Wednesday, May 23, 2018

Van perde, mummies, drakies ,kewers en Max die masjien


Resensies van Afrikaanse kinder/jeugboeke nr 6/2018

Van Balen, Theresa: ‘n Piekniek op die strand( LAPA, 2018) Illustrasies Zinelda McDonald.

Beginner lesers het hier die geleentheid om saam met die twee vriendinne Jana en Alisha te deel in hul vakansiepret by die see. Wat is nou lekkerder as om piekniek te hou op die strand? Maar die seuns wil hulle pret bederf, en die meisies klim toe maar op ‘n hoë duin waar hulle nie lastig geval word nie. Hul hondjie Ben let op dat ‘n wit wollerige hondjie op die strand sy poot seergemaak het, en hulle help om hom weer by sy eienaar te besorg. Hulle word beloon met heerlike roomys, en dit word die beste dag ooit!

Van Balen, Theresa: Vlieërs en filmsterre( LAPA, 2018)

Die tweede titel in die Vakansiepret-reeks hou ook heerlike vakansie pwinding vir die twee in as hulle op soek na ‘n vlieër deel word van ‘n film wat geskiet word waar twee blommemeisies dringend benodig word. End it nogal saam met Clint du Bell, hulle filmheld.

Ideale leesstof vir 7+jariges. Oulike illustrasies toepaslik vir die ouderdomsgroep.

Maartens, Wendy: Max die dapper gorilla en ander ware dierestories(LAPA, 2018) Illustrasies deur Alex van Houwelingen.

 

   6 Ware dierestories met Max die dapper gorilla, Huberta die seekoei, ‘n vlermuis, ‘n bobbejaan wat lus is vir koek, Zhu die sterk Chinese vark en ‘n beer wat soldaat word. 

Ware diereverhale was nog altyd gewild in biblioteke, en hier is ‘n goeie balans getref tussen net genoeg teks en lewendige kleurvolle illustrasies sodat beginner lesers se aandag gehou kan word.  Die gesegde aan die einde van elke storie dra by tot die leersaamheid van die teks.

Jacobs, Jaco: 101 Dieregrappe, 101 Klop-klop-grappe, 101 lawwe grappe, en grappe vir pousetyd ( LAPA, 2018)

Elkeen van die 4 boekies bevat 101 grappe vir 7+jariges, met Jaco Jacobs se gebruiklike fyn humorsin weerspieël in elke grappie!  Daar kan nooit genoeg boeke met grappe in sirkulasie wees nie.  Ek kan net sien hoe kinders dit vir mekaar gaan voorlees en vra.

Siegner, Ingo: Klapper die drakie en die swart ridder( H&R, 2018) Afrikaans deur Kobus Geldenhhuys.

Klapper en die ystervarkie Matilda vergesel sy oom Hardus na die ridderryk om te gaan waakby die appelboom wat die ridders wil afkap. Maar Hardus beland in die Swart ridder se kloue wat hom wil gebruik om die koning te oortuig da thy met sy dogter kan trou. Gelukkig is Klapper en Matilda byderhand om die minnesanger te help wat werklik lief is vir die prinses, en met Hardus se hulp word die swart ridder verslaan, en het die verhaal ‘n gelukkige einde vir die jongmense.

Herdie is ‘n baie aantreklike volkleur reeks met genoeg aksie en verassings om jong lesers te boei. 

Siegner, Ingo: Klapper die drakie en die groot towenaar( H&R, 2018) Afrikaans deur Kobus Geldenhuys.

Klapper enMatilda loop ‘n bol in die veld raak wat aan hulle vertel dathy eintlik die groot towenaar Rikus Ringkop is, die heerser van Bottelland, maar dat die slegte Bokbaard sy towerstaffie gesteel het. Hulle besluit om hom te help om terug te keer na Bottelland, en die nare Bokbaard ‘n streep te trek.

‘n Heerlike aksiebelaaide avontuur wat jong lesertjies baie gaan geniet.

Bloemhof, François en Ackermann, Alistair: Agent Snoet 5 in 1( LAPA, 2018)

Hierdie uiters gewilde strokiesprente-reeks verskyn nou in een bundel Keurig versorg met ‘n omslag wat dadelik die aandag trek. Agent Snoet en die Botterdiamant. Kattekwaad, en die Hondelewe, en die Groen Genugtig,en die Windlawaai  is ‘n reeks wat uniek is in Afrikaans en baanbrekerswerk is gedoen met boeke wat strokiesprente bevat. Kinders is gaande oor hierdie tipe aanbieding, end it was ‘n briljante idee om dit in een publikasie saam te vat. Hoogs aanbeveel.

 

Jacobs, Jaco: Max die masjien( LAPA. 2018) Illustrasies deur Stephen Wallace.

Zander word op ‘nSondagoggend verras deur ‘n vrou in ‘n goue sweetpak wat hom meedeel dat hy die  groot prys in ‘n kompetisie waaraan hy deelgeneem het, gewen het. Hy verwag ‘n nuwe Playstation , maar wen ‘n week met Max die Masjien as sy persoonlike lyfwag!  Hy is ‘n rofstoeier, en Zander het nie ‘n idee wat hy met hom gaan doen nie. By die skool moet hy baie spot verduur, veral van sy grootste vyand, die boelie  Wynand.  Miskien gaan dit sy geleentheid word om Wynand ‘n les te leer?  En Max verbaas die gesin verder as hy Zander se pa leer om meer oortuigend vir werk aansoek te doen, en dan is hy nog goed met wiskunde ook… 

Jaco Jacobs stel weereens nie teleur met sy ongelooflike insig in die wêreld van jongmense nie- hulle drome en behoeftes ook in gesinsverband. Snaaks, onderhoudend en ‘n wenner. Hoogs aanbeveel.

Wallace se illustrasies is in die kol- Max die masjien lyk absoluut skrikwekkend!

Taute, Dihanna: Die legendariese Lua Verwey( H&R, 2018)  Illustrasies deur Theodore Key.

Lua en haar gesin se manewales herinner my sterk aan die gewilde Lotta- reeks. Sy is ‘n dogtertjie wat haarself as super slim beskou, seuns haat, uitgesproke en parmantig is, en dolgraag krieket wil speel- nogal nie iets wat die ander meisies gaan beïndruk nie! 

Sy is deurgaans aan die woord, en neem die leser saam na haar huis en skool.  Die teks is eenvoudig, direk, en weerspieël die dogtertjie se sterk karakter. Sy sal sommer gou ‘n klomp lesers aantrek wat met so ‘n karakter kan identifiseer. Veral verassend is die ouers se groot nuus aan die einde van die verhaal,en soos Lua tereg opmerk: “Ons is nogal ‘n unieke klomp bymekaar…”

De Wet Hugo: Web van die mummie- Grilgrypers 2( H&R, 2018) illustrasies deur Shân Fischer.

Stel jou voor dat jy spinnekoppe uit jou neusgate sien kriewel as jy in die spieël kyk, jouself troos dat dit net ‘n aaklige nagmerrie is en dan nog verder ontstel word met die nuus dat daar ‘n kaal mummie op die plaas ontdek word, opgehang, en dat dit dalk haar pa se vermiste suster Annette kan wees!

Dit is maar die begin van ‘n uiters spannende en grillerige verhaal wat my enduit geboei het!

In die nuwe skool is sy in ‘n kamer saam met 3 ander meisies. Haar Dame is die gawe Melinda wat haar vertel dat haar boetie Adriaan in die Paarl Hoërskool vir seuns is.  Haar koshuismoeder is ‘n reusagtige vrou wat die meisies Weerbeer noem. Sy sien weer die mummie wat die massiewe spinnekop se kop afbyt as sy gaan stort…dinge is regtig nie pluis in die skool nie. En dan sterf Melinda as sy by die trappe afval, en nog erger, toe sy ontdek is, was haar liggaam oortrek van spinnekoppe!  Die een grillerige gebeurtenis volg op die ander; wat is werklik aan die gang?

Die spanningslyn word deurgaans baie effektief gehandhaaf;  ek is oortuig die reeks gaan sommer baie aanhangers kry!  Hoogs aanbeveel. Ek het die boek selfs meer geniet as Grilgrypers 1.

Leonard, M.G. : Kewerwraak( PROTEA, 2018) Afrikaans deur Kobus Geldenhuys.

Hierdie is die finale boek in die kewertrilogie en volg op Kewerknaap en Kewerkoningin.

Soos die vorige twee titels is die boek deurspek met inligting oor kewers, bevat ‘n entomoloog se woordeboek , bronne en webwerwe waar lesers meer kan leer oor hierdie interessante ongewerweldes.

Maar terselfdertyd is dit goed geskryf, is daar interessante avonture waarop die karakters gaan, en die finale reeks gebeurtenisse waar Darkus en sy vriende Lucretia Cutter se geheime vesting- die bioom in die Amasone-reënwoud probeer opspoor, is opwindend en vol verassings.

Die verhaal bereik ‘n klimaks met die deurslaggewende geveg in die bioom- gaan Darkus en sy oom Lucretia kan verslaan?

Die reeks word hoogs aanbeveel vir lesers wat ‘n verhaal soek met baie lyf en detail en defnitief met  literère meriete.

Van den Berg, Jacolet: Kate in Harmonie( LAPA, 2018)

Kate en haar ouers en broer Dieter moet hul geliefde Johannesburg groet om op ‘n plaas naby die Paarl te gaan woon sodat haar pa weer kan werk.

Sommer dadelik word sy aangetrek tot die perd Harmonie wat duidelik ‘n probleemperd is , en niemand waag dit om ‘n saal op sy rug te sit nie. Will is die plaasseun wat haar tuis laat voel, asook Els wie se pa Vrydagaande te veel drink.  Kate besluit sy moet Harmonie se vertroue wen,en sy spandeer baie tyd langs sy kamp sodat hy aan haar gewoond moet raak. Maar nou is daar die moontlikheid dat hy verkoop gaan word, en dit mag netnie. Aanfanklik is sy ook bekommerd oor haar broer wat hom onttrek en met verkeerde seuns deurmekaar raak.

Hierdie was nie vir my sommer net ‘n gewone voorspelbare perdestorie nie. Dit is goed geskryf, die karakters is oortuigend, en die boek raak spesiaal met die uitbeelding van Kate en Harmonie se verhouding. Karakter ontwikkeling vind plaas, elkeen groei op ‘n eie spesiale manier, en as leser gee dit jou ‘n warm gevoel. ‘n Potensiële goeie skrywer wat hopenlik nog gaan skryf.      

 

  

 

 

 

No comments:

Post a Comment