Thursday, May 25, 2017

'n Maanlig-meermin in die Karoo


Goosen, Troula: Maanlig-meermin(  Tafelberg, 2017) R140

Kate se pa besluit onverwags na hy ‘n brief ontvang om hul vakansie in Durban te kanselleer en na sy geboorteplaas in die Karoo, Kaimanskuil te gaan. Amber vergesel Kate, en sommer met die aankoms op die plaas lyk dinge spookagtig en onheilspellend: Ant Jannetjie ontvang hulle baie onvriendelik en waarsku haar pa dat hulle nie moet bly nie; Donovan is die plaasseun wat die Saksofoon so mooi bespeel; die pragtige Sirene woon ook in die huis; die buurplaas is die tuiste van die seun Herman en sy ma. Daar is ook verwysings na ‘n Karoomeermin, Nyah teen wie sy  gewaarsku word.

Die verhaal ontwikkel in intriges tussen die paar jongmense; Kate wat bonatuurlike ervarings het; soektogte en verdwynings en  ‘n testament wat die ou man iewers versteek het…  wie was Kate se ma?  Waarom is die waterval in die Kloof so belangrik? Gaan Kate oorleef of ingetrek word by die meermin se behoeftes?

Ligte leesstof met ‘n verbeeldingryke mengsel van avontuur, fantasie, ‘n moontlike liefdesintrige en skrikwekkende ervari ngs.  Die boek hardloop met ‘n gallop tot die einde! Troula Goosen het defnitief ‘n baie vrugbare verbeelding, maar nie noodwendig ‘n sterk literêre inslag nie.

Smit, Louise: Haas Das se nuuskas( H&R, 2017) R140 Illustrasies deur Vian Oelofsen.

Haas Das se Nuuskas maak ‘n belangrike deel van elke dier in Diereland se lewe uit- om ses uur is dit hul geleentheid om te sien wat alles in Diereland gebeur.

Koning Leeu bespreek die nuus met Haas Das en vertel van sy samesprekings met verskillende diere- Grootoom Flapoor Olifant, oupa Dassie en Bulletjie Wildebees het elkeen ‘n klagte waarna die koning moet luister: grotendeels gaan dit hier om oud word en min waardering vir hulle wat altyd die ander diere beskerm het, en hulle moet nie onnodig skrikgemaak word nie.

Meggie Mossie kry gedurig Piet-my-vrou se kleintjies in haar nes om te help grootmaak, en al wat Moeder Raaf doen is om haar te kritiseer. Piet Muis doen die weerverslag, en vir sportnuus is daar hasie Kwassie wat aan n marathon oorsee gaan deelneem.

Hierdie is die eerste titel in ‘n nuwe reeks wat ideaal is vir kinders wat  self begin lees of vir voorlees.

Vian Oelofsen se illustrasies is oorspronklik, lewendig, vol humor en maak die hele boek toeganklik en lekker om te lees. Die diere se gesigsuitdrukkings spreek boekdele; Koning Leeu is deurgaans ‘n groot teenwoordigheid; en Haas Das met sy helderblou das met ‘n silwer ster daarop lyk absoluut die outoriteit as nuusleser!     ‘n Baie aantreklike boek.   

    

No comments:

Post a Comment