus wat deur kinders tot ander beter insigte gebring word.Die aanfanklike somber donker kleure om by sy gemoedstemming aan te pas nadat Jan hom gefnuik het, verander en word lig en vrolik soos hy die wêreld van die kinders betree. Die kinders is natuurlik in beheer van die verhaal, en wie kan nou die heerlike groot stuk sjokolade koek, versier met aarbeie, weerstaan ?!   ‘n Gelukkige vreedsame reus word in die finale kleur-illustrasie omring deur spelende kinders, selfs ‘n varkie, esel en hasies, en  met die drie tevrede kokke by sy voete waar ‘n hondjie ook aan die een voet hang.  Alles is goed in hierdie kinderland.

  


No comments:

Post a Comment