Tuesday, November 1, 2016

Hanli die dansende Hasie , Paddington en Mnr Haas...


November 2016- resensies:

Stanley, Mandy: Hanli die dansende hasie( PROTEA, 2016)In Afrikaans vertaal deur Amelia de Vaal.

In Hanli die hasie se wêreld is dit “knibbel, hop, hop, elke dag presies dieselfde”. Op ‘n dag sien sy egter ‘n prentjie van ‘n danseres en besluit dit is wat sy wil wees. Sy neem ballet klasse en kry die hoofrol in hul konsert, maar met die son op haar pels weet sy om ‘n hasie te wees is nog die beste.As strooimeisie geniet sy nog ‘n perfekte dag; maar sekerlik is haar besoek aan die feetjiebal tog nog die mooiste ding!

 Hanli is die oulikste hasie denkbaar-ek onthou nog hoe die kleintjies die boek gekoester het toe ek die Engelse weergawe met voorlees in Afrikaans vertaal het.

Die illustrasies van Hanli in haar balletrok, as strooimeisie en in ‘n regte feetjierok is dierbaar en kruip in jou hart. Hoogs aanbeveel vir kleuters wat so weggevoer wil word na ‘n mooi, onskuldige wêreld, Hoogs aanbeveel.

Bond, Michael: Paddington( PROTEA, 2016).Vertaler: Amelia de Vaal.

Die klassieke karaktertjie Paddington die beertjie uit Peru word in Afrikaans aan kleuters bekend gestel.

Die Brown gesin ontmoet hom op Paddington stasie-vandaar sy naam- en neem hom aan as deel van hul gesin. Die beertjie veroorsaak dadelik dat ‘n tee drinkery ‘n morsige gedoente word, sy eerste bad ervaring ook, en as hy begin tuinmaak is dit ook ‘n snaakse affêre maar hy slaag daarin om sy eie rotstuin te hê. Die sportklub hou ‘n pretdag en die gesin belsuit om deel te neem. Paddington se pogings om hul te help eindig elke keer in ‘n fiasko, maar as eerste beer deelnemer kry hy ‘n medalje “om deel te neem en jou bes te doen is wat saak maak.”

Paddington is die oulikste beertjie wat onskuldig met goeie bedoelings dinge laat skeefloop-kinders kan mos hiermee identifiseer! Pragtige illustrasies.

Van Wyk, Chris: Mnr Haas ontmoet Mnr Mandela( Jacana Media, 2016) Ook beskikbaar in Engels, IsiXhosa en IsiZula. Illustrasies deur Paddy Bouma. Afrikaanse vertaling deur Marlise Joubert.

‘n Prenteboek verteenwoordigend van die diere van Afrika wat soos haas, wat nie kan lees nie, wel bekend is met ‘n geliefde man, Mandela. 

Haas ontdek een oggend ‘n R200 –noot op sy deurmatjie. Hy herken Mandela se gesig, en die van meneer Luiperd, . Hy is seker dit behoort aan Mandela en besluit om stad toe te gaan en dit aan hom terug te gee. Die diere waarsku hom dat dit gevaarlik is vir iemand wat nie kan lees nie . In die stad van  Lesers kan almal lees , of leer om te lees. En “hulle wat nie kan lees nie, maak dieselfde foute oor en oor.

Maar Haas marsjeer vreesloos na die onbekende stad. Soos hy mense ontmoet en handel dryf, verander die noot elke keer van kleur. Hy bly egter gerus dat Mandela se gesig nognie verdwyn het nie. Uiteindelik ontmoet hy die groot man; en tuis ontvang hy ‘n brief met ‘n nuwe R200 van Mandela. Vir hom is dit ‘n groot raaisel. “Ek sal moet teruggaan na mnr Mandela toe om dit vir hom te gee”. En hy voeg die daad by die woord.

‘n Groot formaat  boek met sagte waterverfkleure ; ‘n pragtige haas en ‘n sielvolle uitbeelding van Mandela.  In memoriam vir Chris van Wyk, die skrywer.  Heel oorspronklik.

 

 

Jacobs, Jaco: Z is vir Zackie-die perfekte pizza( LAPA, 2016) Illustrasies deur Alex van Houwellingen.

Twee titels het reeds in die reeks verskyn wat die perfekte boekies is vir kinders wat begin lees, veral ook waar Zackie en sy vriend reeds so gewild en bekend is aan bietjie ouer kinders. In eenvoudige taal en kort sinne kan hul lees hoe die boelie Anton Zackie se pizza verslind , maar Zackie tog daarin slaag om hom terug te kry met die “perfekte” pizza!

Jacobs, Jaco: Z is vir Zackie- die beste boomhuis( LAPA< 2016)

Zackie en Vincent bou ‘n boomhuis waar meisies nie welkom is nie. Jolanda en Tumi besluit ‘n boomhuis is simpel, maar help tog om die huis te versier, bring eetgoed en speelgoed maar is nog steeds onwelkom. Tot die seuns hulle met ‘n waterpistool nat skiet, en dit mevrou Langenhoven tref- en die meisies voorgee dat dit hulle was. Nou is die meisies welkom in die boomhuis – en die seuns leer ‘n les. Kinder- vriendelike stories ,baie innemend.

Jonker, Marga: Jenna en die leesperd( Tafelberg, 2016)

‘n Baie gewilde perde-reeks waar daar reeds 5 titels verskyn het. Jenna se droom om Meg Kingsley se nuwe skouspringruiter te word word verpletter toe sy gediagnoseer word met Scheuermann se sindroom- haar rug groei in ‘n boog en perdry is voorlopig van die baan.

Sy word egter betrek by terapieperde wat kinders help wat gestrem is. Jenna kry die opdrag op vas te stel watter van die perde is leesperde, en tot haar verbasing is die verhaal van Pippie een waarna die perde met oorgawe luister! En toe Dash Elzé se broer haar betrek by sy jonger sussie Nienke se leesprobleme, laat hy haar hart “soos tjoklits voel en laat hy handevashou soos warm poeding smaak”.

Lekker ontspanningsleesstof, gemaklike skryfstyl en die karakters is oortuigend .     

Steyn, Cecilia: Hartedief 3 ( H&R, 2016)

Die derde titel in ‘n reeks vir tieners – Hartklop en Hartbreker het reeds verskyn. En weereens gaan dit om hartsake- Lisa se verhouding met Thomas is verby.  Hy is ‘n dwelmverslaafde wat haar met ‘n probleem gelaat het,  n geheim wat sy moet wegsteek. Estian ontmoet haar weer in Stellenbosch waar sy nou modeontwerp studeer en hy is gedetermineerd dat sy sy   meisie gaan word; wat ookal die geheim is wat sy nie wil verklap nie.

Die gebruiklike resep van drama en tienerliefde; die onsekerheid, hartstog  en misverstande wat so skielik gebeur … sal gewild wees by lesers van liefdesverhale.   

Nie-fiksie:

Von Holleben, Jan en Helms, Antje: Gebeur dit met almal? Reguitpraat oor puberteit( PROTEA, 2016)Uit Duits vertaal deur Anthony Moen.

Boeke oor puberteit word gereeld aangevra in biblioteke, en die oes was nog altyd maar dun. Hierdie aantreklike boek met pragtige fotos in kleur van tieners soms ook snaaks, is uiters nuttig  en sal biblioteek en privaatversamelings doeltreffend aanvul..

Hoofstukke is ingedeel oor groei en verandering a.g.v. hormone, die verskil tussen seuns en meisies, wat liefde is versus verlilefdheid, soentjies versus seks en afgesluit met inligting oor swangerskap en die ontwikkeling van die embrio.

Die aanslag is modern, die tieners jonk en met selfvertroue gekiek wat die boek lekker lesstof vir tieners sal maak. ‘n Baie oulike boek saamgestel deur twee ervare joernaliste.

 

No comments:

Post a Comment