Wednesday, July 1, 2015

Jonger lesers net vir julle!


Nuwe boeke vir kleuters en peuters!

Oerwoud-partytjie! H&R, 2015)  in die reeks Vrolike vriende: soek en pas en

Prettige plaas!( H&R, 2015)

Lennie Leeu wil  al sy vriende uitnooi na sy verjaarsdagpartytjie.  Een-een moet kleuters die diere identifiseer, en  dan seker maak dat almal betyds is vir die partytjie deur die mooi kartonkarakters uit die gleufies te haal en op die laaste bladsy saam te groepeer in die huertjie wat daar aangebring is. KLeuters 1+ leer hier hand-oog-koördinasie en basiese  probleemoplossing. Die twee boekies is kleurvol, stewig gebind en behoort kleintjies lekker besig te hou.

Jacobs, Jaco: Moenie die knoppie druk nie! ( LAPA, 2015) Illustreerder Chris Venter.

Watter gesin met babas ken nie hul voorliefde vir knoppies druk nie! Veral as hulle nou juis gevra word om dit nie te doen nie. Tiaan se bababoetie druk die stofsuier se knoppie, die grassnyer s’n; die wasmasjien en ook ‘n stootskraper word bygekom. Elke keer is daar groot konsternasie en baie aksie.

Wat ‘n heerlike leeservaring vir kleintjies! Chris Venter vul elke bladsy met lekker groot kleurvolle lewendige prente so beweeglik en vermaaklik dat die leser netnie genoeg kan deelneem aan elke snaakse situasie nie. Seuntjies is mos ook mal oor stootskrapers, en die finale stootskraper-insident sluit die boek amper af totdat die gesin heel laaste die museum besoek waar daar ‘n ;uitstalling oor die ruimte is……!  Hoogs aanbeveel.

Vels, Verna:  Liewe Heksie leesboek 1 en 2  ( H&R, 2015) Illustrasies deur Vian Oelofsen.

Elke leesboek bevaat 3 kort Liewe Heksie stories- ‘n verjaarsdag vir haar; ‘n geldinsameling, ‘n bikini-kompetisie, die insident met ‘n motor, hoe sy die koning gesond maak en toorwoorde gebruik tydens ‘n piekniek.

Afgesien daarvan dat die leser opnuut met die lees besef hoekom Verna Vels so bemind is – haar hoofkaraktertjie se “domheid”; die kinderlikheid en onopgesmuktheid van elke incident, is daar hier ‘n groot bonus-  Vian Oelofsen se meesterlike vertolking van die stories in die wonderlikste verbeeldingryke illustrasies!  Teen ‘n kleurvolle agtergrond word jy vermaak met die interessantste collages van vallende borde, ‘n trein en rooi motor , ‘n regte frikkadel( Liewe Heksie praat van dikkefrelletjie); Blommeland se kwaai gifappeltjies; en vrolike interessante blomme wat eintlik heerlike roomyse is!

Heirdie is defnitief die beste werk ooit uit Vian Oelofsen se pen, en die boekies “rock”! Hoogs aanbeveel.

Vir 7-9jariges:

Banscherus, Jürgen: Speurder Kwaaikofski – monsters, maanlig en mottegif( H&R, 2015) . IN Afrikaans vertaal  deur Kobus Geldenhuys.

In hierdie reeks het reeds tien boeke verskyn, en Speurder Kwaaikofski met sy voorliefde vir Carpenters kougom maak weer sy buiging in nog ‘n lekker speurverhaaltjie.

Daar is dertien privaatspeurders in sys tad. Hy is die een wat met kleiner sake werk. Hier word vir sy skool se eeufeesviering ‘n toneelstuk “Die ridder se reis na die reënboog” opgevoer. Die enigste probleem is dat elke seun wat gekies word om die hoofrol te speel na die toneel waar hy deur die vloer moet val tot in die Staatsteater se kelder, weier om verder deel te neem aan die produksie.

Speurder Kwaaikofski besluit dat hy gaan uitvind waarom die spelers so reageer, en om sy taak te bemoeilik  kry hy ook geen inligting uit hulle nie.  Maar Kwaaikofski gee nie so maklik tou op nie! 

Lekker groot druk wat die boek geskik maak vir beginner lesers en ook geskikte voorleesmateriaal.

   

 Viljoen,Fanie: Bravo, Lulu( LAPA, 2015) Illlustrasies deur Elsbeth Eksteen.

Lulu en haar vriendin Carmen is versot op ballet. Juffrou Peters wil Die Seerowerprins opvoer,en die twee word onderskeidelik gekies as meerminkoningin en  prinses. Lulu se ouers is beroemde modeontwerpers, en sy droom ook van so ‘n toekoms. Die tweeling Alet en Alex is gladnie beïndruk met ballet nie, en na ‘n stryery is Alex bereid om te wys hy kan ballet doen as hy wil; dus is hy die kandidaat vir die rol van die seerowerprins. Heelwat uitdagings lê vir hom voor- om te leer dans, en dan gewoond te raak aan die kostuum met ‘n baie benoude broek!  Gaan die konsert ‘n sukses wees? Gaan Alex deurdruk met sy uitdaging?

‘n Ideale leesboek vir dogtertjie-dogters en balletliefhebbers, en met Elsbeth Eksteen se pragtige fyn illustrasies in sagte pastelkleure sal die boek gekoester word deur veral lesertjies wat hou van “vroulike” prentjies en ‘n delikate aanslag.  Terselfdertyd het die skrywer balletterme nagevors en ook gesorg vir ‘n verassende einde. ‘n Besonder aantreklike boek.

 

 

Lona Gericke  Julie 2015  

 

No comments:

Post a Comment