Frazee, Marla: Baas Baba se Baas(
PROTEA, 2017) Afrikaanse vertaler Amelia de Vaal
Baas Baba
word opgevolg met hierdie vermaaklike verhaal waarin Baas Baba onttroon word
deur die nuwe babasussie. Sy hersstruktueer die hele huishouding as die nuwe
Hoof Uitvoerende Beampte –HUB. Baas Baba is omgekrap dat sy nou al die aandag
kry- om net te dink aan al haar byvoordele soos ‘n organiese
spysenieringsdiens, stresbestuur, en ‘n voltydse sosiale mediaspan! Sy het haar eie privaat limousine, en niks wat hy doen laat
die personeel hom raaksien nie. Totdat die HUB ingryp en hom help om weer deel
van die gesin te voel, hy is mos haar ouer boetie en dierbaar vir haar.
Defnitief ‘n
“tong-in-die-kies-storie “ wat die hele gesin kan geniet, want ken lesers maar
nie te goed soortgelyke situasies nie. Hoogs aanbeveel.
Schaapman, Karina: Die Muishuis-by
die kermis(PROTEA, 2017) Gefotografeer deur Allard Bovenberg. Afrikaans deur
Shané Kleyn.
Die
Muishuis, Sam en Julia het eers verskyn
om lesers te betower. In By die kermis neem die twee muise ons weer saam na ‘n
kleremaker, kaasfabriek, boekwinkel, ‘n Chinese restaurant, en veral na al die
heerlikhede by die kermis soos ‘n spookhuis en mallemeule. ‘n 8jarige meisie op
besoek by my het gister dadelik verdiep geraak in die verbeeldingryke wêreld
wat so kunstig geskep is, met soveel detail in elke gefotografeerde oomblik,
dat sy beswaarlik die boek kon toemaak.
Hierdie
reeks behoort in elke biblioteek/skool en huis waar kinders deur blootstelling
leer om vir boeke lief te word. Kinders kan www.themousemansion.com besoek , asook die Mouse Mansion-blad op facebook en die
kanaal op YouTube.
Schaapman, Karina: Die Muishuis- By
die teater( PROTEA, 2017) . Afrikaans deur Shané Kleyn. Gefotografeer deur Eddo
Hartmann.
‘n
Gelukbringerklip wat Sam en Julia opgetel het moet Sam se senuwees help kalmeer
vir sy optrede in die teater. Daar is die mooiste dubbelblad voorstelling van
die teater om jou aan te vergaap! Ander situasies volg met ‘n besoek aan die
rommelboer, ‘n suikerfees, appeltert, en ‘n verjaarsdag. Julia breek haar been
met die skopfiets en Sam besoek haar in
die hospitaal.
Die skrywer
behandel dus onderwerpe wat belangrik is vir die belewingswêrelde van kinders,
soos dat hul deel is van ‘n gemeenskap wat bestaan uit bure wat van hulle kan
verskil maar nie ‘n bedreiging inhou nie. Jong lesers leer uit hierdie twee
karakters se gedrag dat die lewe opwindend en interessant kan wees. Jy het net
‘n nuuskierige leergierige ingesteldheid nodig.
Die boeke is kunswerke geskep deur ‘n talentvolle skrywer. Absoluut
juwele!
Sirett, Dawn: My eerste 100 woorde(
LAPA, 2017).
‘n Pragtige
kartonboek waarin babas en kleuters met behulp van illustrasies en fotos bekend
gestel word aan hul liggaam, klere, speelgoed, kleure, etenstyd, hul huis,
badtyd-en slaaptyd. Daarby kom ook plaasdiere, buite in die natuur, voertuie,
troeteldiere en wilde diere.
Daar is
voldoende verskeidenheid ingesluit in hierdie eerste 100 woorde om hul aandag
te hou. Elke illustrasie verskyn teen ‘n eie agtergrond wat dit laat uitstaan
en die boek ‘n netjiese dog kleurvolle aantreklike voorkoms gee. Boeke met
woorde is baie gewild en in aanvraag.
Martin, Peter: Bybel-speurder en Jesus-speurder( PROTEA, 2017)Geïllustreer
deur Peter Kent.
Hierdie twee titels is ook in Engels
beskikbaar as Bible detective en Jesus detective.
Wat ‘n
interessante manier om kinders bekend te stel
aan die karakters en geskiedenis van die Bybel in gedetailleerde
illustrasies, elk op ‘n dubbelbladsy omring met figure en items uit die
illustrasie wat kinders moet vind.
Ek het self
probeer, en werklik so betrokke geraak dat mens jou moeilik kon wegskeur van so
‘n uitdagende en prettige situasie!
In
Bybel-speurder leer jy van Noag, Abraham se nomadiese laer, die slawe in Egipte,
Moses en die Tabernakel, Nasaret en word die geskiedenis in prente vertel tot
en met die hawe van Caesarea. Elke illustrasie word vervolgens verklein en die antwoorde word genommer vir die ywerige
speurders. ‘n Indeks verwys na dubblebladsynommers. Hoogs aanbeveel vir tuis –en biblioteek/skool
versamelings.
Jacobs, Jaco: Hoendervleis- grillerige stories en rympies(
LAPA, 2017) Illustrasies deur Zinelda McDonald.
Weereens
bewys Jaco Jacobs dat hy ‘n meester is met die vertel van stories wat kinders
geniet. Veral as dit ‘n grillerige boek soos hierdie is wat jou hoendervleis
laat kry, jou lekker laat skrik en gril, en selfs laat bibber van vrees!
Elke kort
verhaaltjie het verassende elemente en betrap jou onverwags. Maja vind op ‘n
eienaardige manier uit dat vampiere nie bestaan nie; hoekom Liza die hardste
van almal in die fliek gegil het; dat ‘n vreeslike ding met jou kan gebeur as
jy ‘n vaal seuntjie op skool boelie; is die man in die akkedispak dalk ‘n
regtige akkedis; om te slaap in ‘n spookkamer en ‘n besoek te ontvang van twee
hondjies net om later uit te vind hulle is lankal dood; om ‘n onnie soos
Juffrou Grimbeek te hê mag dalk gevaarlik wees; en dat Tannie Gerda se
handskoene jou dalk kan help om beter klavier te speel; en dalk bly daar regtig
iets in die hangkas in Zack se kamer…
Die ideale
kersgeskenk vir grilvrate . Hoogs aanbeveel.
Tienerfiksie:
Neser, Christien: Strikdas( LAPA,
2017)
Die negende
boek in die reeks met Elle Kroon as hoofkarakter word verwelkom deur elke leser
wat met Kondensmelk reeds ‘n aanhanger van Elle se avontuurlike lewe , later
ook in Gravitas, geword het.
Elle is nou
in haar matriekjaar en ook hoofmeisie van die skool. Die jaar behoort die beste
ooit te wees, maar hulle geliefde hoof, mevrou Bender, word onverwags siek en
die aaklige man, dokter Grimm, met die
strikdas neem waar as hoof.
Meneer Grimm
bewys gou dat hy geen belangstelling toon om die skool se tradisies te laat
voortleef nie. Hy het net een ambisie- Gravitas moet die beste wiskundeskool in
die land word.
Mevrou
Bender het Elle nie verniet gewaarsku dat dit ‘n bittersoet jaar gaan wees vir
haar as hoofmeisie nie,en dat sy ‘n ysterlelie sal moet wees. Min het sy toe
geweet hoe uitdagend dokter Grimm die jaar gaan maak, want sommer vanuit die
staanspoor stamp hulle koppe.
Maar dit is
juis hierdie konflik tussen die twee karakters wat die verhaal onderhoudend en
interessant maak. Gaan Elle haar hoofmeisie-balkie behou?
Neser skryf
goed, haar karakters is oortuigend en die verhaal boei tot die laaste bladsy.
Mag Elle weer in ‘n volgende verhaal verskyn!
Nie-fiksie:
My ensiklopedie van baie belangrike
dinge-vir slimkoppe wat alles wil weet(LAPA, 2017)Samesteller: Dorling
Kindersley. Afrikaans deur Mia Oosthuizen.
Dorling
Kindersley is bekend vir nie-fiksie boeke van gehalte, en stel weereens nie
teleur nie. Dit is belangrik dat feiteboeke , veral ook in biblioteke nie
verouderd raak nie. Die boek het in 2016 verskyn, en in 224 bladsye word inligting
gegee oor planete, plekke van belang, diere, mense, myself en ‘n paar ander
belangrike dinge soos kleure, vorms, babadiere, vlae, edelstene en sterretekens
word ook bespreek. Interessant is ook
dat die top-10 lande –die grootste en kleinste gelys word, asook die Top-10 langste
riviere, grootste woestyne, dodelike diere, en bedreigde diere. Die indeks
beslaan 4 bladsye, gevolg deur ‘n lys van erkennings.
In die
inhoudsopgawe word die verskillende onderwerpe in ‘n identifiserende kleur
gemerk, en so kan die leser vining na die spesifieke seksie blaai. Die uitleg
van die boek is uiters aantreklik waar getekende illustrasies afgewissel word
met fotos sodat elke bladsy stimulerend en prikkelend werk.
Hierdie is
werklik ‘n prag uitgawe.
Stowell, Louie en Allen, Peter: Die
storie van sterre en planete( PROTEA, 2017). Afrikaans deur Amelia de Vaal.
Die eerste
uitgawe verskyn in 2014 deur Usborne,en lesers word aangemoedig om die Usborne
Quicklinks te gebruik.
Hierdie is
‘n onderwerp wat altyd inspireer. ‘n Mens bly maar betower deur die hemelruim,
en die onderwerp word op ‘n heel interessante wyse bespreek. Vrae oor die
ruimte word beantwoord in besprekings oor astronomie, planete, sterrekunde deur
die eeue,ruimtereise, lewe in die ruimte, teleskope en ander tegnologie, en die
storie van die heelal. ‘n Astronomiese tydlyn word gegee, gevolg deur
sterrekaarte soos jy in ‘n rigting kyk gedurende spesifieke maande.
‘n Woordelys
word gevolg deur ‘n indeks en lys van erkennings. Die boek is aantreklik
uiteengesit, bv. met vinnige feite oor planete en ongewone inligting geblok in ‘n soort van kantlyn effek wat
dadelik jou aandag trek.’n Nuttige toevoeging tot nie-fiksie versamelings.
No comments:
Post a Comment