Tuesday, April 24, 2018

Liewe Heksie , Klapper die drakie tot 'n slymboek!


Vels, Verna: Liewe Heksie en die helikopter( H&R, 2018) Illustrasies deur Vian Oelofsen

Hierdie is die derde pragtige groot formaat- boek wat volg op Liewe Heksie en die silwer roos en Liewe Heksie en die sterretjieskombuis.

Karel Kat kom kuier vir Liewe Heksie met sy geel helikopter en sy word genooi om saam met Karel op ‘n rit te gaan in die “meuliekopter” volgens Heksie. Koning Rosekrans wil ook saamry, maar hy en Karel land in ‘n boom en Heksie moet help om die twee grond toe te bring.  Wanneer Karel die koning later veilig paleis toe neem, gaan Heksie agterna op haar besem met Matewis net ingeval die “meuliekopter “ se wiele in ‘n boom vashaak!

Vian Oelofsen bied vir die leser ‘n fees van kleur met die heldergeel helikopter, blou en pienk blomme in die veld, Koning Rosekrans se rooi baadjie , groen blare en veral effektief is die delikate effek wat hy verkry vir die helikopter se vlug in die lug met Liewe Heksie se gesiggie so wasig binne. Hierdie boeke met Oelofsen se pragtige illustrasies steel absoluut jou hart. Liewe Heksie aanhangers kan hul verlustig in die sprokieswèreld waar sy haar bevind. Hoogs aanbeveel.

Siegner, Ingo: Klapper die drakie is nie bang nie!( H&R, 2018) Afrikaans deur Kobus Geldenhuys.

Klapper en die draakkinders besluit om na Rooi Rudolf die gevreesde seerower se rooi edelsteen te gaan soek op die skilpadeiland. In die see sien hulle ‘n duikboot en ontmoet die seerower aan wie dit behoort. Saam sit hulle die soektog voort, maar word aangeval deur ‘n reuse seekat. Die seerower help hulle om te ontsnap,en die kinders prys hom vir sy dapperheid, en almal is nou groot vriende.

Klapper is die oulikste drakie ooit, en daarby dapper en getrou aan sy vriende. Siegner se illustrasies laat jou nog meer verlief raak op die bekoorlike karakters. Beginner lesers behoort die boeke baie te geniet.

 

Siegner, Ingo: Klapper die drakie gaan skooltoe( H&R, 2018) Afrikaans deur Kobus Geldenhuys.

Klapper is oppad na sy eerste skooldag en ‘n klein vreetdrakie ontmoet hom langs die pad. Hy nooi die vreetdrakie saam skooltoe, en saam moet die twee eers sy vreetdraak-ouers oortuig dat hy saam met Klapper skooltoe kan gaan, want vreetdrake glo nie aan skoolgaan nie.

Vreetdrakie leer ook om te swem in die skool, en hy bewys aan sy ouers dat hy kan swem toe hy die rooi steen uit die diep water red.

Die Klapper –reeks laat beginner lesers kennis maak met karaktertjies wat omgee vir mekaar, saam avonture beleef, en nog leer om te lees en skryf ook!

Lees ook Klapper die drakie en die groot towenaar, en Klapper die drakie en die swart ridder.

Jacobs, Jaco: Spaghetti tussen jou tone( LAPA, 2018) Illustrasies deur Alex van Houwelingen.

Tom en Trevor is beste maats met die spesiale talent dat hulle hou van grappe maak en poetse bak. Die nuwe juffrou by die skool, Zaan van Graan word vir die twee ‘n groot uitdaging want sy word eenvoudig nie kwaad nie al gebeur wat. Hulle besluit dus om haar te probeer kwaad maak. So suksesvol is dit, dat hulle volgende uitdaging word om haar weer vriendelik te kry! Min wetende dat sy ook hou van poetse bak…

Lekker ligte leesstof vir beginners met Jacobs se fyn humorsin teenwoordig om die leeservaring net ‘n groot plesier te maak. Van Houwelingen se illustrasies skep die regte atmosfeer.

Nolte, Noreen: Dans, Jenna( LAPA, 2018)

Nolte se debuut was Om te dans in 2017. Die gekwalifiseerde balletonderwyseres skryf oortuigend met ballet as tema.

Jenna is ‘n meisie wat ballet liefhet en net wil dans. Sy en haar ma sukkel finansieel,en sy weet dat sy eenvoudig met haar gehawende skoene sal moet dans wanneer die Kunstekaap  die Sint Petersburg Balletgroep aanbied met geleenthede vir jong kunstenaars om die winterskool by te woon indien hulle in die kompetisie uitblink.

‘n Verhaal vir 9-11jariges met veral ‘n liefde vir ballet. Karakterisering is gebalanseer met die gebruiklike vriendinne wat mekaar ondersteun versus die jaloerse dogter wat Jenna as kompetisie sien en met haar ma se hulp Jenna se drome probeer verongeluk.

Die vrolike omslag met die stralende Jenna trek dadelik die aandag.

Nie-fiksie vir kinders :

Brooks, Susie: Knip verf plak-50 prettige kunsprojekte( LAPA, 2018). Afrikaans deur Jaco Jacobs.

Die drie titels wat bespreek word is weereens ‘n bewys dat nie-fiksie nie beteken nie-plesier vir lesers nie!

Handwerkprojekte help kinders en onderwysers met idees om kuns te maak. Basiese kunsbenodighede word gelys met nuttige wenke oor hoe die spesifieke projek aangepak kan word. Van vlermuis-skaduwees, hand-diere, prettige pikkewyne ,robotte wat rock , swemmende skillies tot ‘n monster-makietie- die idees is eindeloos en stapsgewys genommer en kleurvol geïllustreer.Daar is 4 bladsye met patrone wat gebruik kan word, en ‘n volledige onhoudsopgawe.

‘n Nuttige boek vir biblioteek-, skool en tuisversamelings.

Jacobs, Jaco en Viljoen, Fanie:  Hoezit! Die wonderwêreld van my liggaam(LAPA, 2018)

‘n Aantreklike boek propvol feite oor die menslike liggaam. Die inhoudsopgawe lys elke aspek van die liggaam, o.a. jou spiere, senuweestelsel, gesond eet, kleurblindheid, sintuie, en verduidelik selfs wat met jou liggaam gebeur as jy slaap.   

Van die bladsye is met ‘n vet-pret logo gemerk en is aktiwiteitsblaaie met speletjies en kopkrappers.  Ek sou dus nie sommer aanbeveel vir biblioteke nie, aangesien die blaaie met aktiwiteite probleme kan skep, maar vir onderwysers en tuisversamelings is die boek ideaal.

 

   

 

  

Die Slym-boek-alles wat jy moet weet om die perfekte slym te maak!(LAPA. 2018). Afrikaans deur Linda Roos.

Meer as 30 fantastiese resepte word hier aangebied. Voorbeelde van nie-eetbare slym word gevolg deur eetbare slym projekte.  Die slymprojekte het name soos rekkerige, skuimerige, sterretjies. Lekkerruik, krakerige , knetterig, monstersllym, dinosourusse in amber en gloeiende slym!

Basiese slymbenodighede word gelys, en elke individuele projek meld wat jy hiervoor benodig, die tyd betrokke, hoe maklik of moeilik en met ‘n waarskuwing dat dit eetbaar of nie-eetbaar is nie. Basiese stappe is gemerk van 1-3, en ‘n knippie wetenskap word by elke projek ingesluit, bv. waaruit gom bestaan, wat skeerskuim spesiaal maak, en dat party diere ook slym maak.    

Die boek is deeglik uiteengesit met kleurvolle illustrasies wat die prosesse eenvoudig verduidelik. Bladsy 64 verduidelik hoe jy jou slym moet bêre, hoe om op te ruim, basiese wenke word gegee  as die slym te taai is, of as dit breek as jy dit rek, of as dit nie genoeg glinster nie.

Kinders wat hou van kreatief handwerk-doen en nuuskierig is om nuwe projekte aan te pak, sal die boek verwelkom.  Onthou net dat die opruim en bêre aspekte baie belangrik is.

 

No comments:

Post a Comment