Jacobs, Jaco en Lilje, Karen:
Grom!(LAPA, 2016)
Emma word
wakker en sy voel brommerig en grommerig. En kort voor lank verander sy regtig
in ‘n luiperd. Die hele gesin is buite raad met haar. Maar Dian het ‘n plan-hy
verander in ‘n apie wat die luiperd se stert trek. Hy lyk so snaaks vir die
luiperd dat sy nie haar lag kan hou nie. En sy word weer die vriendelike
dogtertjie tot almal se verligting. Hoewel die twee kinders skelm vir mekaar
knipoog- dalk is hulle nognie klaar met kattekwaad en aapstreke nie!
Enige kind
kan vereenselwig met haar gemoedstoestand hierdie oggend- dikwels nie lus om op
te staan nie, nie vir eet en ook nie vir speel nie.
Die sagte
waterverf illustrasies plaas die gesin teen ‘n neutrale rustige agtergrond wat
net versteur word deur die brullende tier en later die verspotte apie. Die
karakters se oë spreek boekdele – verbasing, skrik en dan samehorigheid as ‘n
gesin. Baie oulike verhaal wat vertel hoe ‘n kind in die oggend aweregs wakker
kan word.
Jacobs, Jaco: Moenie hierdie boek eet
nie! ‘n rympie vir elke dag van die jaar( LAPA, 2016)Illustrasies deur Zinelda
McDonald.
Jacobs is al
bekend vir sy rympieboeke vir kleintjies. In hardeband verskyn hierdie prag
uitgawe – 312 bladsye met rympies vir elke maand van die jaar. In Januarie rym
hy oor nuwejaarsvoornemens, die eerste skooldag en selfs Gorgonzola:”Dit ruik
erger as erg, dit ruik vrotter as vrot, dit ruik byna soos iets wat woon in ‘n
grot”…Februarie bring ‘n rympie oor ‘n spook in die skool se toilet; Maart
vertel van as die maan ‘n pizza was en
teen Desember vertel hy dat sy pa rowwer is as jou pa:” My pa springtou met ‘n
ratelslang, My pa kan ‘n leeu met sy kaal hande vang….hy is bang vir net mooi
niks..behalwe my ma”!
McDonald se
illustrasies is modern, verbeeldingryk, vol humor en maak ‘n groot bydrae tot
die algehele gevoel van ‘n puik produksie. Haaar werk kan vergelyk met van die
beste internasionale bundels wat ek al beoordeel het.
Maartens, Wendy: Towertapyt- 32
stories van rondom die wêreld( LAPA, 2016) Illustrasies deur Johann Strauss.
In Afrikaans
het ons reeds ‘n paar versamelings van stories wat hul merk gemaak het en deel
geword het van menige gesinne en biblioteke se voorraad.
Op
glanspapier en met heerlike groot druk en vergesel van ‘n volblad illustrasie
by elke verhaaltjie, is hierdie boek ‘n vreugde om te hanteer en te lees.
Uit Afrika
is daar 6 stories wat Soedan, Egipte, Algerië, Benin , Ethiopië en Suid Afrika
verteenwoordig- lg. Waarom Dassie nie ‘n stert het nie. Die Amerikas kry drie
verhale, Britse Eilande twee, Europa 12, die Midde-Ooste een, Asië 6 en
Australië en Oseanië twee.’n Bronnelys word op bladsy 160 gegee.
Die ideale
boek vir voorlees en saamlees- niks kom by die bekoring wat sulke vertellings
inhou nie.
Johann
Strauss se bydrae as illustreerder is ongelooflik. Sy illustrasies vir die
Professor Fungus-reeks en die Sanri Steyn-reeks is welbekend. Hier het hy sy
verbeelding vrye teuels gegee en elke illustrasie kan die leser weer en weer
geniet. Uitstaande werk.
Lona Gericke
November 2016.
No comments:
Post a Comment