Tuesday, March 20, 2018

Volksverhale en Onder my vel


Resensies van Afrikaanse  Kinder/Jeugboeke 3/2018:

Magona, Sindiwe:  Volksverhale uit Afrika 1-9 ( David Philips, 2016) 2de uitgawe

Hierdie reeks het reeds in 2014 verskyn.  9 titels handel oor ‘n verskeidenheid verhale met ‘n Afrika agtergrond, behalwe Die vreemdeling en sy fluit wat geïnspireer is deur Robert Brwoning se gedig “Die fluitspeler van Hamelin.”

In Gulsige man, gawe rots tref ‘n verskriklike droogte die land en die pa Hlohlesakhe is desperaat op soek na kos.  ‘n Rots voorsien hom daagliks van heerlike kos wat hy gulsig eet, sonder om iets na sy familie te neem. Totdat sy skerpsinnige dogter hom agtervolg en sy skande en gulsigheid ontbloot word.Soos in verskeie van die 9 verhale is hier foute in die teks, bv. “dat hy hulle raakgesien”. Die Afrikaanse vertaling is soms lomp en swak woordkeuses word gedoen, bv.”hy het skaars begin sing toe die kos uitstort.

Nokulunga, Moeder van goedheid, is juis die verhaal van ‘n vrou wat elke keer as haar man ‘n tweede vrou bykry, die vrou d.m.v haar towerpot laat verbrand.

Buhle , die veelkleurige kalf   beland tussen die ander beeste en Soyiso, hul oppasser, was verheug om die mooi kalf te versorg. ‘n Aaklige wrede man daag egter op, en omdat die kalf nie geroer het voordat daar vir hom gesing is nie, het hulle hom doodgemartel. Gelukkig het pragtige blomme in sy plek verskyn, want”Niks verdwyn ooit nie”.

Die vrou op die maan vertel van die hardkoppige vrou wat Nkanishe wat nie die reels van die dorp gehoorsaam het nie, en op Sondag uitgegaan het om hout te gaan kap. Sy is gevolg deur haar seuntjie en hul hond, en het nooit weer teruggekeer nie, Behalwe dat sy deur die woudgode na die maan verban is , en daar kan sy gesien word.

Twee van die verhale gaan oor diere, Sterker as Leeu en Hoe Dassie gemis het om sy stert te kry .In eersgenoemde word Leeu uitoorlè deur muis wat hom ‘n les leer omdat hy so gulsig was en die ander diere moes hongerly.

Dassie weer is te lui om soos die ander diere sy stert te gaan ontvang, en daarom is hy vandag nog sonder ‘n stert.

Die wrede koning lewe!  Dra die duidelike boodskap dat die wens van die ou koning dat sy gees moet voortleef in sy opvolger volbring is. Netsoos sy voorganger het sy volgelinge in armoede geleef, en het hy in oorvloed geleef.  Weer ‘n voorbeeld van ‘n drukfout:” hy was onder die vele wat vrymoeidiglik die ou koning aangeraai het….

Vandag, plant ons ‘n hoofman  dra die boodskap dat ‘n ongevoelige selfsugtige seun Lunga deur vriendskap, en met Madiba as voorbeeld kan verander en karaktertrekke soos dissipline, dapperheid en verdraagsaamheid  kan aanleer. (Die opsomming van die verhaal op die omslag is uiters verwarrend!

Die verhale het potensiaal vir voorlees en kan selfs gedramatiseer word, maar is defnitief nie ‘n voorbeeld van ‘n goeie Afrikaanse vertaling nie!

Magona, Sindiwe and Jablonski, Nina G : Onder my vel ( David Philip. 2018) Afrikaans deur Elna van der Merwe. Illustrasies deur Lynn Fellman.

‘n Absoluut prag publikasie waarin die seun Njabula gefassineer is deur ‘n verkleurmannetjie wat hom laat wonder hoekom almal nie soos verkleurmannetjies van kleur kan verander word nie. Sy oom Joshua se skrootwerf is die plek waar die skoolkinders ‘n taak oor herwinning moet doen. Dit word dan ook die agtergrond waarteen die kinders leer oor velkleur en daaroor gesels.  

Die wetenskapteks deur Nina Jablonski verskyn deur die hele publikasie en leer die groep jongmense  dat kleur oral is, hoekom ons nie van kleur kan verander nie, hoekom daar so baie kleure is, vertel van velkleurgene, hoe verskillende volke bymekaar uitgekom het, hoe nuwe velkleure ontwikkel het, en hoe om velkleur te verstaan. Die liedjie op bladsy 42 kan kinders rap met stokkej of ander rondlêgoed.:”My vel is daar buite, my hart is hier binne, dis wie ek is…”

Die multimedia –kunstenaar Lynn Feldman se illustrasies vul die teks en wetenskaplike insette treffend aan.  Hierdie is ‘n belangrike boek wat in skole, biblioteke en tuisversamelings hoort. Hoogs aanbeveel.

   

No comments:

Post a Comment