Wednesday, January 31, 2018

Van 'n besoeker tot 'n somer vakansie


Damm, Antje:   Die besoeker( PROTEA, 2017)

In ‘n donker vertrek sit ‘n eensame figuurtjie Elise wat so bang vir alles is dat sy altyd  by haar huis bly waar sy minder bedreig voel as in die wêreld daar buite.

Op ‘n dag vlieg ‘n vreemde voorwerp by die venster in- ‘n papiervliegtuig wat sy dadelik verbrand.  ‘n Seuntjie klop aan haar deur op soek na sy speelding, en vra om haar toilet te gebruik.  Met sy verskyning bring die skrywer ‘n helder lig in hierdie donker omgewing , en wanneer hy haar vra om vir hom ‘n storie te lees, word die besoek net al lekkerder – hulle speel saam, en sy maak vir hom ‘n toebroodjie toe hy honger is.  Na sy vertrek weet Elise dat sy ‘n vlieër vir haar nuwe vriendjie  moet maak.

‘n Oorspronklike klein verhaal oor vriendskap en eensaamheid. Teen die agtergrond van vertrekke in har huis sit die figuurtjie wat soos ‘n papierpop  ingeteken is op elke bladsy. Die toevoeging van kleur in hierdie somber omgewing met die koms van die seun is treffend en verhelder haar omgewing en lewensomstandighede.  Baie treffend.

Ongansie, Susan: Kattekwaad ( LAPA, 2017) Illustrasies deur Linki Lutz

Mietsie en Maas speel tog te lekker, maar as sy aan die slaap raak gaan soek hy iemand anders om mee te speel. Mietsie word wakker, en begin haar boetie soek.  In die proses kom sy op gevaarlike straatkatte af, en  toe hulle drie deur straatbrakke gejaag word, vlug die drie en klim in ‘n boom. Hierna gewaar sy haar boetie en nooi die straatkatte om saam met hulle te gaan speel.

‘n Oulike storie met ‘n mooi kinkel waar die straatkatte en huiskatte maats maak.  Die illustrasies het ‘n kinderlike gevoel en kon deur ‘n kind self gedoen gewees het wat heel van pas is.  Sagte kleurskakerings skep ‘n rustige gevoel.

Scherz, Oliver: Ben ( PROTEA, 2017) Uit Duits vertaal deur Amelia de Vaal.

Ben en sy skilpad Meneer Minni is maats wat amper alles saam doen. Hulle speel saam in die bad,  besoek sy broer se boomhuis wat verbode terrein is, en saam vang hulle vis in die bure se visdammetjie en moet die vis weer terug besorg word by sy maatjie.  Ben probeer ‘n dapper Indiaan wees nadat hy nie dapper by die dokter was nie!

10 verskillende insidente en ontmoetings o.a.  met die nuwe bure se dogters , sy oupa, en die silwer sjokolade munte wat hy by sy broer vaslê, en ‘n besoek aan die veearts as Minni siek word , dra elkeen by om hierdie bundel genotvol te maak. So word sy wêreld vir hom oornag groter as hy sy eerste skooldag beleef, maar die nuwe ervaring word met ope arms verwelkom.

Heerlike groot druk in ‘n keurig versorgde aanbieding waarin Ben en sy skilpad Minni   dadelik in die leser se hart kruip met sy eerlike waarneming en vertelling van hul avonture saam. ‘n Pragtige boek!

Janosch :  Kyk hoe mooi is Panama( PROTEA, 2017)Uit Duits vertaal deur Rentia Bartlett-Möhl

Janosch is een van die bekendste Duitse kinderboek skrywer/illustreerders.  In hierdie prag publikasie word al ses  Tier-en Beer-verhale aangebied met sy kenmerkende illustrasies van die twee avonturiers wat net absoluut behoort tot die klassieke skat van kinderboeke.

“Eendag was daar ‘n klein beer en ‘n klein tier wat aan die onderkant van ‘n rivier gewoon het”… so begin die eerste verhaal in die bundel waar die twee besluit om na Panama te gaan soek want dit is klein beer se land van sy drome.

Met elke avontuur laat die skrywer die leser verstaan dat jou tuiste tog maar die lekkerste kan wees, dat ‘n skat in die grond nie die rykdom rondom hulle kan vervang nie, en deurgaans word hulle hieraan herinner deur die ander diere in die stories soos die mol wat wil hê dat hulle na die winter-koninkie se mooi gesang moet luister, en dan smaak die blomkool ook tog te lekker!

Maar die twee hou nooit op om nuuskierig en skeppend te wees nie, bv. toe hulle briefpos, lugpos en die telefoon uitgevind het waarby al hul vriende se kommunikasie verbeter.   Klein vark laat tier vergeet van sy verpligtinge tuis as hulle so lekker speel en dinge saam doen. As hy dan weer huistoe gaan, is beer nie daar nie. Gelukkig vind die twee toe weer mekaar.

Toe tier verjaar besluit hulle om partytjie te hou en al die diere word uitgenooi na die geselligheid. Padda besluit om die huisie vol water te laat loop om die partytjie darem vroliker te maak, en as die bokram laat daar aankom en die deur oopmaak, swem al die gaste heerlik na  buite!

Hierdie boek behoort in elke biblioteek/skool en ook tuisversamelings waar kinders blootgestel moet word aan die ryke skat van die internasionale kinderboek wêreld.

Viljoen, Fanie: Aksieheld Austin-nag van grille ( LAPA, 2018)

Vir jong lesers 9jaar + verskyn die tweede boek in die nuwe reeks  Aksieheld Austin na Operasie Sabotasie.

Ewald Eloff speel weereens die held Austin en spesiale gaste word uitgenooi na die fliek se première. Die hotel-joggie Toni met die skewe gesig vertel aan Ewald en sy vriend Cardo  van die museum agter die Marconi-teater waar die fliek gewys gaan word wat hulle moet besoek want dit is baie grillerig en word bestuur deur sy ma Madame Marconi.  Ewald die waaghals stem in dat hulle voor die aand se vertoning wel daar ‘n draai kan gaan maak.

Min het die twee vermoed dat hierdie besoek ‘n groot uitdaging en toets vir hulle dapperheid en ondernemingsgees gaan word, want die museum is die bêreplek van ou fliek-goeters uit rillers en grillers. Madame Marconi waarsku hule ook dat sommige plekke in die museum verbode is en onveilig is. En dan hoor hulle ook dat  Toni nie lekker in sy kop is nie en nie meer reg kan dink nie… waarom sou hy aandring dat hulle die museum besoek?

Ligte vermaak vir jong lesers wat hou van grillerige spanningsvolle stories met ‘n gelukkige einde want is Austin dan nie verniet ‘n aksieheld nie?!

Jeugboek:

Fouché, Jaco: Somer ( H&R, 2018)

Hierdie is die bekroonde skrywer se tweede jeugroman.

Na ‘n rugbyoefening nooi André Lourens  vir Maison Jonkers ‘n kleurlingseun om ‘n draai by hom te kom maak.  Beide vaar gemiddeld op skool, is vinnige atlete en lief vir duik en swem.  Altwee se ma’s is uithuisig- Andrè se ma reis op soek na ‘n nuwe tuiste oorsee vir die gesin, en Maison se ma doen liefdadigheidswerk na sy tot bekering gekom het.

Dit is die begin van ‘n vriendskap wat na matriek deur die somervakansie ontwikkel en die twee word gaandeweg goeie vriende wat saam die lewe leer ken. Hulle drink saam en steel drank, breek in by die seiljagklub, probeer vriende maak met die meisie Mimi, en kap bome af en verwerk die hout vir sakgeld.

André se broer Martin ly aan sy senuwees , sy pa werk in die boubedryf terwyl Maison se pa ‘n visserman is wat aan die begin van die verhaal sy boot in die see verloor en ander werk moet vind.

Die verhaal is dus gebou rondom twee seuns wat eers traag vriende word maar geleidelik al meer deel word van mekaar se lewens. Die milieu is die area rondom Onrus en Hermanus waar hulle die somervakansie deurbring en die tyd verwyl met kattekwaad en kuier en besoeke aan die strand.

Die roman is geskryf in eenvoudige  onopgesmukte  taal en baie oortuigend word die gevoel tuisgebring dat hier seuns aan die woord is. Sekere opmerkings en raak gesegdes bly ‘n mens by; die skrywer is absoluut in beheer van sy verhaal en tuis in hierdie omgewing waaroor hy skryf.

Maison se pa reageer op sy opmerking dat Andre dink dat hulle nou beste tjomme isterwyl hy volgens Maison ‘n paar jaar gelede hom nie raakgesien het nie:”Jy’s te jonk om daai wrok te dra. En soos ek sê,dis ‘n ander land…Howel ek baie keer wonder wat de hel demokrasie nou eintlik beteken”. Sy ma weer vra dat hy die wit seun moet help waar hy kan , want : “’n mens reageer wanneer iemand na jou uitreik”. Hierdie is ‘n nasie in wording, is die boodskap, so ook ‘n vriendskap in wording tussen die twee hoofkarakters.

Elke individu is  oortuigend geteken. Wat ek veral geniet het is dat die verhaal so ‘n rustige tempo het, daar is geen doelbewuste gejaag nie en die somervakansie beweeg teen die stadige pas wat so geloofbaar is. Die skrywer skryf nie doelbewus”mooi” nie, deurgaans bly die stemtoon opreg en direk. Byvoorbeeld:”Die lente kom met nuwe plantreuke en meer son wanneer ek soggens langs die pad vir die taxi wag”. “Ek gaan by die huis bly en visvang of sleg word of waddehel ook al. En dis as dinge goed gaan.”

Somer is geskikte leesstof vir klas besprekings oor identiteit, vriendskap, literêre meriete en kuturele verskille. Dit is ‘n leesbare jeugroman met ‘n eie stem wat jou bybly en aangenaam verras.

Lona Gericke, Januarie 2018.

   

 

 

No comments:

Post a Comment