Monday, April 23, 2018


Resensies van kinder/jeugboeke 4/2018:

DeWet Hugo: Die vloek van vreesbaai- Grilgrypers ( H&R, 2018)

Of dit nie erg genoeg is dat sy ouers na die kusdorpie Vreesbaai getrek het en hy ‘n nuwe skool moet trotseer, word Miek nog deur ‘n reusagtige hond met rooi oë aangeval wat netso skielik verdwyn. Iets is nie pluis in hierdie spookagtige plek nie, daarvan is hy oortuig. Veral as ander kinders ook vertel van vreemde dinge wat hulle sien, soos Lisa se nar met skerp tande en Donovan met die monster-krokodille …

Al genade is dat hy die plaaslike sielkundige Meneer Swart gaan sien, veral na die skielike dood van’n seun wat in ‘n vlak modderpoel verdrink nadat ‘n Modderding hom soontoe gesleep het! Hier kry hy ook geen hulp nie. Dit het tyd geword dat die kinders saam hul vrese konfronteer. En wat ‘n skokkende ontdekking wag nie op hulle nie!

Hierdie reeks is ideaal vir kinders wat hou van grillerige stories. Grilgrypers 2- Web van die mummie en Grilgrypers 3: Kamp van die monsters is nog twee titels in die reeks waarna hulle kan uitsien.

Jacobs, Jaco: Dinge wat ek nie van skape geweet het nie( LAPA, 2018)

Omdat Luan en sy twee vriende op die punt staan om uit die skool geskors te word na ‘n onverskoonbare optrede teen ‘n onderwyser, besluit sy pa, “Meneer Uitsorteer “ dat hy saam met sy eksentrieke ouma Alice op vakansie moet gaan . Hulle vertrek in haar ou Land Rover op ‘n onvergeetlike reis. Sy ouma fotograveer windpompe. Oppad ontmoet hulle Lana en haar ouers- haar pa trap fiets om geld in te samel vir borskanker lyers. By die plaaslike kerkbasaar sien die jongmense ‘n skaap wat uiters depressief lyk, en toe Luan impulsief die skaap steel om haar van ‘n gewisse slagting te red, word die verhaal heel opwindend en die skaap amper die hoofkarakter in hul avontuurlike reis. Luan leer sy ouma beter ken, en vind dinge uit van ‘n skaap wat hy nie geweet het nie!

Jaco Jacobs het weereens bewys dat hy jongmense se emosies verstaan; terwyl hy ‘n verhaal opwindend en met ‘n tikkie humor aanbied. Luan leer ‘n belangrike lewensles deur sy ouma se lewensverhaal te leer ken- sy herinner hom dat jy altyd ‘n keuse het in besluite wat jy neem, selfs al dwing omstandighede jou om die verkeerde besluit te neem.    

‘n Oulike storie waarin gebeure met humor en insig vertel word, en Luan as karakter groei.

Neser, Christien: Pienk is nie vir sissies nie( Tafelberg, 2018)

Helene Rust wil met haar pienk boekie vir meisies haar “ willewragtag” dogter Nicci in ‘n jong dame omskep, maar Nicci focus slegs op fietsry, haar passie, en iets wat sy baie goed kan doen. Hierdie keer jaag sy weer vooruit, maar word so die prooi van twee diewe wat haar van haar fiets beroof, en haar aanval en ernstig beseer terwyl hulle haar vir ‘n seun aansien.

Dit word ‘n lang herstelproses, een waarin sy nie kan ry nie maar veral geteister word deur die gedagte dat hulle haar vir ‘n seun aangesien het. Daar is dus in Nicci hierdie tweestryd – sal sy weer haar peink balletskoene aantrek, aanvaar dat pienk nie vir sissies is nie, of bly skuil agter ‘n masker van onvroulikheid?

Neser het my beïndruk met die gewilde Elle-reeks, veral met die verskyning van die eerste boek Kondensmelk in 2009. Sy slag weer daarin om te oortuig met deeglike navorsing oor fietsry, ‘n goeie balans tussen die verskillende karakters en hul emosies en behoeftes, karakterontwikkeling vind plaas en die storie is onderhoudend geskryf.  ‘n Storie vir 12-16jariges met genoeg diepte om ‘n blywende positiewe indruk te laat.

Paterson, Katherine: Brug na Terabithia( PROTEA, 2018) Uit Engels vertaal deur Kobus Geldenhuys.

In 1977 verskyn hierdie klassieke jeugverhaal waarvoor Paterson die Newbery-medalje gewen het. In 1998 en 2006 word sy ook bekroon met die Hans Christian Andersen-prys en die Astrid Lindgren gedenkprys.

Hierdie vertaling in Afrikaans is goeie nuus, en Geldenhuys bewys weereens  dat hy meesterlik kan vertaal en so die geleentheid skep vir Afrikaanse kinders om ‘n roerende verhaal oor vriendskap tussen twee kinders te lees.

Jess Aarons is ‘n alleenkind, daardie “simpel outjie” wat altyd teken, en dus besluit hy hy gaan die vinnigste hardloper in sy klas word, hy wil weer voel hoe dit is om te wen. ‘n Nuwe meisie en haar ouers trek in by die Perkinse se ou plek, sy pas ook nie in by die ander kinders nie, maar Leslie Burke hardloop vinniger as hulle. Dit is die begin van ‘n vriendskap tussen twee jongmense wat saam hul eie magiese koningkryk Terabithia in die woud skep waar hulle heers as koningin en koning. Leslie word sy “ander, meer opwindende self- sy pad na Terabithia en al die ander onbekende wêrelde”.

Hulle bereik Terabithia deur met ‘n tou wat vasgemaak is aan ‘n houtappelboom oor te swaai na hierdie geheimsinnige land. Daar is hulle kasteel en die dennebos waarheen Terabithia se heersers ten tyde van die grootste hartseer of vreugde kom .

Aanhoudende reëns maak dit moeilik vir die jongmense om hul veilige plek te besoek, en dan vind ‘n tragedie plaas wat Jess voor sy grootste uitdaging ooit plaas- sal hy hierna kan oorleef? Hy was ‘n “simpel outjie wat snaakse prente geteken het en in ‘n koeikamp geoefen het om vinniger te hardloop sodat hy hom grootmeneer kan hou –en probeer het om die horde dwase vrese wat hom op hol jaag, weg te steek”.En Leslie het prober om “die mure in sy kop te verskuif en die skitterende wêreld te laat sien”.

‘n Roerende verhaal oor die vriendskap tussen twee kinders wat elke jongmens moet lees wat fokus in hul lewe soek, of selfs net om blootgestel te word aan ‘n werk van groot literêre waarde. Hoogs aanbeveel.

Steyn, Cecilia: Presiesanders 2- cupcakes en kupido’s ( H&R, 2018).

Kan ‘n tweeling so vreeslik verskil? Ja, want Zoya is ‘n swak student wat meer belang stel in grimering en mooi klere en om haar naels te verf as in rekeningkunde , terwyl Zoe presteer en Zoya oortuig is haar sussie het van haar breinselle geabsorbeer in hul ma se baarmoeder!

Zoya kry egter die geleentheid om die lentebal as voorsitter van die komitee te reël, en sy sien selfs kans om met die begroting te werk, want Erwee gaan saam met haar werk en sy is dolverlief op hom. 

Maar hoekom oorspandeer sy so geweldig dat sy verplig is om geld te probeer insamel met cupcakes bak?  Is daar dalk met die syfers geknoei deur ‘n jaloerse meisie? En dan is daar nog haar pa wat hom verbeel hy moet soos die tieners praat en optree om haar nog meer in die verleentheid te stel!

‘n Verhaal wat geniet sal word deur tieners wat op soek is na ligte leesstof, tog met genoeg humor en vaardig geskryf.

Van der Colff, Elizbè : Nina en die crazy klere( Tafelberg, 2018) Illustrasies deur Chris Venter.

Hierdie is die derde boek in die gewilde Nina-reeks en volg op Nina en die wacky hare , en Nina en die funky eksperiment.

Nina en haar vriendin Jessie het kaartjies gewen om die Eksotiese Eksperimente Ekspo in die stad by te woon waar ook nuwe uitvindings uitgestal gaan word.  Hulle besluit dit sal dalk die ideale geleentheid wees om ‘n kenner te nader wat dalk sal help om  of hulle towerpet se kragte wetenskaplik te verklaar. Die pet wys hulle vooraf twee jingmense wat werk aan ‘n masjien, die rommeloplosser. Hulle verneem ook dat Dr. Crower, ‘n wetenskaplike uitvinder, sy nuwe gedagteleser, die Animus Recitator vir die eerste keer gaan ten toon stel. Dalk is hy die regte persoon om hulle met die pet te help.

Min het hulle geweet hoe interessant en gevaarlik hul besoek aan die Ekspo gaan wees! 

Die skrywer slaag daarin om die leser saam met die twee vriendinne op ‘n opwindende avontuur te neem waar hulle inisiatief en dapperheid getoets word.  Haar karakters is oortuigend en geloofbaar, veral aantreklik is die natuurlikheid van die meisies en die verligting dat hier net skoon plesier te vind is sonder die drama van ‘n gesin wat nie funksioneer of afwykend is nie! Lekker leesstof.  Die skrywer en illustreerder Chris Venter is ‘n wen-kombinasie. 

       

No comments:

Post a Comment